Eerste vraag: Wat is jou reaksie op Openbaring? Wat hoop jy om te leer?
Basiese beginsels vir die studie van Openbaring
As ‘n klein dogtertjie was ek vreesagtig oor alles wat in Openbaring staan. Ek het niks verstaan nie, maar het ‘n diep fassinasie met die inhoud gehad. Daarna het ek die boek meestal geïgnoreer. Twaalf jaar gelede een aand by ‘n lesing van professor in Nuwe Testament teologie in ons kerk het my hele perspektief verander. Toe het ek begin navorsing doen met ‘n hernieude entoesiasme. Ek moes uitvind dat die perspektief wat die professor met sy lesing gebring het ook die uitgangspunt van die vroeë kerk was (na die eerste eeu) en baie geleerdes vandag. [Die Professor se naam is Paul Spilsbury en sy boek is: The Throne, the Lamb and the Dragon]
Hoekom is jy deel van hierdie studie? Jy is genooi op die hemelse tuimeltrein deur die majestueuse heelal van die Skepper-God te reis en sal in ontsag verstom staan oor die grootheid van God. Dit moet ‘n onmiddellike verskil maak aan hoe jy die wêreld beskou en hanteer – nou, vandag.
Jy moet ‘n “leraar” word, toegerus met ‘n woord vir elke geleentheid. Leer, lees, memoriseer.
- Dit sal nie jou laaste lees van Openbaring wees nie – maak ‘n belofte aan jouself. Dit is veelsydig en kan op verskeie vlakke geïnterpreteer word. As dit jou eerste keer is, is dit net die begin.
- Dit is apokalipties van aard. Simbole en beelde word gebruik om ’n boodskap oor te dra. Dit moes in kode wees sodat net Christene dit kon verstaan. Daarom is dit in wese ’n studie van die hele Bybel. Die visioen is alles oor dieselfde tema maar vanuit verskillende hoeke en dus NIE kronologies nie.
- Jesus word geopenbaar. Dit is die eerste woorde van die boek. Altyd, in alles – baie belangrik. God se plan en doel word verduidelik. Alles in God se plan draai om Jesus. Hy is die Prins van die hemel – Openbaring plaas die kyker, leser en hoorder in ‘n hemelse, Heilige Gees geïnspireerde fokus op Hom. Die sleutel tot interpretasie is die eerste vyf woorde van die boek: die openbaring van Jesus Christus.
- Alles rondom jou is onder beheer. Bose en goddelose dinge mag oorweldigend lyk, maar dit is altyd beperk. Dit kan nie wen nie.
- Volheid van sekuriteit en uiteindelike oorwinning oor vrees is gewaarborg en word uitgespel in hierdie ongelooflike “prenteboek” van die hemelse wêreld genaamd Openbaring.
Elke woord is bedoel om verstaan te word, om aan te moedig en te inspireer soos die Plan van ons Vader geopenbaar word en Sy almagtige en soewereine heerskappy oor die heelal duidelik word.
Die naam van die boek sê alles. Johannes beskryf die onbeskryfbare in ’n poging om die raaisels van ons bestaan in hierdie wêreld te verduidelik sodat ons nie verswelg word in die duisternis en chaos van wêreldpolitiek, oorlog, terreur, natuurrampe, wreedheid en lyding nie. Te midde van al die gevolge van sonde, verklaar in die sewe seëls, sewe trompette en sewe bakke, sien ons ons Vader se hart en die koningskap van Jesus. Die Heilige Gees is aktief en waaksaam oor die Woord om dit aan ons harte en verstand te verduidelik en te interpreteer. (Jeremia 1 – simboliek van die amandeltak)
Die kern-tema van die hele boek, waarin soveel van die simboliek van die res van die Bybel herhaal word, verklaar God se liefde en soewereiniteit, die onbetwisbare heerskappy van Jesus en die werklikheid van volkome verlossing van sonde en alle kwaad, geïllustreer deur die Kerk.
Openbaring openbaar. Johannes se visioen verduidelik en verklaar sodat ons toegerus is met die kennis wat ons nodig het om sterk te staan teen die totale aanslag van die boosheid in ons tyd.
Openbaring is die uiteindelike antwoord op alle onsekerheid en vrees.
Hoe lieflik op die berge is die voete van hom wat die goeie boodskap bring,
wat vrede verkondig, goeie nuus bring,
verlossing verkondig, wat vir Sion sê: “Jou God regeer!” (Jesaja 52:7)
En ek het gehoor soos die stem van ’n groot menigte, soos die gedruis van baie waters en soos die geluid van sterk donderslae wat sê: “Halleluja! Want die Here God, die Almagtige, regeer!” (Openbaring 19:6)
Ons, die Kerk, die nuwe Jerusalem, die Koninkryk keer boosheid op elke vlak van die samelewing af. Die Kerk, die Bruid van Christus, is nie ’n denominasie nie. Dit is die bloedverloste kinders van die Vader met ’n getuienis op hul lippe wat die dier, die draak, die ou slang of wat ook al hierdie vernietigende monster genoem word, oorwin. (Openbaring 12:9)
Ons oorwinning lê nie in georganiseerde godsdiens nie. Ons oorwin deur die bloed van die Lam en die woord van ons getuienis (Openbaring 12:11). Ons is die martelare (getuies), die oorblyfsel, wat die banier van die Kruis dra en die vervolging verdra.
Wees bewus daarvan dat ons vervolg en omring word van alle kante. Behalwe vir die fisiese vervolging van die vroeë kerk en vandag se Christene in dele van die wêreld waar hulle getuienis ’n doodsvonnis is, word ons wat godsdiensvryheid geniet, aanhoudend aangeval op alle vlakke van die samelewing – familie, opvoeding, regering en politiek, media, kunste, filosofie, besigheid en godsdiens – om nie te praat van die gemors en besoedeling wat ons aarde bedreig nie.
Openbaring is die profesie baie eeue gelede oor die oorweldigende uitstorting van alles wat God se vyand, Satan, teen ons kan gooi. Al die gevolge van sonde word uitgespreek binne die tyd, tye en ’n halwe tyd, [vertaal met ‘n vasgestelde tyd en ‘n halwe tyd – Engels= time, times and half a time en die OAB = tyd, tye en ‘n halwe tyd = 3,5 jaar, 42 maande en 1260 dae of 1335 dae ] soos Daniël die tydperk van onderdrukking beskryf het, wat ’n beperking en volkome beheer aandui. Die goue draad van profesie in perfekte harmonie en ooreenstemming oor duisende jare, bemoedig met ’n tydsbeperking op alle boosheid.
Laat ons eers ons leuse verklaar vir die studie van hierdie boek. In die woorde van Richard van Chichester:
“To know Jesus more clearly, to love him more dearly and to follow him more nearly.”
Die verheerlikte Jesus in al sy koninklike glorie is die sentrale tema. Hy is in beheer as regverdige en liefdevolle heerser, gereed om te red en te verlos, te herstel en te beloon.
Oordeel kom duidelik en onpartydig met een doel: om die pad vir seën oop te maak.
Niemand kan sê hulle het nie geweet nie. Geen onkunde kan ooit as verskoning dien om die lewe self te verwerp nie. Ons weet en ontvang begrip en onderskeiding van die Heilige Gees om die valse Drie-eenheid te herken en die gevolge van aanbidding daaraan. Dit is onmoontlik om neutraal te bly. Dit is óf valse aanbidding óf ware aanbidding.
“Niks” is nie ’n opsie nie.
Terwyl profesie verlossing verkondig deur ’n liefdevolle God met herstel tot ’n verhewe bestaan in die huidige bedeling, veroordeel gewone apokaliptiese literatuur hierdie wêreld tot ’n katastrofiese einde sonder hoop.
Die boek Openbaring in die Bybel staan in skerp kontras met ander apokaliptiese literatuur as ’n uitdrukking van hoop op ’n toekoms van volkome redding, gewaarborgde oorwinning oor sonde en boosheid en ’n majestueuse einde in die teenwoordigheid van ons Bruidegom, Jesus, as die Koning van die heelal in al sy heerlikheid en prag.
