311.  Onregmatige gesag

Dis so maklik om te kritiseer.  Dit kom eintlik heel natuurlik.  Van die kantlyn van enige situasie is die perspektief anders en natuurlik weet ek mos presies hoe dit eintlik moet lyk en verloop.  My oupa het blykbaar altyd gesê: Oor mooi en lekker stry mens nie.  Hy wou keer dat persoonlike voorkeure die gesprekke in argumente laat verval.  Dit is seker van toepassing op soveel dinge in die lewe.  Vir ons gesprek selfs meer so in die kerk.  Sal ons dan altyd ons teologiese voorkeure se grensgebiede beklemtoon?  Selfs ook in dié Kerk, die wonder-liggaam van Jesus wat die ware Kerk is, sowel as ons geestelike wandel saam met die Here, kan ons so maklik in die lokval van opinie verval.

Kom ons bely saam ‘n gebed voordat ons verder gesels.  Dit is ‘n gebed wat deel van my bestaan geword het.  Die woorde van Psalm 19:15 is en bly ‘n uitdaging.  Ons lees in drie weergawes van ons Afrikaanse Bybel – is dit nie ‘n voorreg om die woorde van die geleerdes so byderhand te hê nie!

Mag wat ek sê en wat ek dink

tog vir U aanneemlik wees,

Here, my Rots en my Verlosser.  (NAB)

Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o Here, my rots en my verlosser!  (OAB)

Laat die woorde van my mond

en die bepeinsing van my hart

vir U aanvaarbaar wees,

Here, my Rots en my Verlosser. (2020 AB)

Wat ek sê en wat ek dink!  Die woorde laat my my laag buig.  As ek dit nog regkry om nie my skerp gedagte uit te spreek nie, het ek hom verseker gedink en laat vermenigvuldig in my kop!  

Nou moet ek by sê dat nie elke gedagte in my kop sonde is en my veroordeeld voor God laat staan nie.  Ek weet goed hoe woedend onreg my maak – persoonlik en publiek.  My gedagtes vermenigvuldig soos ‘n Fibonacci-spiraal – onstuitbaar en blitsig.  Dit gebeur maklik.  

Dit is nie die probleem nie.  Ons dink baie dinge.  Dit is die gedagtes wat vasskop en ‘n plek gegee word in ons denkprosesse wat die probleem is.  Gedagtes is soos seekatte met suiers.  Baie van hulle swem verby en kan maklik ignoreer word, maar ander suig vas aan die rotse van ons denke en kry woonplek.  As dit goeie gedagtes is, wat ons lewe opbou en nie afbreek nie, ons inspireer tot goedheid en nie boosheid nie, dan klou ons vas en voed sulkes met alles wat mooi en goed is.  Ons vul ons denke met die Woord van God juis om hierdie rede.  Dit is wat ons sterk en effektiewe Christene maak.

Dit is waarom die Psalmis kan sê: As my gedagtes binne-in my vermenigvuldig, dan verkwik u vertroostinge my siel.  (Psalms 94:19, OAB)

Toe ek met baie onrus in my binneste sit,

het u vertroosting my tot rus gebring. (NAB)

Die probleem is die giftige woede en vrees wat ons kop so maklik vul.  Onvergewensgesindheid, woede oor persone en persoonlike situasies, om nie te praat van die openbare domein wat uiters ontstellend is.

Dan gee ons onsself lisensie om te kritiseer en die ontsteltenis uit te spreek.  Meeste sielkundiges sal enige mens aanmoedig om dit te doen en daarvan “ontslae” te raak.  Dit is alles goed en wel as dit als op een slag, of met ‘n paar ontmoetings kan gebeur.  Wat van die diep seer wat weer en weer uitkom?  Ons ken die gedagtes en gevoelens goed.  So ‘n pyn-gedagte laat weer jou maag draai en hart vinniger klop – sleg vir die gees, sleg vir die gesondheid.  Die politiek  – wel, ons laat dit daar – ‘n oneindige bron van mure-uitklim tipe frustrasie.

So trap baie Christene in die lokval van kerk-kritiek.  Jesus het op aarde sy bediening begin met presies dieselfde woorde as Johannes die Doper: Bekeer julle want die Koninkryk van God het naby gekom.

