167. Ek is ‘n skaap.

[Johannes 10]

Weet jy iets van ‘n skaap? Hulle is baie anders as beeste, eienaardig en eiesoortig. Sedert die vroegste tye was die Hebreërs skaapboere. Toe Jakob en sy familie Egipte toe trek, nadat Josef as onderkoning van Egipte aangestel is, is daar voorsiening gemaak vir die skape, ver van die Egiptenaars se beesboerderye.

Dan sal hy julle in Gosen laat woon, want die Egiptenaars het ‘n afkeer van kleinveeboere.” (Genesis 46:34)

…. that you may dwell in the land of Goshen; for every shepherd is an abomination to the Egyptians.

So het Jakob se familie in Gosen gewoon, ‘n vrugbare deel van Egipte aan die oostekant van die Nyldelta.

Die Egiptenaars was meestal beesboere. Hulle het neergekyk op skaapboere. Skape wei anders as beeste en kan met die gewoonte om die hele graspolletjie met hulle lippies uit te trek ‘n veld in woestyntoestande inwei. Herders het skaapweiding dikwels gewissel. ‘n Bees pluk met sy growwe tong die gras af en laat die wortel staan.

Skape is bekend daarvoor dat hulle die trop sal volg, selfs in gevaar in. Soms het die herder net een skaap geleer om hom te volg en die res sou agternakom.

Hier in Johannes 10 praat hy van die verlore skape van Israel vir wie Hy gekom het. Daarna het Sy bediening oopgegaan vir almal, maar die dissipels moes na Israel eerste gaan (Matteus 10:5-6; 15:24).

Jesus het self op ongekende wyse na die heidene uitgereik:

• Hy het die bediende van die Romeinse hoofman oor honderd genees (Matteus 8:10)

• Hy het met die vrou by die put in Samaria gepraat en Homself aan haar openbaar(Johannes 4:40)

• Hy het verduidelik dat om ‘n nasaat van Abraham te wees geen waarborg in die koninkryk van God is (Johannes 8:39)

• Hy het ‘n Samaritaanse melaatse genees. Die Samaritaan het omgedraai en dankie gesê. (Lukas 17:18-19)

• Hy het die storie vertel dat die Samaritaanse reisiger genade betoon het op die pad na Jerigo (Lukas 10:37)

• Hy het mense uit alle wêrelddele verwerlkom (Matteus 8:11; Lukas 13:29)

• Hy het Sy dissipels opdrag gegee om na alle nasies uit te gaan (Matteus 28:19)

• Hy is die Lig van die wêreld (John 8:12)

• Hy het die hele wêreld lief (John 3:16)

In Jesus is al die nasies broers. Eenheid is slegs moontlik wanneer ons weet hoe om Sy stem te volg. Ons dissipelskap is so opgestel om ander te leer om Hom te hoor, net soos ‘n skaap, en Hom te volg.

Die kerk van Jesus is die trop. Dit is die onsigbare liggaam gelowiges wat Hom waarlik volg en met hulle hele hart Sy opdragte uitvoer. Dit is nie georganiseerde godsdiens nie. Ons is een uit keuse, die toeval of gevoel nie.

Die gedeelte in Johannes 10:17-18 sê so baie oor Jesus.

Hy is ten volle gehoorsaam aan Sy vader, selfs tot die dood toe. Seunskap was vir Hom gehoorsaamheid in die hoogste moontlike graad van onderwerping. Hy sien die Kruis as die pad na glorie en verheerliking. Hy het nooit getwyfel dat Hy moet sterf nie, maar ook nooit die opstanding betwyfel nie.

Hy het met Sy hele wese Sy Vader vertrou. Sodoende het Hy Sy lewensdoel uitgeleef en die moeilike pad na grootsheid geloop. Sy dood was nie die gevolg van ‘n veroordeling van die mense nie. Hy kon die hemel se leërskare roep om Hom te red. Hy het die dood aanvaar (Johannes 19:10-11). Hy was nooit ‘n slagoffer van Sy omstandighede nie.

Hy het die Kruis gekies. Hy het nie Sy lewe verloor nie; Hy het Sy lewe gegee.

