149. Vrygemaak om te bid.

Is aanbidding een van daardie onderwerpe wat jy vermy? Dis net so onverstaanbaar. Het God ons heldeverering nodig? Moet ek regtige elke dag vir Hom vertel hoe wonderlik Hy is. As Hy dan God is, kry Hy werklik plesier uit seker woorde wat ek tot Hom uiter?

Kom ons kuier verder by die vrou in Samaria. Sy noem aanbidding spontaan, nadat sy die gesprek met Jesus het wat haar lewe oopvlek. Sy teenwoordigheid en woorde haal iets uit haar binneste wat die goddellike in Hom erken en sy vra oor aanbidding.

Die Samaritane was ver verwyder van die “ware” voorskrifte oor aanbidding van God se volk. Hulle was desperaat vir iets onvervals en gesaghebbend. Hulle het besef hulle doen nie goed in die area van hulle godsdiens nie, ver van Jerusalem, verworpe deur die Jode en die godsdiensleiers. Die verlange na waarheid was die uitroep van hulle harte.

Ons kyk vandag na verse 22-42 in Johannes 4.

Die Samaritane het die Psalms en die profete verwerp. Hulle Bybel was net die eerste vyf boeke van Moses. Hulle was verdink van bygeloof, wat heel moontlik waar was. Oor eeue het hulle ander gode van die nasies om hulle bygesleep en dan maar Jehovah ook aanbid net omdat hulle te bang was om Hom weg te laat.

Vrees en onkunde is die teenoorgestelde van liefde en kennis.

Valse aanbidding is om te kies wat vir jou gemaklik is en die res uit te laat. ‘n Eensydige godsdiens regverdig allerhande vals leerstelling uit die Bybel.

In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. (1 Petrus 3:15)

Bygeloof se basis is vrees. Hulle godsdiens was nie gegrond in die begeerte om lief te hê of om te dien nie. Dit was beter om net veilig te speel. Aanbidding het uit vrees gekom, nie liefde nie.

Ware aanbidding is geestelik omdat God gees is. Rituele is nie belangrik nie, die hart is.

Soos die kommentaar dit stel: (my beklemtoning)

It is the spirit of a man, which is the source of his highest dreams and thoughts and ideals and desires. The true worship is when man, through his spirit, attains to friendship and intimacy with God. Genuine worship does not consist in coming to a certain place nor in going through a certain ritual or liturgy nor even in bringing certain gifts. True worship is when the spirit, the immortal and invisible part of man, speaks to and meets with God, himself immortal and invisible.

Die vrou word bewus van die wonder-woorde wat tot haar gespreek word. Sy besef dit kan net van iemand kom wat so spesiaal soos die Messias is, wat ook by die Samaritane ‘n diep hartsverlange was. Hierdie besef berei die weg vir Jesus om Homself aan haar te openbaar. Jesus is haar droom wat waar word.

Die dissipels was heel moontlik in ‘n toestand van skok toe hulle Jesus met die vrou sien praat. Die Rabbi’s het neergekyk op vroue en geleer dat die woorde van die Wet beter af is verbrand, as om dit aan ‘n vrou te probeer leer. Teen hulle standaarde gemeet, kon Jesus nie ‘n meer rewolusionêre ding gedoen het nie. Hulle sou Hom net daarvoor kon kruisig.

Die dissipels praat nie met die vrou nie. Hulle vra ook nie vir Jesus waarom Hy met haar praat nie. Hulle was dalk al bietjie meer gewoond aan Sy ongewone manier. Dit is ‘n wonderlike stap vir ware dissipelskap – om nie te vra waarom nie en ou vooroordele en tradisies wat verwond te verwerp.

Die vrou haas haar terug na die dorp. Sy was anders as ‘n rukkie tevore. Sy los haar waterkruik. Dit beteken sy was van plan om terug te kom.

Sy het haar eie sondige natuur erken (Lukas 5:8). In die teenwoordigheid van Jesus word gekonfronteer en vrygemaak. Sy was verstom oor Jesus se vermoë om binne in haar diepste wese te sien en haar vry te maak van al haar geheime verwonding en seer. Bindinge is meestal geheim.

Jesus openbaar nie net sonde nie, ook potensiaal. In vryheid kan ons ware lewe begin. Sy kon weer die wêreld in die oë kyk.

Met sy dissipels volg Hy weer ‘n sekere patroon van gesprek, wat die geestelike en fisiese teenoor mekaar stel. Jesus se moegheid verdwyn sodra Hy die nood in die vrou sien.

Ware voedsel is om die wil van God te doen. Jesus doen dit perfek. Sy hart klop soos God s’n.

