287.  Groot opskudding

Toe ek hierdie dinge hoor, het ek gesidder,

my lippe het gebewe,

my hele liggaam het lam geword,

my bene het aan die ruk gegaan.

Tog sal ek geduldig wag

dat die dag van die oordeel

moet kom oor die volk deur wie ons aangeval is.

As jy nie hierdie woorde ken nie, sou jy kon raai uit watter boek en hoofstuk van die Bybel hierdie aanhaling kom?   Die eerste deel kon net sowel ‘n dramatiese beskrywing van myself wees as ek die nuus lees. Of dit nou wêreldnuus, plaaslike nuus of selfs persoonlike nuus uit my eie kring is – dinge laat my sidder – ‘n ietwat outydse woord wat so goed ontsteltenis omskryf.

Die OAB (1933/53 se vertaling) is selfs meer aangrypend.

Toe ek dit hoor, het my ingewande gebewe; my lippe het getril by die geluid, bederf het gekom in my gebeente, ja, ek het gebewe waar ek staan, omdat ek rustig moes wag op die dag van benoudheid dat dit aanbreek vir die volk wat op ons ‘n aanval maak.

Dit is die versie in Habakuk 3 net voor die begin van Habakuk se bekende lied oor die vyeboom wat nie bot nie, die wingerde wat teleurstel en ‘n  reeks ander rampe wat ons lei na die triomfantelike woorde van lofprys en aanbidding wat almal onthou en ken en sing.  

Ek sou kon aanbeveel om al drie hoofstukke van Habakuk een maal per maand deur te lees as ‘n tipe “geestelike bril” vir ons daaglikse politieke en sosiale porsie onplesierigheid.  Sy ongeduld met die gebeure en die goddeloosheid van sy volk gee mens perspektief oor die groot opskuddings van die antieke politiek.

Net in kort:  Hy vra die Here wat in die land aangaan en hoekom dit so sleg gaan.  God se antwoord is nie goeie nuus nie.  Hy gaan die Chaldeërs stuur, ‘n volk wat plunder en moor.  Habakuk se reaksie is om die aangesig van God te soek.   Hy verklaar in die tweede hoofstuk dat hy op sy wagtoring (gebed tyd) sal staan totdat hy weet hoe hy die vrae van die mense moet antwoord.  Hy hoor by die Here dat hy die visie moet skryf – God se antwoord aan die volk in ‘n tyd van groot opskudding: 

Die regverdige sal deur die geloof lewe. [Bodemklippe 276 en 277]

In die derde hoofstuk breek die profeet deur sy misnoeë en verwarring met dit wat om hom aangaan en skryf ‘n lied.  Ons lees so dikwels net die laaste drie verse (17-19) wat reg en goed is, maar die oploop tot die oorwinning is taalkuns wat die realiteit van sy tyd in woorde uitdruk, sodat ons lesers saam met die profeet reis na ‘n arendsblik, ‘n hemelse perspektief waarin die God wat oor alles heers, aanbid word met vryheid en vrede waarvan net Hy self die Bron kan wees.

Groot omwentelinge is die hooftema in soveel van die profete van die Ou Testament se lewe.  Die nasies was onrustig en oorlogsugtig.  Dikwels was die konings van Juda en Israel die slagoffers van magsug en arrogansie.  Oorlog was deel van die lewe en tye van vrede is gereken as ‘n seën uit die Hand van God. 

Groot bedreiging dwing Josafat op sy knieë, presies waar ons moet wees as die fondament omgegooi word.  (2 Kronieke 20)

Drie nasies trek op teen Josafat.  Slegte nuus, ‘n vyandelike weermag, nie net een nie – ‘n oormag van drie nasies.  Wat is Josafat  se reaksie?

Hy was bang.  (20:3)  Natuurlik!  Dis normaal.  Sy bangheid bring hom presies  op die plek waar hy moet wees – by die Here.  Hy het ’n vasdag uitgeroep om hulp by die Here te vra.  

Ons vas nie om God se Hand in ons guns te beweeg nie – sy Guns en  Genade is ons bedekking elke dag.  Ons vas om ons eie geestelike ore en oë te fokus op sy Woord sodat die transformasie wat Hy in ons wil bewerk, wel kan plaasvind.  

Die uitkoms wat God bring is nie vir ons plesier nie, dis tot ons voordeel.  Ons plesier en ons voordeel is nie altyd dieselfde ding nie, hoewel dit die vredevolle vrug van geregtigheidbewerkstellig. (Hebreërs 12:11)

Lees maar Josafat se  gebid voor die gemeente van Juda (familie) en Jerusalem (huishouding).

In die heel eerste woorde verhef hy God tot die Heerser van die hemel teen wie niemand kan stand hou nie.  In sy woorde kroon hy God as die enigste een uit wie se Hand sy oorwinning kan kom.  God heers oor die nasies.  

