154. Die Enigste Een, Alles in Een.

Deesdae is ‘n pakket so gewild. Iemand ander dink lank en skep ‘n kombinasie om in ‘n paar behoeftes te voorsien of ‘n paar luukshede saam te verskaf en verkoop dit in ‘n mandjie of ‘n pakkie. In ‘n kitskos ry is daar verskeie kombinasie om van te kies, sodat dit vir jou minder moeite is om oor die bykosse en drinkgoed te dink. ‘n Verskeidenheid lekkerte in ‘n mooi verpakking en selofaan omhulling is ‘n gemaklike geskenk vir uitgerekte genot.

Hier in Johannes 5 lees ons vir die eerste keer een van die langer diskussies wat die vierde Evangelie kenmerk. Johannes skryf sy interpretasie van Jesus se woorde in die drie jaar van Sy bediening met meer as ‘n halwe eeu se Heilige Gees inspirasie en insig. Hy beklemtoon Jesus as die ware Messias, die beloofde Een wat sou kom, die Lam van God, die Lig van die wêreld en elke ander titel wat in die gedagtes van die Jode sowel as die Grieke kon wees.

Die gedeelte (5:19-47) is volgepak met goeie dinge wat die superieure lewe van Jesus as die antwoord vir elke moontlike vraag van die mens verduidelik. Hy is die Alles in Een – die enigste pakket wat jy ooit mag nodig kry.

SEUN VAN DIE MENS

Vir die Jode het hierdie titel wat Jesus homself gee, herinner aan die woorde van Daniël (7:1-14). DIE Seun van die mens – nie ‘n seun van ‘n mens nie.

Die visioene van Daniël was alles oor wrede, oorheersende wêreldryke: die leeu met arendvlerke was Babilon, die beer met die ribbebene was die Mede, die luiperd met vier vlerke en vier koppe was Persië en die ergste gedierte wat nie eers ‘n naam kry nie met ystertande was die Macedoniërs (Grieke) onder Alexander die Grote. Alles sal verbygaan en die bloedige verdrukking van die despote sal alles met ‘n sagte mens vervang word.

Jesus het die ganse mensdom tot sy oorspronklike skeppingsdoel teruggebring.

Tussen die twee testamente het ‘n literatuur ontstaan wat die goue eeu van die Messias belowe. Die Jode het die Messias die Seun van die Mens genoem en dit is die titel wat Jesus vir Homself gee. Hy verklaar in geen onduidelike terme dat Hy die EEN is wat hulle verwag.

  • Hy doen wonderwerke van genesing (Jesaja 35:6 en Jeremia 31:8-9).

 

  • Hy wek die dode op. Slegs God het mag oor lewe en dood. (Deuteronomium 32:39; 1:17, 1 Samuel 2:6, 2 Konings 5:6)

 

  • Finale oordeel is in die hande van die Messias.

 

Dit het buitengewone moed en durf gekos om hierdie woorde in die publiek te verkondig. Hy het geweet om so te praat was ‘n doodsvonnis in die hande van die Ortodokse leiers. Die mense wat die woorde hoor en Sy wondewerke sien het slegs twee alternatiewe gehad – om Hom te aanvaar as die Beloofde Een of Hom te haat as ‘n ketter.

Jesus was net aan Sy vader gehoorsaam uit liefde vir Hom, net soos ons gehoorsaamheid aan Hom uit liefde moet kom en nooit uit dwang of kerkreëls nie.

Jesus was baie gemaklik met Sy identiteit teen al die mag van die Joodse ortodokse leiers. Hy was vreesloos. Hy het goed geweet dat Sy woorde misverstaan word en Sy lewe in gevaar stel.

Vir Hom was Sy missie van oneindige groter belang as die goedkeuring van mense.

God is die bron van lewe. Dit is nie moontlik om ten volle te leef sonder die Here nie. Jesus maak dit moontlik – ‘n goddellike lewe in hierdie wêreld sowel as na die fisiese dood. In Jesus het ons ALLES vir alle tye.

OORDEEL

 God oordeel. Jesus se koms is ‘n oordeel opsigself. In Hom is oordeel oor sonde opgelos. Om Jesus te aanvaar is lewe en die enigste pad na vrede en vreugde. Jesus oordeel volgens die perfekte wil van Sy vader (5:30).

