143. Tabernakels, Tempels, Katedrale en Kerke.

Aanbidding is ‘n kenmerk van lewe op aarde. Dink daaraan. Oor die hele wêreld, dwarsdeur die geskiedenis, staan plekke van aanbidding sentraal in die kultuur en geskiedenis van elke volk op aarde. Sedert die antieke tye, is die mees buitengewone bouwerk en selfs sekere natuurwonders aan gode of hoër wesens toegewy.

Die woestynvolk met hulle opvou-weergawe vir ‘n aanbiddingsplek was nie anders nie. Uitgelei onder die son-aanbidders van Egipte, waar verstommende argitektoniese projekte tot eer van hulle gode aangepak is, het God se volk in die woestyn rondgedwaal sonder enigiets om hulle hernieude geloof in die wonderwerk-God YHWH (Yaveh) van hulle geloofsvoorvaders, Abraham, Isak en Jakob te anker nie.

So ‘n ent in hulle woestynwandelinge, vind ons die beskrywing en voorskrifte vir die Tabernakel, ‘n heerlike studie op sy eie. Moses beskryf noukeurig aan die volk wat God bepaal. Heilige Gees-geïnspireerde vakmanne en vroue bou en versier die Verbondsark wat die teenwoordigheid van die Allerhoogste God simboliseer. ‘n Dik-geweefde, geborduurde linnegordyn skei die Ark van die deel waar die Toonbrode (simbool van die Woord van God), die Lampstaander (simbolies van die Lig wat die Woord van God verlig en toegankllik maak) en die goue bak met wierook (simbool van aanbidding) staan. In die voorhof is die brandofferaltaar waar onskuldige bloed ons van sonde reinig en die bronsbak met water wat ons doop simboliseer. Dit is die gevestigde patroon van aanbidding oor al die eeue heen.

Ek is altyd so aangemoedig met die skrif wat die kuns en vaardigheid van die vakmanne wat aan die Tabernakel gewerk het, as ‘n direkte gawe van God beskryf.

Die Here het hom toegerus met sy Gees sodat hy met vaardigheid, insig en verstand enige werk kan doen: ontwerpe maak en dit in goud, silwer en brons uitwerk, edelstene verwerk en monteer, en houtwerk doen. Hy sal enige werk kan doen. Die Here het vir hom en vir Oholiab, seun van Agisamak uit die stam Dan, die begaafdheid gegee om ander as vakmanne op te lei. Die Here het aan hulle die vaardigheid gegee om al die werk van ‘n vakman te verrig: om te ontwerp, om blou, pers en bloedrooi wolstof en linne te borduur, en om te weef. Hierdie manne kan enige werk doen en ontwerpe maak.  (Exodus 35:31-35)

Gevestig in die Beloofde Land skryf Dawid ‘n paar eeue later hoe graag hy ‘n Tempel wil bou, ‘n permanente struktuur om die wonder-God van Israel te aanbid. Sy seun, Salomo, bou ‘n Tempel wat die hoogtepunt van die Hebreeuse beskawing in antieke tye oorheers en die respek en bewondering van buurnasies afdwing. Dit bly die sentrale plek van aanbidding vir 400 jaar. Die afvalligheid van Israel het tot gevolg dat die Assiriërs hulle in ballingskap wegvoer om nooit weer terug te keer nie. Ongeveer 200 jaar later word Jerusalem deur die Babiloniërs vernietig en die mense van Juda in ballingskap weggevoer.

Sewentig jaar na die ballingskap van Juda begin het, word die terugtog aangepak onder leierskap van Ezra en Nehemiah en in groot verwondering oor God se mag en leiding, word die Tempel en die muur van Jerusalem herstel. Die wonderwerke en stryd om die taak te voltooi word noukeurig opgeteken,

Onder Romeinse oorheersing, eeue later, werk die Joodse koning Herodus die Grote, dekades lank om die Tempel tot sy vorige glorie te herstel. Hy is bekend vir sy grootse, argitektoniese projekte oral in Judea in daardie tyd. Die Tempel is die trots en vreugde van Jerusalem en die sentrum van Joodse kultuur en godsdiens, gebou op die patroon van die Woestyntabernakel en die Tempel van Salomo, met ‘n paar byvoegings, soos die voorhof van die Vroue en die voorhof van die Heidene, wat nooit in die oorspronklike plan was nie.

Die Tempel was die trots van die Fariseërs en priesters en duisende pelgrims van oor die wêreld wat graag in Jerusalem se hart wou aanbid. Dit was die sentrum van ‘n Jood se daaglikse lewe en kultuur. Daar was vir hulle geen alternatief nie. As jy ‘n Jood gebore is, was jy onder die Wet van Moses en kon niks anders kies nie. Daaglikse gebed, offers, die Sabbat en die Feeste het die ritme van jou lewe bepaal. Niks anders was belangrik.

Jesus se optrede by die Tempel toe Hy die geldwisselaars daar uitgejaag het, het onmiddellike reaksie by die Joodse leiers uitgelok.

Hulle reaksie word in Johannes 2:17-25 bespreek.