Dan bid hy die geskiedenis, die volk van God se getuienis, waartydens hulle soveel male in die Tempel (teenwoordigheid van God in gebed) gestaan het en om hulp uitgeroep het.

Eers na hierdie woorde – uitgespreek sodat hy self en sy mense kan hoor en saamstem – stel hy die realiteit van sy probleem voor God, in woorde geformuleer sonder weg te skram van die feite van sy situasie.  Die oormag trek op as gevolg van die volk se ongehoorsaamheid om hulle uit te roei.  (Vyandige volke is vir ons wat in die Gees-dispensasie leef, die simbool van ongehoorsaamheid aan die Here en daarom sonde wat bely moet word.)

Die wonder-woorde van nederige gebed:  Ons weet nie wat om te doen nie. Ons oë is op U gerig.”

Dit is die koning se gebed voor die hele Juda en hulle afhanklikes, vrouens en kinders, wat daar voor die Here gestaan het. (20:13)

Hierdie nederige verootmoediging in gebed en vas, ontbind die profetiese woord oor die gemeente.  Die Leviet, uit die nageslag van Asaf, wat ons ken as psalmdigter spreek die antwoord van God oor die situasie.

So sê die Here – dit is presies wat ons wil hoor en al wat ons na moet luister.

Moenie vrees nie, moenie bang wees vir hierdie groot menigte nie, want hierdie oorlog is nie ‘n saak vir julle nie, maar vir God.

Julle hoef nie te veg nie, neem net posisie in en staan en kyk na die oorwinning van die Here vir julle. Moenie vrees nie, Juda en Jerusalem, moenie bang wees nie. Trek hulle môre tegemoet. Die Here sal by julle wees.”

Groot politieke omwenteling, groot persoonlike krisis is ‘n saak vir God.  Neem net posisie in en staan en kyk na die oorwinning van die Here vir julle.

Die gevolg van die profetiese woord in hulle midde is spontane en triomfantelike prys en aanbidding.  Die verwagting van God-in-aksie is die vaste oortuiging in geloof nog voordat die oorlog gevoer word.

Toe kniel Josafat, en al die mense van Juda en Jerusalem het voor die Here gebuig en Hom eer betoon. 

Daarna het die Leviete van die Kehat- en die Koraggroepe opgestaan en die Here die God van Israel uit volle bors geprys.

Wat is die posisie wat ons inneem om die oorlog te voer?  

Josafat-hulle is die volgende môre vroeg uit na die Tekoawoestyn toe. 

Hulle trek die vyand tegemoet.  Daar is aksie – Heilige Gees toerusting, harte vol geloof en hoop en soldate wat gereed is vir oorlog.  Die strategie en die uitkoms is heeltemal ‘n misterie op hierdie stadium. Laaste woorde van bemoediging van die koning.

“Luister na my, Juda en inwoners van Jerusalem! Stel julle vertroue in die Here julle God, en julle sal vas staan. Stel julle vertroue in sy profete, en dit sal goed gaan met julle.”

Toe Josafat se besluit in oorleg met die volk.  Die profetiese woord het hulle almal met wysheid vervul en ‘n strategie laat aanvaar wat net uit die gebed en verootmoediging sou kon kom.  Dit is nie ‘n logiese oorlog-strategie nie.

Josafat het met die volk oorleg gepleeg en toe sangers laat plek neem voor die gewapende manne. Hulle het vooruit geloop in hulle gewyde klere en die Here geloof met die woorde: “Loof die Here, aan sy liefde is daar geen einde nie.”

Die sangleiers loop voor.  Hulle lied is ‘n lofprys aan die liefde van die Here.

Die vyand spring aan mekaar en in ‘n geweldige bloedbad delg hulle mekaar uit sodat daar niemand oorbly nie.  Dink die impak  van hierdie oorwinning oor op jou situasie, sowel as alles wat ons Christene so ontstel in die moderne agenda en openbare debatte.  Ons sal die buit optel.

Ja, drie dae lank het hulle die kosbare besittings van die vyand buitgemaak.  Die volk van God kom verryk op alle gebiede uit die geveg.

Die gevolg was ‘n nuwe pleknaam, Lofdal, en ‘n groot fees van blydskap en musiek.  

Die heerlike gevolg van die groot moeilikheid, die groot opskudding?  

Al die koninkryke was van skrik bevange vir God toe hulle hoor dat die Here oorlog gevoer het teen die vyande van Israel.

Kom ons bid en vas, sodat die koninkryke van boosheid, bang word vir God.  Moenie dat die wêreld se strategie van straatstemme,  paalwoorde en opstandige histerie wat almal uitmergel in woede en vrees ons ooit intrek nie.

Ons veg op God se manier.  Ons oorwinning is gewaarborg.


Lewer kommentaar