332.  Waar jy ook al gaan

“Wees veral sterk en baie vasberade in die uitvoering van die wet wat my dienaar Moses jou beveel het. Moet daarvan nie links of regs afwyk nie. Dan sal jy voorspoedig wees, waar jy ook al gaan. (Joshua 1:7)

Besluite, besluite!  Elke dag is vol van hulle.  Iemand het eenmaal iewers geskryf hoeveel besluite ons maak in een sekonde wanneer ons kar bestuur. Elk dag is aan ons uitgemeet om met besluite te vul – goeies en slegtes.  Een ding is verseker – ‘n besluit is die kragtigste instrument van ons lewe.  Daarmee vorm ons elke ding wat ons doen en elke gevolg waarmee ons leef.

Ons ganse lewenspad is die gevolg van ons besluite.

Besluit jy iets, dan kom dit tot stand; en oor jou weë skyn ‘n lig.  (Job 22:28)

Die eerste gawe aan die mens is vrye wil, die keuse om ‘n besluit te neem wat die gevolg van die besluit “tot stand bring”.  Dit is met ons vrye wil dat kan besluit om God te dien of te verwerp.

God weet dat Sy kinders erken Sy wil as die hoogste goed in hulle lewe en daarom is Sy beloftes oor besluite so uiters noodsaaklik en kosbaar.  

Dit was vir my ‘n openbaring om te besef hoeveel vryheid ons in die proses van besluitneming kan uitoefen MET die volle omvang van God se seën en leiding veral in die wroeging van groot lewensomwentelinge.  Dink net hoe  die jong Joshua gevoel het – aan die voorpunt van ‘n stryd-gesinde menigte Jode wat elkeen sy eie opinie uitdruk en uitbaklei.  Sy taak was oorweldigend.  

Het enige leier se taak enigsins verander oor al die eeue van leierskap?  

Joshua is egter die politieke sowel as die geestelike leier en dit is iets wat vandag nie meer bestaan nie.  Na ‘n lang stryd in die geskiedenis waarin die kerk sy mag misbruik het tot die vernietiging en uitbuiting van mense – van die hoogste tot die laagste vlak van die samelewing – het die politieke filosofie ontwikkel in die leerstelling van die skeiding van kerk en staat. 

Joshua het sy advies by God self gekry.  Hy is beveel om die wetboek wat Moses aan die volk uit die mond van God “gegee” het, met durf en vasberadenheid te volg. Die “wetboek” was God se wil, die openbaring aan die mens van die goedheid en waarheid van God se karakter en sy gesindheid van welwillendheid oor die volk wat Hy Sy eie noem.

Dit is juis hierdie opdrag aan Joshua wat ons besluitneming van die van nie-Christene onderskei.  Ons dien ‘n God wat praat.  Hy maak sy wil bekend.  

“Daarom sal my volk my Naam ken. Daarom, op daardie dag, sal hulle weet dat Ek die Een is wat sê, ‘Hier is Ek!’ “  (Jesaja 52:6)

Ons God is nie stom soos die afgode van die heidene nie.  Dink maar aan die aanbidding van geld, die materialisme van ons omgewing, oorgetrek met silwer en goud, maar koud, ongenaakbaar en liefdeloos. 

Wee hom wat vir ‘n stuk hout sê: Word wakker! vir ‘n dooie klip: Ontwaak! Kan hy ‘n mens leer? Kyk, hy is oorgetrek met goud en silwer, en daar is géén gees in sy binneste nie!  (Habakuk 2:19)

Hy piep en mompel nie in die duisternis van die dood nie.

En as hulle vir julle sê: Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompel — moet ‘n volk nie sy God raadpleeg nie; moet vir die lewendes die dooies gevra word?  (Jesaja 8:19)

Dit is juis daarom dat ek die vers in Jesaja 30 vir baie jare koester en baie goed ken – of so het ek gedink.

Met julle ore sal julle ‘n woord agter julle hoor:

“Hier is die pad, gaan daarop,

wanneer julle regs of links wil hou!”  (Jesaja 30:21, Afr20)

…en jou ore sal ‘n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan. (OAB)

Net ‘n klein stukkie getuienis uit my eie lewe net meer as 17 jaar gelede om te illustreer.  Dit was die grootste besluit van ons lewe met lewensveranderende gevolge vir ons en ons kinders.  Sonder om in die besonderhede van die omstandighede te verdwaal, kan ek maar net sê dat ek die wil van God vir ons lewens met erns en ootmoed gesoek het.

In die middel van ‘n vasdag, praat ek met die Here en vra dat ek Sy STEM moet hoor.  Ek het nie gebid om ‘n hoorbare stem te hoor nie.  Ek het gebid, soos altyd, om sy Stem in Sy Woord te “hoor” terwyl ek lees, want ek het Sy Woord lief met al die passie van my gees wat aan die Heilige Gees behoort.  

Hierdie keer egter, was die omstandighede van die aard dat ek gereed was om Gideon se velletjie uit te sit.  Ons kon nie bekostig om die “verkeerde” besluit te neem nie.

Ek het gebid met die Skrif in Jesaja 30 hierbo oop voor my.  Ek wou wèèt – links of regs.  Ek was gereed vir die “visioen” wat ek gaan sien – ‘n hemelse Vinger wat wys wat die pad is. In my gebed het ek gesê dat links dit sou beteken en regs die ander opsie sou beteken, net om seker te maak dat ek en die Here mekaar reg verstaan.  Ek giggel sommer terwyl ek dit skryf.

Al wat “gehoor” het is, lees weer.  Ek het die Skrif weer gelees en weer  ”gehoor”  dat ek maar weer die sinnetjie moet lees.  Ek het skielik besef dat die Here my wil leer.  Ek het my gees onderwerp en net soos die vet, swart letters van my tikwerk hierbo uitstaan, het ek die gedeelte van die sin, wat ek duidelik nie verstaan het nie, in my gees “gesien”.  Ek ken die ervaring dat die Woord “oop” gaan as die Heilige Gees die woorde lewend maak. (Johannes 6:63)

Dit was duidelik.  Ek was stomgeslaan.  Ons kon die besluit neem net soos ons gesonde verstand ons lei.  God het nie verwag dat ons die rasionele vermoë van ons redenering moet afskakel om na Sy wil te vra nie.  Ons kan besluit – die eintlike punt van die proses om so ‘n besluit te neem is om daaroor te bid en elke “tot-standkoming” wat die besluit volg aan God se gesag en leiding te onderwerp.

Ek was omgestamp in my gees, maar met ‘n borrelende vreugde wat ek omtrent nie kon inhou nie. Ek het dit met my man bespreek.  Hy het begin glimlag soos ek my ervaring vertel.  Hy het dadelik die ego in sy eie gemoed ervaar.  

Ons kon regs of links draai.  Die belofte is dat ons die stem van God sal hoor vir die pad wat ons moet wandel.  Dit is nie die fisiese pad wat oor ‘n konkrete aspek van ons lewe gaan nie.  Die stem van God sal ons die geestelike pad aandui, die pad van groei in Jesus, van oorwinning oor elke situasie wat uit ons besluit mag vloei, want die belofte is nie vir ‘n probleemlose, uitgemesselde sloot van voorspoed nie.  Die belofte is voorsiening en beskerming binne die gebrokenheid van die wêreld wat enige lewenspad, waar en hoe ook al, kenmerk.

Dit was ‘n diep les.  Die wil van God is nie ‘n teerpad met randjies sodat ons nie daarvan kan afwyk nie en daarom die seën mis.  Die wil van God is ‘n voetpad, in Sy voetspoor, met manna in die woestyn, ‘n luukse tafel in die vallei van doodskaduwee met voorsiening in elke moontlike omstandigheid … en ‘n lied op jou lippe, lyftaal van aanbidding en altyd, altyd ‘n hart wat bruis van dankbaarheid en nog daarby –  gesalfde oë van insig sodat ons nooit ‘n wonderwerk miskyk nie en skerp ore wat die Stem hoor: Hier is die pad, loop hierlangs.

Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.” (Joshua 1:9, NAB)

U omsluit my van alle kante, U neem my in besit.  

Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip.   (Psalms 139:5,6)


Lewer kommentaar