123. Gered, gedoop en … o jitte, die woestyn?

Ken jy die storie? ‘n Drama van drome, ontvoering, slawerny, tronkstraf, nog drome en dan die paleis van die antieke Egiptiese beskawing op sy hoogtepunt. Geen wonder Andrew Lloyd Webber het ‘n suksesvolle musiekblyspel daaroor geskryf. Die Here verlos Jakob en sy familie van hongersnood en gee hulle en hulle nasate ‘n voorspoedige lewe in Egipte onder die Farao,

Die familie is vooruitstrewend en vermeerder oor ‘n tydperk van 400 jaar. Meerdere Farao’s kom en gaan en Josef en sy drome is lankal vergete. Daar is ‘n nuwe Farao wat hom nie geken het nie; ook nie wat hy vir Egipte gedoen het nie. Die volk van Israel word verdruk en in slawerny ingedwing. Hulle roep na God word verhoor in die persoon van Moses wat hulle na vele rampe, drama en dood uit Egipte uitlei met ‘n verstommende wonderwerk wat die Rooi See kloof en die Egiptiese weermag vernietig.

Veertig jaar leer hulle om God te vertrou en Sy teenwoordigheid en voorsiening te beleef in die wolkkolom in die dag en die vuurkolom in die nag. Manna uit die hemel sowel as klere en skoene wat nie verslyt nie, moes ‘n onwrikbare vertroue in hulle gekweek het.

Teen die einde van die veertig jaar laat Moses die mense in die sorg van die hoë priester, sy broer Aäron en klim die berg Sinai om die tien gebooie van God te ontvang. Terwyl Moses op die berg in God se teenwoordigheid verkeer, oortuig die volk Aäron om op hulle eie  God te aanbid, omdat Moses te lank wegbly.

In ‘n poging om goed te doen en iets aanvaarbaar voor die Here te bring, maak Aäron ‘n goue kalf uit die kosbaarhede wat die volk uit eie geledere versamel.

Hy het dit van hulle ontvang, dit verwerk en daarvan ‘n beeld in die vorm van ‘n bulkalf gemaak.

Toe sê die volk: “Hier is jou God wat jou uit Egipte bevry het, Israel!”

(Exodus 32:4)

Die Here waarsku Moses om te gaan kyk wat die volk aanvang. Die fees is wild, luid en vleeslik soos dit altyd is in afgodaanbidding. God spreek sy woede teenoor Moses uit en verklaar dat Hy hulle alleen in die beloofde land sal inlaat, sonder Sy teenwoordigheid.

God trek nooit ‘n belofte terug nie – Romeine 11:29.

Die storie is bekend. Moses reageer in woede, gooi die kliptafels stukkend en vra Aäron wat hom besiel het om so iets aan te vang.

Aäron se antwoord kom amper komies oor, as mens nie besef hoe fundamenteel die les in hierdie gedeelte is nie.

Maar Aäron antwoord: “U moenie kwaad wees nie. U weet self hoe sleg die volk is. Hulle het vir my gesê: ‘Maak vir ons ‘n god dat hy ons kan lei. Hierdie Moses het nou wel vir ons uit Egipte laat wegtrek, maar ons weet nie wat van hom geword het nie.’ Toe sê ek vir hulle: ‘Dié wat goud aan hulle het, moet dit afhaal en vir my gee.’ Ek het dit in die vuur gegooi, en hierdie bulkalf het daaruit gekom.” (Exodus 32:22-24)

Dis doodslag en rampspoed in die kamp wanneer die Leviete links en regs doodmaak en Moses die kalf se goud maal en in die drinkwater gooi.

Die punt van ons storie is Moses se pleidooi vir die volk.

Hy kon hom nie voorstel om die beloofde land in te gaan sonder die Here nie. Liewer die woestyn saam met God as die beste van die wêreld sonder God. Net so vandag, is dit wat ons van die wêreld en georganiseerde godsdiens onderskei. Ware Christendom is diegene wat die teenwoordigheid van God soek en daaraan onderwerp, in so ‘n mate om Sy hartklop te hoor.