Die Koninkryk van God, die onsigbare organisasie van gelowiges wat met hulle hele hart God soek en sy Woord bestudeer met die oog op innerlike transformasie, is die Kerk van Jesus, die Nuwe Jerusalem.  Dit is nie persoonlike of openbare domein nie.  Dit is God se domein en ons kan nie op sy “verhoog” speel nie.  Dit is die uitsluitlike reg van die Allerhoogste God.

Binne die strewe en gebrekkige pogings om God tevrede te stel, het die mensdom ver afgedwaal en verstrik geraak in ‘n menigte argumente.  Soos wat die waarheid verdraai en verwronge geraak het, in die magsbeheptheid en wellus van die Middeleeuse Kerk het die uitvloeisel van die Reformasie nog meer splintergroepe meegebring, soos wat waarheid herontdek is.  Elkeen het gedink dat ‘n kosbare beginsel in die Bybel, die fokuspunt van ‘n nuwe denominasie moet wees.  

As Christene, voel ons geregverdig om ander denominasies en fokuspunte te kritiseer en af te kraak.  Ons het al gesels oor eenheid.  Eenheid is ‘n keuse, nie ‘n gevoel nie – net soos ware liefde ‘n keuse en nie ‘n gevoel is  nie.  Volwasse Christene word nie deur gevoelens beweeg nie.  Toegewyd aan die Woord en die Waarmaker van die Woord, onderwerp ons aan die gesag van die transformerende krag van die Heilige Gees om die regte keuses te maak.

Jesus se afskeidswoorde aan die einde van die Evangelie van Matteus is vir ons die riglyn oor gesag in die Kerk.

Jesus het nader gekom en vir hulle gesê: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde. 

Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees, 

en hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd. ” (Matteus 28:18-20)

Aan Jesus is alle gesag en mag gegee.  Dit is duidelik dat Hy ons die opdrag gee om dissipels te maak en mense te leer.  

Uit die gelykenisse van Matteus 13, is dit duidelik dat God die Koninkryk “sif’ en die oes inbring.  Ons is so meestal net die arbeiders wat saai en versorg.  Dit is eers aan die einde van die groeiseisoen dat God die oes sal bepaal, sodat die onkruid van die koring geskei word.

En die diensknegte van die huisheer het gekom en vir hom gesê: Meneer, het u dan nie goeie saad in u land gesaai nie? Waar kry dit dan die onkruid vandaan?

En hy antwoord hulle: ‘n Vyandige mens het dit gedoen. Toe sê die diensknegte vir hom: Wil u dan hê dat ons dit moet gaan bymekaarmaak?

Maar hy antwoord: Nee, dat julle nie miskien, as julle die onkruid bymekaarmaak, die koring daarmee saam uittrek nie.

Laat altwee saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur. (Matteus 13:27-30)

Dit was eers in die volwasse plante wat die onkruid en die koring werklik onderskei kon word.  Sommige vertalings noem die onkruid, baster-koring, want dit lyk net soos die regte koring.  In die volwasse plant is dit duidelik dat die ware koring ‘n vol aar maak, gewig dra en afbuig, terwyl die onkruid geen vrug dra en geen oes kan lewer nie.  Tog groei dit saam met die koring op dieselfde land met dieselfde versorging oor ‘n hele seisoen.  

In die tyd van ou Palestina is vroue gehuur om sorgvuldig met die hand die ware koring uit te soek.  Die onkruid, soos dit soms genoem word, was giftig en in groot hoeveelhede selfs dodelik.

Toe Jesus die gelykenis van die treknet vertel het, Hy dit duidelik gemaak dat die engele die slegtes van die goeies sal skei.   (Matteus 13:47-50)

Kom ons gee opnuut oor aan die volmaakte oordeel en geregtigheid van God en eis nie die onregmatige gesag om te kritiseer op nie.  Ons kan nie die kerk oordeel en lei nie.  God alleen kan dit doen en Hy deins nie terug om regverdig in volmaakte liefde te oordeel nie.  Ons maak dissipels en leer hulle – God oordeel.  Ons maak staat op die Heilige Gees om mense te inspireer om die regte keuses te maak.  Dit is nie ons verantwoordelikheid dat hulle die regte keuses maak nie – daarvoor kan ons die Heilige Gees heeltemal vertrou.  


Lewer kommentaar