186. Die Kruis en die Graf.

[Johannes 19:17-42]

DIE KRUIS

‘n Kruisdood was grusaam.  Selfs die Romeine wat dit moes uitvoer het gedink daar is niks erger nie.  Geen Romeinse burger is gekruisig nie.  Die doodstraf vir ‘n Romein was onthofing of die gifbeker as gedwonge selfdood.  Kruisiging was vir slawe en kriminele.  Die kruis was oorspronklik ‘n Persiese teregstellingsmetode.  Die motief vir so ‘n wrede dood was dat die bloed van ‘n krimineel so afstootlik was dat dit nie die aarde kan besmet nie. Die Kartagiërs in Noord-Afrika het dit by die Persiërs oorgeneem.  Deur hulle het die Romeine die praktyk leer ken.

Jesus is doodgemaak deur die ergste wat die antieke wêreld kon opdink.

Die teregstelling het gewoonlik onmiddellik na die skuldigbevinding plaasgevind.  Die slagoffer moes sy eie kruis dra.  Na geseling met die sweep soos beskryf in die vorige Bodemklippe, het die bloedige optog na die plek van teregstelling vertrek. Voor die gevangene het ‘n soldaat met die aanklag geloop.  Die optog is deur soveel strate as moontlik gelei as ‘n waarskuwing vir ander, maar ook vir moontlike tersydestelling.  Indien enigiemand na vore sou kom en die teregstelling betwis, sou die hele verhoor van voor af begin.  Niemand het vorentoe getree om as getuie vir Jesus se goeie dade te dien, toe hy so verswak en bebloed die Via Dolorosa moes stap.

In Jerusalem is die teregstellingsheuwel Golgotha (Hebreeus) genoem.  Dit beteken letterlik die skedel.  Dit kan wees dat die heuwel soos ‘n skedel gelyk het, maar ook omdat die gekruisigdes nooit die eer van ‘n graf kon hênie.  Die lyke is op ‘n mens-ashoop gegooi vir die honde en die kraaie tot net die kaalgevrete bene oorgebly het.  Dit kon dae neem voordat iemand sterf aan ‘n kruis.  Die Jode het egter altyd teen die aand die dooies begrawe. ‘n Hoop lyke net buite die stad moes vir die Jode ‘n bitter aanstoot gewees het.

Bebloed en verswak het Jesus deur die strate gestrompel.

Sy “misdaad” is in Hebreeus, Grieks en Latyn geskryf.  Dit was die drie groot nasies van daardie tyd.  Saam moes hulle talente die wêreld ‘n beter plek gemaak het:  die Romeine met regering en administrasie, die Grieke met filosofie en kuns en die Hebreërs met die waarheid van God.

Jesus was the supreme beauty and highest thought of God.  In him was the law of God and the kingdom of God. In him was the very image of God. All the world’s seekings and strivings found their consummation in him.  It was symbolic that the three great languages of the world should call him king. [William Barclay]

Die opskrif bokant die kruis was ‘n irritasie vir die Jode.   Pilatus het dit met opset gedoen.  Die Joodse leiers het hom gevra om dit te verander.  Hy het geweier en gesê: Wat ek geskryf het, het ek geskryf. Hoewel sy woorde sterk was, het hy nogtans ‘n onskuldige man ter dood veroordeel.

Die soldate het altyd die klere van die gekruisigde gekry.  Gewoonlik was vier soldate nodig vir ‘n kruisiging.  Daar was meestal vyf items van klere – skoene, ‘n tulband, ‘n gordel, ‘n kleed en ‘n bokleed.  Hulle het met dobbelsteentjies die klere verdeel.  Die bokleed was moeilik verdeelbaar aangesien dit in een stuk geweef was en nie opgesny kon word nie.  Hulle het seker maar altyd dobbelsteentjies byderhand gehad om die ure om die kruis met ‘n speletjie te verwyl.  Hulle moes die liggaam bewaak ingeval iemand die persoon van die kruis afhaal of vinnig doodmaak om sy lyding te verkort.  Die soldate was dikwels dronkerig.  Die aanbeveling aan ‘n soldaat wat nog nooit iemand gekruisig het nie, was om alkohol byderhand te hou.