Jesus se dissipels het die woorde van Psalm 69:9 onthou. Die Psalm vertel van die passie van die Messias vir die huis van God en beskryf dit so sterk soos jaloesie oor die ware aanwending van aanbidding in die Tempel. In hulle gedagtes is Jesus se optrede in lyn met die Messias.

Die reaksie van die Jode is verstaanbaar. Hulle wou Jesus se geloofwaardigheid met ‘n teken bevestig. Hulle het geweet dat die Messias tekens en wonders sou doen. Jesus moes Homself bewys deur iets bonatuurlik te doen.

Jesus se antwoord was ‘n groot probleem. Johannes skryf met die perspektief van sewentig jaar na die gebeure.

Die woorde waarmee Jesus hulle vrae antwoord, is later in Sy verhoor teen Hom gebruik. Hulle het Hom aangekla en gesê:

 “Hierdie man het gesê: Ek kan die tempel van God afbreek en in drie dae weer opbou.” (Matteus 26:61)

Jesus het nooit gesê dat Hy die Tempelgebou sal afbreek en opbou nie. Hy het geweet dat die einde van Tempelaanbidding naby was. Hy het aan die Samaritaanse vrou gesê dat aanbidding in gees en waarheid nie meer plekgebonde sou wees nie.

Tempelaanbidding het nie mense na God toe gelei nie. Dit moes eintlik. Dit het heeltemal irrelevant geraak. Jesus wou die ou manier vervang met iets waarvan hulle nog nooit gehoor het nie.

God maak nuut, altyd beter as tevore. Dit is die wonderwerk-beginsel van herstel. Hy maak iets wat jy nie in jou wildste drome kan opdink nie. Kyk uit vir die nuwe. (Jesaja 42:9; 43:19)

Jesus het gepraat van ‘n Tempel wat nie deur mense hande gebou is nie. Sy koms het die einde van mensgemaakte Tempels beteken. Sy koms sou die nuwe bring, Gees-aanbidding sonder geboue en sonder dieroffers. (Markus 14:58)

Die Heilige Gees sou die gelowige toerus met salgheid en krag om met die waardigheid van die Kruis en deur die reinheid van die Bloed in die Teenwoordigheid van die Almatige in te kom.

In 19vC begin Herodus die bouwerk aan die Tempel in Jerusalem om die Jode onder Romeinse heerskappy gelukkig te hou. In 64nC is die bouwerk eers klaar. Dit het 46 jaar geneem om te bou. ‘n Skamele ses jaar daarna, in 70 nC vernietig die Romeinse weermag onder leiding van Vespasianus die Tempel sodat net die klaagmuur bly staan.

Met hierdie kennis as agtergrond is Jesus se stelling skokkend. Het Hy regtige bedoel dat die wonder en luuksheid van al hulle moeite tot niks sal kom nie? Al hierdie geld wat spandeer word, was gemors en irrelevant in God se plan – hoe dan nou?

Jesus roep die mense in diskussie oor Sy stelling. Hy stel die figuurlike tenoor die letterlike, die fisiese in kontras met die geestelike.

Verder nog, Sy stelling gaan eintlik oor die Opstanding. All mense, waarookal, sou toegang tot die opgestane Christus hê. Die alom-teenwoordige God sou aanbid word tot aan die eindes van die aarde. Die ware diepte van Sy stelling sou eers na die Opstanding waarlik verstaan word.

Die skrif wat hulle geglo het is dat hulle van die dood gered wou word. Die dood was ‘n vreesaanjaende misterie. Die Psalmis sing duisende jare gelede:

U gee my nie oor aan die dood nie. U laat u troue dienaar nie in die graf kom nie. (Psalm 16:10)

Petrus haal dit aan op Pinksterdag (Handelinge 2:31), Paulus haal dit aan in Antiochië (Handelinge 13:35). Redding uit die dood het die vertroue van die kerk in die opgestane Jesus bevestig.

In die dispensasie van die Heillige Gees hoef ons nie op enige mensgemaakte plek van aanbidding staat te maak nie. Ons aanbid in ons eie Tempel in ons diepste wese as gevolg van die Opstanding en die uitstorting van die Heilige Gees.

Jesus het baie wonderwerke in Jerusalem gedoen. Baie mense het in Hom geglo, maar tog het Hy Homself nie openlik as die Messias verklaar nie.

Jesus het die mens goed geken. Hy het geweet dat ‘n wonderwerk, hoe groot ookal, gou ou nuus word. In die joernalistiek praat hulle van die “een dag wonder”. Sensasie is sensasioneel vir ‘n baie kort tydjie.

Die mense sal die wonders en tekens volg, maar baie sou nie bereid wees om hulle kruis op te neem nie, hulleself te verloën en die houding van diensbaarheid te leef nie. Oorgawe aan die wil van die Here in alles, sou die ware van die oppervlakkige skei.

Jesus wou nie die populêre stem hê nie. Hy sou hulle aanvaarding ontvang slegs as hulle presies besef het, wat aanvaarding behels. Die menigte sou Hom die Messias verklaar en dan verwag dat Hy hulle oppervlakkige verwagtinge vervul.

