291.  Engele rondom ons

Fantasie is populêr – nog altyd.  Ek het grootgeword met stories van onwerklikhede uit heeltemal ongeloofwaardige realms, hekse, feetjies, konings en koninginne, prinse en prinsesse, dwergies en kabouters wat goed en sleg was.  In die tiende volume van die Afrikaanse Kinderensiklopedie het ek amper al die stories geken.  Dit was stories uit verskeie wêrelddele – die Babajaka met haar huis op hoenderpote, Bloubaard die moordenaar en Rooihaan wat ek mal oor was.  My pa sou nooit storietyd oorslaan nie; dit maak nie saak hoe moeg hy was nie.  My ma het vertel dat hy soms onder sy eie gelees aan die slaap geraak, terwyl ek dan weer die trap af kom en vra dat sy my storie moet klaarmaak.

Stories was nog belangriker in die antieke wêreld.  Die ganse geskiedenis van volkere en individue is oorvertel en hoewel dit opgeskryf is, het die gewone mens nie vrylik toegang tot die boekrolle gehad nie.  Dit was ‘n luuksheid wat tot paleise  en tempels beperk was, toeganklik vir die koninklikes, geleerdes en hoë amptenare.  Vir die gewone mense was die oorvertellinge van die ou mense die sleutel tot die geskiedenis. 

Die beperkinge van die beskikbaarheid van die boekrolle en die hoë standaarde van korrektheid en netheid van die skribas wat die boekrolle geskryf het, het dit skaars maar wel akkuraat gemaak.  Daarvoor is almal wat enigsins in die antieke geskiedenis belangstel, baie dankbaar.  Daar is al soveel geskryf oor die wonder van ons Bybel se samestelling.  Ek sal altyd Josh McDowell se Evidence that demands a verdict kan aanbeveel.

Ek kan my tog voorstel dat die stories van die helde van die geskiedenis die belangrikste faktor was in die geloof van die kinders.  Die ouers was verplig om die wonderdade van God aan hulle kinders te vertel, anders het die tragedie van Rigters 2:10 gebeur.

Al die mense van sy leeftyd [Joshua wat 110 jaar oud geword het] het gesterf, en die volgende geslag se mense het nie die Here geken nie. Hulle het ook nie geweet van sy groot dade wat Hy gedoen het om vir Israel te help nie.

Dit het natuurlik ook so gebeur dat feite soms verlore geraak het in die gewonde oorvertellinge en gebeure aangedik is.  So het die Jode ‘n uitgebreide engel-leer ontwikkel en aan engele take toegeskryf wat nie in die werklikheid onderskryf is nie.

Die Jode was sterk onder die indruk van die engele en alles bonatuurlik. Die transendensie van God en die gaping tussen God en mens het meer en meer belangrik in Joodse denke geword.  As gevolg hiervan het hulle die engele as bemiddelaars tussen God en mens beskou.

Hulle het geglo dat die engele die gaping tussen God en mens kon oorbrug en die gebede van die mens in die teenwoordigheid van God indra.  Moses het die Wet van God sonder enige hemelse agent ontvang.  Teen die tyd van Jesus het die Jode geleer dat engele die Wet aan Moses gebring het. (Handelinge 7:53; Galasiërs 3:19)

God is omring deur die glorie van sy hemelse wesens. (Jesaja 6:1-13; 1 Konings 22:19)  Die engele is God se weermag en sy boodskappers. Die  betekenis van die woord vir engel in beide Hebreeus en Grieks is boodskapper.  Hulle was die instrumente van God, wat op die aarde regeer en sy wil uitvoer.

Esegiël beskryf vier mensvormige wesens met wiele (1:15-21) wat altyd rondom die Troon is, met vier gesigte en vier vlerke.  Die beskrywing van die wesens herinner aan die vier lewende wesens in Openbaring  4.

Daar was miljoene en miljoene engele.  Later in die  geskiedenis het die Jode name aan hulle toegeken, veral die sewe engele in die  Teenwoordigheid, wat aartsengele was.  Van hierdie was die belangrikste Raphael, Uriel, Phanuel, Gabriël, die engel wat God se boodskappe aan mense gebring het, en Michael, die engel wat oor die lot van Israel regeer het.  Net drie engele, Gabriël, Michael en Lucifer word in die Bybel genoem. 