Hulle afsydigheid teenoor die wreedheid is skokkend.

Raak dit julle nie, julle almal wat met die pad verbygaan? Kyk tog self of daar ‘n smart is soos die smart wat oor my gekom het, wat die Here my aangedoen het die dag toe sy toorn losgebreek het. (Klaagliedere 1:12)

Die bokleed wat in een stuk geweef is, is presies soos die een wat die Hoë Priester gedra het.  Die funksie van die Hoë Priester was om die mense en God te verbind. Die Latyn vir priester is Pontifex, wat brugbouer beteken.  Dit is presies wat die kruis gedoen het; dit was die brugbouer na die teenwoordigheid van God.

Die verdeling van Sy klere is in Psalm 22:19 voorspel.

Daar was vier vroue by die kruis; drie van hulle met die naam Maria.  Jesus se ma en haar suster Salomé, Maria van Magdala en Maria die vrou van Klopas, wie se identiteit nie heeltemal seker is nie, hoewel sy in Matteus (28:1) en Markus (16:1) ook genoem word.

Dit was altyd gevaarlik om met die misdadiger geassosieer te wees. Die vroue se toewyding en liefde het hulle vrees oorkom.  Hulle was daar by Hom, in Sy teenwoordigheid tot op die heel einde.

Sy ma se teenwoordigheid is te wagte, hoewel nogtans ‘n risiko.  Sy ma se suster, Salomé was die ma van Jakobus en Johannes (Markus 15:40; Matteus 27:56).  Sy is die een wie oor haar seuns se posisie in Jesus se koninkryk gevra het.  Sy is deur Jesus tereg gewys. Nogtans vind ons haar hier by die kruis.  Dit wys op Jesus se volmaakte liefde waarin Hy ons korrigeer sonder om pyn, skande of vernedering te veroorsaak.

Maria van Magdala is die vrou wat in Markus 16:9 en Lukas 8:2 genoem word.  Jesus het sewe duiwels uit haar gedryf.  Hy het haar lewe gered.

Selfs daar aan die kruis, vergeet Jesus nie Sy verpligting as die oudste seun nie.  Hy maak voorsiening vir die versorging van Sy ma en vra Johannes, sy neef en getroue volgeling om na Sy ma om te sien.

Johannes se teenwoordigheid spreek ook van liefde wat vrees oorkom.  Dit was regtig braaf om daar saam met die vroue gesien te word.  Die groepie was daar toe meeste ander misdadigers alleen sou gewees het.  Jesus was hoegenaamd nie die gewone misdagdiger wat aan ‘n kruis sterf nie.

Jesus het gesê Hy is dors. Dit beklemtoon die versrkriklike pyn waarin Hy moes verkeer.  Sommige mense dink Jesus was ‘n spookagtige bonatuurlike mens, maar Hy was ten volle mens.

In Psalm 69:22 word die suurwyn voorspel: toe ek dors was, wou hulle my asyn laat drink.

 Hy het sekerlike bietjie water verwag, maar hulle het hom die gewone mengsel van suurwyn en gal gegee om die pyn te verlig.  Toe Hy dit proe het Hy dit geweier.

Die ander Evangelies noem dat Jesus met ‘n groot stem uitgeroep het toe Hy sterf.  Hulle sênie die woorde nie (Matteus 27:50; Markus 15:37; Lukas 23:46), maar Johannes wel. Jesus het nie in moedelose nederlaag gesterf nie.  Sy stem was sterker as wat mens van ‘n sterwende man sou verwag.

Die woorde: dit is klaar is een woord in Grieks = tetelestai.  Dit beteken ook uitroep.  Jesus is dood toe die prys betaal is.  God het gesê dit is genoeg.  Hy het Sy kop teruggeleun asof Hy in ‘n rus ingaan nadat Sy werk gedoen is.

