292.  Lig in die tonnel…s

Dit is so bedoel – die meervoud tonnels.  Ek weet ons praat spreekwoordelik van lig in die tonnel bedoelende dat daar hoop op ‘n saak is, wat nou duister mag lyk.  Tonnel of tonnels – ons soek lig.  ‘n Tonnel is altyd donker sonder lig wat van buite ingebring word.

Ons lees van die tonnels.  Die gebeure van die afgelope weke staan in rooi hoofletters oor die nuuskanale geverf  – digitaal, op jou vingerpunte, enige tyd, nes jy wil of kans het om te lees.  Moord, doodslag, bloed en geweld op die strate, in die geboue, ruïnes van hospitale en skole wat veilig moet wees, is aan die orde van die dag.  Die lyding is ondenkbaar.  Kinders vol stof en bloed is oral op die beelde van die middel van die wêreld waar ‘n donker rookwolk van ontploffings konstant die son verduister.

Skielik is die hele gemeenskap in die Weste in rep en roer.  Simpatie en veroordeling vlieg soos wilde vuiste oor en weer.  Oorlogskepe skuif en oorlogswoorde kneus die siele van mense aan beide kante van die vyandelikhede.  Wraaksug om uit te roei, terrorisme te vernietig –  haatwoorde en vrees vermeng.

In my eie gemoed het die stof van die skok oor wat gebeur het, effens gaan lê.  Hier aan die ander kant van die aardbol gaan my lewe gewoon voort – iets wat my meerdere kere op ‘n dag tref en tot trane van dankbaarheid dwing.  In my besef van voorreg en beskerming bid ek oor daardie geweld en wreedheid wat “op die middag wandel”  – woorde van ons Ou Afrikaanse Bybel (1933/53).

Uit die lang en tragiese geskiedenis van daardie wêrelddeel, lees ons van die terroriste se tonnels.  Ek het die foto’s van die tonnels goed bekyk.  Onder die grond, natuurlik donker maar ook belig met ry op ry dakligte.  Dit is ‘n doolhof van gevegsbeplanning en uitvoering. As die krag af is, hoe donker moet dit nie wees nie?

In ons weeklikse Bybelstudie is ons besig met die brief aan die Hebreërs.  Ek is baie bewus van die verhewe versoeningswerk van Jesus, wat oor meerdere hoofstukke soos ‘n regsaak uiteengesit word.  Hier teen die tiende hoofstuk is Jesus weer en weer as Koning van die Heelal gekroon, beter, soveel beter, as enigiets wat enige ander godsdiens ooit kan bied – vrye toegang tot die Teenwoordigheid van die Almagtige, ons liefdevolle Vader wat omgee oor alles en almal.

Jesus in die sienlike, in sy liggaam verskeur aan die Kruis soos die Voorhangsel in die Tempel, wat die Allerheiligste oopgooi vir almal wat die Kruis aanvaar.  Uit die vertellinge van die Evangelies en die hele Nuwe Testament weet ons die vervolging vir die Kruisvolgelinge dadelik begin het.  Die vyande was oral – vol geweld, haat en moordsug – net soos nou.  

Natuurlik sien ons die aaklighede wat oral gebeur as “vyande” van alles waarvoor ons staan.  Ons waardes oor die beskerming van lewe – die gawe van God self – word deur albei kante van die spektrum bedreig en verwoes.  Meer en meer gesofistikeerde wapens word aangewend om uit te roei.  In die debatte is dit duidelik dat mense so anders dink, ander uitgangspunte het, perspektiewe handhaaf wat uit opvoeding en lewens ondervindings spruit, wat menslik gesproke nooit versoen kan word nie.

Dit is in die besef van onmoontlikheid van menslike versoening dat God se Woord die lig in die tonnel is.  

Hoe sal ons veg?  Ons wapens is nie menslike wapens nie.  Dit is geestelik en kragtig om die vastrapplekke van boosheid te oorwin.  Ons wapen is die Lig in die tonnels waar geweld beplan word, nie net in die fisiese tonnels van Gaza nie, maar in die tonnels van donker harte wat ver van God af is.

Daar is net een persoon in die ganse geskiedenis van die mensdom ooit, wat gesê het: Ek is die Lig van die wêreld. (Johannes 8:12)  Daar is net Een met die Lig wat al die tonnels van geweld in hierdie wêreld sal verlig.  Dit is die Lig van die Son van Redding met genesing in sy strale.  (Maleagi 4:2)

Die Lig van Jesus wat skyn in die tonnels van die harte van mense.  Dit is ons gebed.  Dit is die donker tonnels van klipharte wat dood bedink, wat God alleen sal verander.

Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery. 26Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee. 27Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom. (Esegiël 36:25-27)

Ons oorwinning in die Koninkryk is gewaarborg.  Jesus het klaar die oorwinning behaal.  Ons leef in die onsigbare Koninkryk, meegevoer in die triomftog van Jesus.

Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk.  (Efesiërs 1:19-22)

Hoe sal ons oorwin?  Deur die Bloed van die Lam en die woord van ons getuienis.  (Openbaring 12:11)  Dit sal nie met die nuutste gesofistikeerde wapens van hierdie wêreld wees nie.

Ons oorwinning is gevestig in die Almag van God om aan sy Seun die heerskappy van die nasies te gee.  God sal sy vyande aan hom onderwerp.  (Hebreërs 10:13) 

Ons oorwinning is nie in menslike wraak nie, maar in die onderwerping van mense aan die LIEFDE van God.

Dit is hoe God wen – Hy sal alle mense aan sy Liefde onderwerp.

Lees gerus die hele Psalm 2 oor die oorwinning van die Seun van God oor die nasies van die aarde, met die heerlike slotwoorde:

Dit gaan goed met almal

wat by Hom skuiling soek.

Wat van ons?  Hoe sal ons maak in die bloed en stof van so ‘n stryd?

HOOR die woorde van Jesus.

“Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek ‘n mens nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie maar op ‘n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”   (Matteus 5:14-16)

Jy, met nuutgemaakte denke is die lig in die tonnels van donker, wrede harte.  Jou lig is die woorde van Gees en lewe uit die mond van Jesus. 

Bid, Bodemklipvriend, dat die Lig van Christus in elke donker tonnel skyn.  Laat ons almal die gebedsvaandel dra – die Lig van Jesus op elke Israeli en elke terroris, elke boosheid en elke wreedheid hier naby ons ook. 

Herlewing is ons kreet, Jesus red is ons roep!


Lewer kommentaar