Die engele is deel van die onsigbare werkinge van God.  Hulle bring  boodskappe aan mense en gryp in die gebeure van die geskiedenis in. (2 Konings 19:35-36; oral in Openbaring)

Volgens Joodse tradisie – sommige uit die gesaghebbende geskrifte en sommige ontstaan in tradisies en legendes was daar:

  • Twee honderd engele wat die bewegings van die sterre beheer het en hulle in hulle bane gehou het 
  • ‘n Engel wat die volgehoue opvolging van die jare en maande en dae beheer het 
  • ‘n Engel, ‘n magtige prins, wat oor die see geheers het. 
  • Engele van die ryp, die dou, die reën, die sneeu, die hael, die donder en die weerlig. 
  • Engele wat elke enkele woord wat elke mens gespreek het, opgeteken het 
  • Engele wat wagmeesters van die hel en folteraars van die verdoemdes was 
  • Engele wat verwoes en engele van straf
  • Satan, die aanklaer, wat elke dag behalwe die Dag van Versoening voortdurend beskuldigings teen mense voor God ingebring het
  • Die doodsengel wat slegs op God se bevel uitgegaan het en wat die dood aan goeie en slegte mense gelykmatig uitgedeel het 
  • Elke nasie se beskermengel gehad wat oor hom geheers het volgens Daniël se verslag oor sy gesprek met ‘n engel wat die Prins van Persië moes oorwin en daarna met die (bose) engel oor Griekeland moet veg.  Michael wat oor Israel gewaak het (Daniël 10)
  • Elke individu se beskermengel gehad. Selfs klein kinders het hulle engele gehad (Matteus 18:10)

Daar was soveel engele dat die Rabbi’s selfs kon sê: “Elke grasspriet het sy engel.

Met hierdie uitgebreide engele-leerstelling was daar ‘n werklike gevaar dat   die leerstelling engele tot so ‘n magsposisie kon verhef dat hulle in mense se geloof sou ingryp as bemiddelaars tussen God en hulle. 

Dit was noodsaaklik om te wys dat die Seun verreweg groter as hulle was en dat hy wat die Seun geken het, geen engel nodig gehad het om as bemiddelaar met God op te tree nie.

Hebreërs bewys dat Jesus meer as die engele is.   Hy doen dit deur die Skrif aan te haal.  Byvoorbeeld:

  • Psalms 2:7: Ek wil vertel wat die Here aangekondig het.  Hy het vir my gesê: “Jy is my seun, van vandag af is Ek jou Vader.
  • Deuteronomium 32:43: “Al julle nasies, julle moet die volk van die Here roem, want Hy wreek die bloed van sy dienaars, Hy straf sy teenstanders,
  • Hy bring vrede tussen Hom en sy land, tussen Hom en sy volk.”
  • Psalms 104:4: U wat die winde u boodskappers maak, die weerligte u dienaars,
  • Psalms 110:1: Die Here het vir my heer die koning gesê: “Kom sit aan my regterhand, en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp.”

Die leer van engele het inherent ‘n wesenlike gevaar.  Dit verheerlik ‘n reeks mistiese wesens, anders as Jesus, deur wie die mens nader aan God kan kom.  

In die Christendom is daar geen behoefte aan iemand anders tussenin nie.  Vanweë Jesus en wat Hy gedoen het, het ons direkte toegang tot God. Jesus Christus het elke versperring gebreek en ‘n direkte weg vir ons na God geopen.

Die Engel (hoofletter) van die Here in die Ou Testament is Jesus voor Hy aarde toe gekom het in menslike liggaam.  Dit is Jesus self wat op baie besondere geleenthede aan die mens verskyn het.  (Genesis 16, Hagar;  Genesis 22 by Abraham se offer van Isak; Eksodus 2, Moses en die braambos;  Numeri 22, Bileam; Rigters 2 en 6, Gideon; Rigters 13, Simson se ma; Sagaria 1,3 en 12)

Die onderskeid tussen die Engel van die Here en gewone engele is dat eersgenoemde aanbidding verwelkom (Joshua 5) en die gewone engele nie aanbidding aanvaar nie – eerder daarteen waarsku.  

Dit is ek, Johannes, wat dit alles gehoor en gesien het. Toe ek dit gehoor en gesien het, het ek voor die voete van die engel wat dit alles vir my gewys het, op my knieë neergeval om hom te aanbid.

“Pas op, moenie!” sê hy toe vir my. “Ek is ‘n mededienaar van jou en van jou medegelowiges, die profete en dié wat die woorde van hierdie boek ter harte neem. Aanbid God!”  (Openbaring 22:8,9)


Lewer kommentaar