196. Vernietig die vesting.

Hulle praat van konvensionele wysheid. Ek weet per defnisie beteken dit tradisionele of gebruiklike wysheid.  Tog is die verband waarin dit gebruik word meer gerig op die moderne wysheid, of die wysheid van die dag.  Dit is seker so dat wysheid kan verander soos kennis vermeerder.  Die mediese wetenskap is so ‘n duidelike bewys van wysheid wat verander soos kennis vermeerder.  As die beste manier om te leef met die ontwikkeling in die natuur- en geesteswetenskappe deurgaans verander is dit baie moeilik om besluite tot voordeel van almal te neem.  Wat is die maatstaf?  Hoe sou jy weet wat reg en wys is?

Wysheid is die toepassing van kennis.  Hier is die amptelike definisie:

Wisdom, sapience, or sagacity is the ability to think and act using knowledge, experience, understanding, common sense and insight. Wisdom is associated with attributes such as unbiased judgment, compassion, experiential self-knowledge, self-transcendence and non-attachment, and virtues such as ethics and benevolence.

Dit is inderdaad ‘n mondvol.  Terselferdertyd is dit iets waarna my hele wese streef soos wat ek al die groot woorde waarmee wysheid in verband gebring word, lees.  Dit is alles dinge wat goed is.

Die eerste belangrike punt is: denke en optrede gaan saam.  Wysheid veronderstel aksie.  Jou gedagtewêreld word jou aksie, aktiwiteit en houding buite jouself.

Gedagtes is privaat – aksie is publiek.

Met ander woorde, wysheid wys wat in jou kop aangaan en dit vind uiting  in jou optrede.

Dit is alles goed en wel, maar dit beteken ek moet met wysheid bepaal wat in my kop aangaan.  Dit is waaroor ons gesels.  Kontrakte in jou kop wat bepaal hoe jy optree.  Ons het in ‘n vorige stukkie gesêhoe belangrik ons gedagtewêreld is, want ‘n kontrak bring iets tot stand wat voorheen nie daar was nie.  Uit ‘n kontrak word iets konkreet geskep wat blywende gevolge het.

Die Bybel het baie te sê oor hoe ons dink.

‘n Geduldige mens het meer waarde as ‘n bedrewe vegter, ‘n mens met selfbeheersing meer as iemand wat ‘n stad inneem.(Spreuke 16:32)

 He who is slow to anger is better than the mighty, he who rules his [own] spirit than he who takes a city. (Proverbs 16:32)

Ons het gesels oor Romeine 12:2 waar die verandering in ons innerlike gebeur as gevolg van die vernuwing van ons gemoed, ons gedagtewêreld.  In hierdie verband is Paulus baie uitgesproke.  Skerp en op die punt af sêhy in 2 Korintiërs 10:5:

Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.

Dit bring ons by ‘n groot waarheid.  Ons gedagtestryd is ‘n geveg waarin boosheid ‘n aktiewe rol speel.  Ons weet die duiwel kan gedagtes plant en hy doen dit – konstant en sonder ophou.  Ek het al spottend gesê dat die vyand nooit van luiheid aangekla kan word nie – hy is nie lui om te treiter nie.  Dit is asof hy ‘n swak oomblik ruik en onmiddellik daarvan gebruik maak om vrees en woede te plant.

Ons is met alles in die Woord toegerus om “bedrewe vegters” op hierdie gebied te wees.

Die skrif waaraan ek vasklou soos ‘n drenkeling ‘n reddingsboei, is die bekende en geliefde Filippense 4.  Lees en studeer saam met my.

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.

 En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

 “Besorg” is so ‘n sagte woord vir knaende en verlammende bekommernis en vrees.  Hoor hoe stel die TPT dit.  [The Passion Translation]

Don’t be pulled in different directions or worried about a thing. Be saturated in prayer throughout each day, offering your faith-filled requests before God with overflowing gratitude. Tell him every detail of your life, then God’s wonderful peace that transcends human understanding, will make the answers known to you through Jesus Christ. 