In die volgende gedeelte sien ons die dilemma van die mense, so werklik soos vandag nog. Is Jesus ‘n mal man of die Seun van God? Daar is geen omweg om hierdie vraag nie. Jesus het die hart van God geken.

Hy kan eenvoudig nie ‘n mal mens wees nie. Sy boodskap het hoop vir die wêreld gebring. Sy dade en woorde het gebrokenheid herstel en hoop gegee. Sou ‘n mal mens ‘n blinde kon laat sien? Die gevolge van ‘n ontmoeting met Jesus in miljoene der miljoene lewens getuig daarvan dat Hy die slegte goed maak, die dwase wys en die verworpene hoopvol.

Die Fees waarvan hier gepraat word is die Fees van die Lig (Hanukkah) wat vir agt dae in Desember gevier word. Die oorsprong van die Fees gaan terug na een van die uitstaande tye van Joodse durf en moed in hulle volgehoue onderdukking deur ander volke.

In die jare 175 tot 164vC was die koning van Sirië Antiochus Epiphanes. Hy wou Griekse filosofie en kultuur bevorder en afdwing. Hy was vyandig teenoor Joodse kultuur en godsdiens en ‘n wreedaard. Hy was aanvanklik vredevol, maar die weerstand van die Jode het hom te ver gedryf. In 170vC het Jerusalem aangeval. Sowat 80 000 Jode het gesterf en derduisende is in slawerny weggevoer. Hy het die Tempel skatkis geroof en dit onwettig verklaar om ‘n kopie van die Wet van Moses te besit of om jou kind te besny. Ma’s wat hulle kinders laat besny het, is gekruisig met hulle kinders om hulle nek. Die Tempelkamers is in ‘n bordeel omskep en die laaste strooi vir die Jode was die offer van ‘n vark op die groot brandofferaltaar ter ere van Zeus en ander gode.

Judas Maccabaeus en sy broer het ‘n opstand gelei en suksesvol vir vryheid geveg. In 164vC het die Jode die oorhand gekry en die Tempel is herstel en gereinig. Om die geleentheid te vier is die Fees van Toewyding ingestel.

So word vertel dat toe hulle die groot kandelaar met sy sewe takke optel, daar net een houer met olie, wat spesiaal deur die hoë priester geseël en afgesonder is, gevind is. Die olie was genoeg vir een dag. Die wonder was dat die lamp agt dae gebrand het, totdat nuwe olie voorberei kon word.

In die herinnering van die wonderwerk tydens die Fees, maak Jesus een van Sy sewe EK IS-stellings.

EK is die LIG van die wêreld.

Niemand anders in die geskiedenis het nog ooit het hierdie woorde gesê nie. Jesus is die Lig in die duisternis van politieke stryd, emosionele onsteltenis en al die onsekerheid wat ons gemeenskap op alle vlakke genereer.

Daar in die voorhowe van die Tempel, waar die rabbi’s dikwels hulle leerlinge ontmoet het, het die vraag na Jesus toe gekom.

Die Jode het daar om Hom saamgedrom en vir Hom gesê: “Hoe lank gaan u ons nog in onsekerheid hou? As u die Christus is, sê dit reguit vir ons.” (Johannes 10:24)

Was dit die uitroep van hulle harte of ‘n lokval om Hom in kettery en veroordeling in te lei? Jesus antwoord dat Hy hulle al dikwels die antwoord gegee het.

Jesus het vir hom gesê: “Jy sien Hom. Dit is Hy wat met jou praat.” (Johannes 9:37)

Jesus praat weer van Sy skape wat nie Sy stem ken nie. Daarom behoort hulle nie aan Hom nie. (Johannes 10:26,27)

Hy belowe die ewige lewe. Die fisiese dood is net die poort na ‘n nuwe dimensie saam met Hom. Niks kan ons uit Sy hand ruk nie (Johannes 10:29-30).

Jesus het Sy Vader bo alles vertrou. Hy het geweet dit maak nie saak hoe verstrooid die skape sou wees nie, Sy Vader het beheer en sou nie dat een verlore gaan nie. Dit is ons waarborg.

…for He God Himself has said, I will not in any way fail you nor give you up nor leave you without support. [I will] not, [I will] not, [I will] not in any degree leave you helpless nor forsake nor let [you] down (relax My hold on you)! [Assuredly not!] (Hebrews 13:5-7, Amplified)

Ons vertrou God. Jesus is betroubaar. Jesus is God. Hy sê dit hier en bid dit in Johannes 17:1, 20-22. In Sy liefde is ons een met die Vader. Ons liefde maak ons gehoorsaam, nie wette of dwang nie. Een met die Vader is nie ‘n filosofie of iets in die metafisika nie. Dit is ‘n verhouding.

[Johannes 13:34; 15:10; 14:21, 23-24.]

Hierdie verklaring van Jesus het die Jode baie kwaad gemaak. Hulle wou Hom sommer daar en dan stenig en het die klippe opgetel (10:31). Sulke laster teen God was strafbaar met die dood (Levitikus 24:16). Jesus praat rustig voort ten spyte van die opwelling van woede. Hy is nie bang vir warm argumente nie.

Hy doen wonderwerke wat net uit God moontlik is. Hy verklaar dat Hy ‘n spesiale opdrag van God het. Hy is heilig – afgesonder vir ‘n spesifieke doel as ‘n boodskapper uit die hemel. (Psalms 82:6. Exodus 21:1-6. Also Exodus 22:9; 22:28) Hy daag hulle uit om Sy dade, nie Sy woorde nie, te oordeel. Die vrug van Sy lewe spreek dieper as enige stories oor Hom. Dade staan ver bo argumente.

Jesus is daardie dag nie gestenig nie. Die dag van Sy dood was reeds uitgemerk in die hemel. Hy het stilte nodig gehad. In die stilte het Hy God ontmoet – voor Hy die mense in hulle wreedheid kon aandurf.

Hy het na die plek van Sy doop gegaan. Die geleentheid van Sy doop was ‘n merkwaardige manifestasie van die drie-eenheid en Hy het krag uit Sy ondervinding met God gekry. Dit het Hom toegerus vir wat kom.

Jakob het teruggegaan na Bethel (Genesis 35:1-6).

Die mense het onthou wat Johannes die Doper oor Jesus gesê het en daarom geglo. Jesus was soveel meer as was Johannes ooit gesê het Hy sou wees. Baie het gesien dat Jesus die man was waarvan Johannes getuig het. Hy het die volle waarborg van die ganse hemel na ons toe gebring.

Hy kan en sal nooit teleurstel nie. In Hom kom al die drome waar.

Ek is ‘n skaap – ek sal Hom volg.

127. Net die heel beste – altyd?

Jesus se antwoord is heel eenvoudig. Een van die Joodse rabbi’s vra, of daar ‘n man is wat sy eie seun haat? Jesus antwoord dat geen pa die versoek van sy seun sal weier nie en God ons vader in die hemel sal nooit die versoeke van Sy kinders weier nie.

Sy voorbeelde is noukeurig uitgesoek. Hy gee drie voorbeelde – Lukas voeg een by die twee wat Matteus noem.

If a son asks bread, will his father give him a stone? If a son asks a fish, will his father give him a serpent? If a son asks an egg, will his father give him a scorpion? (Luke 11:12)

In elkeen van hierdie gevalle is die twee objekte baie dieselfde.

Die klein leemsteen klippies om die See van Galilea was presies die kleur en vorm van die klein broodjies wat in meeste huise gebak is. Sal ‘n pa sy seun bespot om vir hom ‘n klip te gee wat hy nie kan eet nie, in plaas van die brood wanneer hy honger is?

Die vis wat met ‘n slang vergelyk word, was heel moontlik ‘n paling wat volgens Levitikus 11:12 nie geëet kon word nie. Watter pa sal nou met sy kind se nakoming van die voorskrifte volgens die wette van Israel, mors?

‘n Skerpioen is gevaarlik, vinnig en dodelik. In die woestyn is ‘n klein vaal skerpioen wat opgerol nes ‘n eier lyk. Sou ‘n pa nou vir sy seun iets gee wat lyk soos kos maar hom ‘n pynlike, vinnige dood kan kos?

God sal nooit ons gebede bespot nie.

