323.  As bang sonde is

Bang is goed.  Bang waarsku en help dat mens nie dwase goed aanvang nie.  Die simptome van vrees is duidelik.  So ‘n hol gevoel op jou maag, droë keel en sweterige hande is daardie kenmerkende, onontkenbare seine wat jou liggaam onwillekeurig uitstuur as gevolg van ‘n boodskap van jou brein en oë.  Situasies soos hoogtes en vlieg kan bangmaak, woorde kan vrees wek en woede-woorde laat mens vlug of wegskram.

Maar daar is ‘n ander soort bang.  Miskien moet ek dit diep gesetelde vrees noem.  Dit is die bang wat in jou kom sit en jou lewe en veral jou besluite bepaal.  Daardie soort vrees word in ‘n sekere sin deel van jou DNA, so stewig is die wortels daarvan in jou wese en gemoed gevestig.  Dit veroorsaak verkeerde besluite, verkeerde motiewe en twyfel in die goedheid van God.

Vrees is ‘n mosie van wantroue in die Here.  Dit klink soos ‘n sagte politieke term vir ‘n geestelike saak, maar dit is geweldig kragtig en vernietigend en ‘n skrikwekkend-effektiewe wapen in die mag van ons vyand.  

Die Koninkryk van God is ‘n onsigbare koninkryk wat in die ewigheidsrealm funksioneer.  As ‘n mens wedergebore is en lid van die Liggaam van Jesus soos dit in 1 Korintiërs 12 uitgespel word, is jy reeds deel van die ewigheid waar dinge anders gebeur as in die aardse realm.  As ons sê dat ons die ewige lewe beërwe dan betree ons God se omgewing, terwyl ons nog met ‘n sterflike liggaam beklee is.  Ewigheid is ‘n woord, met die volheid van sy betekenis, wat net aan God toegeskryf word en met Hom geassosieer word.  Dit word ons speelveld van die lewe – die wonder van saligheid.

‘n Ewige lewe veronderstel ‘n ander perspektief, diep insig in omstandighede en mense, vaste vertroue op die goedheid van God en onoorwinlike hoop in die toekoms.  Ons het al soveel maal geskryf oor die inhoud van ons toekoms.  Ons toekoms is die beloftes van God, nie die beleid van leiers, hetsy plaaslik of globaal. 

‘n Ewige lewe veronderstel ‘n ander uitkyk op tyd.  Ons verdeel ons eeue in dekades, ons jare in maande en dae met ure en minute sodat ons mooi netjies en kronologies tred kan hou met die onstuitbare verloop van tyd.  Ewigheid is in tyd soos God dit bepaal.  Dit verloop met ‘n begin en ‘n einde, ‘n oorsprong en ‘n doel, sodat ons leef met die verwondering oor die dade van God in ons lewe sonder om ooit paniekerig en uitgemergel van spanning te raak. Ons leef in “kairos”-tyd, die volheid van tyd, die regte tyd, onder die bonatuurlike koepel van die Skuilplek van die Allerhoogste en die Skaduwee van die Almagtige wat ons agter die voorhangsel in die Teenwoordigheid van God beskerm. (Psalms 91:1)

Dit is ons woonplek – die “woning” wat Jesus vir ons voorberei het.  (Johannes 14:1-3)  Woonplek is ‘n elke dag bewuswording van God se goedheid, voorsiening en beskerming, elke dag se afhanklikheid in ‘n noodkreet van jou hart, elke dag se begeerte tot dieper verhouding, meer toewyding, minder struikelblokke en …geen vrees.

Iets was anders aan die Man wat voor Pontius Pilatus gestaan het.  Hy het dit besef.  Anders as al die ander mense waaroor hy moes besluite neem en die mag van Rome, lewe en dood in sy hand, kon afdwing. ‘n Diep wete dalk, ‘n besef van grootsheid wat hy nog nooit teëgekom het nie en sy vrou se droom wat hom pla.  Wel, meer as pla, sou hy erken.  Hoe kan hy homself uit hierdie besluit los worstel?  Hy is ‘n amptenaar van die magtigste ryk op aarde en ‘n sein van sy hand neem ‘n lewe.

Pilatus weet hy moet sterk staan, veral in die oë van die histeriese skare hier voor hom.  Soveel mag as wat hy in sy hand hou, soveel mag is daar oor hom waar ‘n blitsige besluit in Rome die einde van sy loopbaan en selfs sy lewe kan beteken.  Sy vrees vir Rome is gewortel in die vrees vir die histeriese skare hier voor hom, wat die dood van hierdie Man hier langs hom met die mag van bose aanhitsing wil afdwing.

Pilatus is oortuig van hierdie Man se onskuld. Hy is beïndruk met sy antwoorde en stille gesag met ‘n waardige kalmte wat heeltemal ongehoord vir iemand in sy situasie is.  Pilatus ken ‘n rewolusionêre opstoker en duidelik is dit nie hierdie Persoon nie, ten spyte van die aanklag wat beweer dat Hy homself as die koning van die Jode beskou.  Pilatus voel self soos die aangeklaagde, maar hy kan nie toegee nie.