Hy het gekom vir soveel meer as wat die mens ooit kon droom.

Johannes gebruik drie woorde vir wonderwerk:

Teras beteken ‘n wonderlike ding. Dit het geen morele inhoud nie, eenvoudig ‘n wonder. Die Nuwe Testament gebruik nooit hierdie woord alleen om ‘n wonderwerk te beskryf nie.

Dunamis beteken krag. Ons woord dinamiet kom daarvandaan. Dit wys op buitengewone krag, effektiewe krag wat deur almal erken word.

Semeion beteken ‘n teken. Dit is die woord wat Johannes gebruik. Die daad vertel van die man, openbaar sy karakter en dien die doel om die persoon wat optree beter te ken en te verstaan.

Wonderwerke het aan die mens die aard van God getoon.

Jesus wys wie God is. Hy maak die siekes gesond, Hy troos die armes en Hy voed die wat honger ly.

Sy wonderwerke was die teken van God se liefde vir die mens.

142. In die hitte van die stryd – ‘n korrupte kerk.

In die tweede hoofstuk van Johannes, net na die vreugdevolle wonderwerk van die verandering van water in wyn, word die toneel voorberei vir ‘n vuurwarm, geweldadige konfrontasie tussen Jesus en die Tempelowerhede. (Johannes 2:12-16)

Dit is Paasfees in Jerusalem. In Johannes se Evangelie maak Jesus gereelde besoeke aan Jerusalem en die Tempel. Jesus het Sy liefde vir Jerusalem in sy weeklaag oor die stad uitgespreek in Matteus 23:37:

“Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie!

Elke man binne ‘n 15 myl radius om Jerusalem moes die Paasfees bywoon – een van drie uit sewe verpligte feeste om in Jerusalem te vier. Die Romeinse sensus van 4nC het berig dat 250 000 lammers tydens die Paasfees geslag is. Gewoonlik is ‘n lammetjie as offerande deur 10 mense gedeel. Dit stel die getal Jode in Jerusalem oor so ‘n feestyd op rofweg 2,5 miljoen. Geen wonder die Joodse leiers het ‘n verraaier nodig gehad om Jesus te kry, tydens die feestyd toe hulle Hom in hegtenis geneem het.

Die ander Evangelies plaas die Tempelreiniging aan die einde van Sy bediening en beskryf dit as een van die redes vir die woede wat teen Jesus opgevlam het en direk tot Sy inhegtenisname gelei het. Johannes skryf nie kronologies nie.

Volgens die profesieë oor die Messias, sal Hy na die Tempel toe kom. (Maleagi 3:1-4). Johannes wil die waarheid van hierdie profesie beklemtoon. Hy beskryf Jesus as die Een wat deure oopmaak vir almal wat na die Tempel kom met die diep verlange om God te ontmoet. Johannes is nie so bemoeid met die datum nie, eerder die aksie wat in lyn met die beloofde Messias is.

Dit was die begeerte van elke Jood, waar ookal hulle oor die wêreld versprei was, om minstens een Paasfees in Jerusalem te vier. Dit was by verre die mees belangrike fees op die Joodse kalender. Elke Jood oor 19 jaar oud het Tempelbelasting betaal, die ekwivalent van twee dae se loon.

‘n Groot verskeidenheid munte was in Judea in omloop; Roomse en Griekse silwer, munte uit Persië, Tirus en Sidon (antieke Fenicië, hedendaagse Lebanon) en Egipte. Tempelbelasting moes in Galilese sikkels of Tempelsikkels betaal word. Alle ander geldeenhede was vreemd en onrein. Vir die Tempel kon slegs “rein” en aanvaarde munte gebruik word.

Natuurlik het die pelgrims vanoor die wêreld met allerhande munte by die Tempel opgedaag. Die geldwisselaars het hulle munte omgeruil vir dit wat vir die Tempel aanvaarbaar was. As die omruilproses eerlik en reguit plaasgevind het, selfs met kommissie, sou dit goed gewerk het, maar die transaksies was minder eerbaar. Net die kommissie op die omruilproses was minstens een dag se loon.

Die welvaart van die Tempel was verstommend. Die geld het ingestroom. Die priesters en hoë priester het in weelde geleef, hoog geag deur die samelewing. Toe Crassus (‘n Romeinse leeraanvoerder) Jerusalem in 54vC beset, het hy die Tempelskatkis geroof en die ekwivalent van 2,5 miljoen pond sterling gevat sonder om die reserwes heeltemal uit te put.

Die wisselkoers is in die Talmud bepaal. Dit was nie verkeerd om kommissie by te sit nie, maar die winste het gestyg en die armes is in die naam van die Here uitgebuit.

