315.  Pelgrimsreis na Kersfees

Dis middel-November en my eerste Kersfunksie is al agter die rug.  Dit is natuurlik nie so gekies nie, maar is afhanklik van die datums wat groot lokale beskikbaar het om, in ons geval tweehonderd vroue, te akkommodeer.  Ons was Saterdagoggend in die buiteklub van ons stad met ‘n laat-ontbyt, Kersliedere vir saamsing en ‘n spreker wat vir ons die rigting aanwys na ‘n Jesus-fees.  Die Fees het begin en ek gee glad nie om dat dit lank aanhou nie.  Hier in die noordelike halfrond is elke dag ‘n bietjie korter en vyfuur in die middag voel al soos diep-aand.  

Donker dae vra lig en dit is ‘n heerlike skouspel van huise en geboue wat elke aand aangeskakel word.  Die variasie is so groot soos die styl en smaak van die mensdom – al die kreatiwiteit wat in ons is om die nag te belig.  Ons eerste groot aflewering sneeu het oor die afgelope naweek geval en laasnag was die nag stil en lig, nie met Kersliggies nie, maar met God se “lig van die nag” wat al die ander liggies flou laat lyk.

God het die twee groot ligte gemaak, die grootste om bedags te heers en die kleiner lig om snags te heers, en ook die sterre.  (Genesis 1:16)

U het die maan gemaak om die vaste tye mee aan te gee,

die son weet wanneer om onder te gaan.  (Psalms 104:19)

So sê die Here,

Hy wat die son bedags laat skyn,

die maan en sterre beveel om snags te skitter… (Jeremia 31:35)

Die maan is vol en helder en die mens se liggies vervaag, net soos die boodskap van Kersfees in die geraas en gemaal van ‘n wêreldse viering verdwyn.  Dit is die heel bekendste versie wat oor Kersfees gaan wat praat van donker en lig, die profesie in die boekrol van Jesaja …die belofte …die hoop.

Die volk wat in donkerte geleef het, het ‘n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ‘n lig geskyn. (Jesaja 9:1)

Die donkerte van Jesaja is nie die lang donker nagte van die noordelike halfrond op aarde nie.  Dit is siele in die duisternis van sonde en leuens, in die hopeloosheid van verslawing en verwarring, histeriese woede  en vrees.  Dit is die mensdom, ons mede-aardburgers, in die donker verwoesting van sonde en natuurrampe. Hulle, net soos ou-Israel en die volke van die antieke tyd, leef in die duisternis van siele-nag wat uit die sondeval gebore is.

Vir daardie mense van die begin van alles af tot nou het die belofte waar geword.  Die Lig het gekom.  

Ons weet soveel mense het al op die titel van God aanspraak gemaak.  In die Joodse geskiedenis is lys op lys name van mense wat verklaar het dat hulle die Messias is.  Ken jy hulle name?  Weet jy iets van net een van hulle af?  Natuurlik nie!  Ek was verbaas om so baie te sien.  Ken jy die naam, Jesus?  

Daar is net een mens, ooit, in die ganse geskiedenis van vals gode en vals Christusse wat ooit gesê het, Ek is die Lig van die wêreld.  Ek, Jesus het genoeg lig vir al die nag wat boosheid kan opdink en uitbraak oor die aarde.

Wat is die ergste wat kan gebeur waaroor ons geen sê of beheer het nie?  Die dood van elke mens en dier en plant –  alles wat lewe, is die sekerste saak van ons bestaan.  Die dood se angel is uitgehaal met die grootsheid van die Opstanding van die Baba wat in die stof geleef en gely het.

Ek sou saamstem met enigeen wat sê dat daar dinge is wat erger as die dood is.  Die hel van lyding op aarde en die agendas van bose planne uit die put van die hel is genoeg om enige mens onder die bedekking en beskerming van die liefde van God in te “jaag”, hoewel ons sien dat dit nie gebeur nie.  Ons sien die vernietiging van mense-lewens rondom ons en staan verstom oor die hardheid van hulle harte in die aangesig van die Kind wat gekom het.

Soos elke jaar kan ons weer en weer lees van die volk wat in duisternis wandel, dan opkyk en die “volk” waarvan die profeet praat, rondom ons sien.  Die duisternis sit dik om ons heen en die tragiese gevolge van sonde saai verwoesting en hartseer.  Soos elke jaar word ons geroep om van die geboorte van die Belofte-kind te getuig.

So dikwels as ek die Psalms lees, kry ek die indruk dat die digters, skrywers en komponiste daar in die verre verlede, Jesus “gesien” het as hulle skryf.  In die God wat hulle beskryf en beroem sien hulle die “sagte hart” van ‘n God wat vergewe, sy woede laat gaan, sy volk oprig, sy gawes uitstort, sy wysheid bring – dit alles noem mens liefde.  Die liefde-hart van God het ‘n liggaam gekry en tussen ons kom leef.

Die Liggaam van God as mens is bewys van die mees volkome liefde in die ganse heelal.  Dit is liefde wat red en genees, vergewe en herstel, aanvaar en transformeer.  Dit is liefde wat uitwaag en mense bymekaar bring wat nie saam hoort nie. [Lees maar oor Judas in Bodemklippe 173, 241 en 221]

Dit is in daardie liefde wat ons Baka-vallei ‘n ryk fontein van oorvloed word.

Gelukkig is mense wie se krag in U lê!

Die pelgrimstogte leef

in hulle gedagtes: 

Trek hulle deur die Baka-vallei, 

maak hulle daarvan ‘n landskap

ryk aan fonteine;

die vroeë reën maak dit

selfs vol waterpoele. 

Hulle gaan van krag tot krag;

elkeen verskyn voor God in Sion.  (Psalm 84:6-8)

As jou pelgrimstog – die pad van die gelowige met sy kniel-tyd, lees-tyd, luister-tyd en prys-tyd – deur die Baka-vallei, die vallei van trane en treur in die diepte van jou klaaglied voor God – lei, is die belofte vir jou.  

Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig.  (Psalms 36:10)

Trane van hartseer is vrugbare sielsgrond vir die vrede, liefde, hoop en blydskap van die Kersboodskap.  Dit is die vog vir jou landskap van oorvloed, jou lewenspad wat van krag tot krag gaan.

Ú het my omswerwinge getel; hou my trane in u kruik; is hulle nie in u boek nie?  (Psalms 56:9, OAB)

You’ve kept track of my every toss and turn
    through the sleepless nights,
Each tear entered in your ledger,
    each ache written in your book.
  (The Message)

Stap jou pelgrimstog na die Jesus-fees met die Lig wat in jou woon.  Jou landskap van fonteine gaan ander om jou aanraak en die Boodskap van Kersfees laat lewe.

Hier is dink-kos vir stiltye langs die pad.

Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie.  (1 Tessalonisense 5:5)

Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here — wandel soos kinders van die lig.  (Efesiërs 5:8)

Die nag het ver gevorder en dit is amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord.  (Romeine 13:12)

Die lig van die regverdige brand vrolik, maar die lamp van die goddelose gaan dood.  (Spreuke 13:9)


Lewer kommentaar