Soos ek hier uitkyk oor ‘n sneeubedekte agterplaas is daar lang skaduwees oor alles. Die maan is helder en die woud agter se boom-silhoeëtte gee die indruk van ‘n skets van die skadubeelde op die wit. Dis pragtig, veral omdat die beelde van skaduwees in my kop lesse uitspel. Ons speel met skaduwees – kinders wat rondspring en mekaar se skaduwees probeer raaktrap. Ons vertel stories met handgebare in skaduwees teen die muur.
So nou en dan moet ek erken dat ‘n aanval van vrees my hard tref. Nou die nag het ek wakker geskrik met die bekende styfheid in my innerlike en die volgende dag die duidelike kloue van boosheid oor my gedagtes ervaar. Dit is wat my Skrif toe jaag met ‘n honger na geregtigheid – gierig vir die krag-woorde van troos en belofte.
Ons is gemaklik met ‘n persoon wat sy eie voetspoor deur die lewe trap. Dit is nodig om met sekerheid en selfvertroue jou verdienste en vordering uit te bytel. In die proses gooi jy ‘n skaduwee (jou invloed en styl) oor jou werkplek en familie, vriendekring en omgewing. So ‘n invloedsfeer is deel van elke mens en dit is goed om daaroor na te dink. Jabes se gebed oor die vergroting van sy grondgebied en God se seën oor sy lewe is vergelykbaar. (1 Kronieke 4:10)
Die eerste woorde van Psalm 91, my vrees-remedie, het my diep getref. Kom ons lees dit uit die ou bekende 1933-Afrikaanse vertaling (OAB).
HY wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige.
Skuilplek is ‘n self-beskrywende woord maar vernag of oornag in verband met ‘n skaduwee maak net nie sin nie. In die duisternis sien ons nie die skaduwee nie en tog het die woorde waarde vir die nagte wanneer vrees woed. Ons het al genoem dat God in die duisternis te vinde is. (Eksodus 20:21)
Hy wat diep geheime uit die donker blootlê, dit wat pikdonker is, na die lig bring; (Job 12:22)
Die Engels is bietjie anders:
Whoever dwells in the shelter of the Most High
will rest in the shadow of the Almighty (NIV)
He who dwells in the secret place of the Most High shall remain stable and fixed under the shadow of the Almighty [Whose power no foe can withstand]. (Amplified)
Dwelling dui op ‘n woonplek, soos die Afrikaans aandui met sit. Dit is ‘n rusplek, ‘n veilige, ontspan-plek. In die skaduwee van die Almagtige is daar stabiliteit en sekuriteit.
Waar is hierdie skuilplek en skaduwee? Die woord word twintig keer in die Ou Testament gebruik, meer as helfte in die Psalms. In die verduideliking van die Hebreeuse woord wat die wyer betekenis-nuanse uitspel, word verwys na ‘n plek van hoop en vertroue.
Dit is ‘n pragtige beeld van God se skaduwee wat ons fort van veiligheid is en waarin ons eie skaduwee verdwyn. Hoe dikwels praat ons van ander mense wat ons of iemand anders oorskadu. Dit is meestal negatief omdat elke mens “sy plekkie in die son” verdien waar hy sy eie skaduwee kan gooi.
Dit is ‘n groot gedagte om jou eie waan, eie lewenstrategie, eiesinnigheid op te gee en die Skaduwee van die Almagtige te betree, daar waar jou eie skaduwee verdwyn en jy die koelte van hoop en vertroue kan geniet. Dikwels is hitte en die songloed beelde van verdrukking en swaarkry.
Een ding is seker – ‘n skaduwee is nie ver van die persoon af nie. Om in God se skaduwee te leef impliseer ‘n baie besondere leefstyl – digby die Here, IN sy Teenwoordigheid waar jy in gesprek tree, saam met hom aan die tafel sit, jou ore ingestel is vir sy stem en jou oë…
Net hier is dieselfde Dawid se woorde so insiggewend.
Beskerm my soos die appel van u oog; verberg my in die skadu van u vlerke. (Psalms 17:8)
Kan ons die appel, die retina, die sien-funksie van God vir onsself begeer? Is dit moontlik om met ‘n hemelse perspektief te sien?
Dit is die belofte.
…en dat die oë van julle harte verlig mag wees, sodat julle kan insien wat die hoop is wat sy roeping bied, wat die heerlike rykdom van sy erfenis vir die heiliges behels, (Efesiërs 1:18)
En die man het met my gespreek: Mensekind, kyk met jou oë en hoor met jou ore en gee ag op alles wat ek jou sal laat sien; want om jou dit te laat sien, is jy hierheen gebring. Verkondig aan die huis van Israel alles wat jy sien. (Esegiël 40:4, OAB)
Alles verander in die Skaduwee van die Almagtige. Dit is net in die Skadu van God se vlerke waar ons verkeerde oog genees word.
Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees. Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie! (Matteus 6:22-23)
Hoe gaan ek hierdie waarheid in my lewe inbou, sodat ek my skaduwee “verloor”?
In Psalm 34 skryf Dawid:
Ek sal die Here altyd weer prys, sy lof sal altyd op my lippe wees. Ek sal die roem van die Here sing; dié wat swaar kry, sal dit hoor en daaroor bly wees. Sing saam met my oor die grootheid van die Here en laat ons saam sy Naam prys.
Natuurlik! Dis hoe ons perspektief dadelik verander. Ons lof aan God is ‘n verklaring van ons prioriteite. Ons eerste geestelike dissipline is aanbidding, sodat ons God “sien” en besing en die dinge om ons verdof in die lig van die aangesig van ons Pa. Dit is die poorte van lof van die stad sonder ‘n tempel – die Nuwe Jerusalem. Die hele stad is die Allerheiligste. (Openbaring 21:22)
In dankbaarheid draai ons ons gesig na God toe, betree ons sy Teenwoordigheid en gaan sit in sy Skaduwee.
Inteendeel: Word vervul deur die Gees, terwyl julle onder mekaar psalms, lofgesange en geestelike liedere laat opklink, ja, van harte tot die Here sing en psalmsing, en God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus •Christus dank. (Efesiërs 5:18-20)