172. Was die wêreld weg!

[Johannes 13]

“Pride must die in you, or nothing of heaven can live in you.” 

(Andrew Murray)

 

Gewoonlik kontrasteer Christelike beginsels op ‘n diep valk met die algemene praktyke van die gemeenskap waarin ons leef. Self-bevordering, selfvertroue en die formulering van ‘n eie beeld is vaardighede wat aangeleer word en in seminare uitgebou word, as instrumente vir suksesvolle promosie van wat ookal die ambisie-wortel voor die donkie is. ‘n Helder visioen van persoonlike doelstelling is noodsaaklik om individuele potensiaal te bereik.

Die konsep van dienende leierskap is reeds in sekulêre terme volledig beskryf en opgesom om op ‘n slim en amper skelm manier vir eie belang gebruik te word. Dit kan soms net so onderdrukkend voorkom as die outydse leierskapstyl met ‘n arrogante en verstikkende houding waarvan die onderdaan net wil wegkom. Diensbaarheid kan nageboots word. Die onegtheid en afwesigheid van liefde en nederigheid sal een of ander tyd uitbars.

Aan die ander kant is dienende leierskap met die liefde en nederigheid van ‘n ware dienaar, die oorspronklike konsep wat Jesus hier in Johannes 13 uitbeeld, kragtige, lewensveranderende optredewat ware grootsheid toon. Dit is verfrissend sonder pretensie of eiebelang. Dit is ‘n persoon wat homself onvoorwaardelik uitgiet vir die gemak en vertroosting van ‘n ander.

Dit is werklik die uitlewing van die moderne modewoord waaroor almal so gons: “mindfulness”.

Om neer te kniel en iemand se voete te was is sonder twyfel aksie wat op daardie spesifieke oomblik in tyd gerig is. Being in the momentis nog ‘n gonsfrase.

Jesus het geweet dat die kruis naby is. In dieselfde gedagte-oomblik het Hy geweet sy glorie en oorwining volg daarop. Hy het in die hoogste vorm van nederigheid opgetree, sonder ‘n sweempie trots.

Voetewas was slawewerk. Voete het vuil geword in die stowwerige paaie van ou Palestina. By die deur van meeste geboue was groot kanne water vir voetewas en dikwels ‘n slaaf wat die taak moes verrig. Enige mens in die antieke wêreld sou nie droom om dit vir ‘n ander persoon te doen nie. Jy het jou eie voete gewas of ‘n slaaf in diens van die gasheer het voete gewas.

Jesus was naby aan God en dit het Hom nader aan die mense gebring. Daarom kon Hy ‘n taak verrig wat almal met minagting bejeën het. Sy dissipels was in hulle kultuur vasgevang. Die gemeenskap het dikteer wat gedoen moet word, deur wie en hoe.

Jesus was in Sy bediening op aarde naby aan armoede en lyding. Sulke nabyheid bring ons ook in kontak met die mense onder wie ons Sy liefde, lig en lewe (die tema van hierdie Evangelie) kan uitleef.

Jesus het ook Judas se voete gewas. Dit was ‘n uitlewing van Sy vergifnis en liefde teenoor Judas, terwyl Hy geweet het Judas beplan die verraad.

Hierdie geleentheid, wat miskien die laaste maaltyd saam met Sy dissipels was, was vol trots en praatjies oor posisie. Heel moontlik sou niemand daar eers ‘n gedagte aan so ‘n takie gegee het nie. Jesus het gedoen wat niemand bereid was om te doen nie.Hy was die voorbeeld van nederigheid en diensbaarheid.

Hoe dikwels het daar nie al in kerke dispute en groot bakleiery oor posisies ontstaan nie? Hierdie toneel is ‘n les in ware leierskap, sonder ‘n gedagte aan status en aansien.

[In die Britse weermag eet die soldate voor die offisiere as hulle in die veld in aksie is.]

Die toneel van Jesus se optrede hier by Sy vriende is ‘n dramatiese en onvergeetlike les in nederigheid.

Nederigheid is teen-intuitiewe optrede. Ek kan werklik die boek van John Dickson met die titel Humilitasaanbeveel. Andrew Murray se boekie: Humility – the Beauty of Holinessskuif jou grense oor die onderwerp. Dit is ‘n kort en kragtige analise van die konsep en die miskonsepsies van die filosofie van ouds.