Die Amplified sê:  Do not fret or have any anxiety about anything…

Daar is die woord – die siekte van ons tyd – vrees en angs.

Let daarop dat die Afrikaanse woord “smeking” met “faith-filled requests” vertaal word en nie ‘n kerm-element suggereer soos wat ons woord smeking sou kon beteken nie.

Hoe sal ons ‘n dag deurweek met gebed?  Dis ‘n uitdaging. Dit sal gebeur as ons die Here van die leërskare in die gedagte-oorlog inroep en die agste versie LEEF.

So keep your thoughts continually fixed on all that is authentic and real, honorable and admirable, beautiful and respectful, pure and holy, merciful and kind. And fasten your thoughts on every glorious work of God, praising him always.

Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.

 Hieroor is daar baie te sê.  Ek skryf sommer nou voort in die volgende stukkie – dis my voorneme om korter stukkies te skryf.

Hier is heelwat om oor te dink.  Dink ‘n bietjie bewustelik waaroor jy deur die dag dink.

Dit is die opdrag, die huiswerk as ek dit so kan noem:

dink wat jy dink.

Is jy opgevang in die kultuur van woede en skinder-skandale?  Dit voel soms asof die nuus hierdie gulsige monster met mense voed.  Geregtigheid, goedheid en genade is vreemde konsepte in hierdie kultuur van die sogenaamde reg op kennis met die media op alle vlakke as gewillige aanhitser.

 

195. Kontrakte in jou kop.

Die hele wêreld om ons bestaan uit kontrakte.  Formeel en informeel word ons lewe beheers deur ooreenkomste wat ons sluit. Selfs vriendskap is ‘n informele oreenkoms.  Daarmee bedoel ek dat ons nie ‘n prokureur kry om skriftelik ‘n vriendskapskontrak op te stel nie, maar ons veronderstel sekere stilswyende voorwaardes vir die “ooreenkoms” om vriende te wees.  Lojaliteit, liefde, ondersteuning in moeilike tye, algemene hulp en ‘n vriendelike oor vir blye en hartseer nuus is ‘n paar basiese veronderstellings vir ‘n goeie vriendskap.

Meer formeel is daar huwelikskontrakte, huis en motor koopkontrakte, huurkontrakte, versekering wat uitgeneem word, bankrekeninge, kredietkaarte en nog vele wat deel van ons alledaagse lewe uitmaak. Hoewel die kontrakte ons lewe ondersteun en die onderbou van ‘n normale moderne lewe vorm, dink ons nie elke dag aan elke aspek van die kontrakte nie.  Weet jy presies wat staan in die fynskrif van jou kredietkaartvoorwaardes en dink jy daaraan elke maal as jy iets betaal?  Dis net as dinge verkeerd loop dat die besonderhede van die kontrak in die kollig geplaas word en ons soms met ‘n skok moet uitvind waartoe ons ingestem het.

Daar is sekere vereistes wat teenwoordig moet wees om ‘n kontrak tot stand te bring.  Een van die belangrikstes is wilsooreenstemming.  Uit die aanvaarding en gebruik van die kredietkaarkaart en bankrekening, of die ondertekening van ander kontrakte, word my bedoeling bevestig en kan daar gesêword dat ek en die ander party saam “wil” dat daar ‘n  regsgeldige kontrak tot stand kom.

As ons hierdie beginsel in die geestelike wêreld toepas, werk dit presies dieselfde.  Ons het al dikwels in Bodemklippe die kragtige gevolge van ‘n eenvoudige, rasionele besluit bespreek.  Wedergeboorte vind plaas as gevolg van ‘n besluit om aan God oor te gee en hom in beheer van jou lewe te plaas.  Dit is ‘n rasionele wilsbesluit om jou lewe aan die beginsels van die Koninkryk van God te onderwerp.  Die besluit het lewensveranderende gevolge.  As jy die dag teken om ‘n motor te koop, verander jou lewe drasties.  Jy hoef nie meer op ander vervoer staat te maak nie en jy het volle beheer oor jou kom en gaan.  Net so is die besluit om in die Koninkryk van God te leef, ‘n kontrak wat jou hele kom en gaan verander.  Jou besluite en optrede word deur Koninkryksbeginsels bepaal en onderskei jou radikaal van die wêreld om jou.