Openbaring is geskryf vir twee tydperke – die hede en die toekoms, terwyl dit die simboliek en historiese beeldspraak van die verlede gebruik om die glorie en prag van die onsigbare te beskryf. Die hede bied ’n keuse om die genade van die Kruis te aanvaar. Die toekoms bied ’n onvermydelike ingryping van God om ’n einde te bring aan Sy vyand, Satan.
In terme van Israel se geskiedenis het dinge van sleg na erger gegaan. Ná die hoogtepunt van die Hebreeuse beskawing toe die Tempel van Salomo gebou is, volg ’n tragiese reeks historiese verval van afvallige en korrupte konings, oorlog, ballingskap, stryd en bloedvergieting. Niks is soos dit hoort nie en die Jode leef met ’n intense gevoel van verlies en verlange na herstel onder die beloofde Messias.
Teen die einde van die tweede eeu na Christus is Judea ’n gehate uithoek van die Romeinse Ryk, die Ryk wat Daniël beskryf het as die voete van yster en klei. Jerusalem lê in puin ná ’n wrede beleg en ’n gruwelike oorlog waarin die Romeine dekades se frustrasie op die Jode wreek. Jode en Christene is dood of slawe of in afgeleë wegkruipplekke.
“Geskiedenis vir die Jode was ’n katalogus van rampe waaruit dit duidelik geword het dat geen menslike verlosser hulle kon red nie.”
Apokaliptiese literatuur was gewild as ’n uitdrukking van verset met die hoop op totale vernietiging van onderdrukkers en vyande. Dit is dikwels in kode en onder skuilname geskryf om dit geheim te hou, sodat net dié vir wie dit bedoel was dit kon verstaan.
Openbaring is nie ’n kronologiese ketting van gebeure nie. Dit is ’n samevatting van die hele geskiedenis van die mensdom met ’n klimaks-einde vir dié wat kies om die verlossing van genade en liefde te aanvaar.
Hierdie studie is nie ’n poging om al die moontlike interpretasies van die visioen saam te vat nie. Die inhoud is veels te ryk en omvangryk. Dit is ook nie ’n dispensasionele interpretasie om as reisplan vir gebeure rondom die wederkoms van Christus te dien nie.
Dit behoort slegs te dien as ’n eerste stap om inligting oor die simboliek en verwysings te verkry ten einde die “kode” of Bybeltaal – as ek dit so mag noem – te ontsyfer.
Heel eerste – die sleutel tot Openbaring is Efesiërs 1. Jesus is alles… in die woorde van Paulus in The Message:
Because of the sacrifice of the Messiah, his blood poured out on the altar of the Cross, we’re a free people—free of penalties and punishments chalked up by all our misdeeds. And not just barely free, either. Abundantly free! He thought of everything, provided for everything we could possibly need, letting us in on the plans he took such delight in making. He set it all out before us in Christ, a long-range plan in which everything would be brought together and summed up in him, everything in deepest heaven, everything on planet earth.
Jesus is die Prins van die hemel, die Verlosser aan die Kruis, die Oorwinnaar oor die dood en die hel. Ons studie fokus op Hom en Hom alleen. Die kwaad en die sonde mag oorweldigend lyk, maar dit is beperk en onder beheer. Daar is oorwinning binne hierdie gebroke wêreld – in Christus. Die hoogtepunt van aardse bestaan is die Kruisdood en Opstanding van Jesus. Dit is die sleutel tot alles. Niks is groter – ook nie die tweede koms nie. Niks is moontlik sonder die Kruis. Dit is die kern, die sleutel tot alles. Alles na die kruisiging is die eindtye – ‘n kulminasie van die geskiedenis om Jesus en Jesus gekruisig te verkondig.
Paulus pleit vir respek aan die Romeinse owerhede. Dikwels het die Romeinse administrasie en reg die jong Christelike Kerk teen vervolging deur die Jode gehelp.
Gedurende hierdie tyd is daar egter openlike haat teenoor die Romeine. Rome word as Babilon beskou, ’n simbool van alle boosheid. In die eerste eeu was aanbidding in Rome relatief vry. Gaius Julius het homself Caesar en ewige heerser verklaar. Sy militêre oorwinnings en die wydverspreide heerskappy onder die Pax Romana – Romeinse reg en regering wat vrede bring – het ’n groot verskil gemaak in die daaglikse lewe van gewone burgers. Daar was paaie, infrastruktuur en plaaslike owerhede wat die wet toegepas het.
