198. Bybelse Wiskunde.

Wel, Wiskunde was nog nooit my sterk punt nie, maar ek ken darem  die basiese beginsels.  Die lewe vereis Wiskunde, veral rekenkunde soos ons in die outyd optel, aftrek, maal en deel genoem het.  Ek kan meet en pas, naaldwerk doen met mates, bankrekeninge nagaan, uitgawes dophou en pryse onthou sodat ek goeie koopbesluite maak.  Ek speel altyd ‘n speletjie met myself as ek die supermarktrollie kassier toe aanstoot om ‘n rowwe skatting van die totaal te maak. Ek hou daarvan as ek net naby reg is.

Ons het al gesels oor Bybels syfers. Wiskundiges is opgewonde as mens syfers praat.  Dit is hulle taal. Die Bybel skram nie weg van syfers, mate en berekeninge nie, al is dit ‘n antieke geskrif en ons dinge dalk heeltemal anders as hulle sou kon verstaan.  Die ark is volgens mates gebou, wat in die moderne tyd nagemaak en korrek bevind is.  Die Tabernakel is volgens God se mates gemaak, met streng voorskrifte oor die versiering en afronding daarvan.  Ek het al genoem dat my ma altyd gesêhet: dit maak nie saak hoeveel nulle voor ‘n een is nie. Nulle na die een maak saak. Net so is ‘n lewe saam met Jesus. Hy is die EEN en al is jou lewe ‘n niks, nadat jy hom in jou lewe ingenooi het, maak al die nulle van jou lewe jou waarde onberekenbaar.

Ons het eintlik nog nooit in Bodemklippe oor die huwelik gepraat nie, maar dikwels oor verhoudings.  Ons het ookal voorheen beklemtoon hoe belangrik verhoudings, veral gelukkige en gesonde verhoudings in die bepaling van ‘n mens se geluk is.  Jy leef in verhouding elke dag, al is jy alleen en ongebonde.  Jy is gebore in familie en leef in gemeenskap en dit bepaal in ‘n groot mate jou innerlike vergenoegdheid en blymoedigheid.

Dit is egter so dat Bybelse rekene nie heeltemal soos ons aardse rekene werk nie.   God is een, maar bestaan uit drie.  Die mens is een wese maar word beskryf as gees, siel en liggaam.  Die syfer drie in die Bybel dui altyd op volledigheid en volmaaktheid.

So skryf Paulus oor die belangrikste drie basiese beginsels vir die Christendom – geloof, hoop en liefde (1 Korintiërs 13). Jesus praat oor die drie beginsels wat ‘n lewe sterk maak – gebed, vas en gee (Matteus 6).

Hierdie jaar het ek en my man ons 35 jaar huweliksherdenking gevier.  Sonder twyfel is dit die beste 35 jaar van my lewe en ek het nog altyd ‘n veilige hawe en ‘n sterk vesting in my verhouding met hom en in die huis wat ons saam opgebou het, gevind.  Maar ek weet baie goed dit is nie omdat dit ons is nie.  Dit is nie omdat ons goeie mense is nie of omdat ons toevallig ‘n verhouding van liefde en ‘n sterk innerlike konneksie het nie. Ek weet goed dat ons huwelik funksioneer en floreer met ‘n derde persoon betrokke.  Ons huwelik in Wiskunde se taal is: 1+1+God=1 goeie verhouding.

My dierbare vriendin stuur vir my die volgende skrif as gelukwense en ek het weer besef: Die Bybel sêdit die beste.  Lees saam met my die Woord van God se verhouding-wiskunde!

Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets.

As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie.

As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word?

Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied.

‘n Driedubbele tou breek nie maklik nie.  (Prediker 4:9-12)

Daar is ‘n ou legende van ‘n man wat sy seuns die beginsels van samewerking en eenheid wou leer.  Hy het ‘n klomp stokkies in ‘n bondel gebind en hulle gevra om die stokkies te breek.  Natuurlik kon hulle nie.  Toe hy die bondeltjie losmaak, kon hulle maklik die individuele stokkies breek.

Ons leef in Christus.  Die kerk van Jesus is gebou op sy Kruis, Opstanding en Hemelvaart – drie kragtige gebeure wat die fondament van die kerk vorm.

Binne die kerk is ons gebind aan Jesus, aan mekaar en aan die Woord van God.  Saam is ons ‘n onoorwinlike weermag in die Koninkryk wat ons wêreld impakteer.  Dit is die hemel se Wiskunde:

Jesus + die Woord + wedergebore mense = die Kerk van Jesus.  Ons oorwinning is gewaarborg in Jesus se dood, opstanding en hemelvaart.

