171. Verwarring soek sekerheid.

  1. Verwarring soek sekerheid.

[Johannes 12]

Weet ons werklik wat duisternis is? As daar hoegenaamd geen hoop vir ingrype of uitkoms is nie. Ek wonder of ons moderne westerse wêreld, waarvan die Christendom en die leer van ‘n almagtige God so ‘n integrale deel van die kultuur is, dat dit “daar” is selfs al glo ‘n persoon glad nie, weet watter verwarring die baie gode van die Griekse en Romeinse mitologie gebring het? Daar is soveel onbestendigheid in die denke oor die dieper dinge in die lewe. Wat is lewe? Wat is liefde? Wat is gevoelens? Wat is moraliteit? Wat is invloed? Net sodra hierdie denke ingewikkeld raak het die antieke wêreld ‘n mistiese verklaring probeer formuleer. Hoe is ons veronderstel om te lewe? Is daar ‘n perfekte lewe bereikbaar? Hoe kan dit bereik word?

Die Grieke het diep gedink. Hulle is vandag nog daarvoor bekend. Hulle filosowe het diep spore in die geskiedenis getrap, lank voor Jesus se lewe op aarde en is vandag nog bekend. Plato, Sokrates en Aristoteles is welbekende name in ons kultuur. Veral Plato het geskryf oor die onsienlike wêreld as perfekte replika van wat ons leef en die enigste manier om daar te kom is die dood.

Dit is in hierdie atmosfeer waarin Johannes skryf. Soos ons in die eerste hoofstuk van die Evangelie opgemerk het, skryf Johannes indirek om die Plato-denke te antwoord met die bekendstelling van Jesus as logos. [Bodemklippe 132]

Hier in Johannes 12:20-26 vra die Grieke na Jesus. Op hierdie stadium van sy lewe, woon Johannes in Efese en skryf met die Grieke in gedagte. Hy skryf in die besonder oor hierdie insident. Die Grieke was entoesiastiese reisigers in daardie tyd. Hulle was oral, Sommige het vir handel en besigheid gereis en ander vir filosofiese redes op soek na waarheid, wysheid en nuwe idees.

Hulle het veral die godsdienste van die wêreld ondersoek. Hulle soekende denke het na Jesus gevra.

Dit is weer eens Andreas wat hulle na Jesus toe bring. Miskien het hulle met Philippus gepraat omdat hy ‘n Griekse naam het, maar Philippus het hulle na Andreas toe gebring. Andreas het geweet dat Jesus altyd oop is vir vrae en ondersoekende denke. Hy het hulle met vrymoedigheid na Jesus toe gebring wat altyd bereid was om in gesprek te tree.

Jesus sê dat die krisis (die uur) het gekom en praat van die dood, wat vir die Grieke besondere betekenis gehad het. Hy noem Homself die Seun van die mens volgens Daniël 7:13. In Daniël se visioen is die wêreldmagte as wilde diere beskryf, wreed en verterend. Die nuwe koninkryk was sagmoedig en genadig, soos niks wat ooit was nie. Die simbool daarvan was ‘n mens, nie ‘n dier nie.

Die Jode het die Seun van die mens verwag. Soveel van die literatuur in die “profetiese stilte” in die 400 jaar tussen die Ou en Nuwe Testamente, het die droom lewend gehou. Hy sou die onoorwinlike heerser van God wees. Die Grieke het natuurlik geen Messiaanse verwagting gehad nie.

Jesus het met die Jode gepraat oor die kruis en sy glorie deur die kruis en hulle het dit misverstaan. Hy het gepraat oor offer en dood en hulle was nie bereid om te luister nie. Sy woorde het nie sin gemaak nie.

Aan die Grieke het Hy verduidelik dat lewe kom deur die dood net soos die koringkorrel, begrawe in die grond, daarna kom lewe, groei en vrug.

Om dood te wees vir jouself is die enigste weg na insig en begrip.

 Jou selfsug en eie belang maak jou ongeskik vir diens. . (Markus 8:35; Mattheus 16:25; Lukas 9:24;17:33)

Mense wat dien is groot in die koninkryk van God. Vir Jesus was Sy weg na glorie in die kruis.

Jesus se woorde oor lewe en dood het die grense van denke geskuif.

Johannes vertel ons nie van Getsemané nie. In hierdie volgende gedeelte (12:27-36) beskryf hy Jesus se pyn oor wat voorlê. Dit is waarlik durf – om te weet watter wreedheid voorlêen nogtans gehoorsaam te wees.

Sy woorde word die triomfantelike oorwinning oor die mag van die bose.

“Nou is Ek diep ontsteld. En wat moet Ek sê? Moet Ek sê: Vader, red My uit hierdie uur? Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir hierdie uur.

 Hy bring die hemelse perspektief. Hy word die uiterste redder van mense en groter as wat enigiemand ooit kon voorsien.

Toe het daar ‘n stem uit die hemelgekom: “Ek het my Naam verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.”

Die mense wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar ‘n donderslag was.Ander het gesê: “’n Engel het met hom gepraat.”