Dankbaarheid teenoor die Caesar het ontwikkel in aanbidding, en mense het hom spontaan begin aanbid as ’n god. Dit was toe ’n maklike stap vir opvolgende Caesars om te glo dat hulle inderdaad gode is.
Dit het gelei tot ’n stelsel waar elke nie-Romeinse inwoner van die Ryk een keer per jaar voor die landdros moes verskyn en verklaar: “Caesar is God.” Hiervoor het hy ’n sertifikaat ontvang en kon hy vir die res van die jaar aanbid wie hy wou. Vir Christene en Jode het hierdie stelsel arrestasie, dood of ’n lewe van wegkruip van die owerhede beteken.
Nie al die Caesars het aanbidding vereis nie. Tiberius (die Caesar in die tyd van Jesus) het dit heeltemal gestaak. Caligula was ’n mal sadis en het geëis dat sy beeld in die Allerheiligste geplaas word, maar is dood voordat dit uitgevoer is. Claudius was teen Caesar-aanbidding. Nero het dit nie vereis nie, maar het Christene vir al sy mislukkings blameer. Vespasianus het aanbidding gestop, maar Jerusalem vernietig. Titus het geen aanbidding geëis nie. Domitianus was die ergste – hy het geglo hy is werklik ’n god. Hy het nie-aanbidders vir die eerste keer “ateïste” genoem. Hy het Johannes na Patmos verban, maar Nerva, sy opvolger, het al die waansinnige wette herroep en Johannes vrygelaat – ’n wonderwerk, aangesien ’n Romeinse strafkolonie dikwels ’n voorspel tot die dood beteken het.
Dit is teen hierdie agtergrond dat ons begin lees. Johannes stel homself voor en spreek ’n seën uit oor elke persoon wat lees – waarskynlik ’n openbare voorlees – en HOOR die woorde van die profesie. (Baie mense was ongeletterd, veral vroue, en het net gehoor wat hardop gelees is.)
Om te hoor, impliseer om met die hart te ontvang, om die openbarings wat in hierdie boek gemaak word, te merk. Dit is nie tegniese teologie nie. Dit is waarheid van die Bron van Waarheid – ons God wat op die Troon van Genade sit. Jesus is God se Waarheid.
Die Grieks vir Openbaring is apokalupsis – apo beteken om weg te neem, en kalupsis beteken sluier. Die sluier word gelig sodat ons kan verstaan. Dit is altyd die werk van die Heilige Gees. (Efesiërs 1:17)
Openbaringskennis is ’n gawe van God vir die ontdekking van die mens.
Die geskiedenis van die wêreld is nie willekeurig nie – dit is doelbewus en onder beheer. Die eindtyd is naby (1:3) beteken dit ontvou onmiddellik. Die eindtye word gedefinieer as die tyd tussen die Opstanding en die Tweede Koms.
Openbaring beskryf geskiedenis in beweging. Ons is nie onkundig oor wat rondom ons gebeur nie. Hierdie kosbare visioen is ons toekomskaart en tydmasjien.
“Dit is die eer van God om ’n saak te verberg, maar die eer van konings is om dit uit te soek.” – Spreuke 25:2
Die lewe is ’n reis van ontdekking. God het dinge só bepaal dat die mens nie aanmatigend met sy Skepper moet meeding nie, maar sy eie nietigheid sal besef. Ons word altyd genooi om dieper te gaan.
Kernwaarhede in die studie van Openbaring
Openbaring is die finale oorwinningskreet van die hele Bybel en die hoogtepunt van die Christelike lewe. Ons kan dit nie bekostig om dit te eng te interpreteer asof dit net oor toekomstige gebeure gaan nie. Dit sou ons beroof van die diep waarhede en bemoediging vir die Christelike lewe.
Johannes sien homself as ’n Ou-Testamentiese profeet. Ongeveer 278 van die 404 verse in Openbaring bevat verwysings na die OT en meer as 500 woorde[AJ1] verwys indirek na die OT, teenoor net sowat 200 in Paulus se briewe. Daniël en Jesaja kom dikwels voor.