Ek het altyd oordeel gevrees. Ek het nie besef hoe ek kan ontspan in die goeie nuus van die Evangelie as daar oordeel ter sprake is nie. My eie sonde en my besef van onwaardigheid het my laat bekommer oor ‘n God wat oordeel.

God het my vrese aangespreek en aan my openbaar hoe die wêreld oordeel nodig het. Ons kan nooit boosheid en sonde konfronteer sonder oordeel nie. Ons moet presies weet wat reg en verkeerd is – dis oordeel God se oordeel is die oplossing van die probleem, Dit maak dit beter, nie slegter nie.

Ons kan nooit regverdig oordeel nie. Ons is in stryd met ons eie trots, vooroordeel, jaloesie, onverdraagsaamheid, afkeur, onkunde en ons eie status en ego. Hofprosedures genereer derduisende bladsye gesprek om by ‘n regverdige en juiste oordeel uit te kom.

God alleen is volmaak. Hy weet alles en oordeel uit perfekte liefde, terwyl Hy op die troon van genade sit.

Maar barmhartigheid triomfeer oor die oordeel.

Mercy triumphs over judgment. (James 2:13)

Die getuie van een persoon is onaanvaarbaar (Deuteronomium 17:6; 19:15; 2 Korintiërs 13:1). ‘n Persoon kan sy eie saak stel nie. Dit is sy woord teen ‘n ander. Ons is in die bevoorregte posisie om Jesus as advokaat in die hemel te hê. Hy is die Seun van die Mens en hy het die mag om te oordeel by Sy vader gekry (5:26).

GEESTELIKE DOOD

Jesus is in sy lyding vereer en Hy het daarmee die pad oopgemaak vir eer in ons lyding. Dit maak nie saak wat die lewe ons kant toe gooi nie, ons kan in Sy lyding enige vernedering in ‘n triomf omskakel. Ons het sekerheid dat geen dood of lewe ons sal vernietig en ons nikswerd maak nie. Dit is so duidelik in die geskiedenis van die eerste kerk wat so vervolg is. Nooit het hulle Jesus se opstandingsoorwinning betwyfel nie.

Jeus is die lewe en Hy is dit vir ons nou dadelik. Sonder Hom is ons dood al lewe ons nog. Dooie mense het dooie werke en dooie gedagtes. Die kern van die evangelie is redding van ‘n lewende dood.

Die lewe wat God belowe is nuwe verhoudings met:

  • God – vrees word liefde en afstand word intimiteit;
  • mense om ons – haat word liefde, selfsug word diens, bitterheid word vergifnis;
  • self – swakheid word krag, frustrasie word sukses, spanning word vrede

Om geestelik dood te wees is om op te gee om goed te doen. Die lewe is ‘n progressie en as ons stil staan glip ons terug. Moedeloosheid laat mens terugval. Geestelike dood maak mens gevoelloos, onsensiteif, gemaklik met boosheid en leuens sonder simpatie en liefde. ‘n Stomp gewete is ‘n seker teken van geestelike verval. (Die beste beskrywing van so ‘n toestand is in Efesiërs 4:17-10.)

Ons lewe en besluite hier op aarde bepaal ons ewigheid. Ons nuwe lewe begin nou – in Jesus (5:24,25)

Jesus praat van ‘n ander getuie en bedoel God die Vader (5:31-40).

Hy noem ook Johannes die Doper wat van Hom getuig het.

‘n Lamp wat skyn word aangesteek. ‘n Lamp kan nie self die aansteekwerk doen nie. Dit is in werklikheid “geleende” lig. Die lig kom uit ‘n ander bron – vuur of elektrisiteit.

Johannes die Doper se boodskap was ‘n gids tot belydenis. ‘n Lig is slegs tydelik totdat die bron afgesny word. Johannes het sy lewensdoel bereik. Hy is gebore om te getuig.

‘n Nader getuie tot Jesus is Sy werke. Toe Johannes die Doper uit die tronk vra of hy werklik die Messias is, het Jesus laat weet dat Sy werke van hom getuig. God is die uiteindelike getuie.

Wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in sy hart; wie God nie glo nie, maak Hom tot leuenaar, omdat hy nie die getuienis glo wat God oor sy Seun gelewer het nie.

