Wie ek?…Ja jy!

Natuurlik ken jy die Bybelstorie.  Dis een van die mees geliefde Christen-stories.  Die prentjie is in die Kinderbybel – mooi in kleur.  ‘n Man in ‘n lang wit kleed met ‘n skaap om sy skouers gevou.  Die opskrif is ook daar: Die Goeie Herder.  Jy onthou dalk goed, dalk is die prentjie effens vaag.  

Wat maak dit nou eintlik saak?  Ons is nie skaapboere nie.  In elk geval boer ons nie met herders wat skape heeldag moet oppas nie.  Dis heel anders hier in ons geweste.  Ons maak ‘n kamp met jakkalsdraad, weg van die vleie sodat hulle nie vrotpootjie kry nie.  Aand se kant sal iemand stap en die skape gaan haal.  Hulle kom slaap in die kraal by die huis anders is hulle maklike prooi vir ‘n jakkals.  Ons keer die ooie wat gaan lam af.  Hulle word spesiaal opgepas, dikwels in die skuur langs die huis, sodat my pa kan help as die geblêr ons wakker maak in die nag.

Skape is dom diere.  Dit is amper komies hoe hulle uit ‘n situasie gered word en dan binne enkele treë in dieselfde konsternasie beland.  Skape is trop diere.  Hulle sal een volg en sommer almal oor ‘n afgrond stort. 

In ou Judea was dit maklik vir skape om af te dwaal.  Die weiveld was op die heuwels wat soos ‘n ruggraat deur die middel van die land geloop het. Die plato gedeelte was smal, slegs ‘n paar myl wyd, en daar was geen heinings of mure om die skape te keer nie.  Die weiding was skaars, so skape het rondgeloop terwyl hulle gewei het.  Hulle kon maklik in ‘n kloof of sloot val vanwaar hulle nie self kon ontsnap nie.

Die Palestynse skaapwagters was meesters in die opsporing van hul verlore skape.  Hulle kon die spore van ‘n skaap vir kilometers volg en dan klim om die skaap te vind waar dit ook al vasgekeer was.

In die tyd van Jesus het die skape dikwels aan die hele dorpie behoort. Daar was gewoonlik twee of drie herders wat saam na die kudde gekyk het.  Daarom kon die herder die nege-en-negentig agterlaat terwyl hy die een verlore skaap gaan soek het.  Hy sou nie terugkom en vind dat meer skape weg is nie, want hy het hulle in die sorg van mede-herders gelaat.

Dit is hierdie bekende beeld van die herder wat ‘n skaap oor sy skouers dra, moeg en triomfantlik, wat Jesus hier aanhaal. Die hele dorpie sou hom verwelkom en bymekaarkom om die storie van die verlore en gevonde skaap te hoor.

Kom ons lees: 

“Hoe dink julle? As iemand honderd skape het en een van hulle raak weg, sal hy nie die nege en negentig daar in die bergveld laat staan en die een wat weg is, gaan soek nie? En as hy hom kry, verseker Ek julle, is hy blyer oor hom as oor die nege en negentig wat nie weggeraak het nie.  (Matteus 18:12,13)

Hier in Matteus is Jesus se woorde amper neutraal, asof hy net die sorg van die gewone herder met sy liefde vir die verlore skaap vergelyk.  Hy verwys na die beste in die aardse herder en verwys na die vreugde oor die skaap wat teruggevind word.

In Lukas (15:3-7) bou Jesus die beeld nog verder in antwoord op die Fariseërs wat hom beskuldig dat saam met sondaars kuier en eet.

Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis: “Sê nou een van julle het honderd skape en een van hulle raak weg. Wat doen hy dan? Hy laat die nege en negentig in die veld staan en gaan agter die een aan wat weg is, totdat hy hom kry.

 En as hy hom kry, is hy bly en tel hom op sy skouers.

As hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat weg was, weer gekry.’ Ek sê vir julle: Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie.”

Jesus praat weer oor goeie herders.  Dit is ‘n beeld van sorg en simpatie.

Dan kom die klimaks van hierdie metafoor in Johannes (10) waar die beeld van die goeie herder die hart van die Vader openbaar.  Ons moet altyd onthou dat Jesus die gedagtes en denkpatrone van die Vader in ‘n menslike liggaam is.  

Jesus self is die Herder.  Dit is een van die belangrike sewe EK IS- stellings in Johannes waarmee Jesus sy karakter omskryf.    

“Dít verseker Ek julle: Wie nie deur die hek in die skaapkraal ingaan nie maar van ‘n ander kant af inklim, is ‘n dief en ‘n rower. Maar hy wat deur die hek ingaan, is die skape se herder; vir hom maak die hekwagter oop. 

Die skape luister na die herder se stem. Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit. Wanneer hy al sy skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit, en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken. Hulle sal nooit ‘n vreemde volg nie maar van hom af weghardloop, omdat hulle nie die stem van vreemdes ken nie.”

Toe het Jesus verder gesê: “Dít verseker Ek julle: Ek is die ingang vir die skape. Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie. 

Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry. ‘n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

“Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. 

‘n Huurling is geen herder nie, en dit is nie sy eie skape nie. As hy ‘n wolf sien kom, los hy die skape en hardloop weg, en die wolf vang die skape en jaag die trop uitmekaar. Hy is ‘n huurling en bekommer hom nie oor die skape nie.

“Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape. Ek het nog ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook lei. Hulle sal na my stem luister, en hulle sal een kudde wees met een herder.

‘n Lang aanhaling uit die hoofstuk sodat die woorde van Jesus soos balsem oor my siel kan drup.  Woorde wat heelmaak waar daar twyfel, vrees of woede mag wees.  Woorde wat moed gee en die suiwer, kragtige salwing van liefde oor my stukkende hart stort. 

Jesus se “stem” in hierdie woorde is die stil, kalm aandwind wat al die hartseer en onsekerheid van ‘n dag in die gebroke wêreld wegwaai.  Sy Stem is in sy Woord.  As ons dit ken, sal ons dit “hoor” in tye van nood en tye van oorrompelende dankbaarheid en aanbidding.

God het ’n geduldige liefde vir die individu.  God werk totdat die laaste swerwer ingesamel is.

God soek voortdurend die verlore siel.  Hy sal nie toelaat dat iemand in sonde verval sonder om te probeer om daardie persoon terug te bring nie.  Die Jode kon dit nie verstaan nie.  Hulle sou maklik saamstem dat, as die sondaar ellendig en in sak en as terugkruip, God sou vergewe.  Maar hulle kon nie die idee van ’n God wat aktief die sondaar soek, ongeag die koste, begryp nie.

God se liefde is vol vreugde.  Daar is geen sprake van verwyt of skuld nie.  Die verlore een word met groot blydskap en feesviering ontvang – geen wrewel, geen wraak nie.  God verwyder ons sondes en dink nooit weer daaraan nie.

God se liefde beskerm en omvou ons. Dit vul ons met verwondering, en gee ons wysheid, krag en oorwinning.

Stof af die Kinderbybel en kyk weer.


Lewer kommentaar