In die tyd van Jesus was die Grieke en hulle mitologie baie meer deel van die samelewing. Hulle het hulle eie stories gehad oor hoe hulle gode gebede antwoord, dikwels met ‘n pynlike, skelm dolksteek wat mens sou bang maak om hoegenaamd te bid.

Die godin van dagbreek, Aurora, het verlief geraak op ‘n sterflike man, Titonus. Zeus, die hoofgod, het aangebied om haar begeerte te vervul. Sy vra toe dat Titonus onsterflik word, maar vergeet om te vra dat hy jonk bly. Titonus het toe vir ewig gelewe maar al hoe ouer geword. Die gebed het ‘n verdraaide uitkoms wat eintlik ‘n vervloeking word.

Enigiemand wat bid sou graag wou seker maak watter soort God is aan die ontvangkant van sy gebede. Wat sou die atmosfeer wees waarin gebede ontvang word? Is dit ‘n ongenaakbare God wat gesmeek en gesoebat moet word? Is dit ‘n spottende God wat gawes met ‘n verdraaide motief uitdeel? Is dit ‘n woedende, wraaksugtige God, wat kalmeer moet word met allerhande gawes en offers/

Is dit dalk ‘n hemelse Vader met ‘n genadige hart wat meer gereed is om te gee as wat ons is om te bid?

In Openbaring word die plek waar ons gebede ontvang word, beskryf. Dit is die atmosfeer waarin ons gebede na die Troon van die Vader gaan. Moet dit nooit vergeet nie.

Net toe die Lam die boek neem, het die vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge voor Hom gekniel. Elkeen van hulle het ‘n siter gehad en ‘n goue bak vol wierook, die gebede van die gelowiges. (Openbaring 5:8:)

Jesus sê dit, Dit is goed en waar. Ek glo dit! Jesus sê die Vader is goed en gee goeie gawes. Hy sê dit is Sy pa se vreugde om te gee aan die wat sal ontvang.

Miga 7 sê God betoon liefde eerder as straf.

Die storie wat Jesus vertel oor die goeie gawes aan die seun wat vra, verduidelik waarom ons God se antwoord in tyd en wyse moet aanvaar. Hy sal altyd ons gebede antwoord, maar op die manier wat die heel beste vir ons is.

In onkunde en met ‘n aardse perspektief, is ons begeertes dalk ons ondergang. God weet en Hy besluit altyd tot ons voordeel. Hy sal antwoord in wysheid en liefde.

Beweeg in die Gees. Verander jou denke, jou houding sodat jy in staat is om Sy wil te sien en van Hom te ontvang. In nederige onderwerping van jou begeertes en bekommernisse sal jy die hart van die Vader ervaar en weet hoe veilig jy by Hom is.

In Grieks is daar twee bevelsvorme. Die een is ‘n eenmalige bevel: maak die deur toe!. Maar daar is ook ‘n onvoltooide bevelsvorm wat ‘n voortdurende handeling aandui. Dit is hierdie vorm wat gebruik word as Jesus se: Hou aan vra, hou aan soek en hou aan klop. Dit dui op ‘n dapper bestendigheid in gebed. Bring jou begeertes voortdurend in die teenwoordigheid van God, sodat jy in die lig van Sy Gees jou hart voor hom blootlê.

Dit is ‘n bevestiging van die opdrag: bid sonder ophou van Thessalonicense.

‘n Herhaalde begeerte toets die diepte van so ‘n begeerte voor die Here. In gebed sal al die bitterheid, eiewaan en selfsug afwas en oppervlakkige tydelikheid met wysheid en insig vervang word.

GEBED: Vra – skryf dit neer met ‘n datum. Wat wil jy van die Here hê? As Hy nou voor jou staan soos voor Salomo, wat sal jy vra?

Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.” (Johannes 14:13,14)

BEGINSEL vir ‘n lewe van uitnemendheid: Ons mag dalk altyd onwaardig voel om ons begeertes voor die Here te bring. Daar is net een oplossing daarvoor – bely. As daar sonde is sal die bloed van Jesus dit verwyder en die kommunikasiekanaal weer oopmaak.

Hoor die woorde van Jesus:

As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra.” (Matteus 21:22)