316.  Lig, meer lig en nog lig

Die eerste dag van Desember 2024 is verby.  Dit het begin, soos elke jaar.  ‘n Fees in die Christen-wêreld wat die essensie van ons bestaan vier.  ‘n Fees wat almal insluit, hoe gebroke of kommersieel dit gevier word, daar is min dele van die wêreld wat nie geklee word met goud, silwer en kleur in hierdie weke wat voorlê nie.

Die vyf en twintigste dag van Desember word een honderd persent met Kersfees geassosieer, nooit met die heiden-feeste rondom die sonstilstand wanneer die jaar “draai” en die dae langer of korter word, wat eeue terug in die geskiedenis die draai van die jaar op 25 Desember bereken het. (Dit is volgens die Juliaanse kalender.  Ons gebruik die Gregoriaanse kalender en die sonstilstand is op 21 Desember.)

Dis heerlik om in die geskiedenis rond te krap en allerhande interessanthede uit te lig.  Maar daar is meer, soveel meer aan Kersfees wat ons eintlik moet vier.  Vir dit kan ons selfs verder terug gaan as die wankelrige oorspronge van ons moderne idee van Kersfees.

Kom ons gaan ver terug, in die antieke geskiedenis van ou Israel, toe ‘n geliefde ou profeet die politiek van sy land merk as ‘n tyd van verandering  met die naam van ‘n koning, sodat ons die feite en tydlyn gemaklik kan bepaal.

Jesaja leef en sing in die agste eeu voor Jesus se lewe op aarde.  Die grootsheid van Dawid en Salomo begin vervaag in die politieke omwentelinge van ‘n verdeelde ryk.  Jesaja is ‘n talentvolle digter wat meeste van sy profesieë in digvorm sing.  Soms as mens ons moderne vertalings lees, dan ego die digkuns daar uit die eeu van vergetelheid van die ou Hebreeus hier in ons woorde.

Die boek wat sy naam dra, beskryf ‘n waterskeiding-ondervinding in die sesde hoofstuk.  ‘n Koning sterf en Jesaja sien God op sy troon.  

Ussia het vir twee-en-vyftig jaar oor Juda regeer en gedurende die grootste deel van hierdie tyd was hy en sy volk uiters voorspoedig.  As oorwinnaar in oorlog en suksesvol in die kunste van vredestyd was sy bewind grootliks ’n tyd van welvaart.  Die latere jare van sy lewe was egter oorskadu met sy siekte.  Sy voorspoed het na sy kop toe gegaan, soos ons in skooldae sou sê.  Sy trots het hom in die plek van die priester in die Heilige van die Tempel laat ingaan waar hy nie mag gegaan het nie.  Lees maar daarvan in 2 Kronieke 26:16-21.  Hy het melaats uitgekom en twaalf jaar as melaatse geleef en so gesterf.

Sy seun en opvolger, ’n jong man van vyf-en-twintig, het die troon bestyg te midde van dreigende oorlogswolke wat in die Noorde saamgepak het en Juda bedreig het.

“In die jaar toe koning Ussia gesterf het” is baie meer as net ’n kronologiese datum.  Dit vertel nie net die wanneer nie, maar ook die waarom van Jesaja se visioen. 

Die aardse koning is te ruste gelê, maar die profeet het besef dat die ware koning van Israel nie die oorlede Ussia of die jong Jotam is nie, maar die Here van die leërskare.  In hierdie openbaring het vrese, voorbodes en angs verdwyn en ’n nuwe krag het Jesaja versterk. Hy het met bekommerde gedagtes die tempel binnegegaan, maar uitgekom met ’n veer in sy stap, ’n verligte hart en vasberadenheid: “Hier is ek, stuur my.”

Daar is belangrike lesse vir ons daaglikse lewe wat uit hierdie merkwaardige visioen, met sy unieke tydaanwysing, verkry kan word.

Christus is die gemanifesteerde Jehova, die Koning van heerlikheid.  Jesaja se visioen, wat tydelik was, openbaar ’n ewige werklikheid.  

In plaas daarvan dat dit net in die geestesoog van die profeet geflits word, kry die gesig van Jesaja ‘n mens-liggaam om tussen ons te leef en te ly. Ons het die Koning gesien in ’n werklikheid wat selfs groter is as wat Jesaja gesien het. 

Volgens Johannes (12:41) was die Here op die troon Christus en die visioen het betrekking gehad op sy toekomstige koninkryk.  Dit het openbaar dat die hele aarde gevul sou word met die heerlikheid van God. Die profeet het daar buite die Tempel in die Allerheiligste inge”kyk” en God op die Troon van Genade sien sit met die gerubs en serafs rondom.  Hy “sien” dat die heerlikheid van God die hele tempel vul.  Kom ons lees wat Jesaja sien. (6:1-4)

In die jaar van koning Ussia se dood het ek die Here gesien. Hy het op ‘n baie hoë troon gesit, en die onderste van sy kleed het die tempel gevul.  By Hom was daar serafs om Hom te dien. Elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy gesig bedek, met twee sy voete en met twee het hy gevlieg.

Die serafs het mekaar telkens toegeroep:

“Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige!

Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.”

Hulle het so hard geroep dat die deure in hulle kosyne gerammel het en die tempel vol rook geword het. 

Die serafs, brandend van liefde en ywer, verteenwoordig gehoorsaamheid aan God, selfs in die afwesigheid van begrip vir sy raadsplanne.  Hulle gesigte, bedek in heilige eerbied, toon hoe nietige trots en ambisie verdwyn by een enkele blik op Christus in sy heerlikheid.

In die tradisie van manjifieke luuksheid en ‘n vertoon van mag, sien Jesaja die kleed van lig wat die hele Tempel vul.  Die heiligheid en misterie van God word versterk met die klank van aanbidding wat aardse deurkosyne rammel en rook voortbring.  Rook is simbolies van misterie wat nie dadelik begrypbaar is nie.  God se mag en dade is nie altyd verduidelikbaar nie.  Dit is nie wat saak maak nie.  God op die genadetroon is die kern van die visioen en dit is die vernuwing wat Jesaja ervaar.  

In een oomblik verhef Jesaja ons eie visie van Jesus tot ‘n majestueuse hemelse beeld, bonatuurlik en sekerlik meer wonderbaar as wat ons woorde ooit kan beskryf.  Hy is soveel meer as die baba in ‘n stal wat in elke stal-toneeltjie oor Kersfees uitgedruk word.  

Die visie van Jesus op die genadetroon is meer as sy grof-geweefde kleed en stowwerige voete in sandale van sy lewe op ‘n vervloekte aarde wat dorings en distels oplewer en waarin mense moet stry en sukkel om ‘n bestaan te maak.  (Genesis 3:18)  Die dorings van vervloeking dra Hy op sy kop Kruis toe om die volle prys te betaal sodat die onbeskryflike kleed van Lig wat Jesaja sien die Tempel-stad, die Nuwe Jerusalem kan vul.

Kan ons een maal minstens, of dalk elke dag, tussen spyskaarte en sprankel, opkyk en “sien”?  Die Kruis van die Prins van Lig het dit moontlik gemaak.  Ons leef as die Kerk van Jesus in die Allerheiligste.  Kyk op en sien die Ligkleed, die Prins van die Hemel wat as geslagde Lam sy plek op die Troon ingeneem het.  (Openbaring 4 en 5)

Die dinamiek en eise van Desember dryf ons voort na net nog ‘n Kersfees, vasgevang in tradisie en kuier, wat glad nie verkeerd is nie.  Tog sal dit hartseer wees as die Fees kom en gaan sonder visie.  Sien jy die Lig?  Betree jy die Allerheiligste om die Koning op die Troon te sien sodat jou klaaglied en vreeslied verander in ‘n aanbiddingskreet wat die deurkosyne laat rammel?  

Niks in Jesaja se politiek en gemeenskap het verander nie.  Hy het verander.  Hy het die Lig gesien.  Sy sondebesef het getransformeer in doelgerigtheid.

Hier is ek, Here, stuur my!


Lewer kommentaar