Dit is egter moontlik om nog steeds “kontrakte” te sluit met die gebrokenheid van die wêreld waarin ons leef, selfs al is ons “burgers” van die onsigbare Koninkryk van Jesus.  Sulke “kontrakte” word soms op ons afgedwing omdat ons die wreedheid van gebrokenheid en verlies ervaar en ons siele verwond en stukkend opeindig. Ons sluit ‘n “kontrak” met ‘n gebroke hart, bitterheid, liefdeloosheid, verwerping, twyfel oor God en sy goedheid en ‘n lys ander hartverskeurende en soms onwillekeurige sielsaktiwiteite.

Vasgevang in die verwoesting van ons eie ooreenkomste met hartseer en gebrokenheid, is ons die prooi vir ‘n wrede vyand wat bloed ruik.  Dit was jare gelede vir my ‘n groot skok om uit te vind dat die duiwel juis in ons hartseer en verwonding instorm met sy verwoede demone wat soos ‘n pak wilde honde in ‘n siel tekere gaan.  Hier en daar word stukke emosie, denke en selfs eie wil brutaal en barbaars rondgeruk en in my gemoed spat die “bloed”.

Ons het laasweek gepraat van Jesus-verbande. Ons het gekyk na die pragtige vertroosting in Jesaja:

 …te verbind die gebrokenes van hart… (61:1,OAB)

 He has sent me to bind up and healthe brokenhearted (AMPC)

Die sleutel tot sielsverbande wat genees en vertroos is “ooreenkomste” met die Woord van God en sy karakter. Dit is die “toestemming” van jou siel wat ‘n kontrak sluit met die koninkryksbeginsels wat jou hart genees.

Net sodra jy genesing by die Here soek, is daar wilsooreenstemming met die hemel!  Hoe wonderlik is dit!

Die proses begin in jou denke.  Dit is waar jy die besluit neeem.  Paulus skryf in Romeine 12:2 hierdie kragtige woorde:

En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed,sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is. (OAB)

 Kom ons lees dit in die NAB:

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

In die AMPC (die klassieke uitgawe van die Amplified – kry dit op http://www.biblegateway.com) word die kern deel so uitgedruk:

but be transformed(changed) by the [entire] renewal of your mind [by its new ideals and its new attitude],

Ek hou veral van die verwysing na ‘n nuwe ideaal en ‘n nuwe houding – die wonderwerk van binne met uiterlike gevolge. Die Here belowe vernuwing soos nooit tevore en soos niemand anders – met ander woorde iets heeltemal uniek.

[Nuut kan beteken: neos – meer van dieselfde, kwantitatief soos ‘n nuwe potlood maar daar is baie van dieselfde soort of kainos – uniek, soos daar nog nooit was nie, kwalitatief, een van ‘n soort.]

Die heel belangrikste beginsel in hierdie gedeelte is die klem op God se werk.   Hy het nog nooit van ons verwag om ‘n wonderwerk te doen nie.  Dit is God se belofte en sy werk.  Hy doen die werk in ons.  Ons glo en gee oor.  Dis al.  Ons oorgee-proses is die wilsooreenstemming met die Woord.  Dit is ons kontrak.  Net soos enige kontrak, is dit goed om te weet wat daarin staan, veral die wonder-beloftes wat die gevolg van oorgee is.

Oorgee en die gevolglike verandering gee aan jou die vermoeë om sy wil te onderskei – soos dit hier staan: wat vir hom goed, aanneemlik en volmaak is.  God se wil is jou genesing en ‘n vol lewe. Hy sal dit in jou werk.  Hy waarborg sy goedheid en sy goeie gesindheid teenoor jou.  Is daar ooit iets meer nodig as die Kruis van Jesus om sy gesindheid teenoor ons te bewys?