Hy is deur God gestuur. Dit was sy voedsel en dit het Hom versadig.

Johannes beklemtoon dit deurgaans:

In Johannes 5:38 praat Jesus van die werke van Sy Vader; Johannes 17:4 sê Hy Hy het die werke van Sy vader voltooi; Johannnes 6:38 sê Hy Hy het die wil van Hom wat Hom gestuur het ,gedoen; Johannes 10:18 sê Hy Hy leef die voorskrif van die Een wat Hom gestuur het; Johannes 14:23 beklemtoon Hy dat die opdrag van die Een Wie Hy lief het Hom vergenoegd maak.

Vir ons is die enigste ware geluk in die lewe en oorwinning oor die gebroke wêreld om die wil van God te doen.

Ware aanbidding is om die Woord van God in Sy teenwoordigheid te hoor en dit te bid.

 Heilige Gees gebed is om te luister en dan te bid.

Baie van die Samaritane in daardie dorp het tot geloof in Jesus gekom op grond van die woorde van die vrou wat getuig het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.”  Toe die Samaritane by Hom kom, het hulle by Hom daarop aangedring om by hulle te bly. Hy het twee dae daar gebly.

Nog baie meer van hulle het toe tot geloof in Hom gekom op grond van wat Hy gesê het; en hulle het vir die vrou gesê: “Ons glo nie meer op grond van wat jy vertel het nie, want ons het self na Hom geluister, en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.”

Ware aanbidding volg op openbaringskennis – warm en persoonlik. Ons moet ook daar by die put van lewende water met Jesus gesels. Dit is uniek, individueel en spesifiek.

Daar is geen twyfel oor aanbidding in die teenwoordigheid van Jesus. Al die rituele en onsekerheid verdwyn wanneer Hy daar is.

Alles is hoorsê totdat:

Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien, (Job 42:5)

 

Sit op ‘n stil plekkie en maak jou oë toe. Gebruik jou Heilige Gees-beheerde verbeelding om jou te verbeel Jesus sit by jou. Vat Sy hand en rus jou kop op Sy skoot. Hou jou prentjie in jou kop terwyl jy jou gedagtes gevange neem en jou lewe voor Hom bring. Sê dat jy jou lewe oorgee.

Terwyl jy so in Sy teenwoordigheid sit, neem kennis van die gedagtes wat by jou opkom. Bring dit alles voor Hom. Bid daaroor. As dit ontstellend is, sonde is, of skuld by jou wek – bid ‘n gebed van belydenis en “sien” hoe jou sonde, jou seerkry en al jou bekommernis en vrees in Sy liggaam aan die Kruis verdwyn.

Ons kenmerk is die leë kruis, maar in hierdie gebed sien jy Jesus wat aan die Kruis hang en jou sonde en bekommernis dra. Moenie dit weer op jouself laai nie. Hy het nie verniet gesterf nie.

Skryf jou gebed en die dinge wat by jou opgekom het in Sy teenwoordigheid neer. Aanbid Hom en dank Hom vir verligting en vryheid. Jou aanbidding sal spontaan uit ‘n diepe bewuswording van Sy teenwoordigheid vloei.

You will show me the path of life;

In Your presence is fullness of joy;

At Your right hand are pleasures forevermore. (Psalm 16:1)

 

 

 

148. ‘n Vrou vir alle tye.

Ek is so dikwels omgestamp deur die wonder van die Bybel. Dit is ‘n stokou geskrif, ‘n verstommende goed gepreserveerde antieke dokument wat stories oor meerdere eeue weergee en dan skielik fokus op een uur, een dag wat die God van hemel en aarde in die gewone roetine van oorlewing inskryf.

Kom ons kyk na so ‘n kamee ontmoeting in Johannes 4:1-21. [Lees asseblief die paar verse eers om die storie te ken, voordat ons in die besonderhede ingaan. Jesus vertrek na Galilea om ‘n dispuut oor die doop te vermy.]

Van Noord na Suid is Palestina maar amper 200 kilometer lank. Binne hierdie afstand was daar in die tyd van Jesus drie verdelings van oppervlakte. In die noorde was Galilea, in die suide Judea en in die middel Samaria.

Daar was ‘n eeu-oue vyandskap tussen die Jode en die Samaritane. Die rede hiervoor word bietjie later in hierdie stukkie bespreek. Die vinnigste roete na Galilea was deur Samaria. Met hierdie roete was die reis drie dae te voet. Die alternatief was om die Jordaan te kruis en aan die oostekant van die rivier op te loop en dan noord van Samaria weer die rivier oor te steek. Jesus en sy dissipels neem die kortpad deur Samaria.

Dit is ‘n wonderwerk dat Jesus se dissipels gewillig was om Hom te volg. Oppad het hulle by die dorp Sigar gekom. Daar by ‘n vurk in die pad was Jakob se put.

Hier area was vol herinneringe vir die Jode. Die grond is deur Jakob gekoop (Genesis 33:18-19), wat hy op sy sterfbed aan Josef bemaak het (Genesis 48:22). Toe die Israeliete Egipte verlaat, het hulle Josef se beendere saamgeneem en hier by die put van Jakob begrawe (Joshua 24:32).

Daar was absoluut geen kontak tussen die Jode en die Samaritane nie.

Die agtergrond vir hierdie vyandskap is te vinde in die tyd van Nehemia en Ezra toe die ballinge van Juda (die suidelike koninkryk) na Jerusalem teruggekeer het en die muur herbou het. Die noordelike koninkryk, Israel met hulle hoofstad Samaria, is deur die Assiriërs in ballingskap weggevoer (2 Konings 17:6). Hulle het nooit uit ballingskap teruggekeer nie. Gewoonlik het die swakkes en siekes wat nie in slawerny weggevoer is nie, in die land agtergebly. Oor baie jare het meer van die ballinge ook begin terugkeer, maar hulle kon nie weer ‘n nasie bou nie, met die gevolg dat hulle met heidennasies ondertrou het. Volgens die wet van Moses was dit nie toegelaat nie

(2 Konings 17:24) en daarmee het hulle hulle reg om Jode genoem te word, verloor.

Toe Nehemia die muur begin bou, het hulle gevra om te help en te deel aan die opbou van die land. Nehemia het geweier as gevolg van hulle onsuiwerheid. In Nehemia 13:28 is die voorbeeld van ‘n Jood, wat die dogter van Sanballat, ‘n Goroniet, getrou het. Nehemia het hulle weggejaag. In 129vC het ‘n Joodse generaal die Tempel in Samaria vernietig. Die Samaritane het bitter geword en die haat aangevuur vir die volgende 450 jaar. Die Rabbi’s het gesorg dat die bitterheid verskerp en die stories oor die wetsoortreding oor en oor vertel.

Terug by die vrou by die put.

Middag in die Joodse dag wat van 6vm to 6nm geduur het, was 12nm. Die dissipels het in die stad ingegaan om kos te koop – ‘n wonderwerk opsigself, want gewoonlik sou geen Jood in Samaria kos koop of vra nie. Dit was duidelik dat hulle denke onder Jesus se invloed verander het.

Die put was meer as 30 meter diep. Dit was nie ‘n vloeiende fontein nie. Dit was sand waarin die water stadig gesyfer het. Die put was so diep dat dit nie moontlik was om sonder ‘n beker of houer water te kry nie.

Die put was ongeveer ‘n kilometer buite die dorp. Dit was nie die hoof waterbron van die dorp nie. Die vrou het alleen gekom. Sy was duidelik ‘n uitgeworpene. Gewoonlik het vroue saam na die waterbron toe geloop om bietjie te gesels. Dit was die enigste tyd vir sosialisering in ‘n lang dag van verpligtinge. Die feit dat hierdie vrou alleen na die ver put gekom het, was ‘n teken van die mate van verwerping wat sy van haar bure ervaar het. Sy het heel moontlik vermy om saam met die ander vroue water toe te loop.

Jesus vra haar vir water. Hy moes nie eers met haar gepraat het nie. Joodse mans het nooit ooit met ‘n vrou in die publiek gepraat nie, nie eers hulle eie familie nie en verseker nie ‘n Samaritaanse vrou nie. Daar was selfs ‘n groep wat die “gekneusde ” fariseërs genoem is omdat hulle in pale en ander hindernisse vasgeloop het omdat hulle hulle oë toemaak as hulle ‘n vrou sien.

Die storie soos vertel in Johannes is net ‘n kort gesprek. Miskien was daar meer? Hoekom het die vrou Jesus vertrou? Dit kon wees as gevolg van Sy woorde of net die vriendelikheid en aanvaarding in Sy houding teenoor haar wat vir haar heeltemal ongewoon was.

Jesus het bedien uit die realiteit van sy menslikheid. Hy was moeg. Johannes beklemtoon Sy godheid, maar hier ook Sy menslikheid. Die lewe is vir Hom ook ‘n inspanning, net soos vir ons.