(1 Johannes 5:10)

Die Jode het geglo God is onsigbaar en niemand kan God sien nie, nie eers Moses nie (Deuternonomium 4:12). Hulle het geglo God is ‘n oortuiging in die mens se gemoed en Jesus spreek dit aan in hierdie gedeelte. Dit is God self wat in ons hart werk aangaande Jesus.

DIE WOORD

Die Woord van God was vir die Jode alles. Jesus was duidelik in die Ou Testament. Hulle was die beste skrifgeleerdes in die ganse wêreld – hoe kon hulle Jesus nie herken nie?

Die woord vir Skrif wat hier gebruik word is graphe en dit beteken outobiografie. God skryf die Bybel as ‘n outobiografie deur die hande van gees-geïnspireerde mense. Dit is die ewige stem van God om Sy karakter aan ons te openbaar.

Hoe lees ons die Bybel? Om ‘n argument te voer of om God te ken? Die Bybel is ‘n verslag van God in aksie. Dit is nie net heilige woorde nie, dit is heilige stories van ‘n heiige God.

Daar is net een manier om die Bybel te lees en dit is om Jesus in elke hoofstuk te sien. Hy is die hoogste openbaring ooit. Die Jode het God se woorde aanbid en nie Sy werke nie. Dit is nie die woorde wat lewe gee nie, dit is die EEN wat die woorde spreek wat die lewe gee.

Die doel van Jesus se woorde is dat elkeen gered word. Dit is vir ons, nie vir Homself, dat Hy praat. Hy sê: Ek het jou lief en Ek wil jou red.

Voor en na Jesus se tyd op aarde was daar oor eeue talle mense wat aanspraak gemaak het op die titel Messias. Hoekom sou hulle eers al hierdie mense oorweeg het? ‘n Seker teken van ‘n vals profeet is dat sy boodskap die mense gerusstel en volgens hulle begeertes belyn is. Vals profete is ingestel op aardse mag en voorspoed. Jesus het gekom met die Kruis, gesterf en leef in alle ewigheid. Die vals Messiasse is almal dood en vergete.

Die Fariseërs en Skrifgeleerdes het geleef in die bewondering van mense. Almal kon hulle herken aan die manier wat hulle aangetrek en opgetree het. Hulle het gehou van die respek wat hulle kon afdwing. Hulle hele lewe is gewy aan God, Sy wet en Woord en tog kon hulle Jesus nie herken nie. Hoekom?

As enige mens homself aan sy medemens meet, sal hy God se stem nie hoor nie.

Jesus wys daarop dat Moses oor Hom skryf (5:46). As ons die Bybel lees, sien ons Jesus in elke hoofstuk, selfs so lank terug soos die begin van alles. Jesus verwyt die mense en sê dat selfs Moses hulle sou oordeel omdat hulle Hom nie herken nie. Hulle het soveel waarde aan Moses geheg, maar herken nie die Een van wie hy skryf nie.

Die grootste voorreg van die Jode het hulle grootste oordeel geword. Al hulle kennis het hulle niks gehelp nie.

Nou het ons die kennis. Ons het die verantwoordelikheid om aksie te neem op grond van ons kennis van Jesus.

 

Liewe Bodemklipvriende,

Ek gaan vir die volgende maand reis en sal eers na middel-Februarie terug op my pos wees. Ek weet altyd ‘n ruskansie bring nuwe inspirasie.

Mag die Here julle almal ryklik seën terwyl julle dieper en dieper in Sy Woord indelf. Hy is altyd aktief betrokke by almal wat Sy woord met ‘n afhanklike hart lees.

Maleagi 3:16-18.

153. ‘n Ou, ou storie vir die nuwe jaar.

Kom ons gaan terug? Tot by ons geboorte. Nee, selfs verder terug. Tot by Jesus hier op aarde? Baie verder terug. Kom ons gaan terug tot by die begin. Die begin van wat? Die begin van alles. Kom ons gaan leer ‘n les uit die heel eerste hoofstuk van Genesis wat die storie van die Skepping aan ons gelowiges vertel. ‘n Wonder-wêreld geskep aan die Hand van ‘n wonder-God met sy wonder-Woord.

Hoekom sou mens so ver terug wou gaan? Is daar dan enigiets om daar te leer wat hoegenaamd enige toepassing op ons moderne lewe kon hê? Wel, Dawid kon iets leer uit die ou, ou stories.

Maak my oë oop dat ek die kragtige werking van u wet ervaar. (Psalms 119:18)

Kom ons kyk met verligte oë na een van die mees bevrydende beginsels van alle tye en pas dit toe op hierdie jong jaar.

God-beginsels bring God-betrokkenheid. Dit is iets om oor opgewonde te wees.

In die vorige Bodemklippe het ons gesels oor die man by die bad van Bethesda wat deur Jesus genees word ten spyte van 38 jaar siekte en geloof in ‘n nuttelose bygeloof. Die verstommende en verblydende wonderwerk vind op die Sabbat plaas – en die Jode is woedend.

Ons het al oor die Fariseërs se noukeurige nakoming van die letterlik duisende reëls oor die Sabbat gepraat. Ek haal aan uit Bodemklippe 144: ‘n Koninklike ontmoeting:

‘n Voorbeeld hiervan was die reëls oor die Sabbat. Geen werk mag op die Sabbat gedoen word nie, ook nie deur bediendes of diere nie. Werk is oor eeue deur menige leermeesters definieer. Die Mishnah, die gekodifiseerde wet, het 24 hoofstukke net oor die Sabbat bevat. Die Talmud wat die Mishnah veklaar, het 64 kolomme fyndruk oor die Sabbat bevat. Die Babiloniese Talmud verklaar die Sabbat oor 156 dubbelblaaie. Een rabbi het twee jaar lank aan een van die 24 hoofstukke oor die Sabbat in die Mishnah studeer.

Net ‘n vinnige voorbeeld: Om ‘n knoop in ‘n tou te maak op die Sabbat was sonde, maar om ‘n vrou se onderrok te knoop was toegelaat. As jy op die Sabbat ‘n emmer in ‘n put sou wou laat sak, was dit toegelaat om dit met vroue onderklere te doen, maar nie met ‘n tou nie. Dit sou God tevrede stel en plesier – so het hulle geredeneer!

Die Skrifgeleerdes het die besonderhede uitgewerk en die Fariseërs het hulle lewe gewy om dit uit te leef. Net ‘n besondere soort mens sou sy hele lewe wy aan die uitlewing van die Wet in soveel detail. Die woord Fariseër beteken: afgesonderd en toegewy vir ‘n spesifieke doel.

Teen hierdie agtergrond kan ons kyk na die reaksie op die wonderwerk by Bethesda. So ‘n wonder-genesing was ‘n geleentheid vir ‘n vreugde-fees. Die nuus van die genesing het skerp veroordeling uitgelok omdat dit op die Sabbat plaasgevind het. Afgesien daarvan dat Jesus in die genesingsproses “gewerk” het, het die man sy bed opgetel en gedra. Die Skrifgeleerdes het 39 klassifikasies van werk uitgespel en om jou bed te dra was beslis een van hulle.

Jeremia het oor die Sabbat gepraat (17:19-27) sowel as Nehemia (13:15-19). In Nehemia is dit duidelik dat hy nie wou hê hulle op die Sabbat nie handel dryf nie. Die Rabbi’s in die tyd van Jesus was so streng dat ‘n naald in jou jassak, vals tande of ‘n houtbeen nie aanvaarbaar was nie. Die kleinste onbenulligheid is tot ‘n kwessie van lewe en dood verhef.

Hulle neem die man onder kruis verhoor en hy sê hy weet nie wie hom genees het nie. Later egter ontmoet hy Jesus in die tempel en rapporteer dadelik aan die kerkleiers dat dit Jesus is, wat hom genees het. Hy is onmiddellik van sy wonderwerk-vreugde beroof omdat hy sy lewe van steniging probeer red. Hy wou argumenteer dat dit nie sy skuld was dat hy die wet oortree het nie.

Die beskuldigings is na Jesus geslinger – die werkwoord is so gebruik dat dit ‘n aanhoudende proses beskryf. Johannes skryf hier om te verduidelik dat Jesus dikwels die argwaan van die kerkowerhede uitgelok het.

Jesus verdedig Homself deur daarop te wys dat God nie op die Sabbat ophou werk nie en dus ook nie Hy nie.

Soos een van die kommentare dit stel: “The sun shines; the rivers flow; the processes of birth and death go on the Sabbath as on any other day; and that is the work of God.”

Natuurlik het God ophou werk in die storie van die Skepping in Genesis 1. Wat is nou eintlik die verskil? God het gerus na Sy Skeppingswerk, maar Hy is in groter “werke” van genade, oordeel, liefde en hulp in tye van nood, sonder uitsondering te alle tye aktief.

Hoe sou dit wees as ons nie om Sy hulp en leiding sou kon bid nie, aangesien dit die Sabbat is? Is dit nie heeltemal belaglik nie? Natuurlik is dit! God is altyd daar en Sy wonderwerke kom vinnig en kragtig te alle tye, elke dag, maak nie saak wat die dag se naam of funksie is nie.

Dieselfde geld vir ons. Ons dade van liefde en genade oor almal om ons, gaan nie stilstaan omdat ‘n dag ‘n naam gekry het nie. Die Sabbat-beginsel is soveel hoër en meer kragtig as onbenullige klein reëltjies.

Die Jode het egter met groot drama en veroordeling gereageer. Jesus het Homself soos God voorgehou en geleer dat Hy vry is om altyd te help net soos God. Daar is geen groter taak as om die pyn en lyding van die wêreld om ons te verlig nie. Ons uitreik in liefde is goddellik en 24/7 beskikbaar net soos Jesus.

Wat dink jy van die Sabbat hier in die 21e eeu? Is dit toepasbaar op die moderne lewe? Is jy bereid om jou oor oop te maak vir die stem van die Here oor jou Sabbat? Wat hoor jy?

As jy nie op die sabbat oortree nie, op my heilige dag doen net wat jy wil nie, as jy die sabbat ‘n vreugde noem, as jy die heilige dag van die Here in ere hou, as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie te doen net wat jy wil nie, en nie handel dryf nie, sal jy vreugde vind in die Here. Ek sal jou die land weer in besit laat neem, Ek sal jou laat eet van die opbrengs van die land van jou vader Jakob. Ek, die Here, het dit gesê. (Jesaja 58:13,14)

Hoor hoe The Message dit stel:

“If you watch your step on the Sabbath
    and don’t use my holy day for personal advantage,
If you treat the Sabbath as a day of joy,
    God’s holy day as a celebration,
If you honor it by refusing ‘business as usual,
    making money, running here and there—
Then you’ll be free to enjoy God!
    Oh, I’ll make you ride high and soar above it all.
I’ll make you feast on the inheritance of your ancestor Jacob.”
    Yes! God says so!

Ons leef in die dispensasie van die Heilige Gees. Ons Sabbat hoef nie noodwendig op ‘n Saterdag of Sondag te wees nie. Dit kan verander soos dit prakties is om hierdie heerlike weeklikse fees oor die goedheid van God te vier.

Die onderliggende beginsel is dat God jou seën met rus wanneer jy jou tyd afsonder. Geniet die tyd om jouself uit die mallemeule van alles wat ons lewe noem, te haal en terug te sit met gedagtetyd oor God en jou lewe. Dit is ‘n guns van God oor jou en jy besluit self om dit uit te leef. Bou dit iewers in.

Dit is dalk een van die groter uitdagings vir hierdie nuwe jaar se ietise nuut.

Jesus het aan die man gesê om nie weer te sondig nie sodat daar nie dalk iets erger oor hom kom nie. Sonde en siekte was in die Joodse denke nou verbind. Vergifnis was die eerste stap in die soeke na genesing.

Goddellike genesing bring groot verantwoordelikheid. Dit is nie sommer terug na die normale as God so ‘n magtige ingrepe in jou lewe bring nie. Dit is ‘n lewe onder die vaandel van genade en liefde soos een wat ryklik vergewe is.

Ons lewe verander ingrypend as dit in ‘n wonderwerk vir ons gegee word.

Baie belangrik egter: ons kan nooit sonde en siekte verbind soos die Jode van Jesus se tyd nie. Ons leef in ‘n gebroke wêreld en dikwels kom lyding uit die verwonding van ‘n sondige wêreld. Ons dra nie die sondelas van die wêreld nie. Jesus het dit aan die kruis gedoen. Ons is egter grootliks onder die impak van ons leefruimte. Ons “verdien” nie siekte as ‘n gevolg van persoonlike sonde nie.

Ons “verduidelik” nie siekte aan die hand van sonde nie. Ons vra God om Homself in elke situasie opnuut te openbaar.

 Terwyl Jesus wegstap, sien Hy ‘n man wat van sy geboorte af blind was. Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?” En Jesus antwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word. (Johannes 9:1-3)

Daar is mense in die kerk was hulle vryheid as ‘n verskoning vir sonde gebruik (Galasiërs 5:13). Daar is ook diegene wat sondig in die vertroue dat God se genade hulle weer sal red (Romeine 6:1-18).

Daar is altyd mense wat die liefde en genade van God as ‘n verskoning vir sonde sal gebruik. Ons kan maar net dink wat die vergifnis van Jesus gekos het om te weet dat ons sonde God se hart breek en Jesus weer kruisig. [William Barclay]

Genesing kom in ‘n nederige kniebuig en is nooit goedkoop nie. Jesus waarsku die man om verantwoordelik te leef en sy wonder-gawe nie as ‘n lisensie vir sonde te gebruik nie.

Na die wonderwerk onttrek Jesus. Dit beteken letterlik hy draai weg, kom uit die skare uit en gaan na ‘n plek van eensaamheid. Hy wou verdere argumente en bespreking vermy. Dit is soms goed om net weg te loop. Ons kan nie al die argumente wen nie. Neem jou Sabbat ook van die groot en moeilike kwessies van die lewe.

Uiteindelik is dit vir elkeen om self te besluit.

Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, (Filippense 2:13)

152. Tyd vir partytjie hou – dis Nuwejaar!

 

Die hele wêrreld hou partytjie. Dis Nuwejaar. As ‘n mens voor die televisie sou sit, kon mens die vuurwerke in elke tydsone van die wêreld dophou, terwyl die sekondes na elke Nuwejaar afgetel word. Daar is sjampanje bottelproppe wat skiet op elegante funksies, bierbottels wat rondlê op dronkpartytjies, danspartytjies, “fancy-dress” partytjies en ‘n publieke vakansiedag om op te ruim en soberheid terug te slaap, sodat almal die jaar in die oë kan kyk. Ek kan my net voorstel hoe daar met ‘n diep sug gebuk word om aan die kant te maak met gedagtes wat dwaal na die laste en verantwoordelikhede van die werklikheid

Wat het verander? Is daar werklik iets nuut?

Nuut kan twee dinge beteken: neos – meer van dieselfde, kwantitatief soos ‘n nuwe potlood maar daar is baie van dieselfde soort of kainos – uniek, soos daar nog nooit was nie, kwalitatief, een van ‘n soort.

Sal hierdie jaar dieselfde wees as al die ander wat jy al geleef het? Sien jy uit na iets nuut wat nog nooit in hierdie wêreld gesien is nie?

Johannes 5 sê Jesus het ‘n fees bygewoon.

Hierna was daar weer ‘n fees van die Jode, en Jesus het daarvoor Jerusalem toe gegaan…

Daar was drie Joodse feeste wat verpligtend was vir Joodse mans wat binne ‘n vyftien myl radius van Jerusalem af gewoon het: die Paasfees, Pinkster en die Loofhuttefees – twee in die Lente en een in die Herfs. Jesus het met groot vreugde die feeste bygewoon. Elkeen van die feeste is in Hom vervul.

Die Hebreeus vir “fees” (moadim) beteken letterlik “aangewese tyd”. God het noukeurig die tyd en opeenvolging van die feeste so bepaal om vir ons die storie van Sy genade en redding te vertel, jaar na jaar.

Dis God se partytjies en dit herinner ons aan Sy goedheid. Sy onverdiende genade is ons ondersteuning dwarsdeur die jaar. God se jaar het sewe partytjies.

Die sewe feeste van die Joodse kalender is alles in Jesus vervul. Die fees van die Ongesuurde Brood wys op sy sondelose wese, die Paasfees is die Lam van God wat geslag word in Sy kruisiging, Die Fees van die Eerstelingsgerf is die opstanding. Net soos die eerste gerf van die oes voor die priester gewaai is, so het Jesus voor God gestaan as die eerste gerf van die Kerk, in majesteit in die hemel verwelkom na die kruisiging. Pinkster vier die Heilige Gees en die geboorte van die Kerk.