Lees dit weer. (The Passion Translation)

Stop imitating the ideals and opinions of the culture around you, but be inwardly transformed by the Holy Spirit through a total reformation of how you think.This will empower you to discern God’s will as you live a beautiful life, satisfying and perfect in his eyes.(TPT)

Stormgejaagde, ongetrooste, gryp jou genesing.  Dis tyd vir jou wonderskone, wonderwerk-lewe.

Volgende keer kyk ons na die geloofsprentjie wat jou besluit behels.

Sien jouself in die arms van Jesus op die wit perd met die sagte sy van sy kleed wat om jou vou. Sy Naam staan op daardie kleed.  Sy Naam is: die Woord van God. (Openbaring 19:13)

Onthou jy sit saam met hom in die hemel.

[Efesiërs 2:6. Bodemklippe 74]

194. Wonderwerke – van binne en buite.

As ons praat van wonderwerke dan kan ons nie anders as om magteloos te voel nie.  Ons lewe is onderworpe aan die natuurwette en dinge gebeur daarvolgens.  Dink vir ‘n oomblik wat ‘n wonderwerk is. Die eenvoudigste manier om ‘n wonderwerk te beskryf is seker om te sê: jy wonder hoe dit werk.  Dit is iets buitengewoon, bo en buite die natuurwette.  Dit beklemtoon ons onvermoeë in die verband. Dit is iets wat gebeur wat nie in die gewone omgang van die lewe verklaar kan word nie.

In die woordeboek word ‘n wonderwerk as ‘n verrassende en welkome gebeurtenis omskryf, wat nie in wetenskaplike terme verklaar kan word nie, en daarom slegs as die ingrype van ‘n goddellike wese beskou kan word. Wonderwerke is altyd positief. Nêrens in die definisie is daar ‘n sweempie van negatiwiteit nie.  Die buitengewone, hoogs onwaarskynlike, onmoontlike gebeurtenis word verwelkom met verligting en vreugde.

Selfs die mees verwoede ateïs en agnostikus moet erken dat daar een historiese figuur in hierdie wêreld is wat onmiskenbaar en onmiddellik met wonderwerke assosieer word, of jy die wonderwerke glo of nie – naamlik Jesus.  Soveel male in die debatte van die Nuwe Ateïste word die wonderwerke van Jesus en diegene wat dit glo en verkondig, met bespotting en vernedering aangeval. Deur al die eeue, het die opgetekende wonderdade van Jesus bly voortbestaan as ‘n bron van hoop en uitkoms in die slegste en mees katastrofiese omstandighede.

Wonderwerke word gewoonlik beskryf in die woorde van mense wat dit self ervaar het of ooggetuies daarvan was.  Sulke wonderwerke het te doen met die onverklaarbare en buitengewone verandering in ‘n mense se omstandighede of persoon wat ook deur ander waargeneem kan word.  ‘n Drastiese positiewe draai in slegte omstandighede of ‘n persoonsverandering wat deur ander waargeneem kan word – soos iemand wat vrede maak in ‘n twis of vergewe waar hy te na gekom is, is in ons wêreld ‘n buitengewone gebeurtenis.

Daar is dinge wat ons lewe beskryf en dinge wat ons lewe definieer.  Slegte omstandighede en fisiese siekte kan dalk ons lewe beskryf, maar dis ons keuse of ons toelaat dat dit ons lewe defnieer.  As ‘n volwasse mens kan mens in ‘n groot mate bepaal wat jou lewe defnieer, veral in omstandighede wat nie positief is nie, of selfs binne-in ‘n lewenskrisis.  Jy kan besluit wat die kenmerk van jou lewe is – jou omstandighede of jou innerlike keuses.