Die warmte van Sy simpatie was in sterk kontras met die gewone godsdiensleiers. Sy sou heel moontlik gevlug het as sy een van hulle raakgeloop het. Jesus het haar nie veroordeel nie en nogtans haar lewe oopgevlek. Sy het hom vertrou en ‘n vriend in Hom gevind.

Jesus breek deur al die hindernisse. Sy was ‘n Samaritaan en ‘n vrou. Boonop was sy ‘n vrou van twyfelagtige sedes. Geen ordentlike man sou eers naby haar gekom het nie.

Dit is ‘n wonder-verhaal van die Seun van God wat moeg en dors is. Die God van die hemel luister na haar storie van hartseer terwyl Hy deur al die struikelblokke van ras en haat breek. Die goeie nuus van vrede bereik die res van die wêreld.

God se liefde is prakties, nie net teoreties nie.

Die gesprek volg dieselfde patroon as die gesprek met Nikodemus. ‘n Stelling van Jesus word misverstaan. Dit word herhaal, maar bietjie anders om meer te omskryf. Dit word weer misverstaan. Dan lei Hy die persoon om tot sy eie gevolgtrekking te kom en die waarheid te erken. Dit is Jesus se onderrig-styl sodat jy self insig in die saak het.

Hy stel die letterlike teenoor die geestelike. Water was meestal lopende water. ‘n Vloeiende sroom was beter. Hierdie put was nie naby dit nie. Sy vra waar Hy die lewende water gaan kry om vir haar te gee. Gewoonlik het elke mens in daardie tyd ‘n skepding gedra. Die vrou het geweet Hy kan nie water uit die put kry nie en tog sê hy Hy kan vir haar water gee.

Water het deurgaans ‘n simbolies betekenis in die Skrif. Die sieledors na God en lewende water wat dit les is ‘n tema in die Ou en Nuwe Testamente (Openbaring 21:6 en 7:17).

Die fonteine van redding word in Jesaja 12:3 genoem. Psalm 42:1 praat van dors na die lewende God. Jesaja 44:3 belowe water op die droeë grond. Kom en neem die water van die lewe verniet is die uitnodiging in Jesaja 55:1. Jeremia kla oor die gebarste waterbakke wat nie water kan hou nie (2:13). Esegiël skryf oor die rivier van lewe (47:1-12). Sagaria skryf oor die fontein van reiniging (13:1) en die vars stroom water van Jerusalem in 14:8. Alles van water gaan oor lewe en die onderhoud van lewe, die essensie, die basiese behoefte om geestelik te oorleef. Water in al sy vorme word aan die mens belowe.

Wysheid is beskou as die lewende water van die Wet. Die rabbi’s het lewende water gesien as ‘n simbool van die Heilige Gees. Die sieledors kan deur die Heilige Gees geles word. Die vrou klou aan die letterlike betekenis van Jesus se woorde omdat sy nie kan glo dat sy die antwoord op ‘n diep sielsverlange gevind het nie.

Heilige Gees water wat die mense se dors les is ‘n Messiaanse belofte (Jesaja 49:10).

Die vrou spot oor ewige dinge in die fisiese sin. Elke mens het ‘n diep verlange na die water van die lewe en net God kan daardie verlange vul.

Dit is hartverskeurend hoe die vyand hierdie verlange gebruik om die mens in allerhande dinge vas te knoop in ‘n porging om die verlange na die lewende water van die Gees met iets anders as God te vul.

Skielik is die inleidende gepraat verby. Jesus dring deur tot die diepste seer in haar siel. Die gepraat oor die mand in haar lewe openbaar die verwonding van haar diepste wese. Sy sien haarself in die lig van Sy woorde.

Sy besef die mislukking van haar verhoudinge in die lig van die openbaring van die Christus. Alle Christelike lewe begin met ‘n besef van sonde sodat ons die noodsaaklikheid van die Kruis kan insien. Sy besef dadelik haar gebrek aan ware aanbidding.

Jesus is die profeet hier. Hy bring die mens na God en God na die mens. Hy openbaar haar sonde, maar gee dadelik die oplossing. Ons kan nie op ons eie met sonde klaarspeel nie.

In Samaria is die berg Gersom vereer as ‘n historiese belangrike plek. Dit was die plek waar Abraham Isak geoffer het, waar Melgisedek aan Abraham veskyn het en waar die altaar van Moses was. Daar is selfs met die historiese tekste gepeuter om die berg se belang te verhef. Die Samaritane wou deel in die heiligheid van Jerusalem.

Toe die vrou haar sonde besef het sy tersefdertyd bewus geword van haar diep verlange na God. Waar kon sy aanbid? Die uitroep van haar hart was: waar is God? Waar kan ek Hom vind?

Jesus antwoord: God is oral. Mensgemaakte mededinging oor ‘n plek van aanbidding sou binnekort verdwyn.

Ontsagwekkend is die Here bo almal. Hy laat al die gode op die aarde wegteer sonder offers, en al die kuslande van die nasies buig voor Hom, elkeen op sy eie plek. (Sefanje 2:11)

Dit was die droom van die ou profete wat waar geword het. (Maleagi 1:11)

Volgende keer gesels ons oor die wonderbare gevolge van hierdie gesprek met betrekking tot aanbidding.

147. Verhewe, uitnemend en soveel meer.

Die mens se kreatiwiteit verstom my. Het jy al vasgenael in ‘n konsert gesit, terwyl die perfeksie en passie van die optrede jou siel binnedring? ‘n Konsertpianis, ‘n sanger wat met musiek jou net so diep raak, soos kuns, argitektuur en ‘n mooi fliek.

Ek word maklik deur skoonheid oorweldig. Ek verlang partykeer om iets wonderlik te sien. Die afgelope weke se sonsondergange was so verstommend mooi dat dit moeilik is om te beskryf. Ek het soms so intens gekyk omdat ek nie ‘n minuut daarvan wou mis nie.

Vroeër hierdie jaar was ek op ‘n vrouekamp noord van waar ons woon. Die Vrydagaand was tyd vir warm sjokolade om ‘n kampvuur buite. Dit was al goed koud en ons het met dik jasse buite gesit. Iemand het met my gepraat en ek kon eers later uitgaan, so rondom 11nm. Ek het net ‘n rukkie gesit, toe wou die bittereinders ook gaan slaap. Toe ons omdraai om terug na die gebou te loop, toe dans die hele lug!

Ek kon my oë nie glo nie. Die trane het spontaan geloop. Die bewegende groen ligte was so majestieus en so verruklik mooi dat ek tjoepstil gestaan en staar het. Dit het werklik gevoel asof die Here voor my met die wonder van Sy skepping spog! Ek het gestaan totdat dit vervaag het. My vriendinne het my verwondering so geniet, dat dit vir hulle ook nuut was. Sommige sien die aurora aand na aand van hulle stoepe af.

Ek sal dit nooit vergeet nie. Dit is vir ewig in my gemoed ingrafeer.

Hoe kan iemand ‘n ontmoeting met die Lig van die wêreld vergeet? Ek kan my net voorstel hoe dit moes gevoel het om voor die mens Jesus te staan. Eintlik is dit gewaarborg om by jou te bly. Jy kan Hom verwerp, maar dit bring ‘n oordeel oor jou wat jy self bepaal. Dit is onmoontlik om neutraal te staan.

 Hier in Johannes 3:17-21 sien ons die paradoks van liefde en oordeel. Die blote feit van God se liefde het oordeel ingebou. Enigiemand wat Sy liefde verwerp bring oordeel oor homself.

Dit is moontlik om liefde aan te bied wat in oordeel omskep word. ‘n Vreugdevolle ondervinding kan veroordeel word. Jy kan dalk dink dat jy ‘n vriend saamneem vir ‘n simfoniekonsert wat vir jou pragtig is en die ander persoon sit en vroetel van verveeldheid.

As die mens met groot kuns en kreatiwiteit konfronteer word, is sy reaksie noodwendig oordeel. Kuns, musiek, prediking, boeke en selfs die natuur word onmiddellik geoordeel. As iemand ‘n sekere skoonheid miskyk, dan is hy blind vir dit wat voor hom is. Dit is so met baie dinge in die lewe. Hoe dikwels kyk ons die mooi mis. Dit verg dalk bietjie tyd en geduld om dieper te kyk. Die skoonheid self staan nie in die hof van die lewe op aanklag nie. Die een wat kyk word verhoor. Sy blindheid vir skoonheid is bejammeringswaardig.

Net so met Jesus – die mens het Hom geoordeel. Sy missie van redding en saligheid, vryheid en oorwinning is nie raakgesien nie. Daarmee is die mens geoordeel. God het die mens lief. Die mens veroordeel homself.

In die lig van Jesus en ‘n ware ontmoeting met Hom, sien ons ons tekortkominge en swakhede. Dit is nie lekker nie. Die duisternis van sonde bedek ons slegte karakter, of so dink ons, totdat dit ons inhaal en vernietig. Die waarheid maak vry. Jesus het gesê: Ek is die waarheid.

