Aan die begin van herfs in die noordelike halfrond is dit tyd vir die drie Herfs-feeste van Israel wat met die Fees van Trompette afskop. Dit was ‘n een-dag fees wat met die blaas van die ramshoring geassosieer word.
In die meeste vertalings vandag word ramshoring (sjofar) met trompet vertaal. Die trompet is geblaas om te waarsku en alarm te maak vir ‘n bedreiging, maar ook om ‘n aankondiging te maak.
Ons lees die groot drama by die berg Sinai eeue gelede toe die slawevolk in ontsag en verstomming aan die voet van die berg gestaan het en die geluid van die ramshoring saam met die kragtige en amper oorweldigende manifestasie van die majesteit van God ervaar het.
Met dagbreek die derde dag was daar donderslae, weerligte en ‘n donker wolk op die berg. Daar was ook die sterk, helder klank van ‘n ramshoring. Die hele volk in die kamp het gebewe. Toe het Moses hulle uit die kamp laat uitgaan om voor God te gaan verskyn, en hulle het by die voet van die berg gaan staan. Die hele Sinaiberg het begin rook toe die Here in vuur daarheen afkom; die rook het opgetrek soos die rook van ‘n oond. Die hele berg het ook geweldig geskud, en die geluid van die ramshoring het al hoe harder en harder geword. Moses het gepraat, en God het hom in die donderslae geantwoord. (Eksodus 19:16-19)
Die ramshoring het al hoe harder geword en toe het God gepraat. Die geskal van die trompet is die simboliek van God se stem. Binne die natuur-drama van rook, vuur, weerlig en donderslae is die Wet aan die volk gegee – die hoogste gesag in die Verbond. Dit was vir die volk die Woord van God, die kliptafels van hemelse beginsels wat hulle bo al die volke van die wêreld as God se eie sou verhef.
Rosh Hashana staan bekend as die Joodse Nuwejaar. Dit is volgens die voorskrifte in Levitikus.
Die Here het vir Moses gesê:
“Sê vir die Israeliete: Die eerste dag van die sewende maand moet ‘n rusdag wees, ‘n gedenkdag wat met die blaas van ramshorings aangekondig word, ‘n gewyde byeenkoms. Niemand mag dan werk nie en julle moet offers aan die Here bring.” (Levitikus 23:23-25)
Die Psalmis het dit bevestig.
Blaas die ramshoring op nuwemaan,
met volmaan, op ons feesdag, want dit is ‘n instelling vir Israel,
‘n verordening van die God van Jakob. (Psalms 81:4,5)
Die ramshoring het die vernuwing aangekondig. By Sinai het God gepraat en saligheid in die verordeninge van God gebring. Dit is deur die profesie in Joël bevestig
Blaas die ramshoring in Sion, roep hard op my heilige berg.
Al die inwoners van die land sal bewe, want die dag van die Here kom, dit is naby: (Joël 2:1)
Tereg kan ons vra waar is die ramshoring, die trompet in ons Christelike bestaan, aangesien al die Feeste van Israel in Jesus tot vervulling gekom het. Die Fees van die Trompette, Rosh Hashana, vier die stem van God wat in ons midde is – beide individueel en in die wêreld rondom ons. (Psalms 29; Jesaja 52:6)
Jesus waarsku Petrus dat hy hom sal verraai voor die haan drie maal gekraai het. Die kommentatore wys daarop dat dit onwaarskynlik was dat hoenders binne die mure van Jerusalem aangehou is, omdat die grond as heilig beskou is en die priesters dit sou verbied het.
Die trompet, wat die wisseling van die Romeinse wag drie-uur in die oggend aangekondig het, is die hanekraai genoem. Dit was omtrent dieselfde tyd as wat ‘n haan sou kraai. Toe Petrus dit hoor, het hy onmiddellik die woorde van Jesus onthou.
Die geluid van die trompet het hom aan die woorde van Jesus laat dink en dit was in werklikheid asof Jesus self in sy kop met hom praat. Daarby saam het Jesus vir hom gekyk, nie met verwyt – Ek het jou mos gesê nie – eerder met die mees volmaakte kyk van liefde uit die oë van die Liefdesbron wat Petrus se lewe gered het. Hy het bitterlik geween, maar ons vind hom by sy broers, reeds herstel na die liefdeskyk. Hy was daar in Galilea toe Jesus daar op die strand hulle verwelkom het.
Dan “hoor” ons die geskal van die trompet in Openbaring – geweldig en oorweldigend. Sewe trompette word deur die engele geblaas. In ons studie het ons die vroeë kerk se interpretasie gevolg en die visioen gesien as ‘n waarskuwing en aankondiging van dit wat om ons aangaan.
Net vir ‘n oomblik kan ons weer stilstaan en luister om te verstaan, nie net sommer hoor nie. (Openbaring 8 vir die eerste vier trompette, 9 vir die vyfde en sesde en 11 se einde vir die wonder van die sewende trompet.)
[Sien Bodemklippe 101-104 vir ‘n volledige verklaring van al die trompette]
Die eerste trompet – hael en vuur gekom met bloed gemeng, en dit is op die aarde gegooi. ‘n Derde van die aarde is verbrand, ‘n derde van die bome is verbrand, en al die groen gras is verbrand.