OT-profesie was altyd ’n oproep tot hernuwing van die volk se verbintenis aan God. Daarom is Openbaring beide profeties én pastoraal van aard. Dit is onmiddellik relevant tot ons wandel in die woestyn-vlaktes van hierdie wêreld waar God ons beskerm en daagliks verlos na die Beloofde Land van die nuwe skepping. Elke dag is ’n lewe van beklee word met die wapenrusting van God (Efesiërs 6:10–17).
Outeurskap
Daar is geen twyfel oor die outeurskap van Johannes, die apostel, wat van Jerusalem voor die beleg en vernietiging, na Efese gevlug het, vermoedelik saam met Maria, die moeder van Jesus. Hy skryf sy Evangelie ná Openbaring en gebruik talle temas wat tipies van sy skryfwerk is: Jesus as die Woord, die Lam, die Herder, as manna, lewende water, lewe en lig, oorwinning, om die Woord en gebooie van God te bewaar — almal teenwoordig in Openbaring sowel as in Johannes se Evangelie.
Johannes skryf onder sy eie naam as gesaghebbende boodskapper van Jesus om die kerk aan te moedig en op te bou. Die sleutel tot al die metafore en beelde is ons Ou Testament – die Wet en die Profete van die Jode. Daar word 245 (8) keer na die Ou Testament verwys in Openbaring. Die detail is verstommend en die goue draad word noukeurig bewaar. Johannes is apostel, profeet en herder – wyd gerespekteer in Efese waar hy woon en bedien na 70 nC. Efese is ’n heidense stad, die setel van die tempel van Diana, ’n argitektoniese wonder van die antieke wêreld. Diana is die godin van vrugbaarheid en word aanbid met seksuele rituele deur talle tempelprostitute. Dink net aan die skerp kontras wat Christelike moraliteit gebied het.
Johannes noem homself ’n broer vir die leser. Hy gebruik dramatiese en beskrywende Grieks. Sy Evangelie, wat hy ná Openbaring geskryf het, word gereken onder die mees gerespekteerde literatuur in die wêreld ooit.
Datering van Openbaring
Die gemeentes het plaaslike vervolging ervaar, nie die algemene vervolging onder Nero voor die vernietiging van Jerusalem nie. Dominitianus het keiserlike aanbidding geëis en onder hierdie opdragte het vervolging uitgebreek. Judaïsme is deur Rome geduld, maar toe die Christendom al hoe meer van Judaïsme geskei geraak het, is Christene deur beide Jode en Romeine vervolg.
Die intrinsieke aard van die boek
Die woord “Apokalipties” is Grieks vir “Openbaring” — die opheffing van die sluier. Dit beteken nie katastrofe of groot gebeurtenis soos dit later in die volksmond bekend geraak het nie. Daar is baie apokaliptiese werke in die antieke tye geskryf. Die meeste denkers het gemeen die aarde is te boos om verlos te word en moet heeltemal vernietig en vervang word.
Jesus en die Christendom is die enigste stemme wat redding verkondig. God is Almagtig en niks is onmoontlik vir Hom nie. Daarom kan geen boosheid ooit die oorhand kry nie — alles is verlosbaar — ’n revolusionêre idee in die antieke wêreld.
Apokaliptiek impliseer ’n meer intensionele samevoeging van die hele skepping en die verlossende krag van Jesus as wat blote profesie sou doen. Openbaring doen alles en gebruik alle moontlike maniere om die grootheid en heerlikheid van ’n liefdevolle en betrokke God uit te beeld — om te red, te genees, te verlos en te lei na die uiteindelike heerlikheid in Sy teenwoordigheid. Johannes beklemtoon die oorsprong van sy visioene — die Troon, die engele, God se teenwoordigheid en die glorie van alles wat aan hom geopenbaar word.
Openbaring is sowel ’n vooruit-vertelling as ’n direkte verkondiging van die toekoms, met ’n sterk fokus op die Bron van die openbaring om die hemelse aard daarvan te onderstreep. Dit beskryf aardse bestaan en die stryd van die Christelike lewe, terwyl dit die kerke herinner word dat hulle reeds begin deel het aan ’n hemelse dimensie en dat hulle werklike, ewige tuiste die nuwe hemel en aarde is, moontlik gemaak deur Jesus se dood en opstanding.
