Ons is almal rasionele wesens wat ons lewe met wysheid en onderskeiding leef sonder om aan die gekhede van boosheid en goddeloosheid toe te gee. Dit is soms onafwendbaar om te aanskou hoe ‘n lewe in ons familie- of vriendekring in die verkeerde rigting die loop neem en in tragedie verval, met ‘n gevoel van magteloosheid om te help.
Dit is nie noodwendig as gevolg van die keuses wat mense self maak nie. Ek het al meer as een keer gesien hoe dat kinders in gebrokenheid verval omdat ouers sekere besluite neem, hoe dat ouers in sak en as sit, as gevolg van die keuse van kinders, om nie te praat van die verwonding van huweliksmaats in verraad en selfsug nie. Hartseer het nie altyd ‘n duidelike beginpunt nie en dit voel soms asof dit nooit sal eindig.
Siekte en dood en die normale verloop van die lewe, soos werk, inkomste en blyplek wat verander, is dit wat mens sou kon verwag, maar die impak van die werklikheid is emosioneel ingrypend. Dit is sulke tye wat die Woord ons reddingsboei in ‘n stormsee is.
Iemand het gesê: Die see het nie straatligte nie.
Duisternis maak alles erger. Gedagtes wat soos windmeulens in stormwind maal, word in die nag vreesaanjaend.
Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring. (Psalms 94:19)
Die OAB druk so ‘n nag-gedagte se windmeul-effek baie goed uit.
As my gedagtes binne-in my vermenigvuldig, dan verkwik u vertroostinge my siel.
Verkwik is so ‘n mooi woord wat spreek van varsheid en nuwe lewe, soos ‘n opwekking uit die dood. Hoe kan ‘n mens sy hart en denke verkwik, wanneer die lewenstorme woedend om jou slaan? Met die vertroosting van die Woord, die Stem van God, wat rus bring.
Kinders van die Here het hoop om binne moeilike omstandighede die vreugde en vrede van God te ervaar. Dit is nie die tyd om hulp op die verkeerde plek te soek nie. Ongelowiges het baie tegnieke om die leemte wat die gebrek aan geloof in elke mens se lewe laat, te vul. Ons kan altyd hulp kry, maar nie voordat ons dit voor die Here gebring het, om te kan onderskei wat vir ons die regte pad sal wees.
In alle gevalle moet ons oog op God bly. Dit was vir my ‘n skok om te leer dat boosheid ‘n vastrapplek in ons lewe kan kry deur verwonding. In emosionele pyn kan ons so seerkry dat wraak en bitterheid onversadigbare woede en vrees genereer.
Staan op en klou vas aan die wonder-beloftes van God, net soos ons verlede keer geleer het om te rus in die versekering dat God die vyand van jou vyand is. Dit is die sagte stem van die Heilige Gees in die lewende woorde van die Woord.
So sê die Here: Bly stil, moenie huil nie,
moenie trane in jou oë hê nie!
Vir al jou swaarkry sal jy vergoed word,
sê die Here,
jou kinders sal uit die vyand se land terugkom.
Daar is ‘n toekoms vir jou nageslag, sê die Here,
jou kinders sal na hulle besitting toe terugkom. (Jeremia 31:16,17)
Met so ‘n belofte in ons hart kan ons vir ‘n oomblik bestek opneem en ons seëninge tel. Neem tyd en skryf al die dinge waaroor jy dankbaar is, op. Dit is die beste medisyne vir woede en depressie. Dit is ons eie oog wat ons hart in pyn vaspen en voortgaan met die marteling van bitterheid.
Maar as jou oog sleg is, sal jou hele liggaam sonder lig wees. As die lig in jou donker is, hoe donker moet dit dan nie wees nie!” (Matteus 6:23)
Dit is Jesus self wat waarsku teen verkeerd kyk. Die gevolge is verwoestend en kan selfs aanleiding gee tot fisiese siekte.
Die lamp van jou liggaam is die oog. As jou oog goed is, is jou hele liggaam ook verlig. Maar as jou oog sleg is, is jou hele liggaam ook sonder lig. (Lukas 11:34)
In dankbaarheid kan ons sing in die hoop op wonderwerke en uitredding.
Sing, Sion! Juig, Israel!
Wees met alles wat jy is, vrolik en bly, Jerusalem!
Die Here het ‘n einde gemaak aan jou straf,
Hy het jou vyande laat padgee.
Die Koning van Israel, die Here, is by jou;
jy hoef geen ramp meer te vrees nie. (Sefanja 3:14,15)
Die gevaar is egter om ons hoop en vertroue op ander dinge te sit. Selfvoorsiening, eie wysheid en ander mense wat ons bitterheid en trots voed. Eie geregtigheid en ‘n hoogmoedige gebrek aan insig in ons eie foute, kan mens seker die “afgode van oorlewing” noem. Hoe is dit moontlik om nederig voor God en ander mense en afhanklik aan die Heilige Gees te bly as dinge so verkeerd en moeilik word?
Luister na die waarskuwing.
As jy om hulp roep,
moet jou spul gode jou kom red,
maar ‘n wind waai hulle almal weg,
‘n yl luggie vat hulle weg.
Maar wie by My skuil, sal die land besit
en my heilige berg as eiendom ontvang. (Jesaja 57:13)
Die Here sal met jou vyande afreken. Die waarskuwing om nie op gode te vertrou nie, is nie ‘n aanmoediging om net stil te sit en niks te doen om jou lewe uit te sorteer en te verbeter nie. Dit gaan om ‘n hart-ingesteldheid van vertroue en nederigheid voor die Here.
Ons is wonder-wesens met intellek en energie. Ons kan planne maak en werk, maar dit is nie ons saligheid nie. Ons geloof in die Een wat planne seën en ons die vrug op ons arbeid laat geniet, is ons redding en glorie-pad in watter omstandighede ook al.
…maar aan die armes sal Hy in geregtigheid reg doen en die sagmoediges van die land met billikheid oordeel; maar Hy sal die aarde slaan met die roede van sy mond en met die asem van sy lippe die goddelose doodmaak. (Jesaja 11:4)
Waar is jou oog en waarmee is jou gedagtes besig?
Laat jou werke aan die Here oor, dan sal jou planne uitgevoer word. (Spreuke 16:3)