309.  Padwysers en rigtingborde

Rig vir jou padwysers op, bring vir jou rigtingborde aan,

hou jou oog op die grootpad, op die pad wat jy moet loop.  (Jeremia 31:21)

Ons praat so graag digterlik en filosofies van die lewenspad.  Dit is ook reg so.  Natuurlik is die lewe ‘n reis.  Dit is eenvoudig nie ’n sagte lêplek langs ‘n stagnante poeletjie kalm water waar ons kan neerval en rus nie.  Dalk is daar soms tye van rus en asemhaal tussen groot veranderinge, maar ander tye voel dit asof ons bootjie op ‘n vinnig-vloeiende rivier vaar, wat by tye in vloed is en waarvan die golwe ons oorweldig.  Dan klou ons vas en roep uit na die Redder in die skuit.  Soms is ons uitroep selfs met verwyt, soos ons nou die dag gesels het.

Daar’s ‘n plek wat ek van weet
Sonder sorge sonder pyn sonder leed
Die pad daarheen is ongekaart
Die reis daarheen is sonder vaart
En daar is rusplek langs die pad.

So sing Coenie de Villiers en Steve Hofmeyr.  Ek hou daarvan.  Die pad is ongekaart, maar in my hand is die Padwyser van alle eeue wat ek moet raadpleeg.  Die reis is sonder vaart, want ek stap die dag, elke dag op die “telraam van die tyd” sing hulle verder.  

Ons het eintlik geen keuse anders as om die pad aan te durf en die reis te onderneem met dit wat vir ons gegee is.  Ons word gebore met gawes en talente, gevorm deur God self – elke mens op hierdie aarde – het die potensiaal van goddelikheid in hom.  Ons kan kies om dit aan ons Skepper-God te onderwerp en ons lewensdoel te leef, of dit te onderdruk en die Ek-god op die troon van ons lewe te kroon.  Dit is inderdaad die vrug van die Boom van Kennis van Goed en Kwaad – die keuse maak elke mens sy eie god, self-gekroonde koning, volheid van kennis in sy eie oë.

Geen talent of gawe word ooit teruggetrek nie, of dit nou aan God gewy word of in diens van die grootste boosheid gebruik word.  (Romeine 11:29)  Weer eens, soos met alles, is die krag in keuse.  Dit is ‘n daaglikse keuse, soms oor groot lewenskuiwe en soms oor die kleinste opmerking wat uitgespreek word.  

Wie is die Koning in die kamer?  Wie hoor elke woord uit ons mond, ongesiens?  Sal ons dan nie rekenskap gee van die vrug van ons woorde soos ons leer en vergeet?  Hoor wat sê Job:

“Al is my saak reg, my woorde sou my skuldig maak; al is ek ook onskuldig, ek sou oor my woorde veroordeel word.  (Job 9:20)

Die Psalmdigter gee uiting aan die geweld van woorde:

…wat met skerp tonge vir swaarde en giftige woorde vir pyle…  Psalms 64:4)

Spreuke druk die genesingskrag van woorde uit:

Aangename woorde is heuning, soet en geneeskragtig vir die mens. (Spreuke 16:24)

Wat is dan die regte pad, die grootpad waarop ons moet loop?

Gryp terug na die Sondagskoolversie wat ons almal moes leer.  Daardie lang Psalm wat ons verbyblaai waarin elke versie praat oor die Woord van God.  Sommer aan die begin stel die Psalmdigter die beginsel vas:

Hoe kan ‘n jongmens sy lewe skoon hou?

Deur hom te hou aan u woord!

Ek wil aan U gehoorsaam wees met my hele hart,

laat my nie afwyk van u gebooie nie.

Aan u beloftes hou ek vas,

dit weerhou my van sonde teen U.  (119:9-11)

Dit is God se woord in ons woorde wat ons van die kwaad weerhou.  Dit is die enigste manier waarmee ons waarlik boosheid en goedheid onderskei.  In die openbaringskennis en die onderrig wat ons uit die mond van God self kry, leer ons die lewenspad en kan ons rigtingwysers opstel wat ons van lokvalle weerhou.  

Ons het al soveel gepraat oor aanstoot en die ware betekenis daarvan.  Aanstoot is ‘n lokval (skandalon is die Grieks) wat die duiwel gebruik om jou in woede en vrees te bind, met al die newe-effekte van sy bose plan om jou siek, moedeloos en oneffektief te maak.  Lees maar weer Lukas 17 waar Jesus praat en sê hoe algemeen dit is – die struikelblok vir almal.

Aanstoot is ‘n sagte woordjie.  Dit klink dalk nie vir jou so ernstig nie, maar die woede en siel-storm in jou binneste is nie sag nie.  Dit is geweld wat siel-bloed stort met verwonding wat jou lewe die pad laat byster raak.  Dit is die rol van ander mense, mense wat gebruik word in ‘n bose plan, om jou by te kom.

Die mees ernstige gevolg is onvergewensgesindheid, bitterheid wat wortel skiet en groei.  So ‘n bitterheid kan ons gedagtes oorheers en selfs ons optrede bepaal.  Hoeveel maal het ons al mense ervaar wat ander verwerp omdat hulle die pyn van verwerping nie weer wil ervaar nie?  Dit maak ons huiwerig in liefde, skaam en terughoudend in ons toewyding aan ander en kan selfs ons verhouding met die Here skade doen.  

Ons dink dadelik aan persoonlike verhoudings en die “moeilike” mense in ons kring.  Dit is natuurlik die eerste uitdaging.  Is daardie persoon oor jou pad om jou te bevry en die vryheid van die vergifnis te ervaar, onvoorwaardelik soos God jou vergewe het?   Is sy of hy ‘n “siel-projek” om transformasie te bewerk?

Rig vir jou padwysers aan.  Soek die Here, lees sy Woord, vra vir krag.  Werk en bid – maak ‘n plan, vorm ‘n strategie teen die verwonding wat dalk op ‘n gereelde basis plaasvind.  Ons is nooit slagoffers nie.  Ons neem beheer in die Naam van Jesus oor ons binneste sowel as wat om ons gebeur.  Die Here doen wonderwerke.  Hy kan ons sterk maak teen die “skerp tonge soos swaarde en die giftige woorde vir pyle”.  Weerstaan die duiwel en hy sal vlug.  (Jakobus 4:7)

Maar dan is daar nog die openbare realm waar die politiek en globale kwessies ons in ontsteltenis insuig.  Wat lees jy in die nuus?  Wat van die krete van die skare, straatstemme wat opruiend die vlae verbrand, die omgewing vernietig, dwang-taktiek en gewelddadige histerie? 

Waarom is daar onrus onder die volke, waarom smee die nasies planne – en dit tevergeefs?  (Psalms 2:1)

Die nasies is vir Hom soos ‘n druppel aan ‘n emmer, soos ‘n stoffie op ‘n skaal.  As Hy die eilande op ‘n skaal sit, is hulle soos stofdeeltjies.

(Jesaja 40:15)

Kyk op Bodemklipvriend!  Volgende keer praat ons oor ons reis in die onsienlike, die pad met ‘n deur in die hemel in.  (Openbaring 4:1)


One thought on “309.  Padwysers en rigtingborde

Lewer kommentaar