Dit klink soos ‘n goeie leerstelling; ‘n goeie lewensfilosofie.  Jesus het egter nie gesterf vir ‘n lewensfilosofie of patroon van lewe nie. Die beginsels is kragtig en lewensveranderend.  Die Christendom is nie ‘n voorskrif oor die lewe nie – dit is gehele transformasie.

Die beginsels waarvan ons hier praat is radikaal en geweldig.

As ‘n mens onderwerp aan geloof, hoop en liefde verander jou lewenspad op die mees fundamentele vlak moontlik.  Dit verander jou lewe en jou dood – absoluut alles wat in en om jou is.  Jou besluit om Jesus te volg het ‘n impak op jou innerlike wese en denke, jou omstandighede en die mense om jou.  Jy draai die skip; jy verander jou koers; jy verander die koers van jou hele nageslag.

Jou besluit vir Jesus sal die lewenskoers van jou kindskinders wat jy nooit eers hier op aarde sal ontmoet nie, verander, verbeter en verlig.

Is dit nie iets om oor te juig nie?

Ons kan bietjie verder dink oor Wiskunde in ons wêreld.  Ons kan lees oor die Fibonacci-stelling waarvolgens die volgorde van die simmetrie van ‘n sonneblom se sade numeries uitgedruk word.  Die volgorde word bepaal van een af met die som van die vorige twee syfers: 1, 2, 3, 5, 8, 13, 21, 34, 55, ens.  Baie plante kan met die volgorde beskryf word.  Dis een van die redes waarom ‘n vier-blaar klawer so moeilik is om te vind.

Nog ‘n voorbeeld is die goue ratio.  Dit word uitgedruk in die syfers 1.618 en die Griekse letter phi (Φ).  Dit word by benadering uitgewerk met die Fibonacci-stelling.

Die wetenskaplikes wys op al hierdie simmetrie en voorspelbaarheid om die wonder van patrone in die natuur uit te druk.  Hulle vra ook natuurlik die vraag waarom dit so bereken kan word.

Die antwoord daarop is doeltreffendheid.  Die sonneblom kan die maksimum hoeveelheid saad in die blom produseer as die skeiding tussen die sade ‘n hoek vorm wat op ‘n irrasionele getal baseer is.

Dink net hoe die toepassing van God se wiskunde in die natuur seisoen na seisoen, met die goddellike ritme vansaaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag ons lewe op aarde bepaal.  Volgens die dromslag van die Almagtige met goddellike wiskundige presiesie word daar saad vir saaier en brood vir die eter gegee.  (Jesaja 55:10, OAB)

Net so sal God se wiskunde in ons geestelike lewe sorg vir die voeding van ons siele. Die Woord is die saad en Jesus is die Brood van die Lewe.

‘n Verhouding is gelyk aan ek, die ander persoon en God.  Dan is dit ‘n verhouding wat voed en bou.  Dit is hoe dit werk.

In die Koninkryk is dit ek PLUS oneindige getal mede-christene PLUS God IS GELYK AAN die kragtige, onsigbare koninkryk wat effektief die wêreld se nood beantwoord.

GEBED:

Here, ek onderwerp nou myself en al die “onmoontlikhede” van enige verhouding wat my pla onder die gesag van die Heilige Gees en verwag ‘n wonderwerk van God om dit bonatuurlik in hand te neem en tot my voordeel en vreugde op te los.

Die Here sal jou hart verander indien nodig, jou sterk maak en vrede in jou huis en hart en vriendekring bring.

 

 

 

 

 

 

 

 

137. Altyd genoeg – nooit tekort.

[Johannes 1]

Hier in die laaste verse van die eerste hoofstuk van Johannes, leer ons nog woorde om die volheid van Jesus te beskryf, net soos genade en waarheid wat ons verlede keer beskou het. Om Hom te ken, is om ten volle te leef – daar is geen ander manier nie.

‘n Groot deel van ons aardse bestaan is om in ons eie basiese behoeftes te voorsien. Dit is hoekom ons werk en woeker met ons geld. Dis ook reg so. Die verpligting om te voorsien skep die geleentheid vir vrees vir skaarste, wat diep spanning en paniek kan bring.

God se naam is El Shaddai, die God van genoeg. Die woord genoeg is ‘n bron van bemoediging vir my. Dit beteken ek sal nooit in die moeilikheid kom oor te min nie. Sy naam is Sy karakter. Hy is die Bron, die onuitputlike Bron. Sy voorsiening is nooit gebrekkig of afgskeep nie.

Ons het die ou lied gesing. Die woorde dryf vrees vir die toekoms uit.

He is more than enough, more than enough

He is El Shaddai, the God of plenty

The All-sufficient One, God Almighty

He is more than enough

Die betekenis van El Shaddai is naby verwant aan die majestieuse Skepper-God, almagtig in Sy voorsiening. Hy kan uit niks iets skep. Hy roep die grense van die oseane en verklaar oor alles – genoeg.

In Sy voorsiening word Sy glorie vertoon. Glorie word beskryf as die reputasie en eer van bewonderingswaardige prestasies, wonderwerke en oorweldigende skoonheid. God se glorie is die gewig van sy majesteit, sy reputasie en sy waardigheid.

Hy het Sy glorie vertoon in Sy wonderwerke (Johannes 2:11). Jesus het die glorie van Sy vader weerspieël. Sy vader het Hom vereer met die volheid van die Skeppingskrag (Johannes 5:41; 7:18; 8:50,54) Jesus verklaar self dat die glorie van Sy vader Syne was nog voor die wêreld begin het (Johannes 17:5).

Daardie selfde glorie, Sy reputasie en die volheid van Sy voorsiening gee Hy aan Sy dissipels – dit sluit ons in (Johannes 17:22).

Jesus is die vertoon van God se glorie, ‘n manifestasie van God se liefde.

1:15-17:

Johannes getuig van Hom en roep uit: “Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: Hy wat ná my kom, is my vóór, want Hy was voor my reeds daar.”

Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang.

God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.

Johannes die Doper het Jesus die heel eerste en hoogste plek gegee. In elke woord wat hy gepraat het, het die hoë roeping van Jesus duidelik uitgekom. Dit is baie belangrik vir Johannes die Apostel wat hierdie Evangelie skryf.

Jesus was eintlik ses maande ouer as die Doper. Johannes sê daarmee dat Hy wat na my gekom het, my junior, het my senior geword. Ek het net die pad vir Hom voorberei. Jesus het voor die wêreld al bestaan.

Die woord wat Johannes vir volheid gebruik is pleroma en dit beteken die somtotaal van wat God is.

Hy stel dit omonwonde: Jesus is die somtotaal van die wysheid, krag en liefde van God.

God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon. In Hom is die volle wese van God beliggaam, en in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid. Hy is die hoof oor elke mag en gesag. (Kolossense 1:19, 2:9,10)

Die fontein van goddellike lewe word aan die mens beskikbaar gemaak.

1:18: Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak.

 As Johannes verklaar dat niemand God ooit gesien het nie, sou almal in die antieke wêreld met hom saamgestem het. Mense was gefasineerd, frustreerd en depressief oor die konsep van God en die onbereikbaarheid van ‘n ver, afgeleë godheid.

Die Jode het die stelling aan Moses goed geken.

Vir My kan jy nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie.” (Exodus 33:20)

Plato het dit bevestig. Hy het gesê dat God en die mens nooit kan ontmoet nie. God is altyd ver bo alles.

Die was ondenkbaar om God vader te noem.

Johannes maak hierdie skokkende stelling dat Jesus aan die mens die ganse volheid van God openbaar.

Jesus is uniek – een van ‘n soort. Hy is monogenes – enigste en spesiaal.

Die ou vertaling sel vers 18 so:

…die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is…

Vir die Hebreërs was die beskrywing “in die boesem” die naaste en warmste verhouding ooit, wat die diepste intimiteit veronderstel. Dit is waarom Jesus die Vader kon openbaar. Dit het uit Sy besondere verhouding met Sy vader gespruit.

In Jesus was die afgeleë, onkenbare, onsigbare, onbereikbare God nie meer ‘n vreemdeling nie.

Dit was nie ‘n nuwe idee nie. Dit is dikwels in die Psalms en die verlange van die profete uitgespreek. Die uitnemendheid van die lewe was slegs moontlik in die teenwoordigheid van die Vader. Selfs in hulle interpretasie van God as afgeleë en selfs vreeaanjaend, het hulle hulle diepste verlange vir ‘n intieme, liefdesverhouding uitgespreek.

Hosea skryf oor die hemelse verlowing wat die liefdesverhouding van God met Sy mense uitspreek.

En Ek sal My met jou verloof in trou; dan sal jy die HERE ken.   (Hosea 2:19)

Hy praat met Jeremia oor die liefde van die bruidstyd, toe hulle Hom gevolg het, selfs in die woestyn en wildernis in. (Jeremia 2:1)

Dis alles liefde; God se liefde. Jesus is God se liefde. Jesus is lewe. Buite Hom is lewe nie die moeite werd nie.