114. Ou woorde, nuwe betekenis.

Almal verstaan die emosies van verandering. Daar is dikwels so ‘n hartsverdeeldheid oor die ou dinge, goed of sleg. Soms kan die verlede spook en selfs byt. Sielsveranderings is die moeilikste. Slegte gewoontes, ou wonde, bitterheid en aanstoot wat in ons hart amok kom dikwels as gevolg van ander mense se sonde in ons lewe.

Met al die uitdagings en stryd in ons lewe, lyk ons harte dalk soos wilde, ongesnoeide tuine, waar bitterheidswortels diep groei en waar die blomme en struike van liefde en omgee sukkel om te blom tussen die dorings en distels van woede en onvergenoegdheid.

Ek juig in die beloftes van vernuwing in die Woord van God. Nie net nou en dan nie – elke liewe dag! Die Here doen nuwe dinge, vergewe altyd en laat ons leef in die nuwe hemel en die nuwe aarde so dikwels as wat ons ons lewe op Hom en Sy realm fokus. Die uitnodiging staan vir tyd en ewigheid:

Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol. As julle gehoorsaam wil wees, sal julle die goeie van die land eet. (Jesaja 1:18,19)

 …deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. (Klaagliedere 3:22,23)

Hoofstuk 21 van Openbaring lei ons in die uiterste, hoogste nuut wat God vir ons berei en wat moontlik is om met aardse taal te beskryf.

Verdoemenis vir die ongelowige word in kontras met die salige heerlikheid van die gelowige gestel. Dit is die droom scenario vir ‘n nuwe begin soos deur Jesaja besing word (65:17).

 Ek gaan ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde skep; aan dié wat daar nou is, sal daar nie meer gedink word nie, hulle sal nie onthou word nie.

Wanneer God nuut skep, is die ou dinge in alle dimensies uitgewis en kan dit nie eers onthou word nie.

Kom ons juig in die opskrif van hierdie hoofstuk – Alle Dinge Nuut.

Mediteer oor die elemente van nuut. Hartseer is verby, sonde is weg, duisternis is lig en die tydelike is vervang met die ewige.

Die belofte dat daar geen see meer sal wees nie, was ‘n welkome verligting vir antieke denke. Begrip vir die see kom hoofsaaklik uit mitologiese bronne en slegte ondervinding met skepe wat vergaan in verwoestende storms. Aanvanklik het alle seevaart met die oog op die kuslyn plaasgevind, sonder kompas. Later het kennis van die sterre navigasie ondersteun, maar as ‘n storm die lug donker maak, was daar geen alternatiewe navigasie moontlikheid nie. (Handelinge 28)

Die Nuwe Jersusalem (21:2) se oorsprong vind ons in Griekse filosofie. Plato het die wêreld grootliks beïnvloed met sy idees oor die sienlike en onsienlike. Hy het geskryf dat alles op aarde is onvolmaakte kopieë van die volmaakte hemelse teenkant. Volgens hierdie denkpatroon was daar ‘n perfekte hemelse Jerusalem in teenstelling met die gebrekkige aardse een.

Paulus praat van die hemelse Jerusalem in Galasiërs 4:26 en so ook die skrywer van die Hebreërs (12:22).

Die idee van voorafbestaande vorm mag dalk snaaks klink, maar die konsep dat die ideale en perfekte reeds bestaan beklemtoon dat God die bron van alles is. Daar is groot verwagting vir ‘n hoër en beter lewe.

Na Christus is die nuwe Jerusalem die kerk. Joodse denke het die volle herstel en oorheersing van die Jode as doelwit gestel. Dit is oor eeue heen deur die profete voorspel en besing en gelykgestel aan die fisiese herstel van Jerusalem.

Die kerk is die ware stad, groot genoeg vir al die inwoners en die voorsiening in al hulle behoeftes. ‘n Stad voorsien in alle lewensbenodigdhede. Dienste en mense is beskikbaar in teenstelling met die woestyn en wildernis, waar God op wonderbare maniere voorsien. Dan bring Hy jou in die kerk, die Nuwe Jerusalem, waar jy omring word met Sy voorsiening. Hy is die Bron, altyd.

Die strate van goud is die gawes van die Heilige Gees wat ons wandel en verblyf in die stad bepaal. Die siele van mense is die edelstene (Maleagi 3). God voorsien die lig; daar is geen son nie. Alles waaraan ons gewoond is word vervang met die Goddellike teenkant. In die kerk geniet ons die ononderbroke gemeenskap met God waar Hy die trane wegvee (21:3,4) en die hartseer troos (Esegiël 40:1 – 48:35).

Johannes bring hier al die visioene van die volmaakte bymekaar sodat alle drome en verwagtinge in Jesus vervul kan word. In die lig van die vernietiging van Jerusalem in 70nC, net kort voordat hy hierdie dinge skryf, bemoedig hy in geloof die verhewe verlange na die hemelse Jerusalem.

Die nuwe Jerusalem, die kerk, is ewig en kosbaar. Dit kan nooit vernietig word nie. Ons het gesalfde oë nodig om die volmaakte te “sien”. Dit is ons uitdaging, vandag en elke dag. Om Hom te “sien”, op Sy troon binne in ons omstandighede, is ‘n koninkrykslewe.

Maar Moses het die volk geantwoord: “Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red, want soos julle die Egiptenaars nou daar sien, sal julle hulle nooit weer sien nie. Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg.” (Exodus 14:13)

 Moses daag die volk uit om die teenoorgesteld van hulle vrees te sien. Net soos hulle moet ons die “Egiptiese weermag” in ons lewens hanteer. Ons lewe binne die realm van God se vyand met die krisis en paniek wat dit veroorsaak. Ons enigste skuilplek is die teenwoordigheid van God (21:3-4)

‘n Harde stem, ‘n stem met gesag, kondig die tabernakel aan. Dit is die woonplek van God by die mense. Die woord wat gebruik word is skene, wat beteken. Die woestyntabernakel was ‘n tydelike struktuur wat opgepak en vervoer kon word. Dit is net ‘n voorsmakie van die glorie wat kom. God woon by Sy mense.

Hier op aarde ondervind ons die hemel in die konstante bewustheid van Sy teenwoordigheid.

Die Griekse woord skene en die Hebreeus schecinah is saam gebruik onder die vroeë Christene, miskien ook oor die woorde baie dieselfde geklink het. Skene is gebruik om die woning van die mense by God aan te dui en schecinah is gebruik om God se woning by die mense te beskryf. In Salomo se tempel (1 Konings 8:10-11) het die shechinah glorie die tempel gevul.

[Hierdie konsep is alom bekend in die Ou Testament: Levitikus 26:11-12, Jeremia 31:33 en 32:39 – 41, Esegiël 37:27, Hooglied 6:3]

Al die voordele van die hemelse Jerusalem word deur Jesaja, eeue voor Jesus besing. (25:8, 35:10, 65:19). Geen trane meer, geen hartseer. Die belofte word in Matteus 5:4 en Filippense 3:10 herhaal

In Christus is alle dinge nuut (21:5-6). ‘n Kind van God is ‘n nuwe skepsel (2 Korintiërs 5:17). Nuwe dinge word belowe in Jesaja 43:18-19.

Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie.

Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn ‘n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.

Johannes word opdrag gegee om dit neer te skryf. Dit is soos ‘n kontrak, bindend en betroubaar. Ons kan altyd teruggaan en seker maak van die bepalings.

Alles is voltooi in Christus. Daar is geen ander God nie. (Jesaja 44:6)

Hy is die Begin, arche wat die bron van alle dinge beteken en die

einde, telos wat meer as net die einde beteken; dit beteken die doel van alle dinge.

Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen. (Romeine 11:36)

…één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon.. (Efesiërs 4:6)

Is daar enigiets om by te voeg oor God. Sy belofte staan:

Verder sê Hy vir my: “Dit het klaar gebeur. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet. (21:6)

Ons het toegang tot al die geestelike luister en luukse van die hemel. Is daar enigiets wat meer as dit kan beteken? (21:7-8)

Die grootste gawe van alles (21:7) is die vaderskap van God aan ons. Dit het Hy belowe aan:

  • Abraham – Genesis 17:7
  • David oor Salomo – 2 Samuel 7:14
  • Psalms 89:27 – Hy sal My aanroep met die woorde: ‘U is my Vader, my God, die rots wat my redding is.
  • Vir ons dieselfde as bogenoemde.

Daar is geen beter loon moontlik nie.

Die verdoemdes (21:8) word uitgespel: “Maar dié wat bang en ontrou geword het, die losbandiges, moordenaars en onsedelikes, bedrieërs en afgodsdienaars en al die leuenaars

 Al hierdie sonde het ‘n geestelike implikasie en interpretasie. Dit is die realm van die dier waarin onsedelikheid en leuens regeer, towery in die vorm van dwelms ons jeug steel en soveel soorte verslawings menselewens vernietig; die afgode van die moderne lewe.

Dit is onmoontlik om daarvan gered te word sonder die versoeningsbloed van Jesus.

Ons erfenis is die stad van die lewende God (21:9-27). Dit is ons woonplek, by God in Christus.

Die bruid word aangekondig deur dieselfde engel wat die bakke van verdoemenis hanteer het – verrassend. Die engel spreek die opdrag wat hy van die Troon kry.

 Johannes word na ‘n hoë berg gedra, net soos in Esegiël se visioen (40:2). Hoogte bring nuwe perspektief, verhewe bo die omstandighede. Ons is nog aardsgebonde, maar “sien ” en “hoor” in die Gees vir ‘n dieper en voller lewe. Daar is werklik ‘n berg net buite Jerusalem wat die Psalmis besing (48:1,2):

Die Here is groot! Aan Hom kom al die lof toe hier in die stad van ons God, hier op sy heilige berg, mooi, hoog geleë, en ‘n vreugde vir die hele aarde, Sionsberg teen die noorde, die stad van die Groot Koning.

Now it shall come to pass in the latter days that the mountain of the Lord’s house shall be established on the top of the mountains, and shall be exalted above the hills; and all nations shall flow to it.  (Jesaja 2:2)

Dis die kerk, dis ons, Bodemklipvriend.

Die lig van God is soos die skynsel van jasper. God se glorie reflekteer in die edelstene. Die edelstene is die heiliges. (Filippense 2:15)

Die stadsmuur beskerm ons teen boosheid.

 Daar kom ‘n dag wanneer hierdie lied in Juda gesing sal word: Ons het ‘n sterk stad, God beskerm ons met mure, met ‘n vesting. (Jesaja 26:1).

Hy belowe beskerming wat nie kan faal nie. Sagaria (2:5) praat van ‘n muur van vuur met Sy heerlikheid daarbinne.

Die twaalf poorte verteenwoordig die twaalf stamme. Dit is deur die Jode wat die Messias aan die wêreld gegee is, sodat almal toegang kan hê. Die woord vir poort is pulon (normaalweg moet dit pule wees.) Pulon kan twee dinge beteken: ‘n groot huis wat om ‘n binneplein gebou is met ‘n groot hek in die buitemuur of ‘n ommuurde stad.

Daar is meer as een ingang deur die openbaring van Jesus. Daar is drie hekke in elke rigting (Esegiël 48:30-35)

In die Ooste waar die son opkom simboliseer diegene wat in die oggend van hulle lewe tot inkeer kom en Jesus aannneem terwyl hulle jonk is.

Die Noorde simboliseer koue en diegene wat deur rasionalisasie en intellek tot inkeer kom.

Die Suide is warm en simboliseer diegene wat tot Jesus kom deur barmhartigheid, liefde en omgee.

Die Weste is waar die son ondergang en simboliseer die sonsondergang van die lewe en diegene wat in ouderdom eers die Here vind, selfs sterfbed-bekerings.

Die twaalf fondamente is die apostels wat die kerk gebou het. Die stamme en die apostels kombineer die oue en die nuwe .

Die afmetings (21:15-17) herinnner aan die meetstok van Esegiël (40:3).

Die vorm van die stad is ‘n vierkant. Dit is die perfekte kubus, ‘n simbool van volmaaktheid in die Griekse Filosofie. Die Jode was bekend met die vorm van die brandofferaltaar , die wierookaltaar en die borsplaat van die hoëpriester. (Exodus 27:1,30:2,28:16) In Esegiël se tempel en die van Salomo was die Allerheiligste deel in die vorm van ‘n vierkant (1 Konings 6:20). Die perfekte kubus voorveronderstel genoeg ruimte vir almal. Die woonplek van God is nie uitsluitend nie. So moet die kerk op aarde ook wees.

Die hoogte van die muur is verrassend laag. Dit is nie vir verdedigingsdoeleindes nie. Dit is net om die buitegrense van die stad aan te dui. Dit wys die verskil tussen diegene buite die stad en die wat binne die stad woon.

Die goud van die stad lyk wit in die son, soos kristalhelder opaal. Skoon en blink spieëls was nie so algemeen in daardie tyd nie. ‘n Spiëel was dikwels gevlek en dof.