‘n Derde van die aarde is nie alles nie, maar ‘n betekenisvolle minderheid.
Die tweede trompet – Iets soos ‘n groot berg wat brand, is in die see gegooi. ‘n Derde van die see het bloed geword, ‘n derde van alles wat in die see lewe, het doodgegaan, en ‘n derde van die skepe het vergaan.
Die derde trompet – ‘n Groot ster wat soos ‘n fakkel brand, het van die hemel af geval. Hy het op ‘n derde van die riviere en op die waterbronne geval.
Die vierde trompet – ‘n Derde van die son en ‘n derde van die maan en ‘n derde van die sterre is getref, sodat ‘n derde van hulle donker geword het. ‘n Derde deel van die dag het nie lig gehad nie, en die nag ook nie.
Die vyfde trompet – Toe het daar uit die rook sprinkane oor die aarde uitgeswerm. Aan hulle is dieselfde vermoë gegee as wat skerpioene op aarde het. Hulle is aangesê om nie die gras van die aarde, die plante en die bome kwaad aan te doen nie, maar net die mense wat nie die seël van God op hulle voorkoppe het nie.
Weet dat satan en sy helse sprinkane uit die “onderaardse skag” oor die mensdom losgelaat is maar nie die kinders van God wat geseël is, kan vernietig nie. (Openbaring 7)
Die sesde trompet – Toe het die sesde engel op sy trompet geblaas. Ek het ‘n stem tussen die vier horings van die goue altaar voor God gehoor. Die stem het vir die sesde engel, wat die trompet het, gesê: “Maak los die vier engele wat by die groot Eufraatrivier vasgemaak is.” Die vier engele wat gereed gehou is vir hierdie uur en dag en maand en jaar, is toe losgelaat om ‘n derde van die mensdom dood te maak.
Die betekenisvolle minderheid mense sterf in die oordeel. Onthou oordeel vind plaas om die integriteit van God se Woord te bevestig en die mens uit te nooi om God aan te roep. Die fisiese dood is niks om te vrees nie. Dit is die poort na God, die onsienlike realm.
“Sien” jy die natuurrampe, die boosheid wat woed, die oorlog en misdaad en meer belangrik, “hoor” jy in dit alles die stem van God (die trompet) wat die mensdom tot saligheid en redding roep.
Laat ons kyk en dieper kyk totdat ons verstaan. Openbaring 9:20 voorspel dat soveel mense hulle nie sal bekeer nie en aanhou om die afgode wat hulle self gemaak het, te aanbid.
Dan, Kerk van Jesus, kyk op en “hoor” die sewende trompet. (Openbaring 11)
Aanbid saam met die ouderlinge (24 = 12 stamme en 12 apostels – dus die Kerk) en sing die lied van die hemel.
Toe het die sewende engel op sy trompet geblaas. Daar was stemme in die hemel wat hard uitgeroep het:
“Die koningskap oor die wêreld
behoort aan ons Here en sy Gesalfde,
en Hy sal as koning heers
tot in alle ewigheid.”
Die vier en twintig ouderlinge wat op hulle trone voor God sit, het toe gekniel met hulle gesigte na die grond toe en het God aanbid en gesê:
“Ons dank U, Here God, Almagtige,
U wat is en wat was,
dat U nou u groot mag gebruik en as koning heers.
Die nasies was woedend,
maar nou het die tyd vir u oordeel gekom.
Die eindtyd het aangebreek: die dooies word geoordeel;
aan u dienaars, die profete,
en aan die gelowiges,
dié wat U vrees, klein en groot, word hulle loon gegee;
en dié wat die aarde vernietig, word vernietig.”
Toe het God se tempel, wat in die hemel is, oopgegaan, en sy verbondsark wat in sy tempel is, het sigbaar geword. Daar het toe weerligstrale, dreunings, donderslae, ‘n aardbewing en ‘n groot haelstorm gekom.
Die “resultaat” van hierdie aanbidding is toegang tot die Teenwoordigheid van die Allerhoogste God.
Toe het God se tempel, wat in die hemel is, oopgegaan, en sy verbondsark wat in sy tempel is, het sigbaar geword. Daar het toe weerligstrale, dreunings, donderslae, ‘n aardbewing en ‘n groot haelstorm gekom.
Onthou die eindtyd het aangebreek 70nC met die vernietiging van die Tempel toe die Bybelse, priesterlike Jodedom opgehou het om te bestaan.
In die rampe en ellende wat ons om ons sien, “hoor” ons die trompet van God. Hy roep ons tot saligheid en aanbidding. Ons sien die nasies wat woedend reageer, maar ons sing die lied van heerskappy oor die hele aarde.
Die verbondsark word sigbaar. Die wonder Teenwoordigheid van God self is die belofte in die hitte van die felste stryd. Hy manifesteer in die natuur net soos by die berg Sinai toe Hy aan sy volk verskyn het en sy Woord aan hulle gebring het. (Eksodus 19:16)
Die trompet blaas, die stem van God is nie stil nie. Luister, en jou siel sal lewe.
Gee aandag en kom na My toe,
luister, en julle sal lewe.
Ek wil met julle ‘n ewige verbond sluit,
Ek wil my troue liefde aan julle betoon soos aan Dawid. (Jesaja 55:3)