Buiten die geldwisselaars was daar die verkopers van osse, skape en duiwe vir offerandes. ‘n Besoek aan die Tempel het gewoonlik met ‘n offerande van dankbaarheid, aanbidding of belydenis gepaargegaan. Dit was meer gemaklik om die diere daar op die drumpel van die Tempel byderhand te hê. Die Wet van Moses het voorgeskryf dat die dier sonder gebrek moes wees, en daarvoor moes die priester die dier goedkeur. Die Tempelowerhede het spesiale mense aangestel om die inspeksie te doen en vir die inspeksieproses was daar ‘n fooi. Indien die dier buite die Tempelgrense aangekoop is, was afkeuring omtrent gewaarborg. Die diere binne die Tempelgrense was sowat 15 maal duurder, maar wel as waardig en sonder gebrek gewaarborg. Weereens was dit ‘n skaamtelose uitbuiting.

Al hierdie dinge het Jesus in vlammende woede laat optree. Sy aksie was nie impulsief nie; dit was berekend en kalm. Hy het ‘n swepie gevleg en “voorberei” vir die aksie. Sommige kommentatore meen dat Sy gesig vreesaanjaend was. Die woede van die Godheid was daarin te sien. God het nie passief gestaan in die aanskoue van soveel korrupsie en onregverdigheid.

Jesus se woede was heeltemal onselfsugtig. Dit het nie oor Homself gegaan nie. Dit was alles namens die verlore mense wat God gesoek het. Hy het namens die wêreld wat verlang om God te vind opgetree en hoegenaamd nie God se ware karakter van liefde en aanvaarding in die georganiseerde godsdiens van die dag sou kon vind nie. Jesus het Homself nederig en sagmoedig genoem, maar Hy het presies geweet wanneer om sy woede los te laat op dit wat die siel van die mens verwoes.

Sy drastiese stap het rede gehad.

Die Tempel was veronderstel om God se huis te wees waar God in heiligheid en respek aanbid moes word. Aanbidding sonder respek is vreeslik. Formele en ondeurdagte aanbidding erken nie die heiligheid van God nie. Ons kan nooit ooit ons doelstelling met aanbidding vergeet nie. Hier in die voorhowe van die Tempel was argumente oor muntkwaliteit en dierpryse oorverdowend. Is dit waar iemand sy God kon ontmoet? Dit is beter om weg te bly as om die huis van die Here vir jou eie gewin te gebruik!

Paulus se woorde in 1 Korintiërs 11 wanneer hy waarsku oor die onwaardige gebruik van die Nagmaal, ego hier ook. Moet liewer nie deelneem as jy nie met jou hart en siel jou sonde bely en jou weer eens in die Kruis verbly nie. Onthou dit gaan nie oor jou eie waardigheid nie, net jou hart en siel se toewyding.

Jesus wou toon dat dieroffers heeltemal irrelevant is. Vir eeue al het die profete dit verklaar. God stel nie in die bloed van dier belang nie, eerder die gehoorsaamheid van die hart. [Jesaja 1:11-17, Jeremia 7:22, Hosea 5:6, 8:13, Psalms 51:16.]

Vind jy jou vreugde in die diens van jou kerk? Is daar vir jou vergenoegdheid in die geboue en toerusting? Ware aanbidding aan God is ‘n gebroke hart en ‘n verslae gees. Bring jou vreugde-offer oor die wonderwerke in jou lewe en moenie een van Sy weldade vergeet nie.

Die Tempel moes ‘n plek van gebed gewees het.

Toe het Hy die mense geleer en vir hulle gesê: “Staan daar nie geskrywe: ‘My huis sal ‘n huis van gebed vir al die nasies wees’ nie? Maar julle het dit ‘n rowersnes gemaak.” (Markus 11:17. Sien ook Jesaja 56:7)

In die Tempel van Salomo was daar 24/7 aanbidding.

In die tyd van Jesus het die Tempel uit verskeie voorhowe bestaan. Daar was die Voorhof van die Heidene, die Voorhof van die Vroue, dan die Israeliete en dan die priesters. Die geldwisselaars en verkopers was almal in die Voorhof van die Heidene ingedruk. Verder as hierdie punt kon geen heiden gaan nie.

Die Joodse geloof met een God was vir sommige mense in die antieke wêreld baie aantreklik . Die verwarring in die Griekse en Romeinse gemeenskappe met hulle baie gode, was so groot dat mense in groot geestelike onsekerheid kom vra het om deel van die Jodendom te word. Die Jode het hulleself as eksklusief en anders beskou en die proseliete (buitestaanders wat hulle tot die Jodendom bekeer het) net in ‘n baie klein deel van die Tempel toegelaat.

Wat verhinder ware aanbidding in ons kerke vandag? Kan dit wees dat ons eie snobbisme en ekslusiwiteit, gebrek aan liefde, warmte en verwelkoming die atmosfeer in ons kerke so koud maak, dat ‘n heiden onwelkom voel? Wat sien die mense in die voorhowe van ons kerke en in die voorhowe van die Christendom as geheel? Dalk net veroordeling en vooroordeel? Of sien hulle die liefde van ons Vader in ons eie lewens wat hulle omhels as hulle kom met die verwonding van hulle laste?

Het hierdie huis wat na my Naam genoem is, vir julle ‘n rowerspelonk geword? Ek het gesien wat julle doen, sê die Here. (Jeremia 7:11)

Wat van die kerk vandag? Al hierdie woorde is net so van toepassing op ons kerke.