Nederigheid is die pad na ware bevordering en ‘n vergenoegde lewe. Vergenoegdheid is ‘n staat van vreugde en bevrediging. Dit is hoe Andrew Murray dit stel:

“Here is the path to the higher life: down, lower down! Just as water always seeks and fills the lowest place, so the moment God finds men abased and empty, His glory and power flow in to exalt and to bless.” 

‘n Gasheer het nooit voete gewas nie. Of ‘n slaaf het dit gedoen of die persoon self. Jesus is gemaklik om die gemeenskap se reëls te breek. Hy doen dit sonder om die gepaardgaande verleentheid te voel. Hy doen dit dikwels – die Joodse Sabbat (Markus 2:23-26); die Joodse vasdae (Markus 2:18-22); die Joodse wasvoorskrifte (Markus 7:1-20)).

Nederigheid is ‘n deug in die Christelike lewe (Lukas 22:27 en ook Matteus 5:523:11,12). Die Griekse filosowe het egter nederigheid as swakheid afgeskryf.

Petrus se opmerking om heeltemal deel te wees van Jesus, kom in die skok van wat Jesus doen.Hy wil die aard van die toneel verander en Jesus laat dit nie toe nie. Petrus wil hierdie nederige taak spesiaal maak en ‘n spesiale aanraking van Jesus kry. Jesus verduidelik sodat almal verstaan.

Jesus se opmerking in 13:10 verwys na die doop.

En Jesus sê vir hom: “Hy wat klaar gebad het, is heeltemal skoon; hy hoef later niks meer as sy voete te was nie. En julle is nou skoon, maar nie almal nie.”

In die doop word ons hele liggaam gebad en dan is ons skoon. Dit is nie nodig om die doop te herhaal nie. Net ‘n “voetewas” van Jesus is nodig om deel te hêaan Hom.

Trots sal jou laat uitmis op die nederige maniere waarop jy deel word van Jesus. Jesus se pad is nie altyd die pad wat jy sal kies nie.

Dit is belangrik om Jesus se metodes te aanvaar en so deel van God se plan vir jou te word.

Judas se verraad is voorop in Jesus se gedagtes. Hy het geweet wat kom en dit was vir Hom swaar. (Psalms 41:9; 55:12-14)

Verraad is ‘n belangrike tema in hierdie gedeelte. Dit is die teenoorgestelde van liefde en lojaliteit (2 Samuel 9:7,13). Terwyl Jesus Judas se voete was wil Hy kommunikeer dat die tyd meer kritiek is as wat Judas besef. Judas was so op sy eie planne ingestel dat hy Jesus se houding en die dieper betekenis van die geleentheid gemis het.

Verraad kom dikwels van iemand naby aan jou. Dit is Jesus se laaste uitreiking na Judas.

Daar is so dikwels tragedie en hartseer in die uitspeel van die groter plan van God. Jesus aanvaar die “mislukking” om Judas se hart te raak.

Jesus is nie vermoor nie. Hy het gekies om te sterf. Die redding van die wêreld het God se hart gebreek. Dit is so duidelik in hierdie kleine kamee van ‘n aandete en ‘n paar vriende wat saamkom. Dinge is nie altyd so duidelik nie. Hoe kon hulle weet hoe betekenisvol daardie samekoms in die groter prentjie sou wees?

Die bitterheid van verraad het in dieselfde oomblikke as die glorie van liefde en lojaliteit uitgespeel. Al die getroue dissipels was getuies tot die grootste boodskap en Man van alle tye.

Ons het ook ‘n voetewas van Jesus nodig om die “huis” binne te gaan. Die huis is die simbool van die teenwoordigheid van God, daar waar Jesus is en jou verwelkom om saam met Hom aan ‘n tafel te sit. Kan jy aan Sy metodes onderwerp en toelaat dat Hy jou was? Dit mag dalk ‘n skok wees soos vir Petrus.

Kom bid saam met my ‘n nederige gebed: Here, laat U wil geskied op aarde soos in die hemel.

Dan eet ons saam in die hemel van Sy teenwoordigheid.