190. Hoor… die gedruis van oorvloed.

[Kersfees 2018]

Ek wonder of ons deesdae enigiets werklik hoor.  Toe ek klein was het my pa my geleer dat dit slegte maniere is om nie vir iemand te kyk as hy met jou praat nie.  Dit was amper soos die ongeskiktheid van verwerping of belediging.  As ons aandag gee en ordentlik groet, by aankoms en vertrek en let op die woorde wat na ons kant toe gepraat word, gee ons waarde en aanvaarding aan die mense om ons.  Hierdie dae kyk iemand maklik op ‘n foon of tablet, of hou sommer aan televisie kyk as iemand met hulle praat.  Ons ore is verdeeld.  Waar is ons aandag en wat hoor ons?

Jesus het dikwels oor ore en gehoor gepraat. Sy gereelde vermaning: laat hom wat ore het, hoor, is by elke boodskap aan die kerke in Openbaring as opdrag herhaal, so dit geld ook vir die kerk vandag.  Hy het die ou profeet Jesaja (6:9,10) aangehaal in Matteus (13:14,15)

En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie.

Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hooren met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.

Hierdie woorde van Jesus pla my.  Hy skakel genesing aan gehoor.  Is dit nie ‘n goeie rede om in hierdie besige tyd voor Kersfees ‘n fyn verstelling aan ons geestelike gehoorbuise te maak nie?  In die geraas van geld en goeters mis ons dalk die ware boodskap van Kersfees – die genesing van jou lewe deur die baba in die stal.

Kersfees is belangrik.  Dit is ons fees, ons Christene, selfs binne die sekulêre skaking van die feestelike elemente van hierdie verjaardagfees van alle tye.  Ons is nooit slagoffers van die wêreld nie.  Ons gee die inhoud aan ons Fees en ons is in beheer.  Ons vier die Fees met die stem van die Heilige Gees in ons ore.

My opwinding met elke Kersfees en elke Paas word aangehits deur my besluit om die Here te vertrou met ‘n “nuwe” Woord uit Sy mond vir my.  Ek kan nie altyd alles dieselfde doen nie.  Ek wil met elke belangrike Christenfees, waarvan Kersfees, Paas en Pinkster uitstaan, iets nuut van Sy karakter leer, of iets nuut van die beginsels van die fees wat ek besig is om te vier – in ons geval nou Kersfees.

God is getrou en Hy stel nooit teleur nie. Ek skryf vir julle die Woord wat in my hart brand.

So ‘n paar weke gelede skakel ek die televisie aan op Daystar Canada, ‘n Christelike kanaal wat heeldag en heelnag geestelike programme aanbied.  Dit is toevallig die begin van ‘n program van iemand wie se naam ek herken van baie jare terug.  Hy is nie een van my gunstelinge nie, maar voor ek aanbeweeg, dink ek dit sal interessant wees om te hoor wat hy sêen waar sy bediening nou beweeg.  Dit is altyd vir my wonderbaar om te sien hoe bedienings oor jare en jare net sterker word, selfs al is dit nie heeltemal in my kraal nie. Ek sien myself saam met hulle almal eendag voor die Troon staan met die kosbare woorde van Paulus:

Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou

(2 Timoteus 4:7, OAB)

Soveel van my vriende het die geloof van hulle kinderdae verwerp en het in die lokval van post-modernisme die waarheid van die Evangelie en alles wat waarde het, verwerp.  Vir my is dit bo alles belangrik om te kan sê, wat ookal in my lewe gebeur, ek het die geloof behou.

Terug by die televisie.  Die prediker maak sy Bybel oop en lees uit een van my gunsteling hoofstukke oor die profeet Elia en die slagting van die Baäl priesters.  Terwyl ek so aan al my ongelowige vriende dink, dink ek aan die Baäl priesters van vandag – al die afgode en vals gode wat vandag nog hulle tempels in die harte van die Christene oprig.  Soos die woorde wat hy lees oor my spoel, praat die Heilige Gees met my en ek spits my ore.  Op daardie oomblik hoor ek wat die Here vir my sê.  God se woord is altyd kragtig! (Hebreërs 4:12)

Die storie het agtergrond en dit is nodig om darem te weet waaroor dit gaan om die impak van uitkoms te verstaan.  Ek vertel die storie van Elia en die Baälpriesters in ‘n neutedop.