Aanbidding is soos ‘n teleskoop. Ons kan die visie verskerp deur die knoppe aan die kant te draai, om die afstand tussen die oogstuk en die lens te verleng of te verkort. Die verskil in die afstand bring die objek in groter fokus.

Waar vind ons hierdie knoppe in aanbidding? Ons nader tot God met ‘n nederige gees, ‘n gebroke hart en ‘n vasberade bedoeling om Hom te soek. Dit sal die afstand laat verdwyn. As ons ons sonde bely, en Sy vergifnis deur die Kruis aanvaaar, is ons waardig om in die teenwoordigheid van die Almagtige God in te gaan.

Ons hoef nie perfek te wees nie. Ons hoef nie reg te leef nie. Ons nader deur die Bloed van Jesus, wat ons in die rein klere van geregtigheid klee om in die teenwoordigheid van God te wees.

Prys die Here vir die kruis. Ons verwelkom ons “heidene” in ‘n huis van gebed en nie ‘n rowerspelonk nie.

 

 

141. ‘n Groot fees in ‘n klein hoekie van die wêreld.

Wie weet nie van die bruilof in Kana nie? Soveel mense wat hulle nie eintlik aan Bybelstories steur nie, weet van die water wat in wyn verander het. Almal onthou ook dat dit by ‘n troue plaagevind het. Die gewoontes rondom huwelike het oor eeue baie verander en is anders in verskillende kulture, maar die liefde tussen twee mense word altyd gevier.

‘n Bruilof is ‘n fantastiese geleentheid. Dit is die amptelike, publieke viering van liefde wat in privaatheid ontdek is. Troues is deesdae so vol tradiesies en verwagtings, dat ek altyd bevoorreg voel om uitgenooi te word. Soveel moets en moenies, maak dit duur en vol spanning. Ten spyte van alles is dit ‘n eenmaal-in-‘n-leeftyd geleentheid, wat met die grootste sorg beplan word. Maak maar seker om met groot entoesiasme op daardie elegante uitnodiging te reageer; die herinneringe sal altyd in die gedagtes van die hoofspelers agterbly.

Jesus was so dikwels in Sy lewe op aarde ‘n gas by ‘n partytjie of fees. In die lees van die Evangelies, sou mens kon aflei dat Hy ‘n geëerde en populêre gas by ‘n hele aantal geleenthede was. ‘n Hele paar is opgeteken.

Hier in die eerste elf versies van die tweede hoofstuk beskryf Johannes Jesus se eerste wonderwerk – die krisis oor die wyn by die bruilof in Kana.

Jesus en Sy dissipels was uitgenooi en dit lyk asof Maria, sy ma, betrokke was by die reëlings van die geleentheid wat heel moontlik ‘n familietroue was. Sy is besonder besorgd oor die wyn wat opraak en kon met gesag die bediendes versoek om die kanne aan te dra.

‘n Troue was baie belangrik. Die huwelik van ‘n maagd het gewoonlik op ‘n Woensdag plaasgevind en die fees het oor meer as een dag gestrek – dikwels ‘n hele week. Na die seremonie, is die paartjie onder ‘n versierde koepel op die langste roete moontlik na hulle huis begelei, sodat soveel as moontlik mense hulle kon seën met goeie wense. Hulle het nie op wittebrood gegaan nie. Vir ‘n week was hulle huis oop vir almal om hulle te bederf. Hulle het krone gedra en almal het hulle op die hande gedra met alles wat hulle moontlik kon wens. Vir die meeste mense het ‘n lang lewe van harde werk voorgelê, en hierdie vreugdefees was ‘n pragtige herinnering aan ‘n ontspanne vakansie sonder kommer.

Jesus en sy vyf dissipels het saam fees gevier. Wyn was baie belangrik vir enige Joodse fees, hoewel dronkenskap skandalig en skokkend was en glad nie verdra is nie. Wyn is meestal verdun – twee dele wyn by drie dele water. Gasvryheid in die Midde-Ooste was ‘n heilige plig en as die voorbereidings sou faal en daar te min van iets was, was dit ‘n vreeslike skande en vernedering vir die gasheer, wat gewoonlik die bruidegom was.

Die vertaling van die woorde waarmee Jesus sy ma aanspreek, klink disrespekvol. Jesus praat met haar in ‘n sagte, geselstoon en gebruik die woord wat hulle vir geliefde vrou gebruik het – gunai in Grieks. Sy kommentaar aan haar beteken eintlik: moenie bekommer nie, jy verstaan nie wat eintlik aangaan nie. Laat alles aan my oor en ek sal op My manier die stiuasie hanteer.

Die kanne was baie groot, heel moontlik met ‘n inhoud van 75 liters. Johannes verduidelik dat die kanne gebruik is vir die water van die wasrituele. Hande en voete wassery was baie belangrik in ‘n stowwerige, warm land. Die gaste se hande is meerdere kere gedurende die maaltyd gewas.