DIE GRAF

Die Romeine het nie liggaam van ‘n gekruisigde begrawe nie.  Soms het die lyk vir dae aan die kruis gehang.  Daarna is dit vir die honde en die kraaie op ‘n ashoop gegooi. Die Jode het die aand van die dag van dood begrawe (Deuteronomium 21:22-23).

Die dag na die kruisiging was die Sabbat. Die begrafnis moes voor sononder gebeur.  Soms het die Romeinse soldate die sterwende se bene gebreek sodat hulle gouer sterf.  Hulle het dit gedoen met die twee misdadigers wat weerskante van Jesus gekruisig is.  Toe hulle dit met Jesus wou doen, was Hy reeds dood.  In Numeri 9:12 word dit gesêdat nie een been van die Paaslam gebreek sal word nie.

Om seker te maak dat Jesus wel dood is, het ‘n soldaat sy spies in Jesus se sy gesteek.  Daar het water en bloed uitgekom, ‘n seker teken van dood, maar ook die teken van ‘n baie siek man.  Hy het letterlik ons siekte ook op Hom geneem.  Nog ‘n profesie sou vervul word:

Maar oor die koningshuis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem bring Ek ‘n gees van welwillendheid en van berou: hulle sal na hom kyk vir wie hulle doodgesteek het en hulle sal oor hom treur soos ‘n mens treur oor ‘n enigste kind, hulle sal oor hom huil soos ‘n mens oor ‘n oudste seun huil. (Sagaria 12:10)

Sommige van die kommentare skryf oor die moontlikheid dat Jesus letterlik van ‘n gebroke hart gesterf het.  Wanneer die hart bars, meng die bloed met die vloeistof om die hart.  Water en bloed het uitgekom toe hulle Hom steek.

Johannes was ooggetuie van alles. Dit is die simbool van waterdoop en die bloed wat red.

Die dissipels was arm en ‘n ordentlike begrafnis was vir hulle buite die kwessie.  Twee mense het na vore gekom.

Josef van Arimitea was ‘n lid van die Sanhedrin en ‘n dissipel van Jesus.  Hy het sy dissipelskap in die geheim uitgeleef maar nou onbeskaamd na vore getree.  Nikodemus was die nagtelike besoeker van Jesus (Johannes 3), ‘n Fariseër en ‘n lid van die Sanhedrin.

Beide van hulle is met opset uit die groep gelaat wat in die nag in die huis van die Hoë Priester vir die verhoor van Jesus vergader het.  Die Sanhedrin het nooit in die nag ontmoet nie.  Die Hoë Priester het dus die verskoning gebruik om te sê dat die dringendheid van die verhoor  buitengewoon was en dus nie vir al die lede nie.  Hy het heel moontlik geweet hy teenstand van hierdie twee lede sou gehad het.  Die duistere werke van die Raad moes onder die bedekking van duisternis plaasvind.

Josef het onbeskroomd die Romeinse owerhede genader vir toestemming om Jesus van die kruis af te haal.  In Sy dood het Hy mense na Hom getrek (Johannes 12:32).

Twee prominente leiers het hulle reputasie en status in die gemeenskap oorboord gegooi om Jesus met hulle gesag en welvaart te eer.

Dikwels konfronteer die dood ‘n mens met die basiese beginsels wat die lewe bepaal.  Oppervlakkigheid maak plek vir erns.

Die dood is ‘n intieme ondervinding met God in die onsienlike.  Jesus het teruggetree in die onsienlike van waar Hy gekom het.  Drie dae…

 

 

185. Die verhoor van Jesus – Pilatus en Herodus.

[John 18:28-40 en 19:1-16 – Deel 2]

Pilatus was altyd ‘n tragiese figuur in die gebeure rondom die dood van Jesus. Ek moet seker nie simpatie vir hom hênie, want hy was ‘n wrede en harde man met geen respek vir lewe nie. Tog kan mens hom beter verstaan in die lig van die magtige, arrogante wêreldryk waarin hy gebore is en gekies het om te dien. Sy vrae aan Jesus was so dat mens sou dink daar is ‘n fluister-verlange na iets meer en ‘n amper ongeduldige besef dat hierdie man Jesus wel meer is as wat die Jode en die skare Hom uitmaak.

