188. Twyfel maar…en vra.

[Johannes 18]

Die dissipels was bymekaar deur die verloop van Saterdagnag, ore gespits vir ‘n geluid uit die straat.  Onsekerheid en vrees het soos ‘n wolk oor hulle gehang.  Wanneer sou die soldate kom?

Dit was in hierdie toestand van vrees dat hulle geskrik het toe Maria klop.  Haar bekende vrouestem het hulle die deur laat ooppluk en die resies graf toe het haar tyding bevestig.  Wat kon hulle anders doen as om maar weer saam te kom en te wag vir gebeure om te ontvou?

Skielik het Jesus in hulle midde gestaan, sonder om te klop met ‘n dood normale groet:  Vrede vir julle (Hebreeus: Shalom).  Hierdie groet was soveel meer as die afwesigheid van moeilikheid.  Dit was ‘n seën waarin elke goeie gawe van God afgebid word.   Jesus was so informeel asof Hy sou sê: Hallo julle!

Johannes vertel van hulle vreugde om hom te sien en gaan sommer dadelik aan na belangrike toekomstige dinge.  Ek sou my kon voorstel dat die oomblikke van verwondering ‘n rukkie geduur het.  Elke dissipel het Hom sekerlik in die oë gekyk en dalk met ‘n mengelmoes van emosie hemel en aarde in een oomblik ervaar.  Ek is oortuig al die vrees en onsekerheid het in die krag van Sy teenwoordigheid bloot verdamp.

Die uitstuur van die dissipels beteken dat die kerk die liggaam van God is, soos Paulus in Efesiërs 1:23 en 1 Korintiërs 12:12 skryf.  Jesus het aan ons die Vader getoon en nou was Hy oppad terug na die onsienlike realm.  Ons, die kerk is Sy mondstuk, sy voetsoldate en Sy hande van genade.

Die kerk het Jesus nodig.  Dit is net in Hom waar ons die krag, gesag en wonderwerke van God self kan beleef en uitleef.   Jesus het uit God gekom en die kerk kom uit Jesus. Die kerk kan slegs in volmaakte liefde en gehoorsaamheid bestaan.  Dit is die boodskap van Jesus wat die kern van alles is. Niks anders nie! Enigiets mensgemaak is onvolhoubaar.  Dit moet uit God kom om ewig en kragtig te wees.

Jesus het op hulle geblaas.  Die Heilige Gees is die asem van God, die asem van lewe.  God het op Adam geblaas (Genesis 2:7).  Hy het op die dooie bene deur die wind geblaas (Esegiël 37:9).  In Johannes 3 vergelyk Jesus die werk van die Heilige Gees met die wind – meestal onverklaarbaar en onsigbaar.  Die Heilige Gees is Sy asem – Hebreeus = ruach. Die Heilige Gees is die lewe van God in ons om ons toe te rus vir ons lewe op aarde en ons werk in die Kerk van Jesus, nie georganiseerde godsdiens nie.  Jesus het self gesêons sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor ons kom (Handelinge 1:8).

Die kerk moet die boodskap van vergiffenis verkondig.  Ons interpreteer die boodskap van God.  Die boodskap is slegs die waarheid en kragtig om te red in die mate waarin ons uit die teenwoordigheid van Jesus die Woord bring.  Wanneer die kerk vergifnis verkondig en die sondaar wat bely vergewe, is dit nie die kerk wat vergewe nie.  God vergewe die sonde, maar die kerk roep die waarheid van vergifnis oor die persoon uit.  Prediking is genade en liefde, maar ook waarskuwing en bemoediging.

TOMAS

Tomas het die dood verwag.  Hy het dit reeds in Beatnië gesê (Johannnes 11:16).  Hy het die etiket van twyfel by mense gekry en nie by Jesus nie.  Tomas het Jesus liefgehad.  Daar is geen twyfel daaroor nie.  Hy het besef dat die gesagstrukture in Jerusalem enigiets sal doen om van Jesus ontslae te raak. Toe als en erger as wat hy vermoed het, wel gebeur, was hy platgeslaan.  Hy het sekerlik bietjie onttrek om sy gedagtes bymekaar te kry.  Miskien was hy meer ontstel deur die tyding van Jesus se verdwyning uit die graf as wat hy wou toegee en het bietjie eenkant gekom.  Ons weet nie werklik hoekom hy nie teenwoordig was nie.

Hy hoor die nuus van Jesus se verskyning van die ander dissipels.  Dit het net te goed om waar te wees geklink.  Hy spreek sy twyfel uit: hy sal glo as hy dit self gesien het. Hy wou self die wonde aanraak. Hy wou seker maak dit is nie bedrog nie.  (Wonde in Jesus se voete word nie genoem nie. Die voete van ‘n gekruisigde is gewoonlik net vasgebind, nie met spykers deurboor nie.)

Tomas moet vir homself die waarheid onderskei.  Hy kan nie sy hele lewe en die diep impak van Jesus op sy lewe die vorige drie jaar gehad het, op ‘n leuen baseer nie.  Hy is nie anders as die miljoene wat na hom die Christendom ondersoek het nie.

‘n Hele week gaan verby en Tomas skaar hom by sy broers.  Daar in gemeenskap by hulle, ervaar hy wat hy so begeer.  Jesus ken sy hart en hanteer sy twyfel op ‘n baie spesiale manier.  Hy verskyn in hulle midde presies soos die vorige keer.

Jesus nooi hom om ondersoek in te stel. Hy sal mens altyd nooi om verder in te delf in die misterie van Sy bestaan en teenwoordigheid.  Hy is die antwoord op alles en Hy is nie suinig met antwoorde nie.  Moenie bang wees nie – vra die vrae en soek die oplossing.

Kom ons dink bietjie aan die besonderhede van hierdie ontmoeting.  Tomas val neer en roep uit: My Heer en my God!  Dink jy het aan Jesus geraak en sy vingers in die wonde gesteek soos Jesus hom nooit om te doen?  Miskien was die antwoord in Jesus se teenwoordigheid, in Sy blik op Thomas, net in Sy stem.

Dis net soos ons vandag nog Hom ervaar. Op die ou end is Sy teenwoordigheid, Sy stem en Sy oog op ons, genoeg om alle twyfel te laat verdamp. (Psalms 32:8)

Tomas sou hom nie laat inlaat by iets wat hy nie verstaan het nie.  Hy is tot op die been eerlik.  Hy maak seker dat hy die feite versamel en die gevolgtrekking self maak. Die waarheid is belangrik bo alles.

Hier in die oomblik wat die feite hom in die oë staar, gee hy oor in aanbidding.  Sy geloof is baseer op openbaringskennis en aanbidding is die natuurlike reaksie.

Die woorde wat Jesus teenoor Tomas uitspreek, het as inspirasie vir derduisende gelowiges na hom gedien.

Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.” (Johannes 20:29)

Ons weet nie wat van Tomas geword het nie. Daar is stories dat die dissipels die wêreld verdeel het om Jesus te verkondig en dat Tomas so in Indië opgeëindig het.  Daar is ‘n kerk in die suide van Indië waarvan die geskiedenis tot by hom terugdateer.

Sy geloof is op ‘n besondere persoonlike vlak bevestig.  Jesus het homself aan Tomas openbaar.  Dit is presies soos vandag.  Ons kan die eindes van die aarde oorwin as ons Jesus ontmoet het.

LAASTE WOORDE (20:30-31)

Dit is duidelik dat die Evangelie hier eindig.  Johannes 21 is as ‘n aanhangsel geskryf.

Hierdie woorde bevestig weer die doel van Johannes se skrywe.

Dit is nooit bedoel as ‘n volledige verslag van Jesus se lewe nie.  Dit is nie daaglikse rapportering nie, eerder ‘n selektiewe geskiedenis van hoe Hy was en wat Hy gedoen het.

Die Evangelies is nie biografieë nie. Die doelstelling van al vier hierdie uitsonderlike stukke letterkunde is nie verslaggewing vir informasie nie, eerder ‘n kommunikasie van lewe.  Dit is geskryf om die persoon van Jesus so toe te lig dat die leser en hoorder Hom persoonlik kan ontmoet en ervaar.

Ons lees en leer om God te ken, nie geskiedskennis te versamel nie.