Net soos ons laaskeer oor ‘n lewenspad kon filosofeer is daar seker baie simboliek en gesegdes met betrekking tot ‘n deur. Deure gaan oop en deure gaan toe – “lewensdeure” wat eintlik dui op groot besluite wat ons loopbaan, blyplek en vriendekring bepaal. Ons praat mos so. Ek het wel nou die dag gehoor dat as jy op ‘n plek is waar deure oop en toe gaan, is jy heel moontlik in ‘n tronk. Nou ja, dis nie waarvan ons hier praat nie, maar dalk voel ons omstandighede soos ‘n gevangenis van mense en gebeure waaroor ons nie eintlik beheer het nie.
In die Bybel word die simboliek van ‘n deur dikwels gebruik. Dit is ‘n belangrike konsep – oop en toe deure. Sommer vroeg in Genesis (4:7, OAB) praat God van die sonde wat loer voor die deur. Die simboliek is die deur van ons hart, net soos Openbaring 3:20: Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.
Die ark van Noag het ‘n deur gehad. Dit was ‘n baie belangrike toe deur van beskerming en bewaring in oordeel. Dit was vir my ‘n openbaring om te onderskei tussen vertalings van die Bybel wat God se rol in die deur van die ark beskryf. (Genesis 7:1) In ons Afrikaanse vertalings (1933/53; 1983 sowel as 2020) asook ook Duits en Nederlands het God gesê: Gaan in die ark. In die Engelse vertaling het God gesê: “Come into the ark”. Skielik het dit sin gemaak. God was binne! Dit was ‘n uitnodiging om in sy Teenwoordigheid in te kom. Dit is waar dit veilig is. Dit het die Psalmis goed geweet toe hy skryf van die Skaduwee van die Almagtige en die Skuilplek van die Allerhoogste in Psalm 91 – woorde wat my hart roer elke keer as ek dit lees of bedink.
Dink maar net aan die betekenis van die bloed aan die deurposte van die kinders van Israel toe die laaste plaag deur Egipte die lewens van die eersgeborenes eis. Die deur met bloed – fisiese deure, maar in ons dispensasie het ons hartsdeure die bloed aan die poste, waar die dood nooit kan oorwin, want ons het saam met Jesus opgestaan in ‘n nuwe, ewige lewe deur ons doop. (Romeine 6:3-5)
Dit was vir my ‘n ontdekking om te lees van die “deur” van die Tabernakel wat eintlik ‘n gordyn is en ‘n baie belangrike toe deur. (Exodus 26:36,37) Die Engelse vertalings noem dit ‘n deur. Dalk is ons konsep van ‘n gordyn nie uitsluitend genoeg nie, want niemand mag deur hierdie afskorting of bedekking gegaan het, behalwe die priesters. Dit is nie die voorhangsel tussen die Heilige en die Allerheiligste, wat geskeur het toe Jesus gesterf het nie. Lees van die “deur” van die Tabernakel in Eksodus 26:31-33.
Hierdie “deur” is die afskorting by die ingang van die tent, wat die Heilige van die voorhof, waar die altaar en die brons waskom gestaan het, afskei.
Die gordyn is net so noukeurig beskryf soos die voorhangsel dieper in.
Jy moet vir die ingang van die tent ‘n gordyn maak van pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyn dubbeldraadlinne – met die kundigheid van ‘n borduurder. Jy moet vir die gordyn vyf staanders van doringhout maak en dit met goud oortrek; hulle hakies moet ook van goud wees en jy moet vyf bronsvoetstukke daarvoor giet.” (Eksodus 26:36,37)
Hierdie gordyn sou alle natuurlike lig uit die Heilige uitsluit. Die betekenis daarvan was vir my ‘n bron van groot vreugde. Die enigste lig in die Heilige was die lig van die Kandelaar. Die Kandelaar is simbolies van die Kerk wat gevul is met die olie van die Heilige Gees en die lig wat dit bring is die Lig van die wêreld, naamlik Jesus. (Johannes 8:12) Die lig wat op die toonbrode, simbolies van die Woord van God, die Bybel, val, is die lig van Christus. Dit is slegs in die lig van wie Jesus is wat ons die Bybel lees en interpreteer. Ons gebruik nie natuurlike lig soos die politiek van die dag, die moderne tendense of enige hedendaagse of historiese gebeure om die Woord van God te verstaan nie. Die Heilige Gees is ons gids. (Johannes 7:38)
Maar dan is daar die deur wat oopgaan as ons aandag gee en luister. Sewe keer in die eerste drie hoofstukke van Openbaring staan hierdie woorde: Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.
Johannes lê op sy gesig voor die verheerlikte, triomfantelike Jesus en skryf die woorde aan die gemeentes op. Dan skryf hy hierdie wonderwoorde:
Hierna het ek, Johannes, in die hemel ‘n deur gesien wat oopgemaak is, en die stem, soos die geluid van ‘n trompet, wat ek die eerste keer met my hoor praat het, het gesê: “Kom op hierheen, en Ek sal vir jou wys wat hierna moet gebeur.” (Openbaring 4:1)
Die deur na die Troonkamer van die Allerhoogste gaan oop. Johannes word ingenooi om die geskiedenis van die mensdom vanuit ‘n hemelse perspektief te beskou. Dit is sy voorreg op die triomftog van Jesus na die kruisiging mee te maak – die Lam wat geslag is en waardig is om die Boekrol te neem, die geskiedenis van die mensdom op albei kante geskryf, dus volledig en met sewe seëls verseël. Lees dit maar in Openbaring 4 en 5.
Dit is die deur wat ons in gebed betree, wanneer ons lewe met ‘n bewustheid van God wat regeer en ons voorreg om kinders van God genoem te word. Dit is die deur van openbaring. Dit is ‘n begeerte na die kennis van God wat ons ophef om die uitnodiging te aanvaar en in die Troonkamer van die Almagtige ‘n gehele ander perspektief op die chaos en verwarring wat ons daagliks beleef, te sien en te verstaan.
Net soos Johannes word ons in die Gees meegevoer om ons verstand te open sodat ons die gebeure verstaan. Ons kan saamsing met al die geloofshelde en die ouderlinge, die loflied aan Jesus.
Toe sing hulle ‘n nuwe lied:
“U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie.
U het hulle ‘n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die aarde regeer.” (Openbaring 5:9-10)
Oor die aardse omstandighede waarin ons vasgevang is sing ons die lied van die ou profeet Jesaja.
Hoe wonderlik klink op die berge
die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring,
wat vrede aankondig, wat die goeie tyding bring,
wat redding aankondig,
wat vir Sion sê: “Jou God is Koning!” (Jesaja 52:7)
Dit maak nie saak hoe dit om jou lyk nie of wat jou omstandighede mag wees nie – hoor kind van Sion, hoor wat die Gees aan die gemeente sê: Ons God regeer!