Johannes 3:22-30 is die perfekte reaksie op Jesus van sy neef, Johannes die Doper. In sy woorde vind ons die verfrissende krag van nederigheid:

 Die bruidegom is die een aan wie die bruid behoort; maar die vriend van die bruidegom staan en luister of hy kom en is baie bly wanneer hy die stem van die bruidegom hoor. Daarom is ek nou met blydskap vervul.

 Hy moet meer word en ek minder.

Nederigheid word gedefinieer as ‘n beskeie besef van morele onbelangrikheid, ‘n onselfsugtige, positiewe beheptheid met die welvaart van ander mense. Dit is die totale afwesigheid van arrogansie en trots.

Die woord was afwesig in klassieke Grieks buite die Bybel. Die krag van ‘n nederige mens is nie in die antieke wêreld erken nie. Die  Grieke was duidelik nie geskool in die Hebreeuse wysheidsliteratuur van die Ou Testament nie.

Hoogmoed bring ‘n mens tot ‘n val; nederigheid bring eer. (Spreuke 29:23)

In nederigheid aanvaar ons die wil van God en so ‘n persoon geniet die Koninkryk van God hier op aarde waarin ons leef as ons Jesus aanvaar.

Daar is geen selfbejammering van Johannes die Doper nie. Hy het nooit meer verwag nie. Hy het geweet hy is die voorloper, die wegbereider.

Die lewe sal makliker wees as elke mens van sy Godgegewe rol in die wêreld bewus is en soms die ondergeskikte rol speel. Ons maatstaf is so anders as God s’n. Enige taak vir God het grootheid ingebou.

Geen mens is tot meer in staat as wat God hom gee nie.

In die woorde van Johannes die Doper:

“Niemand besit enige bevoegdheid om iets te doen as dit nie uit die hemel aan hom gegee is nie.

 Hy het Jesus die bruidegom genoem en homself die vriend van die bruidegom.

Een van die dieper simbole van die Ou Testament is God as bruidegom en die volk Israel as Sy bruid. Die verhouding tussen God en Sy volk is so spesiaal soos ‘n huweliksverhouding. As Israel afgodery praktiseer is dit soos owerspel (Exodus 34:15; Deuteronomium 31:16; Psalms 73:27Jesaja 54:5). Die Nuwe Testament het hierdie beeld verder uitgebou en praat van die kerk as die Bruid van Christus (2 Korintiërs 11:2 en Efesiërs 5:22-32).

Die bruidegom se vriend het ‘n belangrike taak in ‘n Joodse huwelik gehad. Hy was die kontakpersoon tussen die bruid en bruidegom, hy het die troue gereël, hy het die uitnodigings uitgehandig, hy was die seremoniemeester. Hy het die bruid en bruidegom bymekaargebring. Hy het een belangrike en spesiale verpligting gehad. Hy het toegesien dat daar nie sommer enige man by die bruid beland. Hy het die stem van die bruidegom geken en net hom by die deur van die huwelikskamer toegelaat, waar hy die bruid veilig bewaar het.

In die laaste verse van hierdie hoofstuk weet ons nie meer of die Johannes die Doper aan die woord is nie, of Johannes die skrywer van die boek self kommentaar lewer nie.

Die woorde verklaar die gesag van Jesus. Hy ken God omdat Hy van God af kom. Hy het die beste inligting oor die karakter van God. Ons leef in die Gees-dipensasie en kan hierdie kennis van God bekom deur die Heilige Gees.

In die antieke tyd is alle dokumente met ‘n seël bevestig. Jesus is die seël op die Testament wat ons van God kry.

God het niks van Jesus teruggehou nie. Hy het die Sy Gees in volle maat uitgestort. Die Gees het twee doelstellings: om aan die mens God se waarheid te openbaar en om die mens in staat te stel om dit te erken en te verstaan.

Om Jesus se woorde te hoor is om God te hoor. Dit is die keuse tussen lewe en dood. Die keuse word regdeur die Bybel beklemtoon. (Deuteronomium 30:15-20; Joshua 24:15)

Op die kruispad van elke lewe is daar altyd ‘n keuse. Wat sal jy met Jesus doen? Elke dag, elke uur is daar ‘n keuse. God se liefde konfronteer. Hy is waarheid en liefde.

Hy sê dit self. (Exodus 34:6, The Message)

God passed in front of him and called out, “God, God, a God of mercy and grace, endlessly patient—so much love, so deeply true—loyal in love for a thousand generations, forgiving iniquity, rebellion, and sin. 

 

146. Kyk op en leef.

Ons wil nie van oordeel hoor nie. Ons ken mos vir Jesus, dan nie? Hy het gekom om ons sonde te dra, om God se liefde te betoon en al die straf en oordeel op die kruis op Hom te neem en nou is alles goed. Tog sien ons soveel sonde, hel en vernietiging daagliks om ons. Wat gaan aan?