Die fondamente is met edelstene versier. Opaal is ‘n deurskynende groen kleur, saffier is in Exodus 24:10 beskryf as ‘n indigo-blou met goudvlekker (amper soos lapis lazuli), agaat is groen soos koper wat verkleur en die groen van ‘n pou se stert. Smarag is bekend en die groenste van alle groen stene. Sardoniks is soos oniks met rooi en bruin lae soos ‘n kameo. Karmeool is bloedrooi, chrisoliet is goudkleurig, beril is see-blou en topaas is deurskynenede groen-goud (Job 28:19). Chrisopaas is appel-groen, Hiasint is diep blou-pers en ametis pers.

Agt van hierdie edelstene word in die bosrplaat van die hoëpriester gevind (Exodus 28:17).

Oorspronklik is die stad van die Griekse gode met twaalf astrologiese tekens gebou en elkeen van hulle het ‘n steen gehad, soos daar vandag nog gepraat word van geboortestene wat toegeken is onder die sterreteken waaronder mens gebore is. Johannes wou al die verwarring oplos en die gode-aanbidding aan die ware God onderwerp. Dit was vir meeste heidene goeie nuus. Hulle het gesukkel om hulle gode te plesier. Hulle was verlig om te hoor daar is een god wat alles kan doen. Johannes gee die astrologiese tekens in omgekeerde volgorde en onderwerp hulle almal aan God se gesag.

Dit is verstommend om een reuse pêrel as ‘n poort voor te stel. Pêrels het besondere waarde in die antieke wêreld gehad. Pêrelduikers was aan groot gevare blootgestel en pêrels was skaars. Jesus het ‘n gelykenis vertel oor die waardevolle pêrel, wat alles wat jy besit kan vervang in Matteus 13:46. Sy toepassing was natuurlik geestelik, maar Hy het die waarde van ‘n pêreld besef en dit in Sy verhaal gebruik. ‘n Pêrelpoort is ‘n simbool van onberekenbare waarde en skoonheid.

God self woon in hierdie wonderlike stad. (21:22-23). Dit is ‘n stad met geen tempel. Die tempel was alles vir die Jode, maar hier is daar geen tempel nodig nie. Die hele stad is die Allerheiligste.

God is ons ewige lig (Jesaja 60:19-20). In Sy lig sien ons die ware lig (Psalm 36:9). Dit is slegs in die lig van God wat ons waarlik kan sien en die waarheid herken..

In die stad is daar geen ligbron. Waar God is, is geen duisternis moontlik nie. Die antieke wêreld het duisternis gevrees. God se lig dryf alle vrees uit.

Daar is genoeg ruimte vir al die nasies. Dit is ‘n tema wat deur die Ou Testament en die profete ego. [Jesaja 2:2-4, 11:12, 45:22, 49:6, 51:5, 55:5, 56:6-8, 66:19. Jeremia 3:17, 16:19-21. Daniël 7:14. Zefanje 2:11, 3:9. Sagaria 2:13, 8:20-23, 14:9, Joël 2.]

Die Joodse geskrifte is vol van die Messias wat ‘n Redder vir al die nasies is. Johannes voltooi die prentjie van goddellike hoop vir al die nasies en die Jode.

Die nasies bring die rykdom en luister na die stad. Die Grieke bring hulle wysheid en filosofie waarin hulle deurgaans na God gesoek het. Die Romeine bring hulle adminstrasie en regspraak en die Hebreërs die ware God en die Messias. Net so bring ons ons talente en vaardighede in diens van die Koninkryk.

 Alle onreinheid en onsedelikheid en valsheid is daar nie meer nie. Dit is die ideale toestand van die kerk van Jesus. Dit is die mense wie se name in die Lam se Boek van die Lewe geskryf is.

God se gawe aan ons was Jesus. Dit is Sy beste.

 

 

113. Waar skryf jy ‘n nul?

Hoe lank duur ‘n leeftyd nou eintlik? Wat is daar binne ‘n leeftyd wat konstant bly? Verandering kom so gou, beplan en onbeplan. Kyk vir ‘n oomblik terug oor die afgelope vyf jaar en dink aan al die dinge wat verander het. Dit is soms moeilik om tred te hou met gebeure, mense en omstandighede.

Dink nou aan ‘n duisend jaar. Kan enigiemand jou moeg maak met die gedagte van ‘n duisend jaar. Ons kan skaars die honderd jaar wat die sterkste onder ons leef, beheer.

So hoekom sal ons in ‘n millenium belangstel? ‘n Duisend jaar is soveel meer as ‘n lewensduur en werklik moeilik begrypbaar.

Ek kan goed onthou hoe my ma haar berekeninge in haar besigheid, voor rekenaars en sigbladverwerkings gedoen het. Sy het haar eie sigblaaie gemaak. Sy het papiere aanmekaar geplak om die oorsig oor die berekeninge makliker in ‘n oogopslag te sien. Dit was maklik om hier en daar ‘n ekstra nul in te skryf of uit te laat, wat dan alles omvergooi. Miskien het sy een van die foute besef toe sy oor nulle filosofeer.

Dit maak baie saak waar jy die nulle in jou lewe skryf, het sy gesê. Nulle voor die een beteken niks. Nulle na die een voeg waarde toe. Sorg dat jy die nulle van jou lewe (jou eie pogings) ná die Een leef. Wanneer ons ons lewe “bereken” is dit net wat na die Een, wat soos die Kruis van Jesus geskryf word, kom wat werklik ‘n verskil maak.

Hier in die 20e hoofstuk van Openbaring is ons weer by die getalle van Openbaring, soos ons voorheen al bespreek het. Die hele gedagte van ‘n duisendjarige vrederyk waarin die Messias regeer, vind sy oorsprong in Joodse geskrifte. Die “dogma” as mens dit so kon noem, het grootliks verskil en afgehang van die tendense in die gemeenskap en die status van die leraar wat dit verkondig. Dit was veral gewild in die eeue voor die geboorte van Jesus. Dit is nie Christelik in oorsprong nie.

Voor Jesus se geboorte het die kerkleiers gevoel dat die wêreld inherent so sleg is dat die koninkryk van God en die Messias nie in hierdie realm kan kom nie. Uit hierdie siening het die gedagte van ‘n beperkte Messiaanse regering ontstaan, waarna die finale afrekening sou plaasvind.

Sommige historici sien die wêreldgeskiedenis in ‘n reeks van weke. Daar is sewe weke in die verlede, In die agste week sal die gelowiges met die swaard regeer en die huis van God bou. In die negende week sal boosheid vernietig word en geregtigheid floreer. In die tiende week sal die oordeel kom en daarna die ewigheid van God se goedheid.

Die psalmdigter vra God om die jare van lyding met jare van vreugde te vervang (Psalms 90:15). So het die gedagte ontstaan dat die goeie jare net soveel as die slegte jare sal wees.

Selfs meer gewild was die gedagte dat ‘n duisend jaar soos ‘n dag in die oë van die Here getel word.

 Want duisend jaar is in u oë soos die dag van gister as dit verbyskiet, en soos ’n nagwaak. (Psalms 90:4)

Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. (2 Petrus 3:8)

Die ou Hebreeuse skrywers het geleer dat elke dag van die skepping ‘n duisend jaar was. Die Messias sou in die sesde duisend jaar kom en Sy regering sou die sewende duisend jaar, die ekwivalent van die Sabbat, duur.

Hierdie hoofstuk in Openbaring wys dat Millenarianisme in die vroeë kerke redelik gewild was. Augustinus het die leer vergeestelik en in ‘n groot mate die verwagting van letterlike vervulling stadig laat sterf. Hy het die oorwinning oor Satan deur die gelowiges, die ware volgelinge van Christus as die regering van die Millenium gesien. Vanaf die geboorte van Jesus is die koninkryk van God op aarde gevestig en dit is die opstanding uit die dood van sonde van elke wedergebore Christen, wat sy plek as soldaat en stryder teen boosheid inneem en uitleef.

Die ewige heerskappy van die groot rots van Daniël 2:44, 7:14,27 is die koninkryk wat Jesus met sy eerste woorde van bediening bevestig het.

Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom. (Matteus 3:2)

Ek dink mens kan heeltemal veilig die interpretasie dat ons in die simboliese millenium leef, aanvaar. Die regering van die Messias is ingelei deur Jesus se lewe op aarde. Johannes het die millenium-gedagte ingesluit om te wys dat Jesus die antwoord eens en vir altyd op AL die verwagtinge van die Messias was en dat Hy deur die kerk, Sy heerskappy op aarde gevestig het.

Die getal duisend is gebruik om menslike ontelbaarheid uit te druk. Psalms 50:10 sê dat die vee op ‘n duisend heuwels aan die Here behoort en Job 9:3 verklaar:

As jy ‘n saak teen Hom sou wou voer, sou jy Hom nie eers op een vraag uit duisend kon antwoord nie.

Die slang is die “ou duiwel” (20:2) die vyand van die mens. Hy was daar in die Tuin by die eerste Adam se verleiding en het ‘n gemors van verwoesting en tragedie oor die wêreld losgeruk. Hy is die aanklaer van God se kinders en die teenstaander van God en mens.

Die afgrond (20:3) is gesien as ‘n onderaardse spelonk waar die afgestorwenes gegaan het. Dit was die onderwêreld of onderaardse diepte wat die duiwels gevrees het toe Jesus hulle uit die besetene van Gadara uitdryf. (Lukas 8:31)

Die onderaardse diepte word geseël net soos die graf van Jesus geseël is. God maak oop wat Hy oop wil hê. (Matteus 27:66)

Die duiwel wat losgelaat is, spreek van ‘n toetstydperk vir die Christene. Geloof wat getoets word, is blywend. Die wat in Christus sterf en die wat in Hom leef sal hulle loon ontvang en saam met Hom regeer in hulle bevoegdheid as regters. (20:4)

Die trone is die van die 24 ouderlinge, die kerk. Die ouderlinge word vier maal in Openbaring genoem. Hulle is die verteenwoordigers van die kerk op aarde en in die hemel (Daniël 7:22,27, Matteus 19:28, Lukas 22:30, Hebreërs 12:1,2) en word saamgestel uit die 12 stamme en die 12 apostels.

Diegene wat onthoof is, is die simboliese verwysing na die martelare en enigiemand wat vir die Evangelie ly.

 Oordeel wat van ‘n troon kom is ‘n konsep wat dikwels in die Nuwe Testament voorgekom het. Jesus het self gesê dat sy dissipels op trone saam Hom sal sit en die 12 stamme oordeel (Matteus 19:28). Paulus herinner die gelowiges aan hulle oordeelsplig. Dit is nie die tipe oordeel wat ons aan dink soos in ‘n hof met ‘n hamerslag en vonnis nie. Dit is die verpligting om te besluit om die regte ding te doen. Ons weet nou al wat die waarheid is, om Jesus, dié Waarheid, te ken. Ons kan nou al die leuens van die wêreld onderskei. Ons oordeel daagliks, om in moeilike omstandighede, waar bedrog en verraad heers, die regte keuses te maak.

Die dood het geen mag oor die gelowiges nie. Die fisiese dood is die oorgang na die ewigheid. (20:6)

Priester beteken brug-bouer volgens die Latyn, pontifex. Die priester bou ‘n brug tussen die mense en God. Ons het die voorreg om mense na Jesus te lei. Ons is die heilige volk, die koninklike priesterdom wat in Jesus brûe bou na God toe.

Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.(1 Petrus 2:9)

 Die kerk sal saam met Jesus regeer. In Christus is die mees gewone mens ‘n koning wat regeer.

In die volgende verse word die finale rebellie beskryf (20:7-10). Satan wil die einde verhaas aangesien die geleentheid vir redding verbygaan. God is in beheer van die tye. Die vier uithoeke van die aarde beteken die ganse aarde.

‘n Groot en gedugte mag wat optrek teen Jerusalem is een van die sentrale gedagtes in Joodse teologie. (Daniël 11:1-45, Sagaria     14:1-11)

Die stryd van Gog en Magog vind ons in Esegiël 38:1-23 en 39:1-29. Hulle sal optrek teen Jerusalem en uiteindelik totaal deur die Messias oorwin word.

Dit is nie ‘n fisiese, militêre stryd nie. Die stryd is geestelik. Ons leef in die geestelike dispensasie na die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag. Die fisiese Jerusalem is vervang met die nuwe Jerusalem, die kerk van Jesus.

In die laaste verse word die finale oordeel beskryf. (20:11-15)

Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn. (Romeine 14:10)

Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, (2 Korintiërs 5:10)

Hierdie skrifte bevestig die eenheid van God en Jesus. Daar is net een regterstoel van die Drie-eenheid. Dit is kern belangrik vir die Jode om dit te verstaan. Die Hebreeuse God is een, in teenstelling met die veelvuldige gode van die heidennasies om hulle. Hulle bely met oortuiging Deteronomium 6:4:

“Hear, O Israel: The Lord our God, the Lord is one!

 En ek het ’n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. (Openbaring 20:11)

 Hemel en aarde sal vergaan, maar Jesus se woorde nooit. (Markus 13:31). Sien ook 2 Peterus 3:10, Psalms 102:25-27.

Die boeke word geopen. Daar is twee soorte boeke wat in Openbaring genoem word. Die Boek met die sewe seëls en die Boek van die Lam. (Daniël 7:10 en Openbaring 5, 13, 17 e.a) Ons juig by die oopmaak van die Boeke. Ons word die kosbare besitting van die Here. (Maleagi 3:16-18)

 God se boeke word dikwels in die Skrif genoem. Moses is gewillig om uit die Boek van die Lewe uitgewis te word ter wille van die volk (Exodus 32:32). Die psalmdigter vra dat die bose uit die Boek van die lewe uitgewis moet word (Psalms 69:28).

Paulus praat van mede-arbeiders wie se name in die Boek van die Lewe opgeskryf is (Filippense 4:3). Aan Sardis word die belofte gemaak dat hulle name nie uit die Boek van die Lewe gehaal sal word nie (Openbaring 3:5).

Elke heerser van die antieke wêreld het ‘n boek gehad waarin die name van die burgers opgeteken is. Dawid het die volk getel, die Romeine het gereeld ‘n sensus gehou. Dit is juis die rede waarom Josef en Maria uit Nasaret na Bethlehem moes gaan.

Die Boek van die Lewe is ‘n rekord van die geestelike, lewende, aktiewe burgers van die Koninkryk van God. Niks, nie eers die dood nie, kan jou naam uit daardie Boek verwyder nie.

Hoewel die kinders van God doodgaan, is hulle lewend in die onsienlike koninkryk van God.

Die see sal sy dooies teruggee. Vir die antieke wêreld was ‘n begrafnis van die grootste belang. Mense wat op see doodgegaan het, het geen begrafnis gehad nie. Johannes troos al die bygelowe en sluit almal in die uiteindelike opstanding in.

 Net so met die doderyk waar mense vir die opstanding gewag het. Met die opstanding van Jesus is die doderyk leeggemaak.

 Alle dood word onder die opstanding van Jesus in oorwinning omskep. Satan het geen mag in die finale opstanding nie. Prys die Here!

 

112. Kom sing die lied van die heelalkoor – Halleluja!

Daar is geen tywfel dat die tale van die wêreld ‘n phenomeen is wat ons verhoudinge op ‘n globale skaal grootliks bepaal. Ek is gefasineerd met taalontwikkeling en die geskiedenis van taal. Daar is baie tale, moeilik om te leer en soveel talentvolle mense wat soveel tale bemeester. ‘n Taal is insig in ‘n volk, ‘n verduideliking van die siel van etnisiteit.

‘n Paar dekades gelede het Coke ‘n aangrypende liedjie in hulle advertensie gebruik. Wie kan onthou? I’d like to teach the world to sing in perfect harmony. Ek kan goed onthou hoe ek gevoel het as ek die liedjie hoor. Ek het gedink dit is die heel beste ding wat ooit kan gebeur. Musiek kan die wêreld verenig. Ek het daardie selfde gevoel as ek Openbaring 19 lees. Dit is presies wat die wêreld nodig het.

Die storie van die toring van Babel in Genesis 11 is eienaardig, om die minste te sê. Die mense van die aarde kom na die vloed bymekaar en beplan om ‘n toring te bou. Volgens die prentjies in die Kinderbybel het hulle al ver gevorder voor die taalverwarring gebeur het. Hulle taaleenheid het hulle baie kragtig gemaak. God self sê dat niks vir hulle onmoontlik sal wees nie en verwar hulle taal. As gevolg daarvan versprei hulle oor die aarde soos wat Hy oorspronklik bedoel het.

Eeue later gebruik God ‘n wonderwerk van taal om Sy kerk te verenig sodat hulle die krag van eenheid kan ontvang. Op Pinksterdag het taal die ongelowiges verbyster en die kerk gevestig. Tale is een van die gawes van die Heilige Gees wat deur Hom uitgedeel word, soos dit nodig mag wees (1 Korintiërs 12:4-11).

Dit is die kerk van Jesus-taal, maar wat van die tale van die wêreld wat so moeilik is om te oorkom. Oor soveel eeue, selfs voordat televisie en digitale media globale kommunikasie oorgeneem het, was daar een woord in enige taal herkenbaar, tot vandag toe nog.

Selfs die eenvoudigste mense van die meeste volke kan Hallelujah herken, moontlik met klein variasies in spelling. Die negentiende hoofstuk van Openbaring begin met ‘n loflied van onmeetbare skares. God se oordeel, waarvan ons in die vorige hoofstukke gelees het, bring vreugde en vrede in die harte van die gelowiges. Die menigte wat sing is die engele (7:9) en die martelare en gelowiges (5:11). Hier is almal saam in ‘n koor van lof wat psalm sing tot eer van die Allerhoogste.

Halal beteken prys en Jah beteken Jahweh. Dit is die eerste frase van soveel Psalms. Psalm 118 word die Hallel genoem en elke Jood sal dit ken.

Die heelalkoor sing van saligheid, glorie en mag. In skrille kontras tot die aktiwiteite van die dier, bring God uitkoms en wonderwerke. Saligheid bring danksegging, glorie bring respek en mag bring die besef van liefde en uit dit vloei vertroue. Dit is die elemente van ‘n lofsang.

Sonde moet geoordeel word. In die woorde van T.S. Kepler:

The moral law can no more be broken than the law of gravity; it can only be illustrated.

God se oordeel is volmaak en waar en altyd geregtig omdat:

  • God alleen weet alles, ook die innerlike van die mens
  • Hy is waarlik rein en sonder vooroordeel
  • Hy is alwys met die mag om dit toe te pas

Die Here sal nooit Sy eie in die steek laat nie. Die lof kom uit die kerk, die 24 ouderlinge (19:3-5) en hulle word opgeroep om te sing. Dit is inderdaad ‘n alamagtige gedreun.

Die woorde wat hulle sing herinner ons aan Jesaja 34:9-10 waar die oordeel oor Edom uitgespreek word. Die oordeel is voltooi. Die kerk en die natuur verenig in een groot lofgesang.

Die dienaars is die profete (10:7, 11:18 & 22:6) en die martelare (gelowiges) (7:3, 19:2). Klein en groot (19:5) beteken Christene van al die vlakke van die lewe, intellektuele vermoeëns en sosiale stand en ook al stadia van Christen” ouderdom”. Die wonder-fees is weer eens insluitend soos alles in die Evangelie.

Dit is die gereddes wat sing (19:6-8). Volgens Efesiërs 3:10 is dit die kerk wat God se veelvuldige wysheid aan die hemelse wesens bekend maak. Dit is die doel van die kerk in die onsienlike.

Die geluid van baie waters en die gedreun van donderweer is geluide wat nie ignoreer kan word nie. Dit mag skrikwekkend vir baie wees, maar is verwelkomend aan die deelnemers. Die geluid oordonder alles in die heelal. Dit is die “geluid” van wonderwerke. Ons erken die lofsang van die heelal. Onthou die ou lied:

I hear the voice of the Supernatural singing

Like only those who know Him can

In Matteus 5:12 gebruik Jesus twee woorde: chairein en agalian. Dit beteken om te juig of jubelend bly te wees. Ons het alreeds die gewoonte om te herhaal van die Hebreeuse taal bespreek. Dit ondersteun memorisering en beklemtoon waarhede.

Die huweliksfees van die Lam (19:7) is ‘n heerlike gevolg van die intieme verhouding van Christus en die kerk. Sy bloed bind ons aan Hom in ‘n verhouding wat geen mens kan vernietig nie, net ons eie keuse van verraad.

Die huwelik is ‘n gerespekteerde instelling en ‘n dinamiese beginsel in die Woord. Die profeet Hosea het sy hele lewe as ‘n simboliek van die volk se afvalligheid van God geleef, deur met ‘n prostituut te trou en selfs kinders by haar te hê. Hy moes haar telkens van die strate gaan terughaal, waaarheen sy in verraad en ontrou teruggekeer het. In Hosea 2:18,19 belowe God Sy ewige trou.

Ek gaan jou my bruid maak vir altyd. Ek gaan jou aan My bind deur my weldade en my goeie sorg, deur my liefde en my ontferming. Ek gaan jou aan My bind deur my onverbreekbare trou sodat jy aan My, die Here, toegewy sal wees.

Hy verklaar deur Sy profeet Jesaja dat jou Maker jou Man is. (54:5). Esegiël 16:1-63 verduidelik God se wonderbare benadering tot Sy volk as Hy in liefde uitreik en die verhouding herstel. Die gedeelte is ‘n bemoediging om volle vertroue in die onkeerbare goedgesindheid van die Here te hê.

Die Almagtige God (19: 6-8) word uitgedruk in die woord pantokrator, wat beteken dat Hy beheer oor alle dinge het. Hierdie frase is algemeen in Openbaring maar kom net een keer buite Openbaring in die Nuwe Testament voor. (2 Korintiërs 6:18). Daar is niks vir Hom onmoontlik nie. Hy kan net wen, nooit verloor nie en ons in Hom is oorwinnaars.

Daar is baie verwysings in die Nuwe Testament na bruilofsfeeste en God se gedagtes oor die huwelik. (Matteus 22:2, 10-11, 25:1, Markus 2:19, Johannes 3:29, 2 Korintiërs 11:2, Efesiërs 5:21-33.)

Een groot waarheid staan bo alles: ‘n liefdelose huwelik is onmoontlik. Die intieme gemeenskap van ‘n huwelik waarin twee mense een word, is totaal onmoontlik sonder liefde. Met liefde is dit ‘n vreugde. Getrouheid impliseer noodwendig lojaliteit.

Aanbidding by die Messiaanse banket (19:9 -10) is ‘n ego van die lang verwagte tradisie van die koms van die Messias in Joodse literatuur.

Op hierdie berg gaan die Here die Almagtige ‘n feesmaal gereed maak vir al die volke, ‘n feesmaal met die beste om te eet en te drink, goeie kos en geurige wyn. (Jesaja 25:6)

Jesus sien uit om saam met al die geloofshelde (dit is ons ingesluit) aan die tafel te sit en ‘n feesmaal te geniet.

Ek sê vir julle: Baie sal van die ooste en die weste af kom en saam met Abraham, Isak en Jakob aan tafel gaan in die koninkryk van die hemel. (Matteus 8:11)

 Dit is die verstommende realiteit van die onsienlike koninkryk van Jesus op aarde. Nou reeds sit ons aan by die feesmaal in Sy teenwoordigheid deur die Kruis (Psalm 23, Openbaring 3:20) en in Sy woord “gesels” ons met die geloofshelde van die eeue.

Johannes skryf (19:10):

Toe het ek voor sy voete op my knieë neergeval om hom te aanbid. “Pas op, moenie!” sê hy toe vir my. “Ek is ‘n mededienaar van jou en van jou medegelowiges wat aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het. Aanbid God, want dit is Jesus wat die getuienis gelewer het, en dit is die Gees wat die profesie gegee het.”

Ons kan nooit die boodskapper aanbid nie. Aanbidding is aan God alleen. Die engel is slegs die dienaar. Engele het ‘n belangrike rol in die Joodse godsdiensbeskouing gespeel, maar kan nooit God as Opperwese vervang nie.

Dit is die toets vir enige profesie. Die ware profeet sal Jesus die middelpunt van alles maak. Die profeet kan nie praat as hy nie van God gehoor het nie.

Die mees dramatiese oomblik in hierdie ganse Bybelboek is Jesus se veskyning op die wit perd.

 Sy name is Getrouheid en Waarheid, die oorwinnaar. Hy word beskry as die Een wat oorlog voer, in lyn met die Messiaanse verwagting van die Jode. ‘n Romeinse generaal het in ‘n triomftog altyd op ‘n wit perd deur die strate gery.

Getrouheid verseker ons van absolute betroubaarheid en Waarheid is die bron van alle werklikheid in teenstelling met die leuen van illusie en verraad.

Daar is by Hom geen omdraai nie. Hy is geregtigheid. Hy is die regverdige regter. Hy spreek reg deur die offerbloed van Sy seun. Dit is die dieper reg van Een voor Wie alles oop en bloot is.

 Sy oë is soos vuurvlamme wat beteken dat Hy alles sien te alle tye. Hy word gekroon met baie heerserskrone – politieke en oorwinnaarskrone (diadema & stephanos).

Dit was algemene gebruik dat die oorwinnaar die krone van die gebiede wat oorwonne was, gedra het. Jesus is die oorwinnaar van al die aardse koninkryke, meer as die van die draak.

Sy naam is die WOORD van God, soos beskryf in die eerste hoofstuk van Johannes se Evangelie.

‘n Jood sal verstaan dat woorde nie blote klank is nie. Dit impliseer aksie. Woorde is ‘n kragtige energie-eenheid.

‘n Voorbeeld hiervan is die seën wat oor Jakob uitgespreek is en nie omgekeer kon word nie (Genesis 27). God se woord is ‘n hamer wat die rots in stukke breek (Jeremia 23:29) God se woord skep. God se woord aktiveer sy voorskrifte en wonderwerke.

Jesus het gebed omskep in ‘n ware gesprek met ‘n liefdevolle Vader. Hy gee ons Sy naam om in gebed te gebruik (Johannes 16:23)

Jesus is die openbaring van God vir hierdie dispensasie, maar dis nie die volle beeld van wat God is nie. Hy is altyd meer as wat ons verstaan. Die hemelse Jesus is die oorwinnaar, nie die veroordeelde slagoffer soos voor die Kruis nie. (Jesaja 63:1-3)

 Sy kleed is in bloed gedoop. (19:13, Jesaja 63:1-3)

 Sy kleed is simbolies van die Bloed wat Hy vir ons gestort het.

Hy regeer met ‘n ystersepter van gesag en sekerheid, nooit tirannie.

God se toorn (19:14-16) staan in sterk kontras met die bruilofsfees.

Jesus praat van die hemelse leërskare in Matteus 26:53. Hy kon hulle tot Sy voordeel beveel.

Sy swaard is die Woord wat Hy spreek.

Hy sal die goddeloses in die land hard oordeel, met sy uitsprake sal hy hulle om die lewe bring. (Jesaja 11:4)

 Jesus se vyande se verdoemenis word in die laaste verse van die hoofstuk uitgespel (19:17-21).

Die roofvoëls word uitgenooi om die vlees van die bees en sy vyande te verorber. Dit herinner aan die beskrywing van Esegiël 39:17-19 van Gog en Magog se ondergang.

Hulle sal in die poel van vuur gewerp word. Dit is die gevolg van sonde en boosheid. Uiteindelik is dit altyd die mens se eie keuse wat sy ondergang bring. God wil dat almal gered word.(Openbaring 20:14, Daniël 7:11)

Dit is ook wat mens om jou sien vandag. Die gevolge van sonde is geweld en verwoesting, hel op aarde. God se Woord verwoes Sy vyande.

111. Dit sal kom – verseker!

Ons leef nou in die eerste dae van die nuwe jaar. Iets nuut is so besonders. Daar is diep bevrediging in die idee van iets nuut. ‘n Vars begin, ‘n skoon blaadjie, iets heeltemal anders, ‘n oorspronklike ontwerp en ‘n lewe in ere herstel is altyd ‘n bron van inspirasie en bewondering.

Ons het so pas die Kersfeesstorie herdenk. Dink vir ‘n oomblik hoe min mense daardie eerste Kersnag besef het, dat die wêreld nooit weer dieselfde sal wees nie. Die belofte het gekom. Soveel eeue se wag, die oomlik waaroor profesie na profesie opgeteken is, het aangebreek. Al die twyfel, al die verlange is vervul, so stil en ongemerk, dat net diegene wat in nederige afwagting die belofte geleef het, die voorreg gehad het om die baba te aanskou. Simeon en Anna het die profesie geleef. Hulle het gesien, terwyl duisende teenwoordig was sonder om te sien. Twyfel maak blind. Belofte-vemoeidheid is gevaarlik. Die woorde vervaag, die krag vervaag en die God van die belofte vervaag.

Hoe lyk die verwagtingsmeter op die beloftes in jou lewe? Hardloop jy op ‘n gemaklike, maraton-pas terwyl jy in die proses die mense om jou bemoedig om vol te hou of voel jy uitasem en uitgemergel soos jy mik vir ‘n plek om op te gee omdat jou oë brand van sweet en trane. Moenie opgee nie. Hou jou oë oop sodat jy die belofte sal sien. Jou oplossing is reeds gereed in die onsienlike. Roep jou Vader aan; wag op Hom; Hy gee die vermoeides krag; Hy versterk dié wat nie meer kan nie. (Jesaja 40:29)

Elke Kersfees en elke Paas staan as feesbakens van versekering dat die belofte sal kom. Kyk weer na die verbondsbelofte.

“So lank as die aarde bly bestaan, sal saaityd en oestyd nie ophou nie, ook nie koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie.” (Genesis 8:22)

Hoe seker is jy van die dag en nag en die winter en somer? Dit is ‘n ritme wat nog nooit versteur word nie. So seker sal God sy Woord in jou lewe waar maak. Die belofte-verwagtingsmeter in jou lewe word direk beïnvloed deur die temperatuur van geloof. Daar is net een manier om ons geloof te versterk.

Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God. (Romeine 10:17,OAB)

Ons leef in ‘n wêreld waarin ons deur boosheid omring word, soos ons in die vorige hoofstuk (17) van Openbaring gesien het. Onsedelikheid, leuens, wreedheid, verdrukking, armoede en hongersnood, oorlog, terrorisme en lyding is hoofnuus en ‘n paar minute daarvan is genoeg om iemand in sak en as te laat verval. Leiers praat en belowe in ‘n poging om die chaos aan te spreek en die bevolking protesteer in verwarring en woede.

Mens kan net uitroep dat God intree met Sy wysheid in elke besluit sodat ons vooruit kan gaan en lyding verlig. Ons het Jesus in hierdie wêreld nodig. Hy is die antwoord. Wat ‘n voorreg om Hom te ken.

Hoofstuk 18 van Openbaring is ‘n treurlied, algemeen in profesie literatuur. Ons lees in Jesaja 13:19-22 ‘n treurlied oor Babilon en in Jesaja 34:11-15 oor Edom. Jeremia 50:39 en 51:37 is deel van die treurliedere oor Babilon en in Sefanje 2:13-15 is ‘n treurlied oor Nineve, wat dien as ons voorbeeld:

Daarna steek Hy sy hand uit teen die noorde en maak Hy ‘n einde aan Assirië: Hy maak Nineve ‘n stad sonder inwoners, ‘n droë weiveld.

Hier in Openbaring kom die engel uit die teenwoordigheid van God met die heerlikheid wat hom kenmerk. Dit is ons kenmerk wanneer ons tyd spandeer in die teenwoordigheid van God, sodat ons die aarde kan verlig.

Hy het groot gesag gehad, en die aarde is deur sy heerlikheid verlig.

 Johannes het sonder twyfel die beskrywing van Esegiël (43:2) ook in gedagte gehou.

 Daar sien ek toe die magtige verskyning van die God van Israel uit die ooste uit. Die stem van die Here was soos die gedruis van baie waters, en sy magtige verskyning het die hele aarde verlig.

Voor die verwoesting roep God sy mense uit (18:4), net soos altyd in die geskiedenis van God se volk. Ons volg die roepstem van God net soos:

  • Abraham – Genesis 12:1
  • Lot – Genesis 19:12-14
  • Moses – Numeri 16:23-26
  • Jesaja – Jesaja 48:20
  • Jeremia – Jeremia 50:8, 51:6,45.
  • Paulus vra die gelowiges in 2 Korintiërs 6:14-15:

Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie. Hoe kan daar vennootskap wees tussen reg en onreg? Hoe kan daar gemeenskap wees tussen lig en duisternis?

Hoe sal mens dit uitleef? Ons kan ons tog nie van die wêreld onttrek nie. Ons kan onsself geestelik van die wêreld distansieer en nie deelneem aan die boosheid. Ons leef soos Jesus op aarde geleef het. Ons is Sy kerk, die werk van Sy hande en in die proses word ons verander om soos Hy te word, terwyl ons in die wêreld leef. Dit is ‘n misterieuse, bonatuurlike proses waaraan ons onderworpe is met vreugde en gehoorsaamheid. Ons is nie uit nie, maar ons is anders.

God gee opdrag aan die engel om Babilon se hoogmoed (18:6-8) te straf. Die engel voer die opdrag uit, nie die kerk nie, God besluit en oordeel op ‘n vlak wat die kerk nooit kan bereik nie.

Hier op aarde maai die mens wat hy saai, soos Jesus gesê het. (Matteus 7:2)

Die konsep van dubbel straf en dubbel loon is dikwels in die Joods skrifte aangetref. (Exodus 22:4,7,9) Trots word altyd gestraf. Rome se grootste sonde uit die oogpunt van die eerste kerk is trots.

In Grieks is die woord vir arrogant hubris, wat letterlik beteken: geen plek vir God nie. Strong’s se verduideliking is omvattend:

Pride is an inwardly directed emotion that carries two antithetical meanings. With a negative connotation pride refers to a foolishly and irrationally corrupt sense of one’s personal value, status or accomplishments

Die res van die hoofstuk is ‘n weeklaag, soos by ‘n begrafnis. Rome is die simbool van boosheid net soos Babilon en dit sluit al die aspekte van die stad in – die konings of regeerders (18:9-10) die sakemanne (18:11-16) en die skeepskapteins en matrose (18:17-19). Ons hoor van die stad se belangrikheid, rykdom en weelde.

Hierdie deel van die visioen is amper ‘n ego van die groot skrywers oor Rome. In vergelyking met die sekulêre bronne oor Rome van daardie tyd is niks wat Johannes skryf ‘n oordrywing nie. Selfs die Joodse skrywers kon nie genoeg woorde vind om die oormaat en pronksugtigheid van Rome te beskryf nie. Die lewe van Rome se adel was ‘n desperate wedywering in weelde en voorgee. Om die onmoontlike te begeer het die sosiale kringe beïndruk. Die ganse wêreld van die eerste eeu nC het hulle opbrengs in Rome ingepomp. Caligula en Nero was die grootste verkwisters. Hulle het daarin geslaag om die opbrengs van drie provinsies in een dag uit te mors.

Een geskiedskrywer beskryf Caligula:

“In reckless extravagance he outdid the prodigals of all times in ingenuity, inventing new sorts of baths and unnatural varieties of food and feasts; for he would bathe in hot or cold perfumed oils, drink pearls of great price dissolved in vinegar, and set before his guests loaves and meats of gold.” He even built galleys whose sterns were studded with pearls. Of Nero Suetonius tells us that he compelled people to set before him banquets costing a fortune. “He never wore the same garment twice. He fished with a golden net drawn by cords woven of purple and scarlet threads. It is said that he never made a journey with less than a thousand carriages, with his mules shod with silver.”

Drinking pearls dissolved in vinegar was a common ostentation. Cleopatra is said to have dissolved and drunk a pearl worth millions of sestercii [Roman money]. Valerius Maximus at a feast set a pearl to drink before every guest, and he himself, Horace tells, swallowed the pearl from Metalla’s ear-ring dissolved in wine that he might be able to say that he had swallowed a million sesterces in a gulp.

In die tyd wat Johannes geskryf het, was daar ‘n malle gejaag na weelde en buitensporige lewenstyl soos nooit vantevore of daarna in die geskiedenis.

Dis geen wonder dat die handelaars en sakemanne treur oor die val van die ryk, aangesien hulle die ware voorsien en vervoer het en in die proses self ryk geword het. Hulle treurlied is heeltemal selfsugtig. Hulle aanskou die val van Rome van ver af sonder enige simpatie of helpende hand. Daar is geen liefde nie; die enigste band is geld.

Die Romeine was vreeslik lief vir silwer. Vir baie jare was daar ‘n gemiddeld van 40 000 slawe in die silwermyne van Asië. Plinius (‘n Romeinse skrywer) vertel van vroue wat in silwer baddens gebad het, soldate met silwer swaardhandvatsels en silwer afwerking op hulle uniforms. Selfs die armes het silwer enkelringe gedra en sommige slawe het silwer spieëls besit.

Edelstene is deur Alexander die Grote na die weste gebring. Plinius beskryf Rome se obsessie met edelstene so: the fascination of a gem was that the majestic might of nature presented itself in a limited space.

Eienaardig genoeg het die bygelowe ontstaan dat die stene medisinale kragte het. Vandag het al die bygelowe herleef in die sogenaamde “New Age” filosofie.

Van al die edelstene was pêrels die heel gewildste in Rome. Linne is uit Egipte ingevoer. Purper het van Phoenicië (huidige Lebanon) . gekom. Die woord vir purper, phoinos, beteken eintlik bloedrooi en is uit die are van ‘n skulpvissie geoes. Net een druppel kleurstof het uit een diertjie gekom. Sy is uit Sjina ingevoer en rooi sy is gebruik om die banke in die paleise oor te trek.

Hout het onder andere uit noord-Afrika gekom. Die gesogte sitrushout het soet geruik met ‘n pragtige grein. Die boom was nie groot nie en ‘n tafelblad van die hout was peperduur. Nero het 300 sulke tafels met marmerpote gehad.

Ivoor is hoofsaaklik uit Afrika bekom en is dekoratief vir beelde en swaarde gebruik. Brons uit Korinte, yster uit Spanje en marmer uit verskeie wêrelddele. Kaneel en ander speserye uit Indië en Zanzibar vir wierook en ander olies wat in balsem en bad mengsels gebruik is.

Mirre was ‘n boomgom van ‘n struik wat in Yemen en noord-Afrika gegroei het. Dit is medisinaal as ‘n stimulant en antiseptiese middel gebruik.

Wyn was algemeen in die antieke wêreld, maar is meestal verdun met water. Dronkenskap was ‘n skande. Selfs slawe het ‘n voorraad wyