As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige daaraan doen?” (Psalms 11:3, OAB)
Dis net ‘n ou storietjie, oorvertel in soveel tale met dramatiese besonderhede wat verskil, maar die sentrale tema en les bly dieselfde. Die drie varkies en hulle huise. Varkies wat bou aan woonplek. Varkies is nie bekend vir aggressie of sterk weerstand nie – hulle is meer bekend as slagdiere wat vet gevoer word. Drie onskuldige ou varkies en ‘n sterk, slegte wolf wat blaas – let wel nie byt nie, maar wel dreig om op te vreet.
‘n Huis van strooi wat omgeblaas word en drie beteuterde, verwarde varkies laat vlug met ‘n nuwe plan. ‘n Huis van hout wat dalk bietjie langer staande bly, maar dan tog nie bestand is teen die wolf se geblaas nie. Eers dan bou hulle iets blywend wat uit hulle lewe se moeilike leerskool meer beskerming bied – ‘n sterk huis van bakstene wat die vreesbevange, vlugtende varkies se veilige hawe is. Onthou ons nie almal die prentjie aan die einde nie – varkies wat agteroor sit en glimlag met ‘n woedende wolf wat met ‘n uithang-tong die aftog blaas.
Tereg vra Paulus waarmee bou ons.
En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels – elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. (1 Korintiërs 3:12,13)
Sal hout, hooi en stoppels ons veilig hou in die vuur van die moderne lewe? Met wat en op wat sal ons bou?
Kom na Hom toe, die lewende steen, wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is.
Laat julle as lewende stene opbou tot ‘n geestelike huis, om ‘n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is. (1 Petrus2:4,5)
Ons het ‘n wolf wat blaas – dis verseker. ‘n Brullende leeu wat oor die skerms en in die sosiale agenda vrees aanjaag en dreig om te verskeur. Vir die ongelowige is daar geen uitkoms, geen beskerming, geen Tabernakel. As gelowiges sien ons die verwoesting, roof en dood in die al hoe boser-wordende sekulêre gemeenskap. Die kerke, wat in debat tree en die blatante konfrontasie van hedendaagse denke bespreek, wankel en wyfel in al hoe moeiliker omskrywings en beskrywings van mense en hulle identiteit. Die fondamente word omgegooi. Dinge wat nog altyd as die grondbeginsels van die mensdom aanvaar is, word in woede uitgejou en in histerie verskreeu. Die wolf blaas, die leeu brul…
Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. (1 Petrus 5:8)
Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug. (Jakobus 4:7)
Wat sal die regverdige doen? Dit is die vraag. Kom ons lees die hele Psalm. Hy gee die antwoord, sommer nog voordat hy praat van die fondamente.
Ek skuil by die Here.
Dit is die woorde van ons mond, die roep van ons siel. Dit maak nie eintlik saak wat is en wat kom nie – my woorde van vertroue op God, bepaal die stand van my siel en die atmosfeer rondom my. Ek het ‘n skuilplek. Ek is ‘n kosbare, waardige kind van God, net minder as die engele (Psalms 8) en ek sal vasstaan in ‘n God wat my nog nooit in die steek gelaat het nie. My God is ‘n Ewige Vader (Jesaja 9) en ek is veilige in sy Ewige Arms (Deuteronomium 33) wat my laat skuil in sy Skaduwee (Psalm 91). Dit is die bylyn van ons lewe, ons daaglikse brood, ons salige hoop vir hierdie oomblik en die gehele, oorweldigende tydsduur wat ons die toekoms noem.
Hoe durf julle vir my sê:
“Vlug na die berge toe soos ‘n voël!
Ons is nie hulpelose varkies wat voor ‘n wolf uitvlug nie. Ons is lewende stene en woon in die Koninkryk as kosbare boustene van die huis van God. Ons werke word getoets – met vuur – inderdaad. Die wêreld en die bose trawante van die wolf spoeg en blaas met rook uit die put van die hel, wat dreig om ons te verteer. Dit is vervolging. Dit is elke waarde wat ons as kosbaar beskou, wat aangeval en vertrap word. Dis net soos hy sê…
Kyk, die goddeloses span hulle boë,
en hulle lê aan met die pyl op die snaar;
hulle staan reg om uit die donker
die opregtes van hart te tref.
As die fondamente ondermyn word,
wat kan die regverdige daaraan doen?”
Skud die fondament? Die aanslag is fel en vreesaanjaend. Maar…
Die Here is in sy heilige tempel!
Die Here is op sy troon in die hemel!
Sy oë is oop, sy oë keur die mensekinders.
Die Here onderskei tussen regverdige en goddelose. (Maleagi 3:16-18)
Wie geweld liefhet, haat Hy.
Hy laat vuur en swael reën op die goddeloses,
‘n skroeiende wind: dit is die beker wat hulle sal drink.
Ons is nie uitgelewer aan die histerie en woede van die openbare debat nie. God self sal ons vyande verskroei.
Die Here is regverdig.
Hy het die mense lief wat regverdig en opreg handel,
en Hy sal by hulle wees.
Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou. (2 Kronieke 16:9)
Ons fondament is waarheid. Ons ken die Man wat gesê het, Ek is die Waarheid… Ons wankel nie. Ons God regeer.
Hoe wonderlik klink op die berge
die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring,
wat vrede aankondig, wat die goeie tyding bring,
wat redding aankondig,
wat vir Sion sê: “Jou God is Koning!” (Jesaja 52:7)
Hoe sal ons voortgaan, Bodemklipvriende? Altyd in die verwagting van ‘n wonderwerk. Ons is kinders van die almagtige God, Skepper van hemel en aarde. Ons God het ons in sy Hand en ons name is in sy Boek.
“He is not the soul of Nature, nor any part of Nature. He inhabits eternity: He dwells in a high and holy place: heaven is His throne, not his vehicle, earth is his footstool, not his vesture. One day he will dismantle both and make a new heaven and earth. He is not to be identified even with the ‘divine spark’ in man. He is God and not man.” ― C.S. Lewis, Miracles
Ons toekoms is geloof in God wat aan ons ons daaglikse brood gee – geestelik en materieel. Ons skuil in die Tabernakel van God self, sy Woonplek.
Dan sal die Here bedags ‘n wolk en snags
die rook en glans van ‘n vlammende vuur skep
oor elke woonplek op Sionsberg
en oor al die bymekaarkomplekke daar.
Sy magtige teenwoordigheid sal alles beskut.
Daar sal ‘n skuiling wees,
‘n skaduwee teen die hitte bedags,
‘n skuilplek en toevlug teen stortbuie en reën. (Jesaja 4:5,6)
And there will be a tabernacle for shade in the daytime from the heat, for a place of refuge, and for a shelter from storm and rain. (Isaiah 4:6)
Van oos tot wes sal die Naam
en die mag van die Here geëer word.
Wanneer die teëstander aanstorm soos ‘n rivier,
jaag die Gees van die Here hom op loop. (Jesaja 59:19)