Die Bybel is ‘n uitdagende stuk leeswerk. Mens sou nog kon dink dat iets nuut in ons moderne teologiese, rekenaar-gedrewe bestaan die grense van innovering skuif, dan kan mens die toepassing van die diep waarhede van die Skrif bestudeer om die morele basis van elke moontlike aspek van die lewe te vestig en insig te gee.
Een ding is verseker: die aard van die mens het nog niks verander van die Skepping tot vandag. Lees maar die Psalms wat ‘n duisend jaar voor Jesus se lewe op aarde geskryf is en jy sal sien die vrese en vertwyfeling van ‘n siel is net dieselfde, al is die omstandighede en die uitdagings anders. Die wildernis van Judea is net so skrikwekkend en gebroke soos die woonplekke van die mens in ‘n era met tegnologiese oorlading.
Dit is hoekom ons vrede en vreugde in die beloftes van God net so gewaarborg is soos die oomblik wat die woorde in die mond van ‘n profeet duisende jare gelede gevorm is. Die metafore, simboliek en beelde van Bybel-taal praat net so toepaslik tot ons moderne lewenseise soos wat dit die mense in die antieke wêreld aangespreek het.
In ‘n studie van die simbole wat in Bybel-taal gebruik word, is daar ‘n duidelike volhoubare samehang van Genesis tot Openbaring. Soveel waarheid word met simboliek gekommunikeer. Dit is die kern van semiotiek, die studie van tekens en simbole. In die Bybel word dit gebruik om ‘n groter werklikheid te kommunikeer as net dit wat ons met ons natuurlike oë kan sien.
Ons weet van die eerste hoofstukke in Genesis dat God van saad gepraat het. In die kern-belangrike frase in Genesis 3:15 waar die nederlaag van die slang aangekondig word, weet ons dat die saad van die vrou die Messias sal voortbring om sonde en dood te oorwin.
Saad is die punt van lewe. Die saad van ‘n man en vrou bring lewe voort. Die fenomeen van ‘n droë ou saadjie wat in die grond gesaai word en dan die grootste boom word, vrug dra, koelte gee en vir duisende jare staan is een van die majestueuse wonders van die Skepping. Ons sien dit daagliks – die bome en plante herinner ons aan die potensiaal van lewe – sodat ons God se skeppingswerk in ons eie lewe nie vergeet nie.
In my lewenslied (Jesaja 55) lees ek van hierdie wonder as simbool van die Woord van God. Die Woord is saad, wat groei en vrug dra. Dit het Jesus bevestig met sy gelykenis van die Saaier.
Ja, soos reën en sneeu uit die hemel afkom en nie daarheen terugkeer nie,
maar die aarde deurdrenk en plante laat voortbring, dit laat uitspruit,
en so saad gee vir die saaier en voedsel vir dié wat eet,
net so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan:
Dit sal nie vrugteloos na My terugkeer nie, maar doen wat Ek wil hê,
en die doel bereik waarvoor Ek dit gestuur het. (Jesaja 55:10,11)
Dit is hierdie Woord van God wat God se doel in ons lewe bereik.
Ons sien dit nie altyd nie. Ons leef in ‘n sondige, gebroke wêreld wat ons siele daagliks afrem en besoedel. Die hoër lewe in Christus is ‘n stryd teen boosheid en afvalligheid. Net soos die ongelowige sy bestaan in die gevolge van sonde op die aarde moet uitveg, so moet die Christen daar langs hom saam stry. Die voorbeeld van saligheid en die beginsels van die Koninkryk van God, waaruit die gelowige leef, is die verteenwoordiging van God op aarde. Ons leef sy medelye, sy Hart van liefde vir die hele mensdom en sy begeerte dat almal tot bekering moet kom. Daarom het ons die krag van die Evangelie, die goeie nuus, om te deel.
Tragedie slaan hard. Soms is die nuus net te oorweldigend. Behalwe vir die moord en doodslag is natuurrampe waaroor die mens geen beheer het, aan die orde van die dag. In ons digitale bestaan weet ons so veel van die nuus daar buite.
Dan is dit skielik naby en dinge gebeur in ons eie lewe. Dit is hartseer, skok en verwonding wat nie die hoofopskrifte haal nie. Die trane loop vrylik. Ons leun hard op God – soms met woede en verwyt, maar in diep afhanklikheid van die Een wat ons trane opgaar en opskryf. (Psalm 56:9)
Ons huil en ons saai…
Dié wat met trane saai, sal met jubelkrete maai.
Die draer van die saadsak wat loop en huil,
sal beslis terugkom met jubelkrete terwyl hy sy gerwe dra. (Psalm 126:5,6)
Spurgeon noem dit “liquid prayer”. Dit is hoe ons enige moontlike lewenstragedie oorwin – ons trane in die vrugbare grond van God se liefde wat vir ons ‘n oes lewer. Ons kan nooit bekostig om ons lewenspad se trane te “mors” nie. In die Hand van ons God na wie ons uitroep, is ons trane saad met ‘n gewaarborgde oes van oorwinning.
Trane van gebrokenheid is die saad van triomf, die pad na geestelike deurbraak tot by onverklaarbare vreugde. Die voorbeelde daarvan is die Bybel vol.
Hiskia huil trane van hartseer oor sy siekte wat God se wonderwoorde deur die profeet oor hom bring: Ek het jou trane gesien, Ek gaan jou gesond maak. (2 Konings 20:5)
Jakob en Esau huil trane van vreugde by ‘n weersiens en ‘n versoening in hulle verhouding. (Genesis 33:4)
Jesus huil trane van medelye by Lasarus se graf – medelye met die geweldige finaliteit van fisiese dood wat ons as mens hier op aarde konfronteer. (Johannes 11:35)
Trane van desperaatheid in die krisis van politieke omwenteling bring wonderwerk-uitkoms. Mordegai en die Jode vas en bid en huil saam met hulle koningin Ester, voor die Here. (Ester 4:1,3)
God vra trane van sonde-belydenis en bekering. Dit is die saad van herlewing. Maar selfs nou nog, spreek die Here, bekeer julle tot My met julle hele hart, en met vas en geween en rouklag. (Joël 2:12,13)
Is dit nie ‘n vreugde-gedagte nie? Ons trane sal ‘n oes oplewer. Dit is die belofte van Psalm 126.
Dit verg die geloof van ‘n mosterdsaadjie wat ‘n groot boom van geestelike oorwinning voortbring.
Geseënd is die man wat op die Here vertrou, wie se vertroue die Here is.
Hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is langs water, wat sy wortels uitstoot na die voor. Hy merk nie eers op dat die hitte kom nie; sy blare bly groen.
In ‘n jaar van droogte raak hy nie angstig nie, en hy hou nie op om vrugte te dra nie.” (Jeremia 17:7,8)
Ontvang die Woord in jou siel sodat jy die boom kan word. Dit is die oes uit die bediening van jou trane.
Doen daarom in sagmoedigheid afstand van alle morele besoedeling en die kwaad wat gedy, en ontvang die woord wat in julle geplant is, en daartoe in staat is om julle siele te verlos. (Jakobus 1:21)
In simple humility, let our gardener, God, landscape you with the Word, making a salvation-garden of your life. (The Message)
Baie dankie, soos elke Bodemklip wat ek ontvang op hulle tyd ontvang word, was hierdie een se “tyd” die perfekte tyd.
Abraham.