Woorde is die klank van gedagtes. Vir meeste is dit die werklikheid van klankgolwe in ore, ook jou eie. Woorde het klank-nuanses – fluister-woorde, skel-woorde, liefdeswoorde, haat woorde. Woorde is aan die mens gegee om sy innerlike sy uiterlike te maak.
Woorde is mag. Woorde is die instrument van die leuen, maar ook die instrument van waarheid. Ons kan mense oorhaal, opsweep, aanmoedig en opbeur – alles met woorde. Woorde op wysies is een van die oorheersende en heersende fenomene van alle tye.
Dink dieper en groter – woorde wat lewe bring, woorde wat dood spreek – die mag van die tong.
Dink hoër en meer – woorde wat skep, woorde wat red – Skeppingswoorde en Kruiswoorde.
Daar was ‘n man – die Woord. In die begin was die Woord en die Woord was by God en die Woord was self God. (Johannes 1)
Dit is by daardie Man, God self, by Wie ons moet leer van woorde. Hier op aarde was Hy geskool in woorde, net soos enige Joodse seuntjie.
Daar was geen nasie wat ooit ‘n hoër ideaal van gebed gehad het, as die Jode nie. Geen godsdiens het gebed hoër op die prioriteitskaal geplaas, as die Jode nie. Gebed was groter as alle goeie werke. Die Rabbi’s het geleer: “Hy wat binne-in sy huis bid, omring dit met ‘n muur wat sterker as yster is.” Die enigste berou van die Rabbi’s was dat dit nie moontlik was om die hele dag lank te bid nie.
In hierdie atmosfeer van woorde van gebed en lering, kom Jesus met ‘n rewolusionêre, heeltemal nuwe lering. Dit is betekenisvol om kennis te neem van die ou Nederlandse woord vir rewolusie – hemelbestormer. Hoe gepas is hierdie woord in ons gesprek oor Jesus se lering oor woorde.
In die uiters-gestruktureerde aanbieding van die Evangelie van Matteus, vind ons ‘n kern-belangrike vraag vroeg in die verhouding van Jesus met sy dissipels. Hulle hoor hom praat. Die Bergpredikasie trek die skare. Hy leer met gesag, nie soos enigiets waaraan hulle gewoond is nie. Hulle sien die wonderwerke van genesing en Jesus se gebrek aan vrees vir die godsdienstige leiers. Dan sien hulle Jesus onttrek. Iets in die gesag en lering van sy gedagtes wat weerklink, laat hulle hulle eie leemte, hulle eie gebrek aan krag, sien.
Natuurlik het hulle gebid soos hulle geleer is. Drie maal op ‘n dag, by lig word en donker word en in die middel, in die publiek of waar ook al hulle hulleself bevind, net soos die res van hulle nasie. Tog besef hulle Jesus het iets wat hulle nie kan begryp nie – hemel het in woorde na hulle toe gekom. Sy alleen-tyd het in sy saamwees-tyd weerklink.
Hulle vra die aller-belangrike vraag: Here, leer ons bid. Leer ons om die hemel te bestorm vir die krag en waarheid wat ons in hierdie Rabbi van ons sien.
Vir tyd en ewigheid begin Jesus daardie dag ‘n skool van gebed. Hy het self gesê hemel en aarde sal vergaan maar sy Woorde nooit. (Matteus 24:35) Jesus se skool van gebed is ewig en lewend om in ons tyd by in te skryf en die opleiding te ondergaan wat nodig is, om ons toe te rus vir “groter werke” (Johannes 14:12).
Praat van rewolusionêre, hemelbestormende woorde – in die eerste lyn van die gebed wat Jesus sy dissipels leer, verkrummel die vooropgestelde idees van ‘n eeue der eeue. Dit heilige Jahweh is Pa. Nie net Vader soos wat dit so formeel in Afrikaans en Nederlands uitgedruk word nie – Skepper-God van hemel en aarde is Pappa.
Gebed in privaatheid? Hoe dan nou? Dis belangrik dat die kerkleiers sien mens bid. Hulle moet kan beheer met die Wet. Tyd en spasie is van kern belang – dan nie? Ons gaan Tempel toe op die uur van gebed soos wat Petrus en Johannes steeds doen na Pinkster. (Handelinge 3:1)
Jesus leer die Samaritaanse vrou dat tyd en spasie nie meer saak maak nie. Jerusalem word vervang. Die Nuwe Jerusalem is in die harte van mense wat kies om in gees en waarheid te aanbid. Gees en waarheid is nie groter pogings of meer ernstige fokus nie. God is gees, daarom bid ons met ons herbore gees in ons, wat deur die Heilige Gees ons leer om in waarheid te bid. Waarheid kan en sal altyd net een ding wees – Jesus self. Hy is die Waarheid – ons meetstok van moraliteit om altyd te weet wat reg is.
In die leerskool van gebed is een ding duidelik – praat-prioriteit bepaal die lewe. Praat met God is belangriker as om met mense en oor mense te praat. Praat met God determineer ons praat met mense.
Sal ons dan nie God self se woorde glo nie? Alles wat julle vra. Die heel eerste vereiste vir effektiewe gebed is volheid van vertroue. Ons nader tot God met volle geloofsekerheid. (Hebreërs 10:22) Ons kan nie bekostig om in “dubbelhartigheid” die volkomendheid van die belofte te mis nie. (Jakobus 1:8, Afr20)
Jesus het nie sy dissipels geleer preek nie. Preek en praat kan net uit gebed (die twee-rigting gesprek met God) voortspruit. God se kenteken, sy onderskeidelike kenmerk van alle ander gode, is dat Hy praat. Hy is nie stom en leweloos soos die afgode van die wêreld nie.
Daarom sal my volk my Naam ken. Daarom, op daardie dag, sal hulle weet dat Ek die Een is wat sê, ‘Hier is Ek!’ ” (Jesaja 52:6)
As ons glo dat God is wie Hy sê Hy is, sal ons eerste met hom praat oor alles en almal wat ons lewe raak, elke aspek van elke omstandigheid. Hy bepaal en laat gebeur.
Ja, die Here, Heerser oor alle magte,
het besluit –
wie kan dit verydel?
Sy hand is uitgestrek –
wie kan dit afweer? (Jesaja 14:27, Afr20)
Hierdie God, heerser oor alle magte, is ons Pappa en Hy is meer bereid om ons gebed te antwoord as wat ons bereid is om te bid.
Sela – stop en dink noukeurig hieroor na.
[Lees gerus Andrew Murray se boek: With Christ in the School of Prayer. Al sy werke is gratis aanlyn beskikbaar.]