Pilatus wou verantwoordelikheid ontduik. Niemand kan dit eitnlik met Jesus regkry nie. Elke persoon as individu is met die persoon Jesus gekonfronteer. Sy bestaan vereis ‘n keuse om te aanvaar of te verwerp.

Pilatus wou die situasie ontsnapen ‘n gevangene vrylaat wat die skare se haat sou ontlont. Hy kon dit nie regkry nie.

Pilatus wou ‘n kompromie aangaan. Hy het Jesus laat martel om die vonnis te vermy. Niemand kan ooit die onvermydelike vermy. Hy was verbaas dat Jesus die marteling oorleef het.

Hy het Jesus aan die skare se oordeel oorgelaat. Hy het nie die moed gehad om ‘n regverdige uitspraak te lewer nie.

Pilatus het die Jode geminag. Dit is moeilik om ‘n goeie heerser te wees as die beweegredes vir jou aksie arrogansie en trots is. Hy wou eintlik nie betrokke wees nie. Hy het Jesus oor Sy koninskap uitgevra en Jesus het hom gevra oor die bron van die gerug. Hy wou  Pilatus in gesprek intrek en sy hart raak. Pilatus het dit nie toegelaat nie.

Pilatus was nuuskierig op ‘n bygelowige manier.Hy was bang om die uitspraak te lewer. Sy onkunde oor God het vrees in hom gewek. Watter god? Waar het hierdie man in die bonatuurlike ingepas? Pilatus was heel moontlik huiwerig om selfs die Romeinse gode en hulle stories te glo.

Daar was wel een ding wat hom geroer het. Hy het oor waarheid gewonder.Hy het die afwesigheid van betekenis in sy eie lewe bespeur. Hy was bewus van sy eie beperkinge en gebrek aan wysheid. Hy was dalk ‘n suksesvolle Romeinse soldaat en amptenaar, maar hy het geweet iets kort. Het hy dalk vir ‘n oomblik gedink dat die bebloede figuur hier langs hom die antwoord op sy sielsverlange was? Hy het nie vir die antwoord gewag nie.

Die rol van Jesus in hierdie drama is kalm en in volle beheer ten spyte van sy liggaam in skok en pyn.

Hy bly die majestieuse dirigent van sy eie verhoor.Pilatus het besef dat Jesus in beheer is. Hy was nie die patetiese slagoffer van wreedheid nie. Pilatus het hom met respek behandel. Hy het geweet Jesus is anders en spesiaal.

Jesus praat met hom direk oor Sy koninkryk. Hy verduidelik nie. Hy praat die waarheid. Hy weet Hy gaan sterwe en spreek die boodskap van Sy koms onverwater en reguit uit. Elke jaar oor die Pasga was die atmosfeer gespanne. Daar was altyd ekstra Romeinse troepe in Jerusalem. Pilatus het ongeveer 3 000 soldate onder sy bevel gehad. As Jesus ‘n opstand sou aanmoedig, was daar ‘n bloedbad.

Jesus maak dit duidelik dat Sy koninkryk in die harte van die mense is, nie op aarde nie. Die oorwinning van Sy koninkryk was in liefde en met liefde.

Hy het gekom as ‘n getuie van die waarheid – die waarheid oor God en Homself. Jesus is die waarheid. Sonder Hom kry ‘n mens dalk ‘n onvolkome deel daarvan en gryp rond na brokkies van waarheid.

Jesus was fisies sterk. Die marteling met ‘n Romeinse sweep was onmenslik wreed. Een kommentaar verduidelik dit so:

‘n Man is vasgemaak aan ‘n paal sodat sy hele rug ontbloot was. Die sweep was ‘n leerband met stukkies lood en skerpgemaakte been. Die sweep het in die weefsel ingeskeur en stukke vel uitgeruk. Meeste mense het flou geword van pyn en sommige het mal geskreeu. Jesus het stil geword en dit verduur.

Pilatus wou die simpatie van die skare opwek en het die bebloede Jesus, na die marteling, aan die skare voorgehou. Hy wou steeds die vonnis uitstel.

