183. ‘n Eensame man, ‘n donker nag.

[Johannes 18]

Alles wat in die donker plaasvind is anders. Daglig verander die atmosfeer, die aard en die aktiwiteite van mense. Daar is spesifieke dinge wat in die dag gedoen word. Mense werk en eet saam, maar dis anders as wat mens in die aand vir ‘n ete bymekaar kom. Die aand het ‘n luukse, uitgerekte gevoel waar daar op ‘n ander manier gekuier word. Dink maar aan die kleredrag wat verskil in die dag en aand. Aanddrag is nooit reg in die dag nie. Daar is aktiwiteite van die lig wat in die donker plaasvind. Feeste van liefde en lewe is vol goeie kos en drank om vreugdevolle gaste te bederf.

Daar is ook ander aktiwiteite wat in die donker plaasvind, meer vir die bedekking en beskerming van die donker. Kriminele aktiwiteite vind gewoonlik in die donker plaas. Die nag kan positief en negatief wees. Duisternis word gewoonlik met donker dade en verkeerde dinge assosieer. God word nie met duisternis verbind nie, maar ons weet God is oral, selfs in die donkerste duisternis waar ‘n mens net boosheid sou verwag.

Die volk het op ‘n afstand bly staan, maar Moses het nader gegaan na die donker wolk waarin God was.(Exodus 20:21)

Prys die Here Hy is oral. Hy sal ons nooit verlaat nie, selfs al is die nag meer boos en donker as ooit. Jesus het sy eie duistere nag ervaar, toe die arrestasie in die Tuin van Getsemané opeindig in die portaal van die hoë priester se huis met ‘n konfrontasie van verwronge regspleging.

Petrus se rol in hierdie metaforiese donker nag – onthou dat dit in werklikheid ‘n volmaannag moes gewees het, so naby aan die Paasfees – word in twee gedeeltes hier in Johannes 18 genoem. . (18:15-18 en 18:25-27)

Petrus het nie gevlug toe die ander dissipels weghardloop nie. Hy het, seker op ‘n veilige afstand, Jesus gevolg tot by Kajafas se huis, saam met ‘n ander dissipel wie se naam nie genoem word nie. Dit was ‘n besondere dapper ding om te doen.

Daar is baie bespiegeling oor die ander dissipel. Meeste kommentare stem saam dat dit Johannes is. Hoe kan ‘n gewone visserman bekend wees  met die hoë priester?

Johannes se pa het ‘n florerende visbedryf gehad, soveel so dat hy mense ingehuur het om te help (Markus 1:20). Een van die groot Galilese industrieeë was soutvis. Dit was onmoontlik om vars vis in die hitte te vervoer. Soutvis was deel van die stapeldieet van Palestina. Dit kon gewees het dat Johannes se pa een van die verskaffers van vis na die huis van die hoë priester was en dat Johannes self van die aflewerings hanteer het. Daarom was hy bekend met die personeel in die huis. So het hy en Petrus die nag binne die mure van die huis beland waarvandaan hulle op ‘n afstand die gebeure kon dophou.

Hier in die binnehof is Petrus drie maal gevra of hy Jesus ken. Dit is duidelik dat dit terloopse opmerkings op grond van sy aksent was en nie van soldate of enige gesagsfigure nie. Eenkeer het ‘n slawemeisie ‘n opmerking gemaak. Hy ontken dat hy Jesus ken – drie keer. (Lukas 22:55-60)

Volgens die reinheidsregulasies in Jerusalem was dit nie toeglaat om hoenders in die stad aan te hou nie, hoewel dit nie seker was of hierdie regulasie in hierdie tyd nagekom is nie. Die stad was dig bevolk en daar was nie plek vir tuine. Die Romeine het die stad bewaak en elke drie ure het die wag verander. Die nag is in vier skofte van drie ure elk verdeel. Drie uur in die oggend het die Romeinse trompet die verandering van die wagte aangekondig en dit was bekend as die haankraai. Almal het dit geken en Petrus het dit gehoor. Hy het onthou wat Jesus gesê het.

Petrus se verloëning van Jesus was al die onderwerp van soveel preke en kommentare. Petrus wou Jesus ondersteun en by Hom wees. Hy het sy swaard getrek teen ‘n oormag in die Tuin. Daar in die binnehof van die hoë priester was hy in ‘n situasie wat hom blootgestel het om sonder omhaal ook gearresteer te word. Hy het dalk gefaal in moed, maar hy was daar waar die ander nie eers naby was nie.

Petrus het Jesus liefgehad – sonder twyfel. Hy was daardie nag in daardie situasie as gevolg van sy liefde en lojaliteit.

Petrus is gered. Sy storie van verloëning en mislukking het bekend geraak en hom sekerlik baie vernederd laat voel. Maar Petrus het nie van sy familie in Jesus gevlug nie. Hy het teruggevlug na waar die ander agter geslote deure gesit en vrees het. Daar het hulle gewag totdat hulle die tyding van Sy opstanding gekry het.

Jesus was bewus van Petrus daar in die binnehof. ‘n Mens sou dink dat Jesus se kyk was ‘n “ek het jou mos gesê” – verwyt. Dit was onmoontlik dat dit so iets sou kon wees. Dit is nie Jesus se karakter nie. Jesus se oë het Petrus gered. Sy kyk was die Bron van God se liefde en het Petrus se siel vasgebind in die wonderliefde van Sy meester. Sy kyk het Sy liefde en vergifnis gekommunikeer in ‘n nag waarin Petrus bitter spyt en nederlaag moes hanteer.

Jesus het ons lief ten spyte van ons nederlaag en mislukking. Hy hou ons veilig in ons donkerste nag. Hy herstel ons vreugde. Hy vergewe ons sonde – altyd.

In ons donkerste nag kan ons opkyk in die oë van Jesus. Dit is die behoudenis vir ons siele.

Hier is ‘n belangrike aspek van hierdie nag wat vir my ‘n besondere les is. Jesus het Petrus gewaarsku dat dit sou gebeur. Dink ons nie dikwels ons sou beter gereageer het as die situasie nie so onverwags was nie? As ons net bietjie meer voorbereid in ‘n situasie kon ingaan, dan kon ons met wysheid en kalmte reageer.

Petrus het genoeg tyd gehad om “voor te berei”. Hy het dit afgemaak en gedink Sy lojaliteit en liefde vir Jesus sal hom deurdra. Die waarskuwing van Jesus het Petrus nie in staat gestel om sy nederlaag te ontduik nie. Hy het in die lokval getrap en in paniek en vrees gevlug.

Sing saam die ou lied:

Turn your eyes upon Jesus

Look full in His wonderful face

And the things of the earth will grow strangely dim

In the light of His glory and grace

Onthou ook dat Petrus presies geweet het wie Jesus eintlik is. Sy openbaringskennis wat die Vader aan hom in ‘n oomblik van diep insig duidelik gemaak het (Matteus 16:13-20), was sy behoud.

Die bonatuurlike openbaring van wie Jesus is en Sy liefde vir ons, is die onderbou van ons geloof en sal ons bewaar in ons donkerste oomblikke. Petrus se grootse lewe as apostel van Jesus wat die boodskap uitdra, op Pinksterdag drieduisend mense tot bekering preek en ‘n kragtige bediening van genesing en redding leef, reduseer hierdie nag se gebeure tot ‘n stap van vergifnis en herstel in sy verhouding met Jesus.

 

Volgende keer bespreek ons die dramatiese verhoor van Jesus in Johannes 18:28-40 en 19:1-16.

 

182. Mans in die nag.

[Johannes 18]

Ons het gekom by die begin van die einde van die invloedrykste lewe in die ganse geskiedenis. Dit was die begin van die ondenkbare; ‘n kruisdood wat die mens van daardie tyd en daarna radikaal beïnvloed.

Aan die einde van die laaste maaltyd saam, het Jesus en sy dissipels die bovertrek verlaat en uit die stad gestap na die tuin van Getsemané. Die tuin was in die vallei van die Kedron-spruit geleë. In hierdie stroom het die bloed van die paaslammers gevloei wat by die Tempel geslag is.

Aan die voet van die Olyfberg was die klein tuintjie. Getsemané beteken oliepars. ‘n Aantal welgestelde burgers van Jerusalem het hier privaat tuine gehad. Jerusalem was dig bevolk en die seremoniële voorskrifte het grond en bemesting binne die stadsmure verbied.

Besoekers aan Jerusalem ervaar ‘n kleinerige tuintjie met omtrent agt olyfbome wat so oud lyk dat hulle stamme soos steen lyk. Dit is nie heetemal seker dat hierdie die oorpronklike bome van die tyd van Jesus is nie, maar hulle is minstens so oud soos die Islam-tyd in Jerusalem, maar die grond onder hulle, was die grond waar Jesus geloop het en gekniel het.

Dit is duidelik dat ‘n welvarende vriend van Jesus vir Hom ‘n sleutel van die tuin gegee het en Hy dit as ‘n stil wegkomkans kon gebruik. Hierdie nag het Hy dit nodig gehad. Judas het dit geweet en die arrestasie so beplan.

Johannes praat van ‘n afdeling soldate en Tempelwagte wat met fakkels en wapens na die tuin toe gekom het. Die Tempel het ‘n polisiediens gehad wat die orde gehandhaaf het en die Sanhedrin (die Joodse raad van 70) se opdragte uitgevoer het. Daar was ook ‘n band of cohort van Romeinse soldate betrokke. Die Griekse woord wat vertaal word met afdeling is speira. Dit het drie betekenisse.

In Rome was dit of 600 soldate of 1000 bystandswagte (240 van hulle op perde) of soms het dit verwys na 200 soldate.

As mens sou aanvaar dat die woord die minste moontlike hoeveelheid soldate beteken, was dit nogtans ‘n oormag om ‘n eenvoudige, rondloop-prediker van Galilea in hegtenis te neem. Dit is duidelik dat die owerhede ‘n mini-oorlog te wagte was en baie bang was vir die invloed van Jesus op die mense. Dink net hoe vredevol en kalm die arrestasie plaasgevind het. Jesus self was ten alle tye ten volle in beheer.

  • Jesus was braaf. Hulle het met fakkels gekom asof hulle in donker hoeke sal moet soek. Dit was Paasfees en daarom volmaan, so dit was eintlik ‘n verligte nag. Jesus het nie weggekruip nie. Hy het Homself aangekondig en die self die proses begin.

 

  • Jesus het die gesag gehad. Sy woorde het die mense laat omval. Sy Woord het nog steeds dieselfde uitwerking.

 

  • Jesus het self gekies om te sterf. Hy het Homself oorgegee om gekruisig te word. Dit het Judas paniekerig gemaak, want hy het ‘n wonderwerk verwag en gehoop dat Jesus die Romeine konfronteer. [Bodemklippe 173]

 

  • Jesus het Sy dissipels beskerm. Hy het Homself aangekondig om sy vriende te red.

 

  • Hy was ten volle gehoorsaam- Hy het “die beker” gedrink.

 

Petrus het sy swaard getrek – hy wou veg. Hy was selfs bereid om daar en dan te sterf om sy Meester te verdedig, want hy moes die oormag voor hom sien. Petrus was een van die leidende figure van daardie nag. Meer oor hom later.

Eerstens, die owerhede.

ANNAS (18:12-14 and 19-24)

In beide die gedeeltes hierbo is Jesus voor Annas gebring. Net die Evangelie van Johannes stel dit so. Annas was die mag agter die troon van die hoëpriester. Hy self was hoëpriester van 6-15nC. Vier van sy seuns het as hoëpriester gedien en Kajafas was sy skoonseun.

Daar was ‘n tyd wat die amp van die hoëpriester lewenslank gehou is, maar dit klink asof hier ‘n rotasie-sisteem in werking was. Kajafas was daardie jaar hoëpriester. Die hoëpriester moes nou saam met die Romeine werk te midde van intrige, korrupsie en omkopery. Annas se familie was ryk en invloedryk. Hulle het geweet hoe om die pos te manipuleer.

Die geldwisselaars en handelaars in die Tempelvoorhof was in diens van die hoëpriester. Die hoë winsmarges het Annas ryk gemaak. Jesus was woedend hieroor. ‘n Mens kan jou voorstel wat Annas se reaksie op Jesus se Tempelwoede en sy toutjiesweep skoonmaakprosesse was. (Matteus 21:12, Markus 11:15, Johannes 2: 14,15) Die winkels daar in die voorhof van die Tempel het bekend gestaan as die basaars van Annas. Hy was berug.

Jesus is voor Annas gebring. Sy Tempel skoonmaak-episode het Annas direk geraak en Annas was die eerste een om Hom te konfronteer.

Die ondervraging voor Annas was ‘n bespotting van die regsproses. ‘n Doodsvonnis kan nie op grond van ‘n persoon se eie getuienis opgelê word nie. ‘n Aangeklaagde kan homself nie inkrimineer nie. Jesus sê vir Annas om die mense te vra wat Hy gedoen het en nie aan hom persoonlik die vrae te stel nie. Hy wou eintlik sê: hanteer die regsproses korrek.

Een van die offisiere het Jesus in die gesig geslaan. Hy wou die hoëpriester se status beskerm en het gedink Jesus se antwoord is nie respekvol nie. Hoe kan ‘n skrynwerker van Galilea vir die hoëpriester kom vertel hoe om die saak te hanteer. Jesus vra die soldaat of Hy enigiets verkeerd gedoen het.

Jesus het geweet dat daar nie sprake van ‘n regverdige verhoor sou wees nie. Hy is veroordeel voordat Hy verhoor is. Hy moes ge-elimineer word sodat hulle met hulle gemaklike lewens kon voortgaan. Wie het werklik omgegee of een misdadiger regverdig behandel word?

‘n Eenvoudige webnavraag gee baie inligting oor die Sanhedrin. Dit was die hoogste hof van die Jode met streng riglyne oor die funksionering daarvan. ‘n Verhoor soos hierdie moes nooit in die nag plaasgevind het nie. Die nagtelike verhoor was ‘n strategie van Annas en Kajafas om die ondersteuners van Jesus in die Sanhedrin, soos Nikodemus en Josef van Arimitea te uitoorlê.

Jesus is na Pilatus gestuur op grond van Sy eie woorde. Geen getuies kon gevind word nie. Die getuies wat deur die owerhede opgesteek is, kon nie saamstem nie. Die verhoor was flagrante diskriminasie teen Jesus.

So verloop die gesprek volgens Lukas. (22:67-71)

Hulle sê toe: “As jy die Christus is, sê dit vir ons.”

Maar Hy antwoord hulle: “Al sou Ek dit vir julle sê, sal julle tog nie glo nie; en al sou Ek vir julle ‘n vraag stel, sal julle ook nie antwoord nie.

 Maar van nou af sal die Seun van die mens aan die regterhand van die almagtige God sit.”

 Toe vra hulle almal: “Dan is jy die Seun van God?” Hy sê vir hulle: “Dit is soos julle sê: Ek is!”

 Daarop sê hulle: “Waarvoor het ons dan nog getuienis nodig? Ons het dit mos uit sy eie mond gehoor!”

Daar by Pilatus het die Joodse leiers hom gevra om Jesus tot die dood te veroordeel omdat Hy gesê het Hy dat Hy die koning van die Jode en daarom ‘n bedreiging van Romeinse gesagstrukture is.

In al vier die Evangelies word Petrus se verloëning van Jesus daardie nag beskryf. Dit bespreek ons volgende keer.

 

 

 

181. Woorde van glorie en waarheid.

[Johannes 17]

Reg aan die begin van die studie van hierdie Evangelie, het ons in verwondering gestaan oor die idee van ‘n woord wat ‘n mens word. Laat my toe om Augustinus se aanhaling te herhaal: In everything I ever knew about the world, everything I read and regarded as worth studying, I had never heard of a word becoming a man.[Bodemklippe 133]

As ‘n woord vlees word, dan moet ons hard en diep oor die krag van woorde dink. God het met woorde geskep en die ondenkbare in bestaan geroep. Profesie, Heilige Gees-inspireerde woorde, spreek die hart en gedagtes van God uit, vandag net soos in die verlede. Dink net aan die magtige uitsprake van die profete en Psalmskrywers van ouds, wat oor eeue ons bygebly het en oorwinning en wonderwerke van geloof in ons gewerk het.

Aanbiddingswoorde besing die karakter van God en bring die teenwoordigheid van die Almagtige in ons atmosfeer in. As ons God in ons wêreld in praat dan bou ons op, ons bemoedig, kalmeer, genees en spreek die wonderkrag van die onsienlike om ten goede te transformeer. As ons skinder, jaloesie, wellus, gierigheid en hoogmoed uitspreek, nooi ons die verwoesting van boosheid in ons lewe en dit beïnvloed almal om ons.

Woorde wat ons uitspreek is ooreenkomste met die kragte van die onsienlike wereld.  Woorde van belydenis sal ons innerlike mens genees. Woorde van vergifnis sal ons denke bevry sowel as die lewens van diegene wat ons te nagekom het. Woorde van feesviering sal ons jaloesie oorwin en gebede van dankbaarheid oor God se werk in ons lewens word.

Hoe ons kyk bepaal ons woorde. Ons eie perspektief kan ons verslaan, voordat ons nog die dag aanpak. Jesus het so dikwels oor die oog gepraat. Kom ons kyk na een van Sy uitsprake oor hoe jy kyk.

“Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog goed is, sal jou hele liggaam lig hê. Maar as jou oog sleg is, sal jou hele liggaam sonder lig wees. As die lig in jou donker is, hoe donker moet dit dan nie wees nie!” (Matteus 6:22,23)

Dit laat mens dink aan hoe jy praat. Jesus het ook gesê:

Maar wat by die mond uitkom, kom uit die hart, en dít is die dinge wat die mense onrein maak. Uit die hart kom slegte gedagtes: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, vals getuienis, kwaadpratery.  Dít is die dinge wat ‘n mens onrein maak… (Matteus 15:18-20)

Ons walglike en gemene woorde, wat uit ‘n donker hart met verkeerde perspektief kom, word ooreenkomste met die duisternis wat verwoesting en verderf in ons lewe innooi.

In die lig van hierdie begrip van wat ons woorde werklik skep, laat ons met oorgawe luister na die woorde wat Jesus vir ons bid.

Hoor, Bodemklipvriend, luister en leef!

Hierdie verse is wonderbaar. (Johannes 17:9-19)

As ons die volle betekenis van hierdie woorde begryp, het ons ‘n hemelse bestaan hier op aarde.

Ons is deur die Vader aan Jesus gegee. Die Heilige Gees roer ons harte om Jesus aan te neem. (Johannes 6:37,44)

In ons lewens, die dissipels van Jesus, verheerlik ons Jesus. Ons redding is Sy glorie. Ons opdrag van Hom is om die wêreld te leer van sy Vader, ‘n liefdevolle God wat red.

Ons is die instrumente van God in aksie.

Sit dit nie jou lewe in ‘n nuwe perspektief nie? Bring jou omstandighede voor Hom en “sien” hoe God dit uitwerk volgens Sy plan en tot Sy eer.

Jesus bring volkome vreugde, terwyl Hy waarsku hoe ‘n skerp kontras hulle (die dissipels en ons) se lewens met die wêreld rondom hulle sal wys. Dit maak nie saak hoe erg ons stryd is nie, by Hom is daar vreugde.

Jesus sê dat alles wat aan sy Vader behoort, syne is. Hy verklaar Sy volmaakte eenheid met Sy vader. Jesus is die inkarnasie van God self.

Hy bid verder vir Sy dissipels.

Daar is nie ontvlugting uit die wêreld nie, maar daar is oorwinning in die stryd. Ons begrawe onsself nie in kloosters en afsondering nie. Ons lewe die Christen-lewe in die rowwe oseane van boosheid. Ons sonder af in gebed en meditasie om kragtig in die storm te wees. Ons is God in aksie in die wêreld.Ons word nie vrygestel van probleme nie; ons is die oplossing van probleme in Christus.

Ons verwerp nie die wêreld nie, ons skryf dit nie af nie, ons wen dit terug.

Jesus bid vir eenheid.

Verdeeldheid impliseer eksklusiwiteit. Eenheid is ‘n besluit. Ons kan nie eenheid “voel” nie. Ons word een gemaak. Ons verander en leef uit God om onvoorwaardelik lief te hê, om te vergewe en in te sluit. Die Heilige Gees in ons onderskei die geeste, om te weet wat  demoniese misleiding en onenigheid is.

Die eenheid waarvoor Jesus bid is nie organisatories of administratief nie. Dit is die eenheid in persoonlike verhouding, die liefde in ons harte in die gesprek met Hom wat nooit ophou nie, wat ons verhoudings met ons medemens kragtig beïnvloed.

Kerke is georganiseerde godsdiens en kan verskil soos die wye verskeidenheid van mense op aarde, almal deur God geskape. Mense is so verskillend, die verskille verstom my. God se skepping is nooit stil nie, nooit stilstaande nie en altyd groter as wat ‘n mens verstaan. Slegs in liefde kan ons die groot verskille tussen denominasies oorkom. Die kerk is ‘n misterie. Dit is die Koninkryk van God en Hy regeer soewerein daaroor. Ons kan nie alles verklaar nie.

Dit is na alles meer menslik om verdeeld te wees; heel natuurlik om vyandig te wees. Die eenheid van die kerk van Jesus (nie ‘n denominasie nie) sal die bewys van God se werk in ons harte wees. Ware eenheid kan net bonatuurlik verklaar word.

Hy bid vir beskerming teen die aanvalle van die satan. Die Woord, die Bybel soos ons hom in ons hande hou, verduidelik al die strategieë van die duiwel. Ons vyand is nie kreatief nie. Hy kan nie nuwe maniere van verleiding en misleiding uitdink nie. Hy kom skelm en agterbaks met dieselfde goed oor en oor. Leer hoe hy werk en hoe om te veg. Leun op die beskerming van hierdie gebed.

Hy bid vir heiligmaking deur die waarheid.

Heiligheid is hagiazein in Grieks. Dit beteken apart of verskillend. Ons word afgesonder vir ‘n spesifieke doel.

Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel. (Jeremia 1:5)

Heiligmaking beteken ook om toegerus te word met die noodsaaklike vaardighede en toerusting vir die taak.

Jesus sal ons nie los nie. Hy gee ons alles wat ons nodig het om te oorwin.

In Johannes 17:20-26 gaan die gebed verder. Hy bid vir Homself en die kruis.

Hy bid vir die dissipels en die verre toekoms, die tyd wat voorlê en almal wat tot geloof in Hom sal kom. Dit is ONS!

Jesus het hoop en geloof in die toekoms gehad. Daar is nooit ‘n onsekerheid in Hom oor die toekoms nie. Hy het Sy vader vertrou en Hy het Sy missie aan die mense daar om Hom oorgelaat met vertroue en hoop. Hy het geweet dat hulle nie die volle implikasie van die grootse taak besef nie. Nogtans was Hy seker van sukses. Hy het geweet Sy vader sal hulle toerus en oppas en so ook almal wat na hulle sou kom.

Jesus gee aan ons God se glorie – dit is verstommend!

Die kruis was Jesus se glorie. Dit was Sy eer om te ly. Dit was nie die straf vir sonde nie. Dit was Sy manier om glorie oor boosheid te laat triomfeer. Enige sjirurg wat met moeilike operasies lewens red, ontvang groter erkenning as die dokter wat net ‘n voorskrif uitskryf.

Volkome gehoorsaamheid is Jesus se glorie. Om die wil van God te doen is ons glorie. Ons eie wil lei ons na hartseer en tragedie. Sy wil lei na oorwinning.

Jesus se glorie het gekom uit Sy verhouding met Sy vader. Ons verhouding met Jesus is die bron van ‘n glorieryke lewe. Ons lewe skyn Jesus se glorie. Onthou glorie is die substansie of volle “gewig” van alles van God – Sy aansien, eer, glans, prag en praal, Sy krag, gesag, rykdom, waardigheid en uitnemendheid. Sulke woorde is maar net ‘n karige poging om met woorde God te probeer beskryf.

Jesus sêdat Sy dissipels (ons ingesluit) Sy glorie in hemelse plekke sal sien.

Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ‘n plek in die hemel gegee.  (Efesiërs 2:6)

Ons deel die lyding van die kruis in hierdie wêreld, maar ook die glorie van die oorwinning oor die dood.

Dit is ‘n betroubare woord: As ons saam met Hom gesterf het, sal ons ook saam met Hom lewe; as ons in die geloof volhard, sal ons saam met Hom regeer; as ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën; as ons ontrou is – Hy bly getrou: Hy kan Homself nie verloën nie(2 Timoteus 2:11-13)

Dit is ons vreugde – ons sien die hemel reeds nou in die persoon van Jesus en ons verhouding met Hom.

Nou kyk ons nog in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken. (1 Korintiërs 13:12)

Hierdie gebed was die laaste woorde van Jesus voor die verraad en die kruis. Kosbare laaste woorde van die grootste van alle mense.

Woorde van glorie en waarheid – woorde vir die lewe – woorde wat ons en ons toekoms verander.

 

 

180. Die gebed vir alle tye.

[Johannes 17]

Ons het aan die einde van die lang opsommings van Jesus se gesprekke met Sy dissipels gekom. In hierdie hoofstuk bid Hy vir hulle. Dit is merkwaardig dat Johannes hierdie gebed in soveel detail neerskryf. Dit is duidelik dat Jesus se woorde ‘n groot indruk op hom gemaak het. Die gebed het deel gevorm van die kosbare woorde van Jesus wat hy in sy hart bewaar het.

Ons weet ook dat die Bybel onder die inspirasie van die Heilige Gees geskryf is en dat die Gees herinneringe verfris, sodat Johannes dit kon neerskryf. Ons vertrou die Woord van God ten volle. Die Skrif is ‘n openbaring van wie Jesus is en in Hom sien ons die hart van die almagtige Vader sowel as alles wat ons nodig het om ‘n lewe van oorwinning hier op aarde te leef.

[Ek verwys weer na die uitgebreide navorsing oor die wonder van die Bybel van Josh McDowell in sy boek: Evidence that demands a verdict.]

Terug by Johannes 17.

Dit is die gebed vir alle tye wat oor eeue strek om ons hart te raak, om ons te inspireer en te bemoedig. Dit is Jesus self wie vir ons bid.

Kan jy net vir ‘n oomblik stil word en jou verbeelding gebruik om hierdie grootse waarheid ‘n werklikheid te maak? Dink aan Jesus langs jou, Sy hand op jou skouer in gebed. Dit is moeilik om ‘n prentjie te “maak”, maar ek is ‘n visuele persoon en het ‘n geloofsprentjie nodig. Ek dink aan Jesus as die mooi mens wat ek in my Kinderbybel so lank gelede leer ken het. Ek “sien” Hom dikwels iewers in my huis by my sit. Hierdie oomblik “sien” ek Hom opkyk en sê, Vader ek lig Ansophie voor U troon op. Net om hier te sit en dit te skryf, is oorweldigend.

Dit is belangrik om te weet dat Jesus wil hê dat alle mense gered word. Hy bid vir jou!

So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mensen gered word en tot kennis van die waarheid kom.(1 Timoteus 2:3,4)

Die klimaks van Jesus se lewe was die kruis.

Die geskiedenis bewys dat ‘n hele aantal mense se dood aandag getrek het. Hoe en wanneer hulle gesterf het, het hulle oortuigings bewys. Daar by die kruis het die Romeinse soldaat in ‘n oomblik van dramatiese oortuiging uitgeroep. Jesus was ‘n magneet vir mense in Sy lewe, maar ook in Sy dood.

Die kruis was die voltooiing van Sy werk op aarde. Hy het bewys dat daar geen beperking aan God se liefde is.

Hy het in volle gehoorsaamheid die kruisdood gesterf. Die kruis was nie die einde nie. Die opstanding was die volle glorie van die Vader. Die mens het sy wreedste en slegste uitgehaal en God het die grootste oorwinning oor boosheid ooit, daaruit laat voortkom.

Jesus praat oor die ewige lewe.

Die Grieks is aionios wat nie net voortdurende lewe aandui nie, maar eerder die kwaliteit van lewe. Net God kan die ewige lewe bewerkstellig en daarom is die gawe van die ewige lewe ‘n God-lewe, reeds hier op aarde voor die dood.

Om God te ken was een van die hooftemas in die Ou Testament. Kennis van God was die hoogste lewensdoel.

Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.(Spreuke 3:6)

Soos waters die seebodem bedek, so sal die magtige teenwoordigheid van die Here oral op die aarde geken word.(Habakkuk 2:14)

So sê die Here vir Israel: Vra na my wil, dan sal julle lewe! (Amos 5:4)

Intellektuele kennis van God sal wys hoe God is. Dit kan al die verskil maak. Die mees primitiewe mense het geglo dat daar ‘n versameling gode in elke boom, rivier, berg en rots is. Al hierdie gode was vyandig en het vrees in die mense gewek. Die gode moes konstant met offers gekalmeer word. Sendelinge vertel van die groot verligting van mense wat een God aanvaar en hoor dat Hy goed en liefdevol is. Jesus is die wonder-voorbeeld van God se hart.

Om te ken beteken intieme kennis en is dikwels in die Bybel gebruik om seksuele omgang aan te dui (Genesis 4:1). Kennis tussen ‘n man en vrou is die mees intieme. Hulle word een vlees. Een vlees impliseer ‘n eenheid in hart en siel. Om God te ken is om ‘n intieme verhouding met Hom te hêen nie net intellektuele kennis nie. Dit is die misterie van die intimiteit van seksuele omgang. Dit is slegs in Jesus met die werk van die Heilige Gees moontlik.

Jesus wys ons die krag van die Vader se naam. (17:6-8)

  1. ‘n Naam was baie belangrik in Bybelse tyd en die Joodse kultuur in die tyd van Jesus. ‘n Naam het die karakter van ‘n persoon weergegee. Psalms 9:10 verklaar dat diegene wat God se naam ken, hulle vertroue in Hom sal stel. Net deur Sy naam sal hulle Sy karakter en aard ken. (Psalms 20:7; 22:22)

Daardie dag sal my volk my Naam bely: dat Ek die Here is, dat dit Ek is wat sê: Hier is Ek!(Jesaja 52:6)

Jesus sê dat die wie Hom gesien het, die Vader gesien het. (Johannes 14:9)

  1. God se naam was so heilig, dit is nooit gebruik nie. Net die hoë priester het een maal per jaar op die groot Versoendag (Yom Kippur) in die Allerheiligste ingegaan en die naam van God genoem (YHWH – Yahweh).

Dit was ‘n woord sonder vokale in Hebreeus. Onder die YHWH het hulle Adonai geskryf sodat die persoon wat dit voorlees Adonai kan lees en nooit YHWH sênie. Dit is Jehovah in Engels.

In die tyd van Jesus was God so heilig en ver weg dat gewone mense nooit oor Hom gepraat of gedink het. Jesus het die Vader se naam op elkeen se lippe geplaas en Hom voorgestel as iemand wat net ‘n fluistergebed ver is. Hy het hulle geleer om Hom pappa te noem. Dit was ongehoord. Hulle het nog nooit aan God as ‘n pa gedink nie. Vir die meeste was dit ondenkbaar, disrespekvol en godslasterlik.

Maar vir die wat dit aanvaar het, het die onuitspreeklike hulle geliefde, magtige Vader geword.

Jesus het God in alles gehoorsaam. Gehoorsaamheid is ‘n natuurlike gevolg in ‘n lewe wat Jesus aanneem. Gehoorsaamheid beteken om in onderwerping na Sy stem te luister en dit te leef.

Die dissipels is deur God aan Jesus gegee. Hy het nie gekies om net hulle te roep nie, maar hulle het die roepstem geantwoord. Slegs die wat op Sy stem reageer kan in die spesiale verhouding met Hom leef.

Ouers kan soveel drome vir hulle kinders hêen alles doen om hulle sukses te verseker. Die kinders het ‘n keuse. Hulle kan alles verwerp en wegloop. Ons kies ons toekoms. Ons het vrye wil. Dit word nooit op ons afgedwing nie, maar ons sal keer op keer die geleentheid hêom God as ons verlosser te kies.

In Sy gebed stel Jesus Sy vertroue in die toekoms. Hy is nooit neerslagtig oor die toekoms nie. Met die luuksheid van terugblik weet ons hoe moeilik daardie eerste eeu van die Christendom was. Jesus het dit geweet, maar Hy het geweet Sy Vader is almagtig.

Jesus het geen twyfel gehad dat die mense vir wie Hy bid die boodskap sou uitdra.

God kyk nooit neer op ‘n klein begin nie (Sagaria 4:10). Hy het net elf mense om Hom gehad na drie jaar se bediening. Hy het Sy Vader geken en die volheid van Sy glorie. Hy het geen twyfel in die sukses van Sy lewe gehad nie.

Hy het Sy vertroue in daardie paar mense geplaas. Dit is amper ondenkbar dat so ‘n grootse taak op die skouers van daardie paar gerus het.

Is dit nie ‘n wonderbare aanmoediging nie?

Jesus het nooit teruggedeins vir menslike swakheid en die boosheid van die wêreld nie..

 

[Volgende keer gesels ons verder vanaf vers 9 van hoofstuk 17]