Dit bring ons by ‘n belangrike geestelike beginsel.  Ons innerlike wese is die enkel grootste bepalende faktor van ons menswees.  Ons is mens soos God – drie in een – gees, siel en liggaam.  Ons gees maak op ‘n diep vlak met God se gees, die Heilige Gees, kontak wanneer ons besluit om ons lewe aan hom oor te gee en weer gebore word.  Ons siel is ons persoonlikheid wat uitgedruk word in ons wil, verstand en emosie.  Tot die mate waartoe ons gees, aan die Heilige Gees onderworpe, ons persoonlikheid bepaal, is die mate waartoe ons geestelik groei.  Dit is ‘n wilsbesluit, net soos die kragtige wilsbesluit om aan God te behoort ons hele lewe in ‘n ander rigting stuur.

Dit bring ons by die volgende belangrike geestelike beginsel – die hemelse rangorde van besluitneming.  Die kind van God leef anders en besluit anders as die ongelowige.  Ons prioriteite word in die sterkste moontlike terme met die van die wêreld gekontrasteer.  Ons lewensbeginsels en besluite word aan die Gees van God onderwerp.  Ons gees ontvang leiding van die Heilige Gees en dit bepaal ons besluit op sielsvlak wat dan deur ons liggaam uitgevoer word.  Die liggaam is die laaste in die hemelse rangorde van leefbeginsels.

God se kind = Heilige Gees > gees > siel > liggaam.

Die insentief vir ons lewe vind ons in die ondeurgrondelike wysheid van God.

O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!

 Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen. (Romeine 11:33, 36)

Die ongelowige leef andersom.  Sy liggaam se behoeftes en gemak, bepaal sy besluite op sielsvlak – wat hy wil, hoe hy voel en wat sy denke beïnvloed. Dit bepaal sy gedrag met die noodwendige gevolg in sy diepste wese – sy gees.

Wêreld se kind = liggaam > siel > gees.

Die gebrokenheid van die wêreld, die gebrek aan moraliteit en die skerp fokus op liggaamlike behoeftes wat verkeerdelik verhef word tot die hoogste goed, het stukkende mense tot gevolg. So dikwels kan tragedie en verskeurde harte na sondige besluite terugherlei word.  Owerspel, onbetroubaarheid, verraad, liefdeloosheid, hardheid, vrees en woede en die algemene aanbidding van die liggaam is die oorsaak van gebroke verhoudings en verskeurde kinders wat onskuldig in hierdie proses ingesleep word met katastrofiese gevolge.

Ons het verlede keer Jesaja 61 bespreek. Hoe kosbaar is dit om te weet Jesus het gekom om:

…te verbind die gebrokenes van hart… (61:1,OAB)

Die wonderwerk van binne!  Bodemklipvriende, is dit nie wonder-woorde van genesing nie!

Het jy Jesus-verbande nodig?  Het jy ‘n gebroke hart wat elke nou en dan bloei? Hoor weer en weer:

He has sent me to bind up and heal the brokenhearted (AMPC)

Hoe sal dit kan gebeur?  Wat is Jesus-verbande?

Die antwoord is in Jesaja 61:3 – weer die AMPC:

To grant consolation and joy to those who mourn in Zion—to give them an ornament (a garland or diadem) of beauty instead of ashes, the oil of joy instead of mourning, the garment [expressive] of praise instead of a heavy, burdened, and failing spirit—that they may be called oaks of righteousness [lofty, strong, and magnificent, distinguished for uprightness, justice, and right standing with God], the planting of the Lord, that He may be glorified.

Die sleutel-woorde in die vers is: grant en give en in Afrikaans – gee.

Strong’s se definisie verklaar  GEEin hierdie vers soos volg:

 …to put, place, set, appoint, make, ordain, establish, found, appoint, constitute, determine, fix,

maar ook verder die woorde:

…transform into, constitute, fashion, work, bring to pass.

Dit is die wonderwerk van binne.  Dit is die transformasie-misterie, ‘n kragtige werk van die Heilige Gees, wat uitgevoer word volgens ‘n hemelse opdrag op grond van ons besluit om ons stukkende hart in die hande van ons genadige en liefdevolle Pa te plaas.

Volgende keer bespreek ons hoe dit gebeur.  Die sleutel hiervoor is Romeine 12:2.  Mediteer en studeer hieroor tot ons weer gesels.