Hoe sal ons dan ‘n lewe van oorwinning ly?

Toe het Moses vir Hom gesê: “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie. Hoe sal die mense weet dat ek en u volk u goedgesindheid geniet as U nie saam met ons gaan nie? Dit is juis deurdat U met ons saamgaan dat ons, ek en u volk, anders is as al die ander volke op die aarde.” (Exodus 33:15,16)

GEBED: Toe sê Moses: “Laat ek tog net u magtige verskyning sien!”

Please, show me Your glory.” (Exodus 33:18)

Beginsel vir ‘n lewe van uitnemendheid:

Die Here het vir Moses geantwoord: “Ook wat jy nou gevra het, sal Ek doen. Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam.” Die Here het verder gesê: “Maar hier by My is ‘n plek waar jy op die rots kan staan. As Ek in my magtige verskyning verbykom, sal Ek jou eers in ‘n rotsskeur sit en jou met my hande toemaak totdat Ek verby is.

(Exodus 33:17,21,22)

Op ons pad met die Here voel dit soms soos ‘n woestyn dwaling. Ons ken die Here en begeer om Hom te dien. Leer uit hierdie storie. Ons kan dit nie op ons eie manier doen nie. God se juk is sag en Sy las is lig. Daardeur leer ons van Hom.

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is,

en Ek sal julle rus gee.

Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.” (Matteus 11:28-30)

In die woestyn smag ons na verligting van ons laste en bekommernisse, sonder om te besef hoe kosbaar die proses is, ‘n groter wonder as die beloofde land. Ons veraner op ‘n diep valk. Ons eie agenda en planne verdwyn sodat ons kan onderwerp aan God se meesterplan, groter en beter as wat ons ooit kan bid of dink.

(Efesiërs 3)

Weet jy hoe om op die rots on die Hand van God te leef?

My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes. (Jesaja 55:8,9)

Kyk met ander oë na die woestyn, wag vir die belofte.

Maar soos daar geskrywe staan:

“Wat die oog nie gesien

en die oor nie gehoor het nie,”

en wat in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie,

dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet.

 (1 Korintiërs 2:9)

 

 

122. Een dag na ‘n ander – geen kontras ooit so groot.

Ek het groot geword met Goeie Vrydag. Ek kan nie almal van hulle so goed onthou nie, maar ek weet hulle was daar. Vir omtrent 25 jaar het ons die Paasnaweek tydens kampdienste gevier. Tien dae lank het mense vanoor die hele land op ‘n groot stuk grond net buite Johannesburg met tente, karavane, ‘n paar houthutte en ‘n paar permanente geboude hutte van die môre tot die aand kerk gehou. As mense nie kerk toe gegaan het nie, het hulle gekuier en geëet.

Later, in hoërskool- en universiteitsjare het ek deur meeste Paasnaweke geswôt. Selfs dan het ek nooit die “groot” dienste gemis nie – Goeie Vrydag oggend en die feesdiens vir die Opstanding die Sondagoggend. Die dienste is in ‘n rowwe, koue baksteengebou met ‘n sinkdak gehou. Die struktuur kon ‘n hele paar duisend mense sitplek gee. Voor was ‘n groot platform vir die uitgebreide orkes en sitplek vir die leierskap. Die sang was hemels en elke jaar het almal huis toe gegaan met nuwe liede op hulle lippe en meer belangrik, in hulle harte.

Soveel getuienisse is met die ou gebou geassossieer. In meeste dienste is die mense aangemoedig om gebedsversoeke op klein papiertjies te skryf en dit in ‘n mandjie voor die platform te kom sit. Daar was ‘n groot heen en weer gelopery voor die dienste begin het. Tydens die voorbiddingsgebed het van die leiers hulle hande op die mandjie gelê en die wonderkrag van ons hemelse Vader daaroor afgebid.