Die kanne is onder toesig gevul sodat almal seker was dit was skoon water en skoon kanne. Toe is die inhoud na die hoofkelner geneem. Die bruidegom, wat vir die voorsiening van die wyn verantwoordelik was, het die kommentaar van die hoofkelner gekry. Natuurlik sou mense die slegte en goedkoper wyn laaste bedien, wanneer die gaste nie meer so baie omgee oor die kwaliteit nie. Hier sê die hoofkelner aan die bruidegom hy het die beste wyn vir laaste gebêre.

Hierdie wonder het Jesus se dissipels die eerste keer laat sien wie Hy werklik is.

Hy het aan die alledaagse deelgeneem; ‘n gewone bruilof in ‘n klein dorpie het hy die gasheer van vernedering gered. Net om ‘n gewone mens se vreugdefees aan te help, gebruik Hy die krag en wonder van die hemele daar in ‘n klein kringetjie van vriende en familie.

Maria het duidelik vertroue in Jesus gehad. Moontlik het sy al voorheen, Sy manier van doen ervaar. Onwillekeurig het sy Hom betrek by haar krisis en onmiddellik Sy opdragte gehoorsaam, sonder om te verstaan of te weet hoe dit gaan werk.

Jesus sê ook aan Maria: My tyd het nog nie gekom nie. [Johannes 7:6,8, 12:23, 17:1. Sien ook Matteus 26:18,45 en Markus 14:41.]

Jesus het geweet die wonderwerk sou Hom in die publieke oog sit. Hy was bedag daarop dat Maria nie die volle implikasies van Sy bekendmaking aan die publiek besef het nie.

Jesus het geleef met een doel. Dit was nie ‘n lewe om Sy eie begeertes te vervul nie – alleen om te leef waarvoor Hy gestuur is. Sy lewe was met die oog op die ewigheid, nie aardse tyd nie. Elke daad en woord was gekleed in die realiteit van die ewigheid. Elke detail het saak gemaak.

Hulle het ses potte met water gevul. Sewe simboliseer volmaaktheid, ses onvolmaaktheid. Ses potte water dui op die onvolmaaktheid en kragteloosheid van die wet. Binne die onvolmaaktheid, skink Jesus die nuwe wyn van die goeie nuus van genade. Ou potte met water word die beste wyn in Sy hand.

Hy het baie wyn gemaak. Hy het al ses potte gevul. Niks word half gedoen nie. Dit was genoeg vir al die dae van die bruilof en nog meer. Dit spreek van Sy oorvloedige, wonder-voorsiening. Al die onvolmaaktheid is geneutraliseer en genade is oorvloedig – meer as wat ooit nodig mag wees.

Die Grieke het ook ‘n storie gehad van drie leë kanne wat aan die begin van ‘n fees in die teenwoordigheid van die priesters wonderbaarlik met wyn gevul is. Johannes sê vir die Grieke: bring julle stories, in julle harte weet julle dis nie waar nie. Ek het die antwoord. Jesus is die droom wat waarheid is. Alles wat julle gedink het julle gode kan doen, kan Hy doen en Hy sal dit vir julle doen.

Johannes leer dat Jesus nie net nou en dan ‘n wonderwerk doen nie. Hy doen dit konstant. Hy sal volhoudend jou kanne water wyn maak, nuwe lewe vir jou lewensfees. ‘n Veranderde lewe is ‘n wonderwerk. Die onmoontlike word moontlik. Ons is die getuies van die glorie in die onmoontlike!

Ek is altyd opgewonde as ek ‘n reënboog sien. Vir my is ‘n reënboog die teken van God se verbondsliefde en die waarheid van al die verbondsbeloftes oor eeue en eeue. Ons weet mos hoe mens ‘n reënboog in die refleksie van ‘n blink voorwerp kan sien, of soms in die stort as die son die kraan tref. Eendag toe is dit vir my duidelik – daar is altyd ‘n reënboog. Dit maak net saak hoe ons kyk. Vanuit die regte hoek sal ons altyd die skittering kan sien. Ons kyk maak die verskil.

Die Here het my geleer daardie dag. Daar is altyd ‘n wonderwerk. Dit maak net saak hoe ek kyk. Sien ek Sy hand in my lewe met die insig van die Heilige Gees of kyk ek deur die donker blinder van politiek, negatiewe omstandighede, gebroke verhoudings en verwonde lewens?

Ai Bodemklipviende – kom ons roep die gebed van die blinde man weer en weer – Here, dat ek kan sien…

Maak vol jou kanne – Jesus is hier om wyn te maak.

 

 

 

140. Mens ontmoet God – een gewone dag langs die meer…

Is daar iemand in jou lewe wie jy so bewonder dat jy die presiese dag en omstandighede van ontmoeting soos gister kan onthou? Mense vra dikwels hoe ‘n man en vrou ontmoet het. Die storie word dan met lag en luister en tussenwerpsels vertel. Die gehoor is gefasineerd en tevrede met die storie wat in lewenslange toewyding eindig.

Dink net aan die massiewe historiese impak van ‘n ontmoeting wat so beskryf word:

Andreas, die broer van Simon Petrus, was een van die twee wat dit van Johannes gehoor en Jesus gevolg het. Daarna het hy eers sy broer Simon gaan soek en vir hom gesê: “Ons het die Messias gekry!” Messias beteken Christus. Hy het hom na Jesus toe gebring. Jesus het stip na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon seun van Johannes; jy sal Sefas genoem word.” Sefas beteken dieselfde as Petrus. (Johannes 1:40-42)

Andreas is so ingenome met sy ontmoeting met Jesus dat hy onmiddellik sy broer betrek. Dit is ‘n geweldige oomblik – hierdie ontmoeting van Jesus en Petrus. Dink aan hulle verhouding met die luuksheid van terugblik. Dit het alles begin een gewone dag langs die meer van Galilea in die middel van die wêreld.

Hierdie verse gebruik die terme Messias en Christus wat onderskeidelik die Hebreeus en Grieks vir die gesalfde koning van God is. Dit was algemene praktyk in die antieke wêreld om konings te salf.

Andreas word aangedui as Simon Petrus se broer en speel dwarsdeur die Evangelies ‘n belangrike rol om mense bymekaar te bring. Hy het die seuntjie met die twee vissies en vyf brode na Jesus toe gebring vir die vermeerderingswonderwerk (Johannes 6:8-9). Hy is altyd bereid om die mindere plek in die groter storie in te neem. Hy het ook die soekende Grieke in Jesus se teenwoordigheid ingelei. Hy het die hart van ‘n sendeling.

Andreas speel die hoofrol in die ontmoeting van Jesus en Petrus.

Jesus het stip na Petrus gekyk. Die woord wat vir kyk gebruik word, beteken eintlik ‘n kyk soos ‘n intense staar, ‘n kyk tot diep in Petrus se hart. Hy gee Petrus ‘n nuwe naam, net daar en dan. Jy sal Sefas genoem word, wat rots beteken.

Twee name was redelik algemeen in daardie dae. ‘n Mens het dikwels ‘n Aramese en ‘n Griekse naam gehad, soos Thomas en Didimus (Grieks vir tweeling). Thabita was Aramees en Dorkas Grieks vir gemsbok. Petrus en Sefas was dieselfde naam in verskillende tale.

In die Ou Testament het ‘n nuwe naam ‘n nuwe lewe aangedui, ‘n nuwe verhouding met die Here. Jakob het Israel geword in Genesis 33:28 en Abram het Abraham geword in Genesis 17:5. ‘n Nuwe mens kort ‘n nuwe naam.

Jesus sien met die visie van God in die lewe van ‘n mens. Hy sien die betekenis en potensiaal van ‘n mens in ‘n oogopslag. Hy is deel van God se skepping van en plan met elke mens. Hy het die hele kragtige toekoms van daardie Galilese visserman in ‘n oogopslag gesien.

Jesus sien dit in elke mens wie sy lewe oorgee aan God se plan. Hy het dit in Gideon en Dawid en talle ander geloofshelde gesien.

Dit is hoe ons na ander mense moet kyk. Dink aan die kragtige Jesus-woorde van visie en potensiaal oor ons kinders se lewens wanneer ons met Heilge Gees-gesalfde oë kyk.

In Matteus 16:13-20 is ‘n ander gesprek van Jesus met Sy dissipels opgeteken. Jesus vra ‘n maklike vraag: wie sê die mense is ek? Maklike antwoord gee die dissipels: sommige sê Elia, ander Moses, party Johannes die Doper of ander meen dat Jesus een of ander nuwe profeet is.

Skielik maak Jesus dit persoonlik.

Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?”

Wel, natuurlik sal die voortvarende Petrus dit uitbasuin.

“U is die Christus, die Seun van die lewende God.”

Hierdie inpsirerende, Heilige Gees-woorde laat Jesus ‘n seën oor Petrus uitspreek wat oor eeue tot in ewigheid sal weergalm.

Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie ‘n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.”

Dit is openbarings-woorde van Petrus. Dit is wat ons begeer. Ons wil sien en praat soos wat die Vader in die hemel aan ons openbaar.

Jesus verklaar dat Petrus se insig wat in sy woorde uitkom die rots is waarop die kerk gebou word. Dit is nie Petrus self nie, maar sy insig wat die rotsfondament van die kerk is. Die kerk van Jesus is nie gebou op ‘n mens nie.

Die kerk is gebou op die openbaring van wie Jesus is.

Dit verklaar die diep verskille tussen Petrus en Judas. Kom ons kyk na hulle rolle in die donker ure van Jesus se verhoor, voor die kruisiging.

Judas het behoort aan ‘n politieke party wat die Romeine met geweld wou uitdryf en ‘n onafhanklike Joodse staat uitroep. Na drie jaar saam met Jesus, het hy male sonder tal gesien hoe Jesus woedende argumente en selfs potensiele steniging vermy. Hy het net weggeloop al het sekere mense al klippe opgetel. Judas het besef dis ‘n wonderwerk dat hulle Jesus nie doodmaak nie.

Dit het hom laat dink om Jesus se hand te dwing en hom in konfrontasie met die Romeinse owerhede te bring. Dit sou ‘n wonderwek forseer en so Judas se visie in werking bring. Sy eie ambisie en toekomsvisie het sy ore doof gemaak vir die waarskuwings van Jesus dat Hy wel in hegtenis geneem en doodgemaak gaan word (Matteus 16:21; Markus 9:31; 10:33). Judas het nie die tye onderskei nie. Hy wou Jesus “gebruik”.

Hy het sy 30 stukke silwer (die prys van ‘n slaaf op die mark) ontvang en die soldate na Getsemané gelei. Baie gou het Judas gesien dat dinge nie volgens sy plan verloop nie. Hy het Jesus se kalm oorgawe aan die soldate gesien en in verstomming aanskou hoe hulle hom na die hoë priester se huis neem. Later die nag na Hy heen en weer tussen Pontius Pilatus en Herodus gestuur is, was ‘n aaklikge doodsvonnis die gevolg van die sogenaamde verhoor.

Judas was in doodspaniek. Sy hele plan het verkeerd geloop. Hy strompel terug na die kerkleiers met die woorde:

“Ek het gesondig. Ek het ‘n onskuldige man verraai.”  (Matteus 27:4)

Na ‘n hele drie jaar in Jesus se teenwoordigheid het hy nog nie besef met wie hy te doen het nie, die Christus, die gesalfde van God, die Een op wie die hele wêreld gewag het nie. Hy sterf alleen en ontnugterd.

Petrus en Johannes was baie braaf om Jesus te volg tot in die binnehof van die hoë priester se huis. Dit was nie ‘n tyd om as vriend van die Nasarener gesien te word nie. Toe Petrus alle kennis van Jesus ontken en die haan kraai, het hy gevlug en bitterlik gehuil. Kan mens jou sy wroeging voorstel?

Petrus het egter tussen sy dissipel-broers gebly. Dit is waar jy hoort as dit met jou sleg gaan en jy geestelik stry.

Daar het hy gewag totdat hulle die goeie nuus oor die opstanding gekry het. Daar in die tuin het Jesus, Petrus spesiaal aan Maria genoem, omdat hy geweet het dat Petrus se hart vreeslik pyn.

Petrus se lewe het in groot oorwinning geëindig.

In Johannes 1:43-51, ontmoet nog mense hulle God van aangesig tot aangesig.

Jesus verlaat die suide en beweeg noord na Galilea. Hy roep Filippus en laasgenoemde vind sy broer Nathaniël om die goeie nuus mee te deel. Nathaniël is skepties. Hy het heel moontlik by daardie tyd al gehoor van die man oor wie daar in Galilea gepraat word. Die dorpies daar om die meer het al hulle nuus gedeel. Niks goed kom uit Nasaret nie, het hulle gesê. Buitendien, het die profete voorspel dat die Messias in Bethlehem gebore sou word, het Nathaniël geredeneer. Natuurlik is dit net met dieper navorsing dat Jesus se geboorteplek perfek by die profesië inpas. Net iemand wat moeite doen en ondersoek instel sou dit geweet het.

Nathaniël kom van Kana af. Hy stry met Filippus. Laasgenoemde is wys. Hy sê: kom kyk. Argumente is goed en wel, maar dit vergelyk nie met die impak van die teenwoordigheid van Jesus self nie. Dit is ons rol ook. Ons kan met groot liefde en wysheid die argument vir Jesus voer, maar ‘n uitnodiging tot ‘n ontmoeting met Jesus maak die verskil.

Die openbaring van wie Jesus is, verander ‘n mens, Dit gebeur dikwels meer deur getuienis as deur argumente.

Jesus komplimenteer Nathaniël met woorde wat elke Jood sou verstaan. Psalm 32:2 en Jesaja 53:9 sê dat geen onreg by sy mond sou uitkom nie.

Onder ‘n vyeboom was vir ‘n Jood die prentjie van rustigheid. Daar in die koelte kon mens mediteer en jou siel kalmeer. Jesus was bewus van die gemaal in Nathaniël se gedagtes. Hy was duidelik een van die oorblyfsel wat die verwagting op die Messias lewend gehou het.

Die belofte staan vir altyd, maak nie saak hoeveel jare ons wag nie. Moet nooit moeg word nie. God se tyd is perfek.

Jesus ken die uitroep van sy hart. Hy ken sy gebede. Hy kommunikeer met Nathaniël op ‘n dieper vlak, spreek profeties in sy lewe en roer die groter visie om in sy hart op te vlam.

Nathaniël word nie in die ander Evangelies genoem nie. Johannes beskryf dit as ‘n voorbeeld van ‘n ontmoeting wat talle mense met Jesus gehad het. Dit illustreer die karakter van Jesus in sy verhouding met mense.

‘n Ontmoeting met Jesus vervul al die onuitgesproke verlange en begeertes in ‘n mens.

Nathaniël is ‘n simbool van die mens wie se hart van alle vooroordeel en trots gereinig is en wie Jesus as die antwoord op die roep in sy binneste ervaar.