Agab is koning oor Israel, een van die twee koninkryke wat ontstaan het na die koningskap van Salomo.  Juda in die suide, wat gevorm het uit die twee stamme, Juda en Benjamin, het twintig konings gehad, waarvan net agt die Here gesoek het, voordat hulle in ballingskap deur die Babiloniërs weggevoer is. Israel in die noorde, wat gevorm het uit die tien stamme, het negentien konings gehad voordat hulle deur die Assiriërs in ballingskap weggevoer is – almal goddeloos.  Daar was deurgaans profete in albei koninkryke aktief, wat die mense vermaan het om na God toe terug te keer.  In beide koninkryke was daar ‘n oorblyfsel van mense wat die Here gesoek het, selfs ten spyte van die goddelose praktyke van die leierskap.  God was getrou aan Sy oorblyfsel (remnant). (2 Konings 19:30,31)

Agab word so beskryf: Agab seun van Omri het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, meer as al sy voorgangers. (1 Konings 16:30)

Agab se vrou was ‘n Fenisiese prinses uit die pragpaleis op ‘n skiereiland in die stad Tire, een van die wonders van die antieke wêreld.  Sy was ‘n Baäl aanbidder en om haar tevrede te stel het Agab ‘n Baäl tempel in Samaria laat bou.  Die profete van God en die getroues uit die volk was woedend.  Elia veral, was ‘n gehate man in die paleis van Agab en Isebel.

As gevolg van Agab se sonde kom ‘n geweldige droogte oor die land en Elia word versorg by die spruitjie Krit en toe dit ook opdroog by een van die weduwees van Isebel se land (die huidige Lebanon) by Sarfat naby Sidon.  Terwyl Elia daar is, sterf die weduwee se seun.  Elia se gebed rig hom op, tot sy ma se groot vreugde!

Na drie jaar stuur God Elia terug na Israel om met Agab te praat.  Elia nooi die koning na die berg Karmel waar Elia ‘n geestelike oorlog met die Baäl priesters aanknoop om God te almag bo Baäl te bewys, sodat die harte van die mense oortuig word.  Die vertoning op die berg verloop net soos Elia dit beplan.  Twee altare word gebou – een vir God een vir Baäl. Diere word geslag vir beide, maar geen vuur word gemaak nie.  Die priesters moet vuur by Baäl kry en Elia sal vir God vuur vra.  Dit is verstommend dat die Baäl priesters instem tot die hele gedoente omdat hulle nie gewoond is aan wonderwerke nie. Miskien wou hulle self uitvind of hulle god kragtig is.  Die Baälpriesters bid en smeek, verwond hulleself, val in die stof en smeek – en niks gebeur nie.  Elia spot met hulle.

Toe dit sy beurt is, laat hy die altaar en die offerdier papnat maak, sodat daar geen twyfel oor ‘n vonkie vuur mag wees nie.  Elia kniel en bid tot God om die vuur aan te steek.  Die volgende paar verse uit 1 Konings 18 vertel die storie:

Teen die tyd van die aandoffer het die profeet Elia vorentoe gekom en gebid: “Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit tog vandag bekend word dat U God is in Israel, en dat ek u dienaar is wat op u bevel al hierdie dinge doen.

 Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte weer tot U bekeer.”

 Toe kom daar vuur van die Here af en dit verbrand die offer, die hout, die klippe en die grond. Dit het selfs die water in die sloot opgelek.

 Toe die hele volk dit sien, het hulle op hulle knieë geval en uitgeroep: “Die Here is God! Die Here is God!”

Daardie dag het Elia en die volk wat die Here aanroep 450 Baäl priesters doodgemaak.

Na hierdie geweldige oorwinning, sêElia aan Agab die volgende woorde:

“Gaan eet eers, want ek hoor al die gedruis van die reën.