Een maal het my ma “gesien” hoe een van die sinke van die dak oplig en die papiertjies met ‘n rukwind weggeraap word, in die hemel in. Ek het die prentjie in my kop gehou totdat ek die mooi skrif in Openbaring 5:8 leer ken het en weet dat ons gebede in die goue bakke voor die Troon is.

My ouer twee seuns het saamgekuier op die Kamp. Niemand kon ooit die laaste Sondag se totsiens-diens mis nie. Ons het dik duvets saamgedra sodat hulle op die vloer kon slaap as die drie-uur diens te lank raak. Ja…drie ure! Ons het ‘n uur gesing en voorbidding gedoen vir baie versoeke en rustig gesit vir preke wat ek vandag nog ‘n paar van onthou.

My broer het ‘n houtstruktuur laat opsit, waar ons na die dienste kon bymekaarkom en op opslaanstoele en piekniektafels die heerlikste, mobiele feeste uit ons huiskombuis in koelsakke en mandjies aangedra, kon geniet. My seuns het sy hut die Ark genoem. Op die laaste Sondagaand het ons 40 of 50 pannekoeke met kaneelsuiker by een van die kerkstalletjies gekoop vir al die mense wat kom groet het en bly sit het vir ‘n getuienis of twee.

Ek sal nooit die gesprekke vergeet nie. Die mense het oor die Here gepraat, die heeltyd – vry, vol passie en heelhartig. Al die ouderdomme, veral die ou veterane het getuienisse en insig oor die voorsiening en goedheid van God met almal wat entoesiasties kom sit het, gedeel.

Dan was daar die kinders, saamgebondel in ‘n saal van hulle eie. Sonskynhoekie het menige kinders onder twaalf die evangelie van Jesus geleer. ‘n Neef van my pa en sy gesin het met illustrasies en musiek die goeie nuus in kinderharte ingebrand. Die lied vir die laaste aand sing ek nog steeds – die laaste versie van Psalm 23:

Net goedheid en guns

sal my volg

Al die dae, al die dae van my lewe

En ek sal woon in die huis van my Heer vir ewig

En ek sal aansit aan die tafel berei vir my

Net goedheid en guns…

Die afgelope naweek was Paasnaweek en ek is ‘n miljoen myl in tyd en afstand van daardie dae. Hoekom onthou ek?

Ek weet hoekom.

Heel paar jaar later in my volwasse lewe was, ek saam met my pa-hulle in ‘n diens van die United Kerk in Hermanus. Die predikant was Martin Holt, bekend vir sy radiopraatjies en preke. Ek was altyd lief vir Latyn, op skool en universiteit en Martin Holt het daardie oggend die Latyn in my kop ingebrand, wat nou nog, hier waar ek skryf en die trane vrylik vloei, uitroep – Vivit – Hy leef!

Dis hoekom ek onthou. Geen Paas, geen kerk, geen getuienis, geen gebed is moontlik sonder die kreet van die heelal, saam met die vroue daardie eerste Opstandingsondag – Vivit – Hy leef!

Hierdie een feit verander alles. Dit is die kontras van ‘n Saterdag in duisternis en dood en ‘n Sondag in lig en lewe.

Ons is nou in die week na daardie dag wat Jesus daar in die tuin vir Maria gesê het:

Maar gaan sê vir sy dissipels en in die besonder vir Petrus: Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het.” (Markus 16:7)

Waar is jy in hierdie dae na Paas? Is jy vasgevang in dood en duisternis van Saterdag en voel soos Petrus die nederlaag van verraad en verbryselde drome?

Jesus praat met jou, net so spesiaal as wat Hy Petrus aanspreek. Gaan na die plek waar jy Hom ontmoet het – jou Galilea. Hy weet wat jy nodig het. Hy weet watter effek Sy teenwoordigheid op jou lewe het.

Hy wag vir jou… Jou lewe sal verander as jy Hom sien.

Gaan met die uitroep – Vivit – Hy leef … omdat Hy uit die dood opgestaan het.

121. Bloedwoorde vir my toekoms.

O, die onsekerheid, die neerslagtigheid, die mistige uitsig en die huiwerige blik op die misterie-pad in die tydvak wat ons die toekoms noem. Aan ons is dit nie geopenbaar nie; God ken dit. Net soos die dood, is die toekoms ‘n misterie wat aan God behoort.

“Wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God, maar wat geopenbaar is, is vir altyd bekend aan ons en ons nageslag: ons moet lewe volgens al die woorde van hierdie wet. (Deuteronomium 29:29)

In hierdie skrif word ons aangemoedig om die Woord te leef. God se Woord is aan ons openbaar en dit is ons toevlug vir die toekoms. Hy is volmaak in Sy beplanning. Hy sal nooit terughou wat ons nodig het nie. Ons waarborg vir voorsiening en beskerming in die toekoms is die beloftes van God in die Woord van God.

Net soos Noag. God het Noag in die ark ingenooi. Die Afrikaans, Duits en Nederlandse vertalings skryf in Genesis 7:1 dat Noag in die ark moet ingaan, so asof God buite staan. Die Hebreeus wat gebruik word [bõ-], kan “gaan” of “kom” beteken. Die vertalers het diskresie watter woord om te gebruik. Meeste Engelse vertalings skryf “kom”. Die belangrike gedagte hier is dat God die mens innooi in Sy voorsiening, Sy beskerming en sekuriteit teen die vloed daar buite. Die ark het baie kamers, baie plek vir baie soorte, net soos al die verskillende denominasies ook ‘n plek by God het. God oordeel die hart en skryf nie sommer af nie. Hy is altyd daar waar mense Hom soek.

En Ek sal My deur julle laat vind, spreek die HERE, en julle lot verander.  (Jeremia 29:14, OAB)

Hoe gaan ons in die ark in? Hier vier ons Heilige Week. Die Kruis is ons toegang. Eie waardigheid, eie geregtigheid, eie pogings bring ons nêrens. Jesus se bloed en die aanvaarding van sy offer is ons toegang tot veiligheid.

God is binne in die ark. In Sy teenwoordigheid is alles wat ons nodig het om ons toekoms tegemoet te gaan. Die ark spreek van ‘n radikale lewensverandering. Dit is jou besluit om in te gaan – die uitnodiging is ewig en Hy hang aan ‘n kruis. Die besluit om in te gaan, breek met ‘n gewone lewe en streef na ‘n lewe van uitnemendheid. Die ark spreek van die onsigbare koninkryk op aarde waarvan Jesus en Johannes die Doper gepraat het.

God is alomteenwoordig – natuurlik. Dit is ‘n akademiese feit en ons moet dit aanvaar. Maar… in gebed ervaar ons Sy teenwoordigheid op ‘n ander manier . Ons ervaar die atmosfeer wat verander, wanneer trane vrylik vloei en die woorde van die Woord van die bladsy af in ons hart inhuppel en daar vasgelê word. ‘n Rhema-woord, die gesproke woord, die “stem” wat by jou ore en oë tegelyk ingaan. Dit is wat Bybelstudie aanvuur – om te hoor.

Hier in Kanada het hulle vir my gesê die mure is hout. Dit het net soos mure waaraan ek gewoond is, gelyk – met pleister en verf. Die eerste ding wat ek gedoen het, die dag saam met die huisagent in die middel van ‘n sitkamer van een of ander huis, is om na die muur toe te loop en aan dit te klop. Die klopervaring was anders as klop teen ‘n baksteenmuur. Nie net dit nie…ek het iets gehoor.

Nadat ek die klank van hout gehoor het, het ek niemand nodig gehad om te weet die muur is hout nie. Ek het geweet uit my eie klopervaring. Net so met die manifesteerde teenwoordigheid van God – jou ervaring van “klop en vir jou sal oopgemaak word” het niemand – geen prediker, vriendin of televisiebediening – nodig om jou van God bewus te maak nie.

Soos ek al hier op Boedmklippe geskryf het – my jongste seun se gunstelinglied is die ou Imperial-groep se lied:

I listen to the trumpet of Jesus, while the others hear a different sound,

I listen to the drumbeat of God Almighty, while the others just wonder around,

I hear the voice of a supernatural singer that only those who know Him can.