Sonde het gevolge. Ons ken tog die storie van die Tuin van Eden. Hoe die slang, God se teenstaander, satan, met Eva geredeneer het, haar oortuig het om die vrug van die Boom van Kennis van Goed en Kwaad te eet, vir Adam te gee en hoe hulle saam van God probeer wegkruip het. Sonde het hulle naaktheid ontbloot, ‘n groot kontras met die gemak en veiligheid in die teenwoordigheid van God.

Hier in Johannes 3:14-15 noem hy die snaakse storie in die Ou Testament wat in Numeri 21:4-9 vertel word.

Die hoofstuk in Numeri begin met ‘n groot oorwinning oor die Kanaaniete, toe Israel beloof om al hulle stede te vernietig, net soos sonde wortel en tak in ons lewe uitgeroei word. Om werklik van al ons verwonding en ou-lewe-denke ontslae te raak is die stryd om ware vryheid in Jesus. God het die Kanaanitiese leër in hulle hand gegee en hulle het geseëvier. Net in die volgende verse begin die gekla – ek hou nogal van die ou Afrikaans: murmureer. Dit is so beskrywend van ‘n onderlangse gemompel met ‘n frons en ‘n dik mond.

“Waarom het U ons uit Egipte laat trek net om in die woestyn te sterwe? Hier is nie brood en water nie, en ons is sat vir hierdie slegte kos.”

Die Here stuur toe giftige slange en baie mense is dood. Hulle pleit by Moses om hulp en hy bid om uitkoms. Toe sê God:

“Maak ‘n beeld van ‘n giftige slang en sit dit op ‘n paal. Elkeen wat gepik is en daarna opkyk, sal lewe.” Moses het toe ‘n koperslang gemaak en dit op ‘n paal gesit. As iemand wat deur ‘n slang gepik is, na die koperslang opkyk, het hy bly leef.

Ons dink dis geweldig dat soveel mense dood is. Ons kennis van God is anders nadat Jesus ons die Vaderhart kom wys het. Ons weet God is goed en Sy bedoelinge met ons is goed. Waarom word giftige slange onder sy volk ingestuur? Die verklaring van gebeure onder die ou profete was dat alles, goed en sleg van God af gekom het. Ons weet die slegte is die gevolge van sonde wat hierdie wêreld in ‘n toestand van gebrokenheid hou en daarom ondervind ons siekte en dood. Mense gaan steeds dood van sonde. Selfs in hulle gebrokenheid verwerp hulle God. Hy wag altyd vir die roep om uitkoms, sodat hulle gered kan word deur op te kyk.

Die slange was simbolies van die dodelike krag van rebellie teen God.

Die storie simboliseer die vernietiging van ontevredenheid en klagtes op jou persoonlike wildernispad. As jy sou sê jou siel is nou sat vir hierdie slegte kos, is dit ‘n klagte teen die voorsiening van God in jou lewe.

John Bevere het my denke geskok toe hy blatant die ware impak van klagtes so verduidelik: Complaining is like saying to God: I don’t like what You are doing in my life and if I were You I would have done it differently.

Daar is soveel van die Evangelie in hierdie verse oor die slange. Jesus gebruik self hierdie voorbeeld en verklaar dat net soos die slang in die woestyn op ‘n paal opgelig is, so moet die Seun van die Mens opgelig word, sodat almal wat opkyk kan leef. Ons kan ons moderne siektes almal met die gif van slange vergelyk. Ons kyk na die kruis en leef (Hebreërs 12:2).

Die gif van die slange het soos vuur gebrand en daar was geen water vir verligting nie. Om na ‘n slang op ‘n paal te kyk was geen natuurlike oplossing nie. Die genesing kon net van God af kom. Net so met die kruis. God se seun aan ‘n kruis was nie die gewone gang van sake nie. Dit was ‘n hemelse plan. Jesus aan die kruis het soos ‘n sondige mens gelyk, maar daar was geen sonde in Hom nie, net soos die bronsslang soos ‘n slang gelyk het, maar daar was geen gif in nie.

Vertrou ons die Here volkome met ons lewe? Is ons gewillig om ons lewe aan Sy manier van werk toe te vertrou sodat ons gesond en skoon kan word? Wat is jou reaksie op negatiewe omstandighede? Hoeveel van ons slaan die deur en haal ons frustrasie op ons verskrikte geliefdes uit? in plaas daarvan dat ons in ons bidkamer invlug en ons denke aan die kruis onderwerp.

