312. Een woord

Dit is net soos ‘n kontrak.  Een van die vereistes van ‘n kontrak is wilsooreenstemming.  Twee partye moet ooreenstem oor ‘n sekere saak of toestand sodat hulle iets tot stand kan bring.  Om saam te wil is kragtig.  So ‘n besluit dat twee mense saamstem, met betrekking tot groot dinge of selfs baie klein dinge, is die aandrywer vir soveel dinge in die wêreld.

Twee mense besluit saam om ‘n kind te hê en nuwe lewe kom tot stand – dit is geweldig.  Enige kind het die potensiaal om ‘n groot impak op sy gemeenskap en selfs die wêreld te hê.  Twee mense besluit saam om ‘n besigheid te begin wat lewens verander, medisyne maak, nuwe gebiede  ontgin.  Die grootste omwentelinge en grootste rewolusies het begin as twee mense saamstem oor ‘n saak.

Ons bid dit in die Onse Vader.  Laat U Naam geheilig word, laat U wil geskied.  Dit is ons wilsooreenstemming met die hemel.  Ons verklaar dat as God se wil op aarde geskied sal dit hier wees soos in die hemel.  Die hemel is die plek waar God se wil volmaak uitgevoer word en ons begeerte is na al die goed en mooi wat dit bewerkstellig.  Ons weet ook goed dat die hemel nie ver en onbereikbaar is nie – dit is die onsienlike realm waar God is.  Dit is naby – net soos Jesus gesê het.   Laat U koninkryk kom, is ons gebed dat die plek waar God se wil geskied, in ons lewe en huis moet kom.

Het Petrus dit geweet toe hy die grootse woorde sê: Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.” (Matteus 14:28)

Dis ‘n baie besondere dag in die lewe van die dissipels.  Dit volg op die dood van Johannes die Doper, waar ons gesien het dat Jesus bietjie eenkant wil wees, maar die skare hom nie toelaat nie.  Hy kry hulle jammer, die Jode-volkie wat siek en ellendig voortstu in hulle hoop vir die Messias, wat sal kom om hulle uit al hulle onderdrukking en paniek te verlos.  Hulle merk iets in die rondloop-prediker van Galilea.  Sy medelye oortref sy eie hartseer oor Johannes se moord aan die hand van ‘n oppervlakkige despoot, Herodes Antipas.  

Die skare volg hom sonder ‘n gedagte aan kos.  Hulle sou sekerlik iets ingepak het vir middagete soos dit die gewoonte was, maar die tradisionele maaltyd oor die middag was klein en is sommer in die loop geëet.  Dit word laat en die dissipels merk die mense is honger.  Soos wat hulle nou al weet, bring hulle die probleem na Jesus toe en sy antwoord is lynreg teen hulle eie praktiese oplossing: Stuur die mense weg sodat hulle self kos kry.  Jesus het lankal die skare se geestelike en liggaamlike honger bespeur.  Sy opdrag aan die dissipels is eenvoudig: Gee julle vir hulle iets.  Hulle kom met wat hulle het – hulle eie belaglik-klein bydrae en sien die wonder.  Almal eet – ‘n stadium vol mense – vyfduisend mans.

Na die wonderwerk gaan Jesus op sy eie.  Hy is mens en het sy alleentyd nodig.  Iewers in die nagtelike ure stap Hy om die meer om te sien waar trek die dissipels.  Hy het hulle op die boot weggestuur na die oorkant van die meer.  Die meer het een van sy kenmerkende storms en die boot is vasgevang in woedende waters. 

Dis toe hulle hom sien.  Wat ‘n genade om Jesus in die middel van die storm te sien.  Dis sekerlik ‘n verligting – maar nee!  Dis so onverwags en onmoontlik dat hulle van angs hard skreeu en uitroep: Dis ‘n spook.

Jesus kalmeer hulle, net soos wat Hy ons in ons paniek en vrees kalmeer.  Wees gerus.  Dit is ek!  Moenie bang wees nie. Kosbare woorde in enige situasie.  Dit is waar ons hom sien.  Die storm is rondom ons en ons oë en ore is oop.  Jesus loop op die water en ons is in die boot wat ons “redding” in die storm behoort te wees.  

Wat het Petrus gedryf om uit te klim?  Het hy reeds besef dat die boot nie noodwendig sy veilige vaart waarborg nie?  Hy moes geweet het, saam met Jesus op die water, is veiliger as in die boot met die golwe wat woed.  

Dit klink dapper, maar miskien was dit desperaat. Sy ondervinding, net daardie afgelope dag, bevestig vir hom die wonder van Jesus se persoon.  Hy het dan self die brood uitgedeel.  Hy het self die klein ou porsietjie kos gesien en moes die mandjies oorskiet opruim.

Op grond van die getuienis van die dag, praat hy vir homself woorde van uitkoms uit die storm.

Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.” (Matteus 14:28)

Die kernwoorde is: beveel my.  Kragtige onderwerping aan die Woord van God, die woorde van Jesus.  Dit is Een soos die Vader en die Seun.

Jesus sê: KOM! …en Petrus loop tot naby Jesus.  Ons sal nooit weet hoe ver nie, maar hy het op die water geloop met sy oog op Jesus.  Dit is eers toe hy afkyk na die golwe dat hy begin sink het en toe weet hy goed om uit te roep.  Sy hart was reg.  Jesus was die uitkoms in alles – in die boot, op die water en in die water se stormgolwe.

Petrus het letterlik op die Woord geloop.  Hy het geloop op die woord van Jesus – KOM.  Dit is hemelse wilsooreenstemming.  Petrus se handeling op die woord van instemming.

Toe hy sink het Jesus sy hand uitgesteek en hom gered.  Hy praat, soos wat Hy altyd doen in ons storms.  In sy vraag is sy antwoord:

“Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”

Kleingelowige is ‘n ander woord as ongelowige of twyfelaar.  Dit beteken  eerder onderontwikkelde geloof, onontwikkelde geloof.

Maar dit is nie die einde van die storie nie.  Petrus is gered, die storm bedaar toe Jesus in die skuit klim.  Dit is alles wonderlik, maar die wonderwerk gaan voort.

Wat van die res van die dissipels wat nie uitgeklim het nie?  Hulle het ‘n spanningsdrama van krag voor hulle oë sien afspeel.  Dit het hulle nie ongeraak gelaat nie.  Net soos by elke goddelike ingrepe in ons lewe waar ons die wonder-uitkoms van God se Hand aanskou, volg danksegging en aanbidding.  Dit is die krag van ‘n getuienis – die kragtige werking van die Heilige Gees in die hart van die hoorder.  Hier het die ander dissipels gedeel in die wonderwerk wat voor hulle afgespeel het.  Hulle harte is geroer om in aanbidding voor Jesus neer te val.

Die manne in die skuit het voor Jesus gekniel en gesê: “U is waarlik die Seun van God.”


Lewer kommentaar