Bodemklipvriende, dit is die woorde wat my hart aangegryp het.

Wat hoor jy?

Ek lees dit in my studie Bybel en sit sommer regop: ,

 “Go up, eat and drink; for there is the sound of abundanceof rain.”

Daar in die geraas van die slagting en die opgewonde geklets van die mense oor die wonderwerk van die dag, hoor Elia iets wat niemand anders hoor nie en HOOR die teken van iets waarvan daar GEEN bewys is nie.

Die koning gaan inderdaad weg om te eet, maar Elia en sy bediende klim die berg om te gaan bid. Daar is geen teken van reën nie.  Elia bid en dan stuur hy sy bediende om te gaan kyk of die reën kom – SEWE maal!!  God het vir hom gesêHy wil die reën oor die land laat kom, maar daar is geen teken daarvan nie.  Elia bid op grond van God se rhema-woord aan hom. Die sewende maal kom die bediende terug en sêdaar is ‘n wolkie so groot soos ‘n man se hand.  Dit is genoeg vir Elia.  Hy begin hardloop en sêvir Agab hy moet jaag met sy koets – die reën kom!

Wat hoor jy wanneer daar geen teken van uitkoms is nie? HOOR jy die oorvloed se gedruis?

Binne-in die klingel van die klokke en die kletter van kospotte, spits jou ore en HOOR die gedruis van oorvloed.

Oorvloed is een van die kenmerke van God se gawes. Hy seën oorvloedig, Hy beskerm en voorsien oorvloedig.  Sy manier is nie suinig nie.

HOOR die woord van die Here aan Samuel en bring jou behoefte en begeertes onder die geklank van oorvloed voor Hom.

Die Here sê toe vir Samuel: “Ek gaan ‘n ding in Israel doen wat elkeen wat daarvan hoor, se twee ore sal laat tuit.  (1 Samuel 3:11)

Hoor die oorvloed wat God belowe. Oorvloed is gewoonlik ontelbaar en onmeetbaar.  Het jy al die reëndruppels getel?  Kan iemand die oorvloed van die skepping op die aarde meet?  Ons wetenskaplikes is eeue en eeue besig om te tel en te benaam, net soos die opdrag aan Adam uitgegaan het.

Dink aan God se oorvloed.  Glo Sy oorvloed is aan jou belowe.  Gee aan Hom jou oorvloed hierdie Kersfees.

En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hêen volop kan bydra vir elke goeie werk. (2 Korintiërs 9:8)

 

 

God se oorvloed klink nie soos iets wat jy al gehoor het nie.

When the Lion had first begun singing, long ago when it was still quite dark, [Uncle Andrew] had realized that the noise was a song. And he had disliked the song very much. It made him think and feel things he did not want to think and feel. Then, when the sun rose and he saw that the singer was a lion (“only a lion,” as he said to himself) he tried his hardest to make believe that it wasn’t singing and never had been singing—only roaring as any lion might in a zoo in our own world. “Of course it can’t really have been singing,” he thought, “I must have imagined it. I’ve been letting my nerves get out of order. Who ever heard of a lion singing?” And the longer and more beautifully the Lion sang, the harder Uncle Andrew tried to make himself believe that he could hear nothing but roaring. Now the trouble about trying to make yourself stupider than you really are is that you very often succeed. Uncle Andrew did. He soon did hear nothing but roaring in Aslan’s song. Soon he couldn’t have heard anything else even if he had wanted to. And when at last the Lion spoke and said, “Narnia, awake,” he didn’t hear any words: he heard only a snarl. And when the Beasts spoke in answer, he heard only barkings, growlings, baying, and howlings.

 FromThe Magician’s Nephew

Compiled in A Year with Aslan

 The Magician’s Nephew. Copyright © 1955 by C. S. Lewis Pte., Ltd. Copyright renewed © 1983 by C. S. Lewis Pte. Ltd. All rights reserved. Used with permission of HarperCollins Publishers. A Year With Aslan: Daily Reflections from The Chronicles of Narnia. Copyright © 2010 by C. S. Lewis Pte. Ltd. Extracts taken from The Chronicles of Narnia. Copyright © C. S. Lewis Pte. Ltd. 1950-1956. All rights reserved. Used with permission of HarperCollins Publishers.