Sekuriteit en voorspoed is nie op aarde te vinde nie, eerder in die hemel, in die hemelse dimensie terwyl ons nog op aarde leef. Hulle (ons) moet leef en aanbid soos die Kandelaar in die Heilige Plek — om die lig van Christus te dra as getuies (martelare) op hierdie aarde.
Hierdie hemelse openbaring is in teenstelling met die menslike beoordeling van geskiedenis en waardes en vereis bekering en heroriëntering. Daar is ’n werklike gevaar dat die kerk sal aanpas by die “normale” wêreldse waardes eerder as God se verhewe waarheid.
Hoe moet die Kerk hom gedra in ’n goddelose wêreld?
Juis daarom kan ons nie Openbaring bestudeer met die fokus op die toekoms, eerder as die verlossing-geskiedkundige wêreldbeskouing wat ons toerus vir die lewe in hierdie wêreld nie.
Openbaring begin as ’n brief aan sewe gemeentes om konkrete morele keuses, hernuwing en herlewing aan te moedig.
Vier maniere om Openbaring te interpreteer
Preteristies
Alles is verby, alles is geskiedkundig — afgehandel ná die vernietiging van Jerusalem. Babilon is opstandige Israel wat die Kerk vervolg het. Soms gekoppel aan die val van die Romeinse Ryk in 500 n.C.
Kan nie staande bly in die lig van Daniël dat die eindtyd-oordeel universeel is nie.
Histories
Seëls, bakke en trompette is opeenvolgende eras van die Kerk, en elke politieke en sosiale gebeure word in die interpretasie inforseer. Met verloop van eeue verander dit aanhoudend. Gewoonlik ’n Westerse fokus wat die Ooste heeltemal ignoreer. Baie eng en manipulerend.
Futuristies
Alles gaan oor die wederkoms van Christus en die einde van die geskiedenis. Hoofstukke 4–21 is letterlike en kronologiese volgor[AJ2] de van toekomstige gebeure. Daar is baie vereenvoudigde weergawes hiervan. Tog is daar geen melding van die Wegraping in Openbaring nie, geen verwysing na die geografiese herstel van Israel of enige sogenaamde groot politieke figuur wat die Antichris is nie. Hierdie interpretasie verander voortdurend.
Verlossing-geskiedkundige Idealisties
Ek noem dit histories-klassiek.
Die hele boek is ’n simboliese voorstelling van die stryd tussen goed en kwaad, van toepassing op alle tye en volke. Dit is uiteindelik ’n vermaning om getrou te bly ten spyte van lyding en weerstand. Alle boosheid is onder beheer. Alle gebeure in die geskiedenis is onder God se leiding en is beperk sodat dit nie vernietig of oorweldig nie.
Die simboliese kommunikasie van Openbaring
In Openbaring 1:1 en dikwels daarna, word die Griekse woord *sēmainō* gebruik — vertaal met “toon” of “wys”. God kommunikeer met Johannes deur dinge aan hom te wys: visioene, beelde en drome — nie blote woorde nie. Dit moet geïnterpreteer word. Ander vertalings gee dit weer as: bekend maak, aandui, duidelik maak.
“Simboliseer” en “aandui” beteken in wese om te kommunikeer deur simbole. Dit is nie vreemd nie. In die antieke wêreld is simbole gereeld gebruik — daar was ’n sein om oorlog te begin; ramshorings en trompette is op spesifieke wyses geblaas om verskillende dinge aan te dui. Ons leef vandag die hele tyd tussen simbole wat dinge aandui. Padtekens en allerhande prentjies op borde om ons lewe te rig. Dink maar net aan ‘n lughawe of winkelsentrum. Prentjies kommunikeer in alle tale.
Kommunikasie deur simbole is om iets bekend te maak — net soos Jesus se gelykenisse. Jesus het Jesaja 6:9–10 aangehaal. Simboliese “taal” verwys na ander werklikhede. Dit is ’n uitnodiging om agter die sluier van die onsienlike en onbekende in te gaan — met die moontlikheid om te ken en te weet.