Die storie van die woestynslang gaan voort:

Die werkwoord oplig is hupsoun. Dit is dieselfde woord wat gebruik is om te beskryf hoe Jesus aan die kruis opgelig is (Johannes 8:28, 12:32). Die woord word verder gebruik om te beskryf hoe Jesus in glorie opgelig word by die hemelvaart (Handelinge 2:33 en Filippense 2:9).

Jesus is opgelig aan die kruis en toe in glorie. Die een het nie sonder die ander gebeur nie.

‘n Onveranderde lewe is ‘n lewe sonder glorie. Eers aanvaar ons die kruis van Jesus, dan die kroon. Hoe sou ons as arrogante, sondige mense ooit aan die kruis gedink het, as ons nie ons giftige slange in die woestyn moes oorwin nie? Dit is juis ons omstandighede wat ons bring by die plek waar ons ons Vader van wonderwerke aanroep en om uitkoms bid. Daardie gebed sal ons verander sodat ons Sy glorie kan ervaar.

‘n Veranderde lewe is ‘n lewe van uitnemendheid wat ons na streef. ‘n Lewe wat saak maak is nie die welvarende, super-glansryke lewe van partytjies en vergrype wat die wêreld belowe nie.

Om waarlik te glo dat God is wat Jesus kom sê het Hy is, was vir die Jode baie moeilik; net so moeilik soos wat dit vandag vir ‘n ongelowige is om te glo dat God goed is en die beste vir ons wil hê. Vir die Jode was God ‘n vreesaanjaende figuur wat Sy wet bo alles afdwing met oordeel en straf. ‘n Liefdevolle God was ondenkbaar.

Om te glo dat Jesus sou weet hoe God is omdat Hy die seun van God is, was nog meer onverstaanbaar. Om Jesus te aanvaar was om Sy boodskap te aanvaar en die absolute waarheid daarvan te erken. Hulle rigiede denke en vooroordeel het hulle weerhou om Jesus as hulle Messias te herken. Net soos vandag, is dit net die Heilige Gees wat ons tot insig van die Vader kan bring.

Om te glo is die risiko om Jesus as absolute waarheid te erken. Ons werp ons lewe en alles wat ons het op die genade van God in onbevraagde gehoorsaamheid.

In ruil kry ons ‘n lewe van vrede met God, tuis by ons hemelse Vader en ‘n lewe in harmonie en vergifnis tot ons medemens. Ons glo alles sal ten goede meewerk, selfs al verstaan ons nie. Ons voel veilig in ‘n vreeslike wêreld van verwoesting. Die ewige lewe gee ons vrede met God en onsself sodat ons nie in vrees vir ons eie swakhede leef nie en weet dat ons toekoms die belofte van iets beter hou, ver bo wat ons ooit kan droom.

“This is how much God loved the world: He gave his Son, his one and only Son. And this is why: so that no one need be destroyed; by believing in him, anyone can have a whole and lasting life. God didn’t go to all the trouble of sending his Son merely to point an accusing finger, telling the world how bad it was. He came to help, to put the world right again. (Johannes 3:16-17)

Dit is almal se gunsteling-vers. Dit is na alles die essensie van die Evangelie.

Die inisiatief van saligheid is God s’n. Hy het Sy seun gestuur. Hy het die sondelose Jesus gestuur om ons met Hom te versoen. Dit raak ontslae van al die misverstande rondom ‘n kwaai God wat net straf.

Hoekom? Omdat Hy ons liefhet. Die ganse mensdom word met liefde nader getrek en gedissiplineer. Hy is ‘n Pa en kan nie rus voor Sy kinders almal veilig is nie.

Die volle impak van Sy liefde is die hele wêreld, net net ‘n nasie of ‘n persoon nie. Hy het die hele, wye, bose, aaklige en eensame wêreld lief. Almal wat Sy liefde verwerp is ook ingesluit.

Soos Augustinus dit stel: “God loves each one of us as if there was only one of us to love.”

Ek skryf dit weer. Die definisie van die woord wat so lank in onbruik in Grieks was, totdat een man die inhoud daarvan kom leef het, kom sterf het en die woord se ewigheidswaarde in redding, genesing en vernuwing kom vestig het.

Love = Agapao (verb)

Unconditional love, love by choice and by an act of the will. The word denotes unconquerable benevolence and undefeatable goodwill. Agapao will never seek anything but the highest good for fellow mankind. Agape (noun) is the word for God’s unconditional love. It does not need an affinity, chemistry or feeling. It is a word that exclusively belongs to the Christian community. It is virtually unknown to writers outside the New Testament.