189. Ten volle en ten diepste bedek met liefde.

[Johannes 21]

‘n Mens sou eerstehandse kennis van die Galilese vissermanne moes hê om hierdie storie te skryf.  Die vangs wat hier beskryf word, het dikwels op die meer plaasgevind.   Die manne met nette op die bote het staatgemaak op iemand op die wal wat effens hoër geplaas is om die skole visse te sien beweeg.  Hy het dan met handtekens of ‘n klok die bote gelei.  Jesus het daadie dag hierdie funksie vervul.

Mense herken Jesus as Hy homself aan hulle openbaar.  Miskien was die grys van dagbreek nog te donker om Hom duidelik te sien.  Liefde het egter deur die grysheid gedring en Johannes het gesien en gepraat.  Petrus het gesien en gehardloop.  Hy het net ‘n lendedoek gedra, soos alle vissermanne as hulle in die water en om die meer besig was.  Hy het sy bokleed aangetrek.  Om iemand te groet was ‘n heilige handeling en hy het homself aangetrek vir die geleentheid.

Hierdie hoofstuk is duidelik bygevoeg om die werklikheid van die opstanding te beklemtoon.  Baie sou sê dat Jesus se verskynings net visioene van die dissipels kon wees, selfs hallusinasies.  Die Evangelies benadruk dat Jesus na die opstanding ‘n persoon was.

Dit was onwaarskynlik dat ‘n hallusinasie daar op die strand ‘n vis sal braai om met sy vriende te deel.  Die graf was leeg en Jesus het die wonde in Sy hande en sy gehad om dit te bewys.  Jesus dring daarop aan dat hulle aan Hom raak om die werklikheid van die waarheid by hulle te laat insink.

Jesus het die dood oorwin.  Hy het seker gemaak dat hulle nie twyfel nie.

Johannes noem die getal visse vir ‘n rede. ‘n Vangs van 153 visse moes onder die vissers verdeel word.  Dit was ‘n besondere groot vangs, maar daar is simboliek in die getal.

Volgens die syfer-simboliek van die antieke wêreld het honderd die volheid van die kudde uitgebeeld (Matteus 18:12). Die goeie saad in vrugbare grond het honderdvoudig oes opgelewer.  Die getal vyftig het die orrblyfsel van die Jode aangedui en drie is vir die Drie-eenheid wat alles moontlik maak.

Die net is die kerk met geen uitsluiting en geen verwerping.  Dit is altyd groot genoeg vir almal.  Die kerk moet soos Jesus alle mense innooi.

Petrus het Jesus drie maal verloën.  Jesus gee aan hom die geleentheid om drie maal sy liefde vir Jesus te bevestig.  Jesus het sekerlik besef dat Petrus vol skuld en skande was.  Hy lei Petrus na die plek waar liefde die onderwerp is en nie die verwonding van nederlaag nie.

Met elke verklaring van liefde, het Petrus ‘n taak ontvang.  Sy verklarings moes hom toerus vir sy taak in die kerk.  Liefde is ‘n voorreg maar ook ‘n verantwoordelikheid.  Aan die einde van sy lewe het hy ook aan ‘n kruis gesterf.  Hy is onderstebo gekruisig omdat hy nie waardig gevoel het om dieselfde manier as Jesus te sterf nie.  Dit is merkwaardig dat die Romeine aan sy versoek voldoen het. Die durf en dapperheid van Petrus se teregstelling staan in sterk kontras met sy nederlaag in die binnehof van die Hoë Priester se huis.  Die aanraking van die vuur van die Heilige Gees op Pinskterdag het hom sodanig bekragtig om sy taak te vervul.

Petrus se rol in die vroeë kerk was gevestig. Hy was ‘n herder en het die volk van Jesus innig liefgehad.

Jesus vra: : Petus agapé jy My?  Petrus antwoord: Here ek phileo jou.

