193. Buitengewoon en bonatuurlik – dis vir my!

“He is not the soul of Nature, nor any part of Nature. He inhabits eternity: He dwells in a high and holy place: heaven is His throne, not his vehicle, earth is his footstool, not his vesture. One day he will dismantle both and make a new heaven and earth. He is not to be identified even with the ‘divine spark’ in man. He is God and not man.”   

C.S. Lewis, Miracles

Die woorde van die ou profeet Jesaja is poësie.  As mens dit in Afrikaans of Engels lees, is dit nie dadelik duidelik nie, maar dit is volgens die geleerdes wel so in Hebreeus.  Jesaja het gesing.  Ek kan my net voorstel hoe hy die skerp oordele oor goddeloosheid, bose stede en harde harte in ‘n diep, kwaai stem gesing het.  Dan was daar ander kere, waar hy die oproep tot bekering en terugkeer na God met die passie van die Heilige Gees in sy eie hart uitgekreet het.  Soms voel Jesaja vir my soos ‘n ouer vriend, ‘n oupa wat ek nooit geken het nie, verseker die mentor wat ek nodig het, meerdere male in my lewe.

Ek wonder hoe het Jesaja 61 in sy stem en woorde geklink.  Dit is wonder-woorde van uitkoms, uitredding en ‘n wonderwerkende God wat alles in sy Hand hou.  Kan jy in jou gees sy woorde hoor?

Die Gees van die Here my God het oor my gekom; die Here het my gesalf om ‘n blye boodskap te bring aan die mense in nood, Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is, op te beur, om vir die gevangenes vrylating aan te kondig, vryheid vir dié wat opgesluit is,

om aan te kondig dat die tyd gekom het waarop die Here genade betoon, die dag waarop ons God sy vyande straf maar almal wat treur, vertroos,

die dag waarop Hy vir dié in Sion wat treur, eer gee in plaas van smart, vreugde in plaas van droefheid, blydskap in plaas van hartseer. Hulle sal genoem word: Bome van Redding. Die Here het hulle geplant om sy roem te vermeerder.

Hulle sal die eeue-oue puinhope opbou, plekke herbou wat lankal verlate lê, hulle sal verwoeste stede weer opbou, plekke wat geslagte lank verlate lê.

Net die eerste verse roer in my ‘n passie om die Gees van die Here op my te ervaar. sodat ek self die woorde van God praat.

In hierdie paar verse word die hartseer en hopeloosheid van die wêreld aangespreek.  Dit is opmerklik hoeveel klem op treur, hartseer en die beperkinge van gevangeneskap geplaas word.  God is bewus van die wat treur.  

Die gebrokenheid en sielsverdriet van ‘n lewe op aarde is ‘n puinhoop van trane en depressie.  As vrees en angs ons nie in die gevangenis hou nie, dan is depressie en moedverloor die tralies van binding.  Die goeie nuus van Jesaja is die sielsremedie wat oor die eeue heen ego.  Dit is die Psalms van Dawid se uitstaande tema.

Prys die Here!  Kyk op en besef dat jy in daardie puinhoop van trane deel van ‘n groter plan is.  Laat jou siel die Here aangryp soos ‘n drenkeling aan ‘n reddingsboei vashou. “Sien” jouself as ‘n Boom van Redding.

In die woorde van hierdie selfde Jesaja: Jy, ellendige, deur storm gejaagde, ongetrooste! Kyk, Ek lê jou stene in sierklei, en Ek grondves jou in saffiere; (Jesaja 54:11,OAB) – kyk op en jou siel sal leef.

Jy is die juweel in God se kroon. (Maleagi 3:16-18)

Dit is jy, die stormgejaagde, wat die puinhope gaan opbou.  Jy gaan die verwoeste stad se mure herstel.  Jy sal vryheid vir die gevangenes aankondig en vreugde in plaas van hartseer leef.

Hier is egter ‘n belangrike beginsel wat duideliker in die Engelse vertaling gestel word.  Lees saam met my 61:3 in die NKJV.

To console those who mourn in Zion,
To give them beauty for ashes,
The oil of joy for mourning,
The garment of praise for the spirit of heaviness;
That they may be called trees of righteousness,
The planting of the Lord, that He may be glorified.”

In hierdie vers is daar iets konkreet wat aan die oplossing gekoppel word.  Die “oil of joy” en die “garment of praise” is metafore vir geestelike beginsels, maar dit kom uit die praktiese van die alledaagse. Elke mens het behoefte aan olie – dit is ‘n lewensmiddel.  Ons neem dit in – elke dag.  Elke mens moet aantrek – ons loop nie kaal nie – inteendeel, ons is obsessief oor aantrek.  Dink maar aan die persentasie klerewinkels in elke winkelsentrum.

Olie gaan binne in ons lyf en ‘n kleed is om jou lyf te bedek.  Dink net as ons werklik hierdie geestelike beginsels drink en aantrek – die olie van blydskap en die kleed van lofprysing. Onthou dit is die mooiste, eleganste bedekking vir jou lyf wat daar ooit kan wees.  Wat sê die Bybel hier?  Jou stene is in sierklei en jou fondamente is saffiere.  Maleagi praat van juwele vir ‘n kroon.

Jare gelede het my ma ‘n droom gehad oor my en my man.  Sy droom sy stop met haar kar in die inrypad van ons huis en moet ‘n swaar kis vir ons aflaai.  Ons staan op die stoep sonder om hulp aan te bied.  Die kis is toe, maar sy weet sy moet dit oopmaak en sien wat binne is.  Toe sy voor ons staan met die kis en dit oopmaak was dit vol van die mooiste mantels wat sy ooit gesien het.  Die swaar materiaal was met edelstene en sy borduurgaring in die pragtigste patrone uitgewerk. Sy het die droom vir my vertel en toe self gaan bid oor die betekenis daarvan.  Sommer vroeg die volgende oggend het sy gebel.

Die Here sê: Die mantels is ons getuienisse van uitkoms en Woord-antwoorde wat ons in gebed gekry het.  Dit is die edelstene en borduurwerk.  Ons moet die mantels dra.  Ons moet “lyk” soos die werk van God.

Wat kan ek sê? Ek sou graag wou hêdie mense van my moet sê: O, hier kom ou Prys die Here alweer aan!

Trek aan, Bodemklipvriend en “dra” jou lofprysing.  Breek uit die gevangenis van swaarmoedigheid met die konstante bewustheid van Sy edelstene in jou siel en gees.  Elke traan is ‘n diamant op jou kleed.

My ellende het nie ongemerk by U verbygegaan nie, U het op my trane gelet. In u boek staan hulle opgeteken.  (Psalm 56:9)

Laat ons woorde die woorde van Jesus wees van wie gesêis:

God het Hom gestuur, en Hy spreek die woorde van God, want God gee Hom sy Gees sonder enige beperking. (Johannes 3:34)

 

192. Die arm van God

“There comes a moment when people who have been dabbling in religion (man’s search for God) suddenly draw back. Supposing we really found Him? We never meant it to come to that! Worse still, supposing He had found us?” C.S. Lewis, Miracles.

Die oomblik dat jy weet, God sien jou. Hy is nie meer die ver konsep van ‘n verwyderde godheid wat dalk sy kop draai en sy alomsiende blik op jou sou vestig nie.  In ‘n oomblik besef jy Hy het jou vrees gesien, Hy het jou gebed geantwoord; dit wat jy uitgeroep het, het reaksie ontlok.  Daardie oomblik sien jy sy arm beweeg… in jou guns.

 Die HERE het sy heilige arm ontbloot voor die oë van al die nasies, en al die eindes van die aarde sal sien die heil van onse God.  (Jesaja 52:10, OAB)

Kyk, die Here HERE sal kom as ’n Sterke, en sy arm sal heers; kyk, sy loon is by Hom, en sy beloning is voor sy aangesig.(Jesaja 40:10, OAB)

Die ou vertaling se pragtige woorde maak dit so duidelik.  Ek sien die beeld van moue oprol vir werk.  Dit is amper asof die ou profeet God in aksie sien. Sy almag en goedheid vloei in sy arm om  uit te strek en jou aan te raak.

So het Moses God se regterhand besing en aangedui dat God se krag in sy aanraking na ons deurvloei.

o HERE, u regterhand is verheerlik deur krag. U regterhand, o HERE, verpletter die vyand.  (Exodus 15:5, OAB)

Die Psalmis sing oor God se hand en arm.

’n PSALM. Sing tot eer van die HERE ’n nuwe lied, want Hy het wonders gedoen; sy regterhand en sy heilige arm het Hom gehelp.  (Psalms 98:1,OAB)

Eeue later in die magtige ontmoeting van Maria, die ma van Jesus, met die engel wat vir haar die boodskap oor haar swangerskap bring, sing sy dit in haar loflied

Hy het deur sy arm kragtige dade gedoen(Lukas 1:51)

Dit is alles goed en wel dat die wonderdade van God so in die Bybel  beskryf word, maar wat van vandag?  Ons leef in die vrees van die dag.  Ons stry teen siekte en vernietiging.  Ons probeer die beste maak van die wêreld wat aan ons gegee is, met die vaardighede waarmee die lewe ons toerus.  Ons kyk na dit wat om ons aangaan en twyfel maklik of wonderdade nog bestaan.

Die post-moderne gesanik saai skeptisisme oor die basiese kinderlike geloof waarmee ons grootgeword het, as ons so gelukkig was dat geloof in ons ouerhuis geleer is.  Meeste kinders vandag word goddeloos en godloos opgevoed. Waar is daar buitengewone hulp beskikbaar?  Is daar nog iets soos ‘n wonderwerk?

Die enigste manier om die God van wonderwerke te ontmoet, is deur homself – die Seun wat Hy gestuur het om homself aan die mensdom te openbaar.  Waarvoor is Jesus bo alles bekend?  In ‘n post-moderne samelewing met die geraas van die Nuwe Ateïsme om ons, is die wonderwerke van Jesus die eerste ding wat spottend en smalend aangeval word.  Water in wyn – regtig? ‘n Maagd wat swanger word – ons weet tog waar babas vandaan kom!

Christene steier en dink onmiddellik dat hulle nie bonatuurlike kan verduidelik nie.  Die teenkant is kwansuis die wetenskap.  Gewoonlik is ons nie geskool in die probleme wat die wetenskap nie kan verduidelik nie.  Geen mens kan verduidelik wat energie is nie, so ook nie wat bewussyn is nie. Dit is wel beskryfbaar, maar nie verduidelikbaar nie.  Daar is ‘n verskil.  Alle wetenskaplikes sal erken dat energie en bewussyn wel bestaan, hoewel dit nie verduidelik kan word nie.  Dus moet hulle erken dat hulle die bestaan en funksionering daarvan aanvaar, sonder om dit te verstaan.  Waarom moet ek verduidelik hoe Jesus God en Mens was?

Dit is noodsaaklik om die normale en natuurlike verloop van sake te erken, voordat mens ‘n wonderwerk kan waardeer. Dink vir ‘n oomblik: as dooie mense gereeld lewe of vyfduisend dakloses op ‘n gereelde basis teen ‘n berg gaan sit en uit een piekniekmandjie gevoer word, is dit nie meer ongewoon nie.

‘n Wonderwerk is God se bonatuurlike – bo die wette van die natuur wat daagliks om ons geld en uitspeel – en buitengewone aksie in my spesifieke geval.  Dit is dikwels in my binneste, wanneer my vrees, woede en diep gedagtewêreld deur die inwerking van die Heilige Gees verander.  God, rol sy moue om in my omstandighede dinge bonatuurlik te verander sodat sy ingrype verligting en genesing bring.

Omstandighede is die energieveld vir wonderwerke. Hoe sal ons weet wat ‘n wonderwerk is as ons nooit een nodig het nie?  Daar in die hoek van paniek en moedverloor, strek God sy arm uit en rig ons op.

En jy moet daaraan dink dat jy in Egipteland ’n slaaf was, en die HERE jou God jou daarvandaan uitgelei het deur ’n sterke hand en ’n uitgestrekte arm; daarom het die HERE jou God jou beveel om die sabbatdag te hou.  (Deuteronomium 5:15, OAB)

Die mees kritieke aspekte van ‘n wonderwerk is om dit te sien, te erken en te onthou.  Wonderwerke word in ons gedagtes geoordeel en gekategoriseer.  Daar is kleintjies en grotes.  Dit is belangrik om ALMAL te sien en die Here daarvoor te prys.  Die insig om God se werk in ons lewe te sien, is ‘n kosbare Heilige Gees gawe.

Wonderwerke en die getuienis wat daaruit voortvloei is die goud wat deur vuur gelouter is van die Koopman in Openbaring. (3:18)

Die Psalmis waarsku teen ‘n ligtelike omgang met wonderwerke.

Ons voorvaders het in Egipte nie ag geslaan op u magtige dade nie, hulle het nie gedink aan al u dade van trou nie, hulle het teen U in verset gekom by die Rietsee. (Psalms 106:7)

Selfs die dissipels het die wonderwerke nie genoeg geag nie

For they failed to consider or understand [the teaching and meaning of the miracle of] the loaves; [in fact] their hearts had grown callous [had become dull and had lost the power of understanding].(Mark 6:52, AMPC)

Sterk woorde!  Laat ons die wonder-arm van God se ingrype hoog ag en ophef tot die bodemklip op die altaar van ons lewe (die walle van die Jordaan – Joshua 4), sodat ons nooit ooit die belediging van verstandeloosheid en verharde harte uit Jesus se mond hoor.