Die Fees van die Trompette wys op die aankondiging van die profete vir sy koms na die aarde – eerste en tweede koms. Die Versoeningsfees (Yom Kippur) wys op die karakter van die kerk as belydende mense wat vergifnis ontvang en die Loofhuttefees wys op Sy heerskappy van vrede en vreugde en die bruilofsfees van die Tweede Koms.

Feeste is gesalfde partytjies, waar die seën van die Here bewustelik gevier word. Ons moet ook feesviering in ons jaar inbou, veral rondom familie en kinders. ‘n Eenvoudige ete saam is die geleentheid om die goedheid van die Here te vier.

Geseënd is hy was onderskei tussen die gewone en die heilige.

Maak die gewone heilig. Heilig beteken om iets af te sonder vir ‘n spesifieke doel. Dit is nie ‘n vals, hovaardige verheffing tot vervelige ontoeganklikheid nie. Verklaar ‘n maaltyd saam as ‘n feesviering van genade. Doen dit met vreugde en prys die Here in die proses.

Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom. (Psalm 90:12)

Jesus kom in Jerusalem in deur die Skaaphek om elke profesie te vervul wat die fynste besonderhede oor die kruisiging bepaal. Dit is die hek waar die lammers deurkom wat by die Tempel geslag word vir Paas. Hy is die Lam wat geslag sou word.

Bethesda kan beteken Huis van Genade of Huis van die Olyf. Die bad daar was diep genoeg om in te swem. Onder die bad was ‘n onderaardse stroom wat veroorsaak het dat die bad nou en dan opborrel. So het die bygeloof ontstaan dat ‘n engel die waters roer en die een wat eerste inspring genesing sal ontvang.

Sulke bygelowe was algemeen in daardie tyd. Die mense was altyd beïndruk met “heilige” water. Water was kosbaar en is met respek hanteer.

Jesus is ‘n vriend van diegene sonder vriende. Die man het niemand om te help nie. Jesus praat met hom sonder om hom ‘n lesing oor die nutteloosheid van sy bygeloof te gee. Hy gaan voort en genees die man.

Gebeure ontvou en woorde word gespreek:

  • Jesus vra of hy wil gesond wees. 38 jaar is ‘n lang tyd om hom in desperate, passiewe aanvaarding vas te vang. As hy gesond is moet hy die las van die lewe opneem en die verantwoordelikhede wat daarmee saamgaan. Sommige mense is so gemaklik in hulle siekte en die simpatie wat daarby kom, dat hulle nie ‘n gewone lewe wil ly nie. Die man spreek sy begeerte vir genesing uit.

 

  • Jesus sê hy moet opstaan. God se krag oorheers nie ‘n mens se wil nie.

 

  • Hy moes die onmoontlike probeer. Jesus se woorde was miskien nie wat hy verwag het nie. Hy het 38 jaar in nederlaag geleef – ‘n leeftyd lank. Wat wil jy hoor oor jou situasie?

 

  • Sukses – die woord van Jesus maak ons eie poging ‘n wonderwerk.

 

  • Bygeloof is wilsooreenstemming met boosheid. Dit is die woorde en gedagtes van nederlaag oor jouself.

 

Let noukeurig op wat gebeur. Die man, gekenmerk deur nederlaag en siekte, stem saam met die woorde van Jesus en loop in oorwinning weg. ‘n Oomblik vantevore was hy in verkeerde denke en vals hoop op bose beloftes vasgevang. Sy ontmoeting met Jesus verander alles. Hy stem ooreen met Jesus se vrae as ‘n uitdrukking van sy begeerte vir ‘n wonderwerk. Rou geloof maak die onmoontlike sy wonderwerk.

Glo jy Jesus se woorde dat Hy iets nuut maak hierdie jaar?

Gaan jy die onmoontlike probeer?

Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie.

Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom;

Ek maak in die woestyn ‘n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring. (Jesaja 43:18,19)

 

[Hierdie storie kan ook as ‘n allegorie interpreteer word. Die man = die volk Israel wat in die woestyn vir 38 jaar rondgedwaal het en nou weer in duisternis is. Die vyf pilare = die wet wat siek maak en skuiling bied maar nie genesing nie. Die water = die doop waaruit jy gered en genees uitkom]

Johannes skryf die storie as ware gebeure, maar in elke storie oor Jesus is daar altyd soveel meer…