170. Koning van vrede.

[Johannes 12]

Jesus is oppad Jerusalem toe.

Vir Hom om Jerusalem toe te kom in die tyd van die Paasfees is waarlik waagmoed. Hy het geweet Hy het diep “moeilikheid” met die owerhede. Blyplek was ‘n probleem in Jerusalem en baie pelgrims het in Betanië oorgebly in die tyd. Tyding oor Lasarus het vinnig versprei.

Die Romeine het graag ‘n sensus afgekondig. Hulle wou seker maak elkeen betaal belasting. Soos ons weet het Josef en Maria Bethlehem toe gereis vir ‘n sensus. In ‘n Romeinse sensus kort na die kruisiging is opgeteken dat sowat 256 000 lammers tydens die Paasfees geslag is. Gewoonlik het tien mense ‘n lam gedeel en daarom is die skatting op meer as 2,600 000 Jode in Jerusalem tydens die Paasfees. Jerusalem was vol en besig.

Die karakters in die stories om Jesus is altyd merkwaardig. Die inspirasie van die Heilige Gees gee ons die kleurvolle en dramatiese besonderhede van die mense sodat ons na soveel eeue nog met die mense om Jesus kan identifiseer.

Marta het ‘n maaltyd bedien. Mariahet Jesus met kosbare parfuum gesalf. Sy het haar heel beste oor Hom uitgegiet.

In haar bediening het Marta ook haar liefde vir Jesus uitgeleef. Sy was goed met wat sy gedoen het. Ek kan so met haar identifiseer, want ek voel ook ek moet ietsie te ete en te drinke voorsit om die gesprek te laar vloei. Ek weet een van my gawes van die Heilige Gees is gasvryheid. Ek sou spring om vir Jesus iets voor te sit. Tog voel ek daar is stille kritiek op Marta. Haar diens aan Jesus het haar buite hoorafstand van Sy stem geneem. Miskien was daar nie moderne oopplan kombuise nie. Ek hou van kook, maar ek hou ook van die geselskap.

Solank ons gawes en selfs ons bediening ons nie buite die bereik van die stem van God neem nie, kan ons met vrymoedigheid en passie voortgaan. Ek het al so dikwels my passie vir materiaal, binneversiering, kuns en mode aan die Here onderwerp en Hom gevra om dit in Sy koninkryk te gebruik. Ek is lief vir mooi goed en ek wil nie hêdit moet my van Hom af wegdryf nie.

Die mees belangrike ding in my lewe is om die stem van God te hoor. Ek wil hoor as ek lees, hoor as ek werk, hoor wanneer ek skryf en hoor wanneer ander mense om my is. Ek wil God “hoor” in die alledaagse.

Hoe leef ons ons liefde vir Hom?Dink daaroor.

Onthou dit kan in die kleinste, mees gewone en eenvoudigste take wees, soos om jou familie te versorg. Dit is altyd ons eerste roeping.

Jesus het dit self gesê. Ons moet Sy getuies wees in Jerusalem(ons gesin), Judea(ons familie en vriende), Samaria(die mense waarvan jy nie hou nie) en dan die res van die wêreld (Handelinge 1:8).

Maria was oorvloedig in haar offer. Dit was ‘n teken van verering om iemand se hoof te salf (Psalm 23). Maria het Jesus se voete gesalf. Haar nederigheid het haar aan Sy voete gebring. Sy het nie gedink sy is goed genoeg om Sy hoof te salf nie.

Liefde het haar vrymoedigheid gegee. Geen gerespekteerde vrou sou haar hare in die publiek los maak nie. Getroude vrouens het hulle hare bedek. Eintlik was dit net prostitute wat met hulle hare uitlokkend was. Maria was glad nie gepla met wat die mense sou dink nie.

Haar huis is gevul met die heerlike geur van die parfuum. Dit is wat met ons ook gebeur. As ons Jesus liefhet en eer, is ons die lieflike geur van liefde. Die kerk wat haar voorbeeld volg is waarlik die liggaam van Jesus.

Maar aan God die dank! Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus. Deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos ‘n aangename geur(2 Korintiërs 2:14)

Judashet ewe edel oor die armes gepraat en gesêdie duur parfuum kon verkoop word. Jesus het geweet Judas gaan Hom verraai. Hy het heel moontlik Judas die tesourier gemaak om hom te wen met vertroue en te kommunikeer dat Hy die beste van Judas verwag.  Vir Judas was dit ‘n groot versoeking om meer geld te kry. Hy het die geld in elk geval misbruik. Sy gawe het sy ondergang gebring as gevolg van sy selfsugtige doelstellings.

Die woord wat hier gebruik word is bastazein,wat beteken om te draof te steel.

Judas het die hele liefdesritueel van Maria gemis. Sy oog was op sy eie belange. Hy kon nie onderskei wat belangrik is nie. Hy kon nie die tyd (hy het nie besef die kruis is naby nie) onderskei, of die openbaring van liefde van Maria nie. Hy het nie gehoor dat Jesus weer en weer sêdat Hy hulle gaan verlaat nie.

Judas het beheer oor die geld gehad en gedink dat hy Jesus ook vir sy eie politieke ambisie kan “gebruik”. Hy wou van die Romeine ontslae raak en het gedink dat hy Jesus in ‘n konfrontasie met die owerhede kan dwing.

Tydsberekening is baie belangrik.

…van die Issaskarstam, die mense wat die tekens van die tye verstaan het en geweet het wat Israel te doen staan: (1 Kronieke 12:32)

Wat Maria daardie dag gedoen het, kon nooit herhaal word nie. Sy het die geleentheid gebruik om haar liefde te betoon. Ek dink nie een van hulle het gedink aan die trane, bloed en hartseer van die einde van daardie week nie.

Leef liefde – teenoor God en teenoor ander. Gryp die geleenthede – dien en bedien met jou beste.

Die opmerking van Judas oor die armes was veronderstel om “reg” te klink. Jesus self haal die Skrif aan:

Daar sal altyd armes in jou land wees, en daarom het ek jou beveel om vrygewig te wees teenoor jou mede-Israeliet wat in nood is en arm is.”(Deuteronomium 15:11)

In die volgende verse (12:9-11) ontmoet ons die priesters en die Joodse owerhede. Die priesters was almal Sadduseërs.

Die Sadduseërs was welvarende aristokrasie wat met die Romeine saamgewerk het om hulle lewenstyl te behou. Enige burgerlike onrus, opstande of moeilikheid onder die mense sou die Romeine met ‘n swaar en wrede hand onderdruk en hulle, die Sadduseërs, daarvoor blameer. Hulle sou verseker hulle posisie en welvaart verloor. Die Sadduseërs het in Jesus ‘n bedreiging vir hulle goeie regering gesien.

Polities moes hulle dringend van Hom ontslae raak.

 Teologieswas Hy selfs ‘n groter probleem. Hulle het nie in die lewe na die dood geglo nie. Lasarus se opwekking was ‘n groot bedreiging vir hulle opvattings. Daar was selfs berugte dat hulle Lasarus wou doodmaak.

Die waarheid was van geen belang nie.

Intussen kom Jesus Jerusalem binne – soos ‘n koning – net wat hulle gevrees het. (12:12-19)

Die skare saam met Hom het gejuig met uitroepe van koningskap. Hulle het Hom as ‘n held gesien omdat Hy moed gehad het om die owerhede teen te staan.

Hosanna in Hebreeus beteken: red nou.

Hulle het die woorde van die Hallel(Psalms 113-118), gesing wat tydens die dankoffers en gedurende die Paasfees gesing is. Elke persoon het as kind het die woorde geleer en almal kon dit saamsing. Dis ook tydens die Loofhuttefees gesing. Hulle het in oorwinning gesing. Hulle het dit gesing toe Nehemia die muur herstel het (Nehemia 8:14-18).

Die skare het gesing in die vooruitsig dat hulle Rome sou oorwin en in afwagting vir die trompetgeskal om hulle herstel aan te kondig. Hulle wou Hom kroon vir alles wat Hy nie wou wees nie en weerstaan het. Jesus moes hulle doelstellings dien.

Jesus kon nie praat nie. Hulle sou Hom nie hoor nie en nie luister nie. Daarom is dit belangrik om te let op wat Hydoen.

Hy ry op ‘n donkie. Dit was ‘n direkte aanspraak op die titel Messias.

Jubel, Sion! Juig, Jerusalem!

Jou koning sal na jou toe kom.

Hy is regverdig en hy is ‘n oorwinnaar,

hy is nederig en hy ry op ‘n donkie,

op die hingsvul van ‘n donkie.   (Sagaria 9:9)

Hy was ‘n besondere soort Messias. ‘n Donkie was ‘n edel dier in die antieke tye en glad nie met minagting behandel nie. (2 Samuel 17:23; 19:26). Mefiboset, die prins en seun van Saul, het op ‘n donkie gery toe hy Dawid besoek het.

Dit was ‘n teken van vrede.

‘n Perd was ‘n oorlogsdier en ‘n koning op ‘n perd kom om oorlog te maak. Jesus was waarlik die Prins van Vrede. Die skare het dit gemis. Hulle wou oorlog maak. Dit was hulle plan. Hulle wou die ystervuis van Rome met geweld teenstaan.

Die Joodse leiers het profeties uitgeroep:

Kyk, die hele volk gaan agter Hom aan.

Jesus het baie moed. Hy weet hoe verkeerd hulle is. Hy weet wat die reaksie gaan wees en tog kom Hy Jerusalem binne met al die aandag op Hom.