Daniël 2:45 — God het aan die koning gesimboliseer wat sou kom. Hy het Daniël nodig gehad om dit te verstaan, al het hy die visioen gehad.
In Openbaring is ALLES simbolies — die visioene én die getalle. Alles wys na iets groter en onsienlik – ‘n hele ander onsigbare dimensie. Die seën van die boek is om in te gaan, binne-in die heerlikheid, majesteit en kennis wat ver bo menslike begrip uitstyg.
Waarom?
Om sy luisteraars se aandag te kry, het Jesus in gelykenisse gepraat. Die stories het die beginsels duidelik gemaak en dit makliker gemaak om te onthou. Dit was ook ’n uitnodiging om vrae te vra, te peins, en dieper betekenis te soek.
Vir die oppervlakkige luisteraar was dit nonsens. Vir die opregte soeker was dit musiek — die liefde en uitnodiging om nader te kom, was hoorbaar.
In die Middeleeue was mense meestal ongeletterd en moes visueel geleer word. Daarom is daar prente op kerkmure geskilder en majestueuse argitektuur gebruik— simbole van God se grootheid en heerlikheid. Ongelukkig het dit later ontoeganklikheid uitgebeeld en vreesaanjaende oordeel geword in die hande van ‘n korrupte, godsdienstige namaaksel wat die kerk genoem is.
Oordeel en die rol van rampe in Openbaring
Die plae in Egipte het die harte van die Egiptenare verhard. Die plae op God se volk het Sy heerskappy oor die skepping getoon. Dit is vandag nog waar. Natuurrampe is ’n oproep tot bekering — ’n oproep na die God wat dit kan stop, wat orde uit chaos kan bring, wat kan verlos en herbou wat die wêreld as vernietiging beskou.
Dit is ook belangrik om die openbaring van sataniese magte agter soveel aardse instellings raak te sien. Dit trek die aandag van ernstige gelowiges, maar verhard die ongeloof van die meerderheid. Dit word beskryf met buitengewone beelde — om ’n “skokwaarde” te dra vir die wat dit onderskei – die draak, die poel van vuur, die moord op die twee getuies ens.
Oordeel en die aankondiging van die gevolge van sonde is nie ’n goedkeuring van boosheid nie — dit is ’n profetiese realiteit van die mens se reaksie op die uitnodiging tot redding. Daarom is Openbaring ’n oproep in die hede tot alle gelowiges om toegewyd te wees aan Christus en hulleself los te maak van enige lojaliteit aan die wêreldse stelsel.
Openbaring en die Ou Testament
Openbaring het meer verwysings na persone, plekke en gebeure in die OT as al die boeke van die NT saam. Ons sien die patrone van Eksodus, Daniël, Esegiël en Sagaria, onder andere. Die Psalms kom dikwels en prominent voor.
Dit beklemtoon die kontinuïteit en merkwaardige konsekwentheid van die hele Skrif. Al die lyne word saamgetrek, al die stories opgesom, al die gebeure vind hul klimaks — prys die Here!
In die finale instansie — Openbaring is geskryf vir alle mense — God se koninkryk van priesters, die Kerk. (Eksodus 19:6, Openbaring 1:6; 5:10)
Alles in die OT — Egipte, Israel, Babilon en die Jode — word uitgebrei om op alle nasies en ryke van toepassing te wees. Die eindtyd-tempel van Esegiël is oop vir almal. Die Nuwe Jerusalem (die stad sonder ‘n Tempel) het poorte (die stamme) en fondamente (die apostels). Die Ark van die verbond is oop vir almal wat waardig is — waardig gemaak deur die Bloed van die Lam.
Toe het ek ‘n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. (Openbaring 21:3)
Fisiese Jerusalem is van geen belang nie. Die Nuwe Jerusalem is wat saak maak. Die Verbond met Noag en Abraham kulmineer in die Messias, die Gesalfde, die Christus. Absoluut alles in die geskiedenis wys na Jesus. Niks is ooit groter nie.
Wees stil en weet… dat ek God is[AJ3] .
Bedaar en erken dat Ek God is,
hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. (Psalms 46:10)
Hierdie is die skakel tot die Audio op Spotify: