285.  Die Kerk – militant en triomfantelik.

Twee beginsels.  Een storie, een wonderwerk.  Visse in die diepsee, visse in die vlaksee. Jesus aan die woord, Jesus op die strand.

“Verder gaan dit met die koninkryk van die hemel soos met ‘n treknet wat in die see gegooi is en allerhande soorte vis vang. 

As dit vol geword het, sleep hulle dit op die strand uit en gaan sit om die goeie vis in mandjies bymekaar te maak, maar die onbruikbares gooi hulle weg.  (Matteus 13:47-48)

Die treknet bring allerhande soorte seelewe na die strand waar die goeie  visse uitgehaal word en die ander weggegooi word.  Die militante Kerk van Jesus is die treknet wat diep uitgaan en die Evangelie “uitgooi” na die ganse wêreld.  Net soos met die gelykenis van die saaier, is daar diegene wat op die Woord reageer wanneer die saad op goeie grond val en vrug dra, sommige meer as ander.  Die verskeidenheid is groot – goed en sleg – almal in die net, almal in die Koninkryk. 

Die uitsoek-proses word deur die engele gedoen – nie deur die mede-gelowiges of kerkgangers nie.  Hierdie beginsel is uiters belangrik want dit is eers by die volheid van tyd (God se tyd) wat die skeidingsproses  plaasvind. (13:49-50)

Die militante Kerk veg teen die strategieë van die boosheid om die Boodskap te leef en te dra.

In Johannes 21 lees ons van ‘n merkwaardige wonderwerk ná die Opstanding.  Op grond van Jesus se opdrag aan Maria by die graf, wag die dissipels in Galilea.  Hulle is vissermanne en terwyl daar niks te doen is in die wag-proses, gaan hulle op die boot uit. (Prediker 9:10) Na ‘n hele nag op see, vang hulle niks.

Jesus wag op die strand en toe hulle aankom vra Hy of hulle iets gevang het om te eet. Onwetende dat dit Hy is, vertel hulle van ‘n onvrugbare nag.  Op sy Woord, gooi hulle die net aan die ander kant van die skuit uit.  Die net is so vol dat hulle dit nie kon trek nie.  Dit was nie ver van die strand af nie – seker honderd tree. (21:8)

Die wonderwerk maak hulle oë oop en Johannes (wat homself die geliefde dissipel noem) roep uit na Petrus: Dit is die Here!  Petrus trek sy hemp aan en spring van die boot af, om Jesus tegemoet te hardloop in die vlakker golfies.  Liefde het Jesus eerste herken.  Liefde het perspektief om Jesus in die alledaagse te verwag en te “sien”. 

Die ander dissipels het met die boot en die net gespook om die visse aan land te bring.  By die strand gekom was daar reeds ‘n vuur met vis en brood.  (Jesus het nie ons werk nodig om te voorsien nie.)

Jesus sê toe vir hulle: “Bring van die vis wat julle nou net gevang het.”

Simon Petrus het toe in die skuit geklim en die net op die land getrek. Dit was vol groot visse, honderd drie en vyftig, en alhoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie.

Toe sê Jesus vir hulle: “Kom eet.”

Die net was vol goeie visse, nie gemeng met gemors nie,  Dit is simbolies van die ware Kerk – die Kerk triomfantelik wat op die strand van die Vredevors, die opgestane Jesus, in die net bymekaar is – 153 presies en die net skeur nie.  Die Nuwe Jerusalem is die perfekte kubus, plek genoeg vir almal sonder dat een uit die Hand van God geruk word.

Die getal,153, verbyster die geleerdes en daar is verskeie interpretasies daarvan.  Vir my is dit genoeg om te weet dat Jesus presies weet wat die getalle in sy Kerk is.  Dit is nie ‘n getal wat tot die naaste tien afgerond is nie.  Dit is nie geskat of onseker nie – dit is getel tot op die laaste een.  

God het die maatstok in sy Hand.  Hy meet Jerusalem met volmaakte noukeurigheid.(Sagaria 2:1,2; Openbaring 21:15)

Hy ken ons naam. (Jesaja 45:4)  Ons is die Kerk triomfantelik.

Die Kerk bou die Koninkryk.  Dit is ons werk hier op aarde.  Net soos Nehemia die muur van Jerusalem (simbolies van die Kerk) moes bou, doen ons dit geestelik, in die dispensasie na die Opstanding en die geboorte van die Kerk op die dag van Pinkster.

Die muurbouery van Nehemia gee aan ons ‘n kragtige insig in die strategie van boosheid om ons van stryk af te bring – enigiets om die bouwerk te stop of te vertraag.  Ons doelgerigte en geloof-gefundeerde roeping is die enigste wapen teen die konstante aanslag van die vyand.

In Nehemia se geval het die vyand hom tot gesprek uitgelok.  Toe hy al klaar was met die muur (Nehemia 6), maar nog nie die poortdeure gehang het nie, het hulle boodskappers na hom gestuur om hom na die vallei te nooi vir ‘n ontmoeting.  Nehemia het geweet die stad is nog nie veilig as die poortdeure nog nie gehang is nie.  Sy werk was nog nie klaar nie.

Nehemia was so seker van sy taak dat hy hulle vier maal dieselfde antwoord gee.  Eintlik wou die vyand Nehemia in gesprek inlok.  As mens eers die gedagtes wat boosheid plant, in jou gedagtes laat maal, gee jy toe aan die gesprek in die Onalaagte (die plek wat  jou sal wegneem van die bouwerk aan die Koninkryk).

Die duiwel kom in die gedaante van ‘n engel van die lig – dit is die gedagtes wat hy plant wat jou sou laat dink dit is jou eie denke.  Dit is gedagtes van vrees en nederlaag.  Vrees is wat jou tot aksie – verkeerde aksie – sal laat oorgaan, want vrees laat jou optree (wegkruip of die werk afskeep) om jouself te beskerm en jou eie bestaan te verdedig. 

Nie vir Nehemia nie.  Hy is seker waarvoor hy geroep is.

Ek is besig met ‘n groot werk. Ek kan nie kom nie. Hoekom moet die werk stilstaan terwyl ek dit laat lê om na julle toe te kom?” (6:3)

Die vyfde maal het hulle die versoek in ‘n ope brief gestuur sodat die inhoud daarvan publiek moes word – net sowel kon hulle het dit vandag se dae op sosiale media gesit met ‘n leuen daarin.  Hulle beskuldig Nehemia dat hy ‘n opstand beplan omdat hy koning wil word.

Ek het hom terug laat weet: “Niks van wat jy sê, is waar nie. Jy suig dit uit jou duim.”

Hulle het almal geprobeer om ons die skrik op die lyf te ja, met die gedagte: Hulle sal die werk laat staan en dit sal nie klaarkom nie.   (6:8.9)

Soos ons al voorheen bespreek het, was Nehemia die meester van skietgebed.  Elke nou en dan word sy uitroep vir onmiddellike ingrepe opgeteken.

Sterk tog my hande o God!

Toe stuur die vyand ‘n vals profeet om Nehemia verder te probeer bangmaak.  Die een aanval volg op die ander.  Altyd iets om te hanteer en jou te vermoei tot op ‘n punt van uitputting sodat jy makliker toegee.  Ons vyand weet tog so goed wanneer ons moeg is of siekerig voel.  Dan sal die felheid van die geestelike gevegsfront soveel dieper brand.  

Die vyand sal probeer om jou godsdienstige sentimente uit te buit, net soos hy Jesus versoek het met woorde uit die Skrif.  Die “profeet” sê vir Nehemia:

Kom ons ontmoet mekaar in die huis van God,

binne-in die tempel,

en laat ons dan die deure van die tempel sluit,

want daar kom mense om jou dood te maak,

hulle kom vannag om jou dood te maak.”  

Nehemia het weer eens die antwoord.

Ek het gesê: “Sal ‘n man soos ek vlug, iemand soos ek tempel toe gaan om te kan bly lewe? Ek sal nie gaan nie!”

Eers nadat Nehemia sy antwoord gegee het, het die geestelike onderskeiding gekom dat God nie die boodskapper, wat hom kwansuis van gevaar waarsku, gestuur het nie en dat hy omgekoop is om ‘n vals profesie van gevaar aan Nehemia te gee.  As Nehemia sou vlug sou dit sy reputasie skade doen en aan die vyand die geleentheid gee om hom te beskinder. (6:12,13)

Vrees lei tot sonde.  As jy verneder word deur die sonde waarin die vyand jou lei, dan lag en skinder hy oor jou.  Enigiets om jou vernedering te bewerkstellig.  Die antwoord op vrees is liefde.  Volmaakte liefde dryf die vrees uit.  

Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. (1 Johannes 4:18)

Belydenis is die pad na triomf.  Belydenis herstel perspektief.

Weer die skietgebed.  Sy vyande, wat as die bron van vrees onderskei is, word aan God oorgelaat.

My God, onthou wat Tobija en Sanballat gedoen het, en ook die profetes Noadja en die ander profete wat my wou bang maak.

Die muur is voltooi in twee en vyftig dae.  Wat die volk in sewentig jaar (‘n leeftyd) nie kon regkry nie, het Nehemia in sy doelgerigte, militante roepingsoortuiging in een seisoen (52 dae) reggekry.  

Die einde van die storie? Die Kerk – triomfantelik.

Toe al ons vyande dit hoor, en die nasies rondom ons dit sien, was hulle selfversekerdheid daarmee heen. Hulle het toe geweet ons doen hierdie werk met die hulp van ons God.

Die Afrikaans se “selfversekerheid daarmee heen” is  eintlik sag gestel.

afraid and lost their self-confidence (NIV)

frightened and humiliated (NLT)

afraid and fell greatly in their own esteem (ESV)

very disheartened in their own eyes (NKJV)

Dit is hoe ons vyande moet voel – die Kerk triomfeer.

Terug by die visse.  Jesus op die strand, triomfantelik oor die dood, op golwe van die lewensee, tel Hy die Kerk, sy eie.

Net soos die een kommentaar dit stel:

The main points are these. The two Miraculous Draughts represent the Church Militant and the Church Triumphant. The one gathers together an untold multitude of both good and bad in the troubled waters of this world. The other gathers a definite number of elect, and though they be many contains them all, taking them not on the stormy ocean but on the eternal shore of peace.  John 21 – 153 big fishes as opposed to the dragnet full of all-sorts. [Cambridge Commentary]


Lewer kommentaar