307.  Die smeltkroes van seer

It is in the quiet crucible of your personal private sufferings that your noblest dreams are born and God’s greatest gifts are given.  (Whintley Phipps) 

Ek het hierdie aanhaling neergeskryf terwyl ek na ‘n Gospel musiekkonsert gekyk het.  Die sanger wat dit gesê het, het geklink asof hy weet waarvan hy praat – in ‘n oomblik was sy hart ontbloot en mens het die pad wat hy met God stap “gesien”.  Dit laat mens nie ongeraak nie.  Dis asof mens in iemand se siel inkyk en met die kleinste tydmaat moontlik, insig kry. Daar was diep vrede en nog dieper genesing van die storms wat sy lewe gemerk het, al het hy niks daarvan vertel nie.

Ons het verlede keer oor die storm op die Meer van Galilea gesels – verwytende paniek-gebed in die vloed van lewensgevaar.   Net sowel kan die simboliek van oorweldigende omstandighede vuur wees, want dis in die vuur en die vloed wat die Koninkryk-in-aksie die boosheid oorwin, gebrokenheid genees en die vreugde van oorwinning en uitkoms ‘n lewe kenmerk.  Weer eens: Hoe sal ons ‘n wonderwerk herken en die soet smaak van God-aan-ons-kant ervaar, as ons dit nooit nodig het?

Dit is seker maklik om te praat – natuurlik – soos altyd.  Dis nie die fokus op die vuur van beproewing en wroeging wat ons in die triomftog van Jesus saamvoer nie.  (2 Korintiërs 2:14)  Dit is ons fokus op die Woord waar ons die oorwinning smaak.  Dit is die smeltkroes van seer wat ons bring op die plek waar ons paniek die fokus verfyn.  Dit is die belofte en die woorde van God self wat ons die triomftog binnelei.

Die kern van die oorwinning oor wat ook al ons lewe bedreig en bedruk is in die woorde van Openbaring 12:10-11.  Onthou dit gaan nie oor die toekoms nie – dit is ‘n beskrywing van ons huidige status in die Koninkryk wat Jesus op aarde kom vestig het.  God is tydloos.  Hier sien die profeet (Johannes in die visioen) die uitwerping van Lucifer uit die hemel en die werklikheid van die profesie van Daniël van die groot rots wat al die ander koninkryke van die wêreld sal vernietig. (Daniël 2:35)

Toe het ek ‘n stem in die hemel gehoor wat hard uitgeroep het:

“Nou het ons God die redding gebring,

nou is sy mag en koningskap hier, en die gesag van sy Gesalfde!

Die aanklaer van ons medegelowiges

is uit die hemel uit gegooi, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het.

11Hulle het self die oorwinning

oor hom behaal danksy die bloed van die Lam

en die boodskap waarvan hulle getuig het;

en hulle het nie hulle lewens

so liefgehad dat hulle onwillig was om vir Hom te sterwe nie.  

Hier is ons storie in ‘n neutedop – kort en kragtig.  Die aanklaer is uit die hemel uitgegooi maar God se redding is hier.  Ons kan hom self oorwin met die twee-snydende swaard van ons geveg – die Bloed van die Lam en die woord van ons getuienis.  Dit is woorde wat ons red.  Die woorde van die Woord wat getuig van die Bloed en die Opstandingskrag van Jesus en die woorde van die smeltkroes, die vuur wat die drek en dros van aardse bestaan wegbrand.

Brandwonde is seker die ergste wat ‘n mens ooit kan ervaar.  Soveel van ons kan getuig van die vuur van verwonding in ons siele.  Vuur in die Bybel is ‘n simbool van goeie dinge.  Dit was ‘n vuur wat Moses se aandag getrek het.  Die aard van die vuur het hom op die heilige plek gebring, ‘n plek van persoonlike ontmoeting met ‘n God wat praat en hom uit- en afsonder vir ‘n grootse opdrag.  Dit was nie net die bos wat gebrand het wat Moses nader getrek het nie – dit was die feit dat dit aanhou brand en nie klaarkry nie.

Net so brand ‘n vuur in ons lewe, omstandighede van swaar en pyn.  Dit is dalk iets wat mens sou kon dink sal oorgaan as ek net ‘n paar dinge verander of by ‘n dokter en behandeling uitkom.  Dan is dit skielik nie wat jy verwag het nie.  Die vuur hou aan brand en jy gryp na die Woord om te kom op die plek waar jy jou “skoene uittrek” – nederige verootmoediging – en die Stem hoor.  Dit is die plek van oorwinning.  Dit is die smeltkroes waar die kosbaarste getuienis uitbloei en uitvloei.

Dit is vuur wat suiwer sodat ons siel, ons persoon en afdruk op ons wêreld in die skoonheid van edel-metale, beskryf kan word.  Die silwersmid van die Psalms (66:10) brand die silwer noukeurig teen die presiese temperatuur om dit nie te verskroei nie, totdat Hy sy eie beeld in die blinkheid kan sien.

Die Koopman van Openbaring (3:18) raai jou aan om van Hom te koop. (Is alles in die Evangelie van Jesus dan nie verniet nie?)  Goud wat deur vuur gelouter is, is nie verniet nie.  Dit is gekoop in die smeltkroes van seer.  Dit is die goue strate van die Nuwe Jerusalem (die ware Kerk van Jesus, die onsigbare Koninkryk) waarop ons loop.  

Maar – die smeltkroes waarvan ons so praat is ‘n gewoonlik ‘n vuurwarm oond van oor ‘n duisend grade Celsius.  Dit is die algemene temperatuur vir die oond by ‘n pottebakkery.  Is ons dan nie die kruik in die Hand van die Pottebakker van Jeremia (18) en Jesaja (29) nie?

Kan mens ooit gereed wees vir die vuur wat die bruikbare instrument in God se Hand vorm en verfyn?  Dit is juis die punt van die gelykenis van die tien maagde.  Almal was gereed en het die Bruidegom se koms verwag.  Selfs almal het olie gehad (simbool van die Heilige Gees), maar nie almal het genoeg gehad nie.  Dit is die daaglikse vervulling met die volheid van die belofte, wat ons deur die smeltkroes dra en die goud suiwer en kosbaar laat vloei.

Dit gaan nie om die tweede koms van Jesus nie.  Dit gaan om die koms van Jesus elke dag in elke omstandigheid wat jy moet hanteer.  Dít is die bruidegom wat kom.  Dit is die feesmaal van oorwinning wat jy mis as jy nie sorg dat jou olie-kan vol is sodat jou lig in die duisternis van moeilikheid brand nie.  

Kom sit aan by die tafel in die vallei van doodskaduwee.  Dit is in die vallei waar die fees voorberei word en jou beker oorloop.  (Psalm 23)

Onthou die ou Afrikaans – U maak my hoof vet met olie.

You prepare a feast for me in the presence of my enemies. You honor me by anointing my head with oil. My cup overflows with blessings.  (NLT)


Lewer kommentaar