Ek is ‘n vyand van jou vyand en Ek sal jou kinders red. (Jesaja 49:25b)
Die frase in die Bybel is al lank deel van my lewe. Ek het die woorde baie jare gelede uit die mond van my ma gehoor. Dit het my bygebly, maar ek het vergeet van die laaste deel …en ek sal jou kinders red.
Soveel jare gelede het ek nog nie kinders gehad nie en nie veel oor die toekoms van die wêreld gedink nie. Ek was midde in studies om self iets te bereik, self iewers te kom. Hoewel ek kennis geneem het van die groter globale, politieke kwessies en baie daarin belanggestel het, was ek geskool in die lering dat die toekoms aan die Here behoort en ek met bekommernis nie een el by my lengte kan voeg nie. (Matteus 6:27 OAB). Die woorde van die Ou Vertaling is soos ‘n refrein in my kop.
Bokspring in tyd na die brandpunte van die moderne lewe, dan is die Skrif so toepaslik soos op enige tyd in die geskiedenis van die mensdom van 700 vC toe Jesaja dit geskryf het. Hy het tussen 740 en 681 vC geleef. Ek hoef seker nie eers te noem hoe lank gelede dit is nie en hoeveel omwentelinge die ou wêreld beleef het sedert daardie tyd nie. Koninkryke het gekom en gegaan, oorloë is geveg, plae het verwoes, natuurrampe het gewoed, miljoene is gebore en miljoene het gesterf, maar ons weet al sou die hemel en die aarde verbygaan, die Woorde van God staan vas. (Matteus 24:35)
Vandag “hoor” ons sy Stem en weet Hy is die vyand van ons vyand.
Wie is ons vyand? ‘n Vyand is ‘n mens wat teen jou is, dan nie? Streng gesproke is dit ‘n teenstander. ‘n Vyand is uit op vernietiging en verwoesting, moord en diefstal.
‘n Vyand berokken skade. Dit is nie net ‘n kalm argument oor die verskil van opinies nie. Dit is ‘n bloedige, gewelddadige oorlewingstryd wat verdelg en verniel. Dit is die werk van die draak, die ou slang wat genoem word duiwel en satan – die vyand van God en sy Kerk. (Openbaring 12:9)
Vir ‘n kind van God is dit maklik om die werklikheid van boosheid in die wêreld om ons te identifiseer. Ons is gewaarsku uit die mond van Jesus self. Ons ken die elemente van boosheid – alles wat roof, moor en verwoes. (Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê. Johannes 10:10)
Alles was lewe steel en die voller prentjie van die lewe wat God belowe wat vrede en vreugde insluit, is die vyand wat roof en verwoes. Dit is ‘n konsep wat ‘n dieper dink nodig het.
In die eerste plek het ons Heilige Gees insig nodig, sodat ons boosheid in al sy vermommings kan herken.
Maar Élimas die towenaar — want so word sy naam vertaal — het hulle teëgestaan en het probeer om die goewerneur afkerig te maak van die geloof.
Maar Saulus, dit is Paulus, vervul met die Heilige Gees, het die oë op hom gehou en gesê:
Kind van die duiwel, vol van alle bedrog en alle listigheid, vyand van alle geregtigheid, sal jy nie ophou om die reguit weë van die Here te verdraai nie? (Handelinge 13:8-10)
Die nie so moeilik om die “beeste” (Openbaring) en “ondiere” (Daniël) van ons moderne gemeenskap uit te wys en die ellende van lewens onder die heerskappy van kwaadaardige, euwels te onderskei nie. Sleg is sleg, maar wat daarvan as sleg goed lyk? Dit is die toets.
In die tweede plek moet ons ons eie posisie met betrekking tot boosheid verstaan.
Jesus gee ons gesag oor die bose. In sy eie woorde:
Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie. (Lukas 10:19)
Slange was simbolies van enige gevaar wat lewe bedreig en skerpioene simbolies van die bedrieglikheid van mense. Skerpioene in ou Israel het soms soos ‘n eier gelyk, wanneer hulle opgerol is, sodat hulle hulle prooi kon verras. Vandaar die vergelyking wat Jesus maak in Lukas 11:12. (Sien ook Esegiël 2:6)
Al die krag van die vyand sluit alles in wat boosheid na ons kant toe uitbraak. Net soos Paulus op Malta die slang van sy vinger afgeskud het, sal ons die byt van boosheid op ons lewe kan afwerp en net soos Paulus, sonder enige gevolge.
Paulus het egter die slang in die vuur afgeskud en niks oorgekom nie. Hulle het gewag dat hy moet opswel of skielik dood neerslaan, maar nadat hulle ‘n lang ruk gewag het en gesien het dat daar niks ongewoons met hom gebeur nie, het hulle van mening verander en gesê hy is ‘n god. (Handelinge 28:5,6)
Hoe sal ons dan lewe tussen die rampe en tragedie van ‘n verskeurende ondier wat die lewe self bedreig? In die belofte van die woord: niks sal julle ooit skade doen nie.
Dit is die geloofspad. Ons sal net soos Jesus in die wêreld die wêreld oorkom, omdat ons staatmaak op die wonderwerk wat ons saligheid en wedergeboorte kenmerk. Ons vyande sal word soos brandhout wat uitgewerp word sonder nut vir enigiemand.
Sê vir hom: Bedaar! Bly kalm! Moenie bang wees nie! Moet jou nie ontstel oor hierdie twee stukke brandhout nie, hulle rook net. Moenie bang wees vir die dreigemente van Resin en sy Arameërs en van Peka seun van Remalja nie. (Jesaja 7:4)
Dikwels is die vyand ‘n woedende aanval op alles wat vir ons waarde het, wat in ‘n mens-vorm na ons kom. Ons word deur mense aangeval wat in die “slawerny” van sonde die onvergenoegdheid en onvrede (is daar so ‘n woord?) van hulle verskeurde lewens op ons uithaal, omdat ons anders dink en volgens die wonder-weg van die Koninkryk van God op aarde leef.
Hierdie mense is slagoffers van hulle eie harde harte en verkeerde keuses. Kom ons lees Efesiërs 4: 17-19 om te verstaan hoe ‘n vyand van die Evangelie lyk.
In die Naam van die Here doen ek ‘n ernstige beroep op julle: Moenie langer soos heidene lewe nie. Hulle gedagtes lei tot niks, hulle verstand is verduister, en hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hulle onkunde volhard.
Hulle het heeltemal afgestomp geraak en hulle met ‘n onversadigbare drang aan losbandigheid oorgegee om al wat vuil is, te doen.
Hulle is die vyand vir wie ons moet bid, by wie die kwaad met die goeie oorwin word. (Matteus 5:44; Romeine 12:20,21)
Hoe sal God hulle uit jou lewe verwyder? Sommer met sy asem wat impliseer dat sy Woord kragtig is om die vyand te vernietig. Asem oor lippe is woorde wat gepraat word.
…maar Hy sal die aarde slaan met die roede van sy mond en met die asem van sy lippe die goddelose doodmaak. (Jesaja11:4b, OAB)
Die NAB noem dit sy uitsprake. Die Woord van God in jou mond sal jou vyande verslaan.
Moenie vergeet van die laaste belofte in die ewige woorde van Jesaja.
…en ek sal jou kinders red.
Al het jy self nie kinders nie, kinders is simbolies in die Woord van God met alles wat die toekoms inhou.
Die toekoms is veilig in God se Hand. Die toekoms is die speelveld vir die volvoering van God se beloftes en daarom vul dit ons hede met lewenslus en hoop.