Pilatus sê: Kyk die man. Die woord wat gebruik word is die Griekse woord wat normaalweg vir ‘n mens gebruik word – ho. Griekse skrywers het dikwels die woord gebruik vir die ideale mens, die hemelse of bonatuurlike mens.Pilatus is verbaas dat die marteling  Jesus nie doodgemaak het nie.

Pilatus sêdat hy die mag het om Hom dood te maak of vry te laat.Jesus sêdat Pilatus net die mag het wat aan hom gegee word om die plan van God uit te voer.

Jesus is stil voor die Hoë Priester (Matteus 26:63; Markus14:61). Hy is stil voor Herodus (Luke 23:9). Hy is stil voor die Jode wanneer hulle die aanklagte bring (Matteus 27:14; Markus 15:5).

Hy praat egter met Pilatus en antwoord al sy vrae. Al die mag en gesag van Rome, wat Pilatus verteenwoordig, het verdwyn voor Jesus. Pilatus verwoord die uitroep van sy hart na waarheid. Sy onsekerheid vreet hom op en laat ‘n merk op sy loopbaan.

Teen die einde van die gesprek is Jesus stil. Die gesprek het geen slotsom nie. Dit is ‘n donker dag inderdaad wanneer die Prins van die Hemel stil raak. Hy is bekend as die God wat praat(Jesaja 52:6).

As ‘n mens se denke so in sy eie doelstellings en blindheid opgesluit is, is God stil.

Pilatus het Jesus uitgelei in die Binnehof van Lithostrotos (Gabbatha in Aramees), geplavei met marmermosaïek waar die regterstoel (bema) gestaan het. Dit was voor die praetorium waar die goewerneur gewoon het en die magistrate gesit het om uitspraak te lewer.

Sommige kommentatore meen dat Pilatus spottend vir Jesus op die stoel laat sit het en die skare gevra het of hy Hom sal kruisig. Hy sou nooit die ironie verstaan dat Jesus eendag wel op die regterstoel sou sit nie.

Die SOLDATE

Die soldate het bevele uitgevoer, met spot en twyfel oor wat hulle doen daar onder mekaar. Hulle was heel moontlik halfdronk net om die wreedheid te hanteer.

Hulle het ‘n speletjie gespeel en die selfgeproklameerde koning sy koningskleed aangetrek, met ‘n kroon wat pyn veroorsaak. Hoe sou hulle besef dat hulle die koning van hulle eie lewens kroon?

BARABBAS

Johannes praat vlugtig oor hom. Dis net in die Evangelies waar die gewoonte genoem word om ‘n gevangene vry te laat in die tyd van die Pasga. Dit was sekerlik gemik op soveel politieke gevangenes onder die Jode wat van rebellie aangekla is. Barabbas egter, was ‘n bekende moordenaar en geweldenaar, ‘n figuur wat vrees opgewek het. (Matteus 27:15-26; Markus 15:6-15; Lukas 23:17-25; Handelinge 3:14.)

Sy naam beteken: Bar Abba – seun van die vader of Bar Rabban – seun van die rabbi. Hy kon ‘n swartskaap van een van die prominente godsdienstige families gewees het. Hy was meer as ‘n gewone rebel – hy was ‘n moordenaar.

Die keuse van die mense het hulleself gemerk tot in ewigheid. Hulle het die man van moord en doodslag gekies bo die man van liefde en genade.

Dwarsdeur die eeue word hierdie keuse weer en weer gemaak.

Niemand weet wat van Barabbas geword het nie. Natuurlik was hy een van die sondaars vir wie Jesus gesterf het. Ek het geen twyfel dat die liefde van God wat hom daardie dag vrygespreek het, hom sou volg totdat hy ondersoek instel na die Man wat so dramaties en direk in sy plek gesterf het en hom die kans van ‘n nuwe lewe gegee het. God se liefde wen altyd.

In Lukas (23:2) is dit duidelik dat Pilatus gedurende sy ondervraging van Jesus besef het dat Jesus uit Galilea kom. Dit sou Jesus onder Herodus se jurisdiksie plaas.

