314.  Dwarsdeur en daarna…

Die afgelope week het ek baie reaksie gekry op verlede keer se Bodemklippe oor vergifnis.  Ek het geskryf wat ek self moes deur.  ‘n Paar dinge het opgehoop en opgedam.  Gedagtes het vermeerder, vergroot en sommer ‘n hele lewensverloop van hulle eie gekry.  Ek ken die lering oor vergifnis.  Kennis is niks en help niks as dit nie vastrapplek in jou siel kry nie.  Elke mens kies dat kennis, wysheid word.  Kennis is dood, net lettertjies op papier wat niks beteken nie, totdat jy die Heilige Gees innooi en toelaat dat jou hart verander.

Verwonding word nie verniet ‘n “wortel” van bitterheid genoem nie.  ‘n Wortel kry vrugbare grond, ‘n hart wat bloei en trane van seer wat natmaak met brose emosie wat hom verlekker in die slagoffer-status van almal wat so goor is, so onregverdig en so boos.  Die wonde, bloed en trane kom ongenooid, soos ‘n indringer en parasiet-plant in die tuin van jou hart, waar die Boom van die Lewe groei.  Die indringer krul en rank waar dit glad nie welkom is nie, maar voor jy weet is jou sielswond ontsteek en pomp dit  weersinwekkende, stikkende kwaad in jou gedagte-wêreld uit.  

Ontsteltenis dwing my om te antwoord,

dit maak my haastig om te praat.

Ek hoor ‘n teregwysing wat my beledig,

maar ek wil verstandig daarop antwoord.  (Job 20:2,3)

Die Psalm-skrywers en digters ken die lewe  So dikwels lees mens siel-taal daar, waar mens weer en weer voor die kragtige toepaslikheid en stille genesing van die Woord van God buig en oorgee.  

‘n Paar weke gelede boer ek in Psalm 25 en let op hoeveel keer die digter sê: Leer mymaak my U wil bekend, onderrig my, laat U waarheid my lei, wys my die pad, leer my die pad, maak die verbond bekend.

Dit word ‘n boodskap, ‘n Rhema-woord, ‘n tema en ek sit regop. Ek lees weer en merk die verse, skryf dit in my joernaal, oortuig dat God my iets wil leer en my ore moet oop.  Ek bid vir gesalfde ore en lees aan.

Op ‘n wonderbare manier word ek gelei na Psalm 16, wat vir my soveel beteken dat ek dit begin memoriseer.  Sekere woorde staan uit, word in my kop dik, swart letters en kry diepe betekenis.  Ek lees oor die afgode in die land en is weer dankbaar dat ek die Here ken, totdat ek bewus word van die afgode in my eie hart, waar ek aanbid by die altaar van sielswonde met bloedoffers van ander se woorde en dade, ander mense se sonde, dalk uit die afgodsoffers van hulle eie siele.  Ek bewaar hulle almal veilig en voltooi die bose kringloop, presies wat die satan wil hê om my lam te lê en my krag te steel.

Ek krul in weersin. 

Mag elkeen wat ‘n ander god vereer, baie smart beleef.

Vir afgode sal ek nie bloedoffers uitgiet nie,

hulle name sal ek nie op my lippe neem nie.” (16:4)

Genade, wat ‘n nagmerrie! 

Die smart is werklik.  Ek kan dit nie ontken nie.  Skielik “sien” ek die metafoor.  My eie hart is ‘n bloedige gemors van woedende woorde, wraaksugtige isolering, “altare” van gekapte klip (Eksodus 20:25) waar ek met my “instrumente” (bytels) van populêre sielkunde die altaar van God ontheilig.  My altaar van aanbidding waar ek my hart tot God offer, bou ek op my manier met al die voorwaardes wat ek ewe edel vir my eie selfbehoud voorhou.  Ek sal grense stel, ek sal my afsonder, ek sal my nie blootstel nie, ek sal… ek sal…

Die Heilige Gees werk.  Hy oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel.  (Johannes 16:8)  Hy werk in volmaakte liefde en ek word nie vernietig voor die vuur van God wat my siel “verteer” (Hebreërs 12:29) en begin skoon brand nie.

Ek stort die trane en pleit op my gesig om verskoning.  Ek “maak die saak uit” (Jesaja 1:18) en staan daar op met goud, wit klere en oogsalf aan my oë.  (Openbaring 3:18)  Ek was by die “winkel” van die Koopman en het Sy raad gevolg.

Daarom raai Ek julle aan om by My goud te koop wat deur vuur gelouter is, sodat julle ryk kan word; en koop wit klere, sodat julle julle kan aantrek en julle skande, julle naaktheid, nie gesien word nie; en koop oogsalf om aan julle oë te smeer, sodat julle kan sien.

Alles lyk anders.  Die wond is genees.  Ek kan my kop oplig en die wêreld in die oë kyk – letterlik. My skande, my naaktheid van skuld is bedek. 

Maar dis nie al nie.  Daar is gevolge aan gehoorsaamheid. 

U lei my met u raad

en aan die einde sal U my in ere by U opneem.  (Psalm 73:24, NAB)

U sal my lei deur u raad en my daarna in heerlikheid opneem. (OAB)

Ek hou van die KJV – die getroue ou King James:

Thou shalt guide me with thy counsel, and afterward receive me to glory.

Lees ons onbedag?  Wat ‘n wonderlike God dien ons nie!  Hy bedien ons met raad, sagkens en liefdevol.  Hy lei ons tot by die plek waar ons leer en dan volg die glorie.  Ons kan nie een woord van die Woord ignoreer nie.  

Ons moet dwarsdeur die proses EN anderkant uit tot by die glorie, die volle gewig van God se karakter wat wortel skiet en groei in aanbidding en dankbaarheid.  The Message:

You wisely and tenderly lead me,
    and 
then you bless me.

Die proses is nie klaar voor die “daarna” nie.  Wat daarna?

Glorie – ‘n wonder-woord – so vol en ryk aan betekenis dat dit met ‘n hele hoop woorde uitgedruk kan word.  

Dit dui op die gewigtigheid, dit wat beduidend of swaar is.  Die woord is omvattend om al die heerlikheid, eer, prag, krag, rykdom, gesag, majesteit, roem, waardigheid, rykdom en voortreflikheid van God in te sluit.  

Wil jy dit mis?  Is dit die moeite werd om aan die bloedige gemors in jou hart vas te hou en alles wat God vir jou het, mis te loop?

Die Griekse woord vir glorie is doxa.  Oorspronklik was dit ’n mening of waardering waarin iemand gereken is.  Later het die woord begin dui op die reputasie, goeie status en aansien wat aan ‘n persoon gegee word.  Dit het daarna ontwikkel tot eer of heerlikheid wat aan volke, nasies en individue toegeken word.  In die Nuwe Testament word doxa ‘n simbool van prag, glans en majesteit wat in Jesus sentreer.  Hier verteenwoordig doxa die majestueuse, absolute volmaaktheid wat in Christus is en blyk uit die wonderwerke wat Hy verrig het.  Wil jy die vloei van wonderwerke stuit?

Kry jou hart skoon sodat jy die onbeskryflike kroon van glorie wat wag op die kind van God wat luister, sy oor neig tot die Woord, God se stem hoor en aan die voete van die Koopman van Openbaring sit en Sy raad volg, kan ontvang.

Die glorie wat belowe is, is Jesus self.  Ons kan nie leef sonder die volle impak van sy Karakter en Persoon in elke aspek van ons bestaan nie.


Lewer kommentaar