Oefen jou Geesgehoor! Is daar so ‘n woord? Miskien moet ons een maak.

Maar verwerp onheilige en oudwyfse fabels, en oefen jou in die godsaligheid. (1 Timoteus 4:7, OAB)

Luister na jou innerlike oortuigings. Onderwerp jou gedagtes en denke aan die Heilige Gees. Bid sodat jy God se glorie ervaar. Sy liefde en vrede kan nooit kunsmatig wees nie; as jy dit ervaar kom dit net van Hom af. Die duiwel het nie vrede om te gee nie.

Die duif is die simbool van die Heilige Gees. Hy is jou voorsiening en kommunikasie met God en die wêreld.

Teen die aand het die duif na hom toe teruggekom, nogal met ‘n varsgeplukte olyfblaar in sy bek. Toe het Noag geweet dat die water op die aarde opdroog. (Genesis 8:11)

In gesprek met God onderwerp jy jou volgende lewenstap aan Hom en Sy plan. (Jeremia 29:11) In Sy teenwoordigheid sal jy vrede kry oor voorsiening vir die toekoms.

GEBED: Here, ek onderwerp my toekoms aan U. Ek bely my benoudheid en vrees oor die toekoms. U is die God van oorvloed en my vertroue is in U. Ek rig my gedagtes in verwagting van die Heilige Gees vir ‘n toekoms ver bo wat ek kan bid of dink (Efesiërs 3).

Beginsel vir ‘n lewe van uitnemedheid: Die inhoud van my toekoms is die beloftes van God – nie wêreldpolitiek, my omstandighede, die sterre voorspel of vrees nie.

Weer eens – die aanhaling van Eugene Petersen in sy dagstukkies: Living the Message.

The way we conceive the future sculpts the present. It gives contour and tone to nearly every action and thought through the day. If our sense of future is weak we live listlessly.

Hope is a response to the future, which has its foundations in the promises of God. It looks at the future as time for the completion of God’s promise. It refuses to extrapolate either desire or anxiety into the future, but instead believes that God’s promise gives the proper content to it.

But hope is not a doctrine about the future: it is a grace cultivated in the present; it is a stance in the present, which deals with the future. As such it is misunderstood if it is valued only for the comfort it brings; as if it should say, everything is going to be all right in the future because God is in control of it, therefore relax and be comforted.

Hope operates differently. Christian hope alerts us to the possibilities of the future as a field of action, and as a consequence fills the present with energy.

 

 

 

 

 

 

120. Kom uit – waar is jy?

Kom ons stap verder in dieTuin van Eden, in daardie ou storie aan die begin van die Bybel, toe die hele pragtige verhaal verkeerd loop en verwoesting en tragedie insluip om ons bestaan hier op aarde te kenmerk. In die verdraaiing van die wonderplan van God, saai satan die saad van twyfel en laat Eva dink sy mis iets wat God in Sy wondervoorsiening sou weglaat of weerhou. Sy eet van die vrug en gee dit aan die man sodat hulle die god van hulle eie toekoms word.

Hulle sien hulle eie naaktheid en kruip weg sodat hulle nie God in die aandwind ontmoet soos gewoonlik nie – asof dit hoegenaamd moontlik is om van ons alwetende, alomteenwoordige God weg te kruip. Daardie selfde dag, sonder dat die son oor hulle sonde ondergaan, roep God – Adam, waar is jy?

Sou ons ooit kon dink dat God nie geweet het waar Adam is nie? Dis net logies dat God presies geweet het wat in die Tuin gebeur het daardie dag. Nogtans het Hy gekom…en geroep.

Sonde het nie die gesprek beëindig nie. Geen sonde kan ooit die gesprek beëindig nie. Dit is hoe The Message vertaling dit stel.

“Come. Sit down. Let’s argue this out.” This is God’s Message:

“If your sins are blood-red, they’ll be snow-white.