Die Herodus wat Jesus ontmoet was in Jerusalem op daardie stadium, hoewel hy oor Galilea geheers het. Hy was Herodus Antipas, dieselfde koning wat Johannes die Doper laat onthoof het ten gunste van die skone Salomé. Hy was nuuskierig oor Jesus en het gehoop om ‘n wonderwerk of twee te sien.

Antipas het sy eerste vrou, Phasaelis, geskei om met Herodias sy halfbroer se vrou, te trou. Johannes die Doper het die egskeiding en hertroue verdoem en Herodus Antipas het hom laat arresteer. Hy was beskikbaar in Herodus se gevangenis vir die dramatiese teregstelling sodat sy kop op ‘n silwer skinkbord aan Salomé en Herodias getoon kon word. Herodus was ‘n tetrag (hy het oor ‘n kwart van Palestina regeer) en het in ‘n grensdispuut met sy skoonpa beland (die vader van die vrou van wie hy geskei het om met Herodias te trou). Die gevolg van die dispuut was ‘n oorlog en selfs Tiberius, die Romeinse keiser, het ‘n Romeinse teen-offensief beveel wat nie veel gehelp het nie. In 39nC is Herodus deur sy broerskind Agrippa 1 van sameswering teen Rome beskuldig. Hy is deur die Romeinse keiser Caligula na Gallië in ballingskap gestuur en hy en Herodias is daar dood.

Jesus is tjoepstil gedurende Herodus se spottende ondervraging. Jesus het sy oppervlakkigheid en geheime swakhede onderskei. Herodus was gewoond aan kompromie en sou enigiets doen om sy gemak en welvaart te beskerm.

Herodus het nie Pilatus gehelp om tot ‘n besluit oor Jesus te kom nie. Herodus stuur Jesus terug na Pilatus. Herodus het dalk gedink dat Pilatus Hom maar kan doodmaak want dit sal geen verskil aan sy eie lewe van voorspoed onder Romeinse gesag maak nie.

184. Die verhoor van Jesus.

[Johannes 18:28-40 en 19:1-16]  Deel 1.

Soveel boeke is al oor daardie nag geskryf. Die Evangelies en geskrifte buite die Bybel is deurgesoek na feite om die gebeure rondom die aanloop tot die teregstelling van Jesus toe te lig. Daar is geen twyfel oor die historiese Jesus en die impak van Sy lewe en dood in die Palestina van daardie tyd nie.. Die verhoor was sulke flagrante verwronge geregtigheid dat baie Joodse geleerdes glad nie verstaan hoe so ‘n haastige, nagtelike verhoor kon plaasvind nie. Die verhoor van Jesus het die Sanhedrin, een van die oudste en mees respekteerde instellings in die Joods geskiedenis en regsprosedure, se reputasie blywend beskadig.

In die verloop van die nag was Jesus ses keer verhoor: drie maal voor Joodse owerhede en drie maal voor Romeinse siviele owerhede, Pilatus en Herodus. Pilatus het Jesus na Herodus gestuur omdat Hy as ‘n Galileër bekendgestaan het. Herodus het baie vrae gevra waarvan Jesus nie een geantwoord het nie. Herodus se reaksie was die spottende vernedering van Jesus, net om Hom weer na Pilatus terug te stuur. Pilatus het Hom onskuldig bevind in ‘n dramatiese publieke ritueel van simboliese handewas voor hy sy finale uitspraak lewer.

Die Jode het geen gesag gehad om iemand ter dood te veroordeel nie. Die Romeine moes oortuig word om die doodsvonnis uit te spreek. In die geval van die eerste martelaar in Handelinge 7, het die Joodse owerhede sake in hulle eie hande geneem en hom buite die stad gestenig soos van ouds, voor die Romeine op die toneel was. Joodse teregstelling was steniging. (Levitikus 24:16; Deuteronomium 17:7)

In Johannes 12:32 het Jesus so Sy eie dood voorspel:

En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek.” Dit het Hy gesê en daarmee ook aangedui op watter manier Hy sou sterwe.

Kruisiging was ‘n Romeinse teregstellingsmetode. Die Jode het Pilatus gebruik vir hulle eie doel.

Hulle het hulleself totaal oorgegee aan hulle eie haat en die sinnelose histerie van die skare met geen oorweging vir regeverdigheid en genade.

Hulle het selfs die respek vir hulle eie rituele oorboord gegooi. Die Pasga het vereis dat elke Jood seremonieel rein moes wees. Net om in Pilatus se kwartiere in te gaan het hulle onrein gemaak. Hy was ‘n heiden in hulle oë.

Die huis van ‘n heiden het heel moontlik suurdeeg gehad in ‘n tyd waarin hulle die Fees van die Ongesuurde Brood gevier het. Vir die Jode was hierdie tyd van die jaar die mees heilig en dit is juis in hierdie tyd dat hulle die Messias kruisig.

Wat is ons godsdienstige denke en gebruike? Is dit dalk moontlik dat ons so besig raak met kerkaktiwiteite en die gemaklike lewe dat ons liefde, vergifnis en genade vergeet? Watter aspekte van ons kerklewe demonstreer die vergifnis en liefde van God sodat dit aantreklik vir ongelowiges is?

Die Joodse leiers het die aantygings teen Jesus verdraai en gemanipuleer. Wat hulle aanbetref was Hy godslasterlik (Matteus 26:65). Pilatus sou nie op grond van so ‘n aanklag die doodsvonnis uitspreek nie. Hy sou dit afskryf as ‘n godsdienstige geskil. Daarom het hulle dit polities gemaak met rebellie in die aanklag ingebou en gesêHy sêHy is ‘n koning.

Hulle moes so blatant hulle eie waardes verraai om ‘n doodsvonnis te verseker. Skielik het hulle bely hulle geen koning behalwe die Romeinse Keiser het nie. Samuel het toentertyd toe die volk so vir ‘n koning gesmeek het, gesêGod is hulle koning en dat hulle baie onder ‘n aardse koning gaan ly. Die geskiedenis het sy profetiese uitspraak oor en oor reg bewys. (1 Samuel 12:12).

Met die vestiging van Romeinse gesag en belasting in Palestina, was daar ‘n bloedige opstand. Die Jode het verklaar dat God hulle koning is en hulle sal aan Hom alleen die tradisionele tempelbelasting betaal. Nou skielik was die keiser hulle koning? Wat ‘n skaamtelose verraad was dit nie. Pilatus was sekerlik stomgeslaan.

Pilatus: Sy gedrag is vreemd, om die minste te sê.  Hy moes sekerlike besef het dat die opgeblase aantygings van die Jode teen Jesus alles leuens was. Hy was diep beïndruk met Jesus. Hy wou Hom nie ter dood veroordeel nie – tog het hy!

Hy het elke moontlike kompromie probeer. Hy het geweier om die saak te hanteer en die voorstel gemaak om ‘n ander gevangene vir hulle vry te laat. Hy het Jesus laat martel. Tog het hy nie sy voet neergesit en die Jode hulle eie interne teologiese geskille laat oplos nie.

Ons weet dat hy ‘n pion in die plan van God was en dat hy totaal onbewus van sy rol in die verloop van gebeure was. Dit is nodig om ‘n paar feite te beskou om sy optrede beter te verstaan.

In 4vC is Herodus die Grote oorlede. Hy was ‘n Jood wat oor Palestina met Romeinse toestemming regeer het. Hy het baie foute gehad, maar kon relatiewe vrede oor die gebied handhaaf, terwyl hy baie grootse en ambisieuse argitektoniese projekte voltooi het. Met Romeinse goedkeuring het hy sy ryk tussen sy drie seuns verdeel. Twee van hulle, Antipas en Philip, het goed en stil voortgegaan.  Die jongste, Archelaus, was 18 jaar oud toe hy die troon oor Judea, Idumaea en Samarië, oorneem. Hy het so brutaal tirannies regeer, dat die Jode die Romeine versoek het om hom te verwyder en ‘n goewerneur oor hulle aan te stel.

