Die metaforiese patrone in die Skrif is ‘n majestueuse netwerk van hoop, redding en die waarborg van God wat Sy Woord gestand doen oor duisende jare heen. Dit is ‘n ontdekking om dit raak te sien, ‘n openbaring om dit te verstaan en ‘n bron van sielskrag om dit te bestudeer. Net soos die seisoene en die reënboog elke keer vir my die onderbou van alles wat ek glo bevestig, is die ander simbole van geloof in die Skepper-God die boustene van ‘n lewe van oorwinning.
“So lank as die aarde bly bestaan,
sal saaityd en oestyd nie ophou nie, ook nie koue en hitte,
somer en winter, dag en nag nie.” (Genesis 8:22)
My reënboog het Ek in die wolke geplaas. Dit sal die teken wees van die verbond tussen My en die aarde. (Genesis 9:13)
Elke dagbreek wat ‘n nuwe dag bring is nie deel van my bekommernisse nie. Ek twyfel nie in die aand oor die aanbreek van die volgende dag nie. Dit is seker. Dit gebeur sonder onderbreking en ons skarrel met horlosies en kalenders om die lig en donker ure in tyd-mates uit te druk.
Dink aan die sekerheid van die seisoene en die dagbreek en sien elke reënboog as die bevestiging van elke belofte van God. So seker soos sy verbond met die aarde is sy verbond met ons.
Weet julle nie? Hoor julle nie?
Is dit nie van die begin af aan julle bekend gemaak nie?
Het julle nie begrip van die aarde se fondamente nie? (Jesaja 40:21)
My vlugplek is die Woord van die Here. Almal het ‘n skuilplek nodig. Dit is daardie “sagte donsveertjies” onder die vleuels van die Almagtige wat die Psalmis so goed geken het. (Psalm 17:8; 61:5; 63:8 en meer)
Hy beskut jou onder sy vleuels en is vir jou ‘n veilige skuilplek. Sy trou beskerm jou aan alle kante. (Psalm 91:4)
Maar waar vind ons in praktiese terme die “donsveertjies” van God se trou. Vir my is dit in die woorde wat Hy praat. Ons het al dikwels oor die krag van woorde gepraat. God praat die hele Skepping in wording. Elke magtige en pragtige aspek van ons aardse omgewing is ‘n produk van God se woorde.
En God het gesê, is die begin en einde van alles, die bron en die doel van elke liewe ding, ook die mens.
Sommer daar in die eerste hoofstukke van Genesis praat God van saad, ‘n metafoor wat konsekwent gebruik word. Onthou ‘n metafoor verwys altyd na iets werklik.
En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt.
(Genesis 3:15,OAB)
Ons het al in Sondagskool geleer dat dit die belofte oor Jesus was. Alles in die Ou Testament was ‘n voorbereiding vir die openbaring van Jesus, die saad van die vrou, wat Johannes die Woord van God noem. Jesus was die Skeppingswoorde, die punt van lewe, die saad van God.
In Matteus 13 gebruik Jesus die metafoor van saad om die ontvangs van die Woord in die hoorder se lewe te verduidelik. Twee maal praat hy van verstaan of begryp.
Wanneer iemand die woord van die koninkryk hoor en nie verstaan nie, kom die Bose en roof wat in sy hart gesaai is. Dit is die saad wat langs die pad gesaai is. (13:19)
Die saad wat egter op die goeie grond gesaai is, dit is hy wat hierdie woord hoor en begryp. En hy dra vrug – die een honderd-, die ander sestig-, en die ander dertigvoudig. (13:23)
Om te verstaan is om insig te hê, ‘n intellektuele proses om die omvang van ‘n beginsel of kwessie te begryp. Die verwerping van die wonder-beginsels van die Koninkryk van God kan net gebeur as iemand geen begrip van die betekenis daarvan het.
Begrip is ‘n proses van ‘n intelligente gedagtegang wat oorweeg, mediteer, redeneer, bestudeer en dan tot ‘n gevolgtrekking kom.
In sommige gevalle word die woord in die Bybel vertaal met vooruitgang of floreer. In 2 Konings 2:3 moedige Dawid Salomo aan om die voorskrifte van God te gehoorsaam sodat hy vooruit kan gaan in alles wat hy aanpak.
Daar is selfs ‘n aantal Psalms wat gekategoriseer word as Psalms wat die leser wys en lewensvaardig maak en vooruitgang impliseer. (Psalms 32; 42; 44; 45; 52; 53; 54; 55; 74; 78; 88; 89; 142)
Dit is altyd ‘n seën om die moeite te doen om dieper in die Woord van God te delf en die volheid van betekenis te soek. Dit was juis die proses wat Jesus in sy vertelling van gelykenisse aangemoedig het. Dit is diegene wat vertoef het en vrae gevra het, wat die metafore verstaan het.
Toe sê hy vir my, ‘Daniël, baie geliefde man, kry insig in die woorde wat ek met jou praat en staan op jou plek, want ek is nou na jou gestuur.’ En terwyl hy hierdie woorde met my praat, het ek bewend opgestaan. (Daniël 10:12)
As ons regtig verstaan sal ons bewend voor die Here staan. Hy sê dit vir die jong koning Josia.
So sê die Here, die God van Israel: “Wat die woorde betref wat jy gehoor het – omdat jou hart sag is, en jy jouself voor die Here verootmoedig het toe jy gehoor het… (2 Konings 22:18,19 ev)
Hier in Matteus 13 verduidelik Jesus sy gelykenis uitvoerig nadat Hy die doel van gelykenisse aan sy dissipels uitspel. Hy moedig ‘n leerproses aan. Daar is die wat nie verstaan nie, met die begrip van ‘n harde pad waarop die saad val en weer gesteel word.
Daar is egter diegene wat die Woord hoor en verstaan. Die saad van die Woord val in vrugbare grond en dra vrug. Dit is wanneer die getrouheid van die beloftes van God gehoor en verstaan word, dat ons die insig verkry dat dit die saad is wat aan die saaier gegee word, die brood vir die eter en dit is die Woord van God wat nie ledig terugkeer nie, maar altyd, sonder uitsondering, die doel bereik waarvoor dit gestuur is. (Jesaja 55:10,11)
Die saad wat vrug dra is wanneer paniek, vrede word en trane van gebrokenheid, trane van aanbidding word. God sal uitkoms gee. Hy “plant” die saad in die goddelike proses van lewegewende beloftes wat met sy Opstanding gewaarborg word.
Die “sagte donsveertjies” is daar waar God se stem, die woorde uit sy mond, gehoor word. Dit is die begrip wat kom met geestelike insig.
Toe besef Eli dat die Here die seun geroep het, (1 Samuel 3:8)
Want U maak my bly met u werk, Here, oor u handewerk jubel ek.
Hoe groot is u werke, Here, hoe uitermate diep u gedagtes!
‘n Dom mens weet nie, en ‘n dwaas verstaan dit nie: (Psalm 92:5-7)
In Lukas 2:49 word nog ‘n woord vir verstaan gebruik. Dit is sunesis in Grieks wat ‘n samevoeging beteken. Dit is die begrip wat ‘n situasie intellektueel beredeneer en by ‘n gevolgtrekking uitkom – letterlik soos die spreekwoord sê: twee en twee bymekaar sit.
Die ander aspek van begrip is phronesis wat die praktiese deel van die verstand uitbeeld terwyl sunesis die analitiese en onderskeidende deel van die denkproses beskryf.
Doen daarom in sagmoedigheid afstand van alle morele besoedeling en die kwaad wat gedy, en ontvang die woord wat in julle geplant is, en daartoe in staat is om julle siele te verlos.
(Jakobus 1:21, Afr20)
Boosheid steel die saad van die Woord wat in ons moet groei en vrug dra. Jakobus moedig ons aan om ons siele te suiwer met die Bloed van Jesus en ‘n eenvoudige sonde-belydenis. Dit sal ons in staat stel om die Woord te ontvang en te verstaan en daardeur diepe verlossing te ervaar.
Hoe sal ons weet ons skuil in die “donsveertjies” van God se vleuels as daar nie teenstand is nie? Die Woord word getoets. Die Bose is altyd byderhand om die saad te steel. Dit is ons harte van goeie grond, goed benat met trane van gebrokenheid en aanbidding wat die saad laat wortel skiet en boosheid beveg.
En Ek sal aan julle gee herders na my hart, wat julle sal oppas met kennis en verstand. (Jeremia 3:15)