Vrees word oorwin by die hoor van God se stem. Die Jode het geglo dat God direk met die ou profete soos Samuel, Elia en Moses gepraat het. Teen die tyd van Jesus se lewe op aarde het niemand dit meer geglo nie. God se stem was duidelik hoorbaar by Jesus se doop (Markus 1:11), op die Berg van Verheerliking (Markus 9:7) en nou weer om Hom te versterk voor die kruis,

God praat met enigiemand wat gewillig is om te luister.

Daniël 7 praat van ‘n ewigdurende koninkryk. Hoe kon dit in die kruis eindig? Hy was veronderstel om die Prins vir tyd en ewigheid te wees ((Esegiël 37:25). Die heerskappy sou op Sy skouers wees (Jesaja 9:7). Hy sal op die troon van al die geslagte regeer (Psalm 89:5).

Jesus se dood aan die kruis sal Hom kroon in die harte van mense vir ewig. Dit was so anders as enigiets wat hulle kon verwag. Die kontras van Sy lewe teenoor die gemeenskap waarin Hy gebore is, het die geskiedenis vir altyd verander. Hy was nie net nog ‘n oorwinnaar wat die stryd gestry het en ‘n groot oorlog gewen het nie. Hy was die Oorwinnaar van alle tye en alle stryd.

Hy het lig in duisternis belowe en die skaduwêreld van die dood in die kollig geplaas. Die lewe van vrees, twyfel, verwarring en hartseer is nie die storie van die lewe in Jesus nie. Hy bring lig en vreugde in die gebrokenheid van hierdie lewe wat ewig standhou.

Johannes haal Jesaja 53:1-2 en 6:9-10 in die volgende gedeelte (12:37-41) aan. Dit gaan oor die ongeloof en moedswillige blindheid van die mense.

[Jesus noem dit dikwels in Matteus 13:14,15; Markus 4:12; Lukas 8:10 asook Paulus in Romeine 11:8; 2 Korintiërs 3:14]

Daar is altyd mense wat nie glo nie. Jesaja se hart het gebreek oor die ongeloof van die mense.

Vir die ou profete was God die bron van alles – selfs ongeloof. Hulle kon dit nie anders verklaar nie. God is groter as sonde – so ongeloof moes uit God kom.

In 12:40 is ‘n groot waarheid. Daar is niemand so blind soos hy wat nie WIL sien nie. Wanneer jy kies som nie te sien nie, is jou oë blind en jou hart hard.Die lewe maak nie sin nie en niks het betekenis nie. Begrip en wysheid is reeds verlore.

Daar is geen openbaring sonder belydenis nie.

Al ons besluite en keuses is ‘n Godgegewe gawe en kom uit Hom. Daarom is die verwerping van Sy genade so kragtig. Ons keuses vorm ons lewes. Ons het vrye keuse sodat ons kan liefhê. Sonder vryheid is liefde nie moontlik nie. Hy het die kruis gekies. Hy kon die kruis geweier het. Liefde het Hom laat kies.

Daarom verander ons as ons Hom kies en die kragtige oorwinning aan die kruis.

In die volgende gedeelte (12:42-50) word die skrikwekkende eiebelang en lafaardagtige optrede van die mense beskryf. Hulle het dalk geglo, maar kon dit nie verklaar nie. Hulle het die kerk gevrees.

Geheime dissipelskap is net nie moontlik nie. Iemand het gesê: “either the secrecy kills the discipleship, or the discipleship kills the secrecy.”

Dit was altyd die vrees om te verloor wat hulle bymekaar gemaak het. Hulle het besittings en status bo God gestel. Wat die mense sêwas lewensbelangrik. God is die Regter en oordeel oor die ewigheid. Hy kyk met ‘n hemelse perspektief en so moet ons ook. God oordeel in liefde en Hy oordeel regverdig. As jy die mense se opinie kies, dan oordeel die mens jou – met jaloesie, haat en onregverdigheid.

Die woorde wat Jesus hier praat is die laaste woorde wat Hy in die publiek praat. Hy vertel die mense van Sy vader. Hy praat nie oor Homself nie. In Hom word die mense aan God bekendgestel. As hulle na Hom luister, hoor hulle die stem van God.

Jesus het gekom om te red – God wil red. Liefde red. Maar…daardie selfde liefde oordeel die verwerping daarvan.

Waarheid sal oordeel. As jy weet wat die regte ding is om te doen, en jy doen dit nie, sal die waarheid oordeel.

Ons eie kennis sal ‘n getuie teen ons wees.

GEBED: Here, praat met my. Wys my die hart van Marta, Maria, Judas, die mense, die Fariseërs en die Sadduseërs, die kerkleiers en die Grieke wat waarheid soek. Laat die impak van die voorbeelde my ondderrig. Help my om te leer en te weet.

Wys my my wapens teen God, my harde skilpaddop-hart, my obsessie met status en welvaart en ander struikelblokke wat God se stem verdof. Help my om my liefde te leef en uit te druk en betekenisvol in my gemeenskap op te tree.

 

Jesus wys my JESUS.