In die Romeinse ryk was daar gebiede waar gestasioneerde troepe moes wees en ander wat stil en vredevol deur die senaat regeer is met ‘n groot mate van onafhanklikheid.

Palestina het troepe onder direkte beheer van die keiser nodig gehad. Groter provinsies soos Sirië het ‘n prokonsul gehad en kleiner provinsies is deur ‘n prokurator of goewerneur bestuur wat die militêre en regsbestuur hanteer het. Die prokurator het belasting ingesamel maar het geen gesag gehad om belastings te verhoog of vry te skeld nie. Hy was ‘n soort regter wat sake kon aanhoor en beslis en het een maal per jaar die verste uithoeke van die gebied besoek. Hy is ‘n salaris uit Rome betaal en is ten strengste verbied om enige geskenke of omkoopgeld te ontvang. Die bevolking kon hom by die keiser verkla.

Pilatus was die prokurator sedert 26nC en hy was in beheer tot 35nC. Daar was van hom verwag om met ‘n streng hand oor Palestina te regeer.

Pilatus het nie van die Jode gehou nie. Alle Romeinse soldate het ‘n standaard vlag gedra met die bors van die keiser of ‘n arend daarop. Die keiser was ‘n god vir die Romeine. Vorige goewerneurs het die bors van die keiser verwyder as hulle Jerusalem binnekom uit respek vir die Jode en hulle God. Pilatus het geweier en wou nie ingee vir die Jode se “bygelowe” nie.

‘n Groep Jode het hom terug na Caesarea gevolg en hom gesoebat om toe te gee. Hy het geweier, maar toegestem om hulle in ‘n amfiteater te ontmoet. Hy het hulle met soldate omring en gedreig om hulle te moor as hulle nie ophou kerm nie. Die Jode het almal neergekniel en hulle nekke ontbloot. Pilatus kon net nie sy dreigement deurvoer teen sulke ongewapende, onderdanige mense nie. Hy het toegegee. Dit het sy gesag verswak.

Jerusalem het water probleme gehad en Pilatus wou ‘n nuwe watertoevoerstelsel laat bou. Hy het nie geld gehad nie. Hy besluit toe om die oorvloedige tempelskatkis te gebruik. Hy het nie die geld gevat wat vir diere-offers of tempeldiens gebruik sou word nie; slegs die geld wat deur die priesters as onheilig verklaar is. Dit is Korban genoem. Die mense was woedend en het in die strate protes aangeteken. Pilatus het sy soldate in gewone klere onder die skare ingestuur en op ‘n sekere teken het hulle links en regs gemoor. Die insident het Pilatus in ‘n posisie geplaas dat hy by die keiser verkla kon word.

As Pilatus in Jerusalem besoek afgelê  het, het hy in Herodus se paleis gewoon. Hy het skilde vir die paleis laat maak met die naam van die keiser Tiberius daarop. Die skilde was ter ere van die keiser, maar omdat die keiser as ‘n god gereken is, het die Jode daarop aangedring dat hy dit afhaal. Hy het geweier. Die Jode het hom by die keiser verkla en die keiser self het Pilatus beveel om die skilde af te haal. Tiberius was een van die keisers wat homself in diens van Rome gesien het, en nie een van die wat hulleself as ‘n god gesien het nie.

Al hierdie insidente illustreer die atmosfeer en ingesteldheid rondom Pilatus. Hy was baie bewus dat sy reputasie alreeds baie skade gely het en dat hy maklik weer deur die Jode by die keiser verkla kon word. Dit het hom in ‘n moeilike posisie geplaas. Hy kon nie hulle wense weier sonder die risiko van ‘n vernedering in Rome nie.

Hy het Jesus ter dood veroordeel om homself te red.

Besef mens altyd dat jou dade aan die ewigheid grens?

Mag God sy waardes en doelstellings in ons harte inbrand sodat ons besluite deur die Heilige Gees bepaal kan word en dat ons optrede die hart van Jesus aan hierdie wêreld openbaar.