Pilatus se rekord met die skreeuende Jode hier voor hom is vrot sleg.  Hulle ongemaklike rigiditeit oor hulle godsdiens en ‘n snaakse hoogmoedige houding oor die onderdrukking van die Romeine, het hom in die verlede in die moeilikheid gebring.  Hy het daarop aangedring dat die keiser Tiberius se vaandel in Jerusalem ingedra word as hy en sy soldate arriveer, totdat die Joodse leiers daaroor gekla het en hy moes toegee.  Die leiers wat gekla het, was heeltemal bereid om te sterf vir hulle oortuiging en soveel bloedvergieting sou net aanleiding gee tot ‘n groter opstand.

Pilatus het op eiers geloop as dit kom by hierdie eienaardige uithoek van die Ryk, wat soveel moeilikheid-maak sigbaarheid op die radar van Rome vind.  Hy het die reaksie van die skare gevrees en dit het sy gewete uitgewis.

Pilatus was nie vry om met die moed van sy oortuiging op te tree nie.  Hy het toegegee, ingegee en die skare gegee wat hulle uitgil.

Vrees het geseëvier en die wrede dood van Jesus verseël.  Daar was vir Pilatus geen alternatief.  Sy regering-styl het swaar op geweld gesteun.  Daar is ‘n beperking op die bloed wat kan vloei.  Selfs in die antieke tyd waar ‘n mens se lewe eintlik niks werd was, was massamoord nie gereken as politieke sukses nie.  Kalmte deur diplomasie was hoër geag, veral omdat Romeinse soldate op ander plekke in aanvraag was.  Pilatus moes werk met wat hy het.  Hy wou die Paasfees verby kry.  Hy wou sy Jesus-probleem agter hom sit.  Hy sou beleef dat dit nie moontlik is nie.

Pilatus se vrees het met ‘n duisend maal toegeneem toe hy hoor van die Opstanding.  Dink net!  Dit wat Vrydag klaar was en dalk as ‘n slegte herinnering weggeskuif kon word, was nou ‘n nuwe en groter krisis.

God se woord is duidelik oor vrees.  Dit kom met sagte aanmoediging en met skerp waarskuwings.


In sy groot mag het die Here my gewaarsku om nie die voorbeeld van hierdie volk te volg nie. Hy het gesê: Julle moenie alles ‘n sameswering noem wat hierdie volk ‘n sameswering noem nie. Julle moenie bang wees en skrik vir die dinge waarvoor hulle bang is nie. Julle moet die Here die Almagtige eer as die Heilige. Vir Hom moet julle vrees en vir Hóm moet julle bang wees.   (Jesaja 8:11-13)

Hierdie Skrif het na my gekom in ‘n tyd van intense vrees.  Dit was vrees wat my besluite oor wat in die toekoms moet gebeur, nie net beïnvloed het nie, eerder bepaal het.  In daardie tyd het ek onder die bediening van John Bevere baie geleer en hy het dikwels uit die New Living Translation aangehaal. Voor die tyd van digitale Bybels wat so geredelik beskikbaar is, het ek vir my ‘n NLT sagteband Bybeltjie gaan koop.  Sommer net daar het ek geblaai en die Bybel het oopgeval by Jesaja 8:11.  Die woorde het my tussen die oë getref soos ‘n skerp waarskuwing om nie vrees toe te laat om my besluit te bepaal nie. 

 The Lord has given me a strong warning not to think like everyone else does. He said,

12 “Don’t call everything a conspiracy, like they do,
    and don’t live in dread of what frightens them.
13 Make the Lord of Heaven’s Armies holy in your life.
    He is the one you should fear.
He is the one who should make you tremble.
14     He will keep you safe.

Hierdie woorde is waar vir elke aspek van die lewe.  Ek hoor dikwels dat mense sê ons wêreld is onstabiel en onseker.  Dit is waar, maar ek dink daar was al erger tye in die geskiedenis.  Dis dalk ‘n ou trooswoordjie wat nie afbreek doen aan die feit dat ons wêreld wel onseker en onveilig is nie.  Dit is ook dikwels met betrekking tot die politiek dat ons so geneig is om in terme van samesweringe te praat.

Dit is juis in sulke tye dat die Woord van God die krag-pad word, waarop mens loop.  Dit beteken dat jy heeltemal op die woorde van God kan staatmaak en jou lewe daarvolgens inrig.  

Dit bly altyd die heel luuksste lewe op aarde – ‘n lewe sonder vrees.  Dit is wat die Woord ons waarborg.  Dit maak nie saak wat om ons aangaan nie.  Die woorde van ons geliefde Skrif is wat sal keer dat ons die verkeerde besluite maak soos Pilatus.  

Hoor die sagte woorde van Jesus in jou diepste wese soos wat Hy met sy dissipels gepraat het net voor die kruisiging toe hulle wêreld inmekaar stort.

Laat julle harte nie ontsteld wees nie. Glo in God, glo ook in My. (Johannes 14:1, Afr20)

Jesaja het in Jesus se idioom gepraat sonder om Hom hier op aarde te ken, toe hy die woorde van God aan die mense oordra.

Moenie bang wees nie, want Ek is by jou; moenie vrees nie, want Ek is jou God.

Ek versterk jou; ook help Ek en ondersteun Ek jou met my seëvierende regterhand.  (Jesaja 41:10, Afr20)


Lewer kommentaar