If they’re red like crimson, they’ll be like wool. (Jesaja 1:18, The Message)

Is die nie die uitnodiging van alle tye nie? Kry dit wat pla uit die pad. Kom terug na die Here toe. Geen ompaaie nie, geen skuld nie, niks wegkruiptaktiek nie. Kom terug, roep uitvergifnis is gewaarborg.

 Gebed: Bely watookal jy van God wegsteek en al die redes vir jou wegkruipery. As daar niks is waaraan jy kan dink nie – vra die Heilige Gees – Hy sal jou herinner.

Where can I go from Your Spirit?

Or where can I flee from Your presence? 

If I ascend into heaven, You are there;

If I make my bed in hell, behold, You are there. (Psalm 139:7,8)

As God dit sê is dit lewegewende, lewensveranderende, kragtige wonderwerk-woorde. Sy vergifnis sal jou oplig en uit jou moedeloosheid van nederlaag en hopeloosheid lig.

Hoekom sou God dan vrae vra? Beslis nie om inligting te kry nie, maar om die gesprek aan die gang te kry. Adam moes praat oor wat in die Tuin gebeur het. In ‘n amper komiese heen en weer kom die hele storie uit. Die man blameer die vrou en die vrou blameer die slang en God oordeel…die slang – nooit die mens nie. Die mens sal op ‘n vervloekte aarde die gevolge van die sonde moet hanteer, maar nooit sonder God nie.

Sonde is dikwels geheim, dikwels skandalig en ‘n groot verleentheid. Niemand wil dit in die openbaar hê nie. Leuens en bedrog is meer hanteerbaar as dit in die geheim gebeur. God maak dit openbaar – minstens tussen ons en Hom, sodat genesing kan begin. Die hele sielkinde is op gesprek gefokus. Daarin lê helende krag. Ons liefdevolle Vader het ‘n antwoord vir die grootste en slegste deurmekaarspul wat jou lewe en vreugde steel. Hy sal nie toelaat dat jy oorweldig word nie. Sy plan vir jou lewe sal vasstaan.

Al maak mense hoeveel planne, wat die Here besluit, staan vas. (Spreuke 19:21)

Dikwels, maar nie altyd nie, is Sy eerste kommunikasie met ons, ons omstandighede. Hy orkestreer nie ons chaos nie, maar Hy sal altyd die bose gevolge van ons verkeerde besluite, tot ons voordeel laat werk. Al die verwoesting om ons vandag is die gevolg van sonde en die verkeerde besluite van mense. Ander mense se sonde het baie keer baie hartseer in ons lewe tot gevolg. God is altyd daar in die tragedie van die lewe om te red, te genees en te herstel. Binne die krisis is daar altyd ‘n keuse om God te vertrou of ons eie planne te maak. Ons liefdevolle Vader sal altyd ons grooste tragedie ten goede laat meewerk.

In die Tuin is dit God se plan wat vasstaan. Hy oordeel die slang en verklaar oorlog tussen sy saad en dié van die vrou.

Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.” (Genesis 3:15)

Hy gaan verder en bedek hulle naaktheid op Sy manier, nie hulle patetiese poging om te probeer toemaak waar skande dreig nie. Die bloed van ‘n onskuldige dier (heel moontlik ‘n lam) bedek die sonde en vorm ‘n blywende, aanvaarbare bedekking in die oë van God.

BEGINSEL vir ‘n uitmuntende lewe: ons word bedek deur die bloed van DIE Lam, Jesus.

GEBED: Dank die Here vir herstel van sonde en ‘n lewe van oorwinning in die Kruis van Jesus.

In Sy bloed word die omstandighede van die Tuin van Eden herstel en ons kan weer in God se teenwoordigheid wandel net soos voor die sondeval. Waar Hy is, waar Sy bloed ons reinig, is daar volmaakte vrede en rus.

Vanaf hierdie oomblik in die Tuin is alles gefokus op die groot gesprek tussen God en die mens. Satan sal enigiets doen om dit af te breek. God se liefde en vergifnis herstel die gesprek.