Agapé is die onvoorwaardelike, onbegryplike liefde van God vir die mens.

Dit word gedefinieer as onvoorwaardelike gewillige liefde wat kom uit ‘n besluit en nie ‘n gevoel, affiniteit of chemiese aangetrokkenheid nie.  Die woord omvat ‘n onomkeerbare goedgesindheid en ‘n allesomvattende welwillendheid.  Agapé soek altyd die hoogste goed vir ons medemens. Dit is ‘n woord wat amper eksklusief aan die Christelike letterkunde behoort.  Buite die Nuwe Testament is dit onbekend.  Dit is asof die woord in Grieks bestaan het om te wag totdat Jesus inhoud daaraan kon gee.

God het onvoorwaardelik lief.  Jesus aan die kruis het God se liefde in die mees ondeurgronde wyse ooit bewys.

Petrus het besef dat hy nie in staat is om so lief te hê nie.  Sy onsekerheid is in die woord phileo wat broederlike liefde beteken.

Die tweede keer vra Jesus: Petus agapé jy My?  Petrus antwoord: Here ek phileo jou.

Die derde maal vra Jesus: Petus agapé jy My?  Petrus antwoord: Here, jy weet alle dinge. Jy weet ek phileo jou.

Petrus erken sy gebrekkige liefde in waarheid. Hy weet daar is geen waarde in voorgee nie.  Jesus ken sy hart.

Mens kan amper die rou hart tot hart kommunikasie ervaar.  Petrus is vergewe en herstel.  Sy verhouding met Jesus is vasgemessel in die woorde van liefde uit die mond van Jesus self. Jesus plaas die las van liefde vir die kerk op Petrus en op Pinksterdag word hy toegerus met wat nodig is om dit uit te leef in ‘n kragtige bediening.  Hy weet Petrus het op ‘n diep vlak verander.  Jesus weet hoe lief Petrus hom het.

In die volgende gedeelte (20:20-24) sê Johannes iets oor die woorde wat van hom gespreek is. Petrus is dadelik bekommerd oor sy mede-dissipels en Johannes was nog jonk.  Sommige kommentatore meen dat Johannes maar 15 of 16 jaar oud was toe hy Jesus ontmoet het.  Jesus maak Petrus gerus oor sy broers en verseker hom dat Hy sal sorg.

Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. (Johannes 10:28)

Johannes is die oggetuie van al hierdie dinge. Hy het in sy oudag daar in Efese alles opgeskryf.  Hy was die een wat na Maria gekyk het.

Die Christendom is geseël in ondervinding. ‘n Ontmoeting met Jesus is die fondament van ‘n Christelike lewe.

Jesus sê hier dat ons nie moet bekommer oor die taak wat aan iemand anders opgelê word nie.  Ons volg Hom en doen wat Hy van ons vra.  Jesus is die volmaakte Herder oor ons almal. Hy sal ons bediening bestuur. As ons soos iemand anders wil wees, wag daar teleurstelling en nederlaag.  Ons kan nie die hele kerk beheer nie.  Ons kan net doen wat die Heilige Gees aan ons kommunikeer om te doen.

Jesus is sonder beperking.  Sy opstanding is die werklikheid. Sy kerk is universeel.  Niemand ding mee binne die Koninkryk nie.  Petrus is die herder en Johannes die getuie.

Johannes dink aan die glans en glorie van Jesus en weet dat dit wat hy skryf net ‘n effense afskynsel van die werklikheid is. Die wêreld kan nooit werklik die volheid van Jesus begryp nie.

Wanneer jy dink jy weet, weet dat Hy soveel meer is.

Ons denke en boeke faal vreeslik as ons die oorweldigende onbeskryflike moet beskryf.

John ends with the innumerable triumphs, the inexhaustible power, and the limitless grace of Jesus Christ. [William Barclay]

 

 

 

Hiermee kom ons aan die einde van die studie van Johannes.

Ek dank die Here vir Sy kragtige woord en glo dat hierdie studie altyd ‘n inspirasie tot meer en meer sal wees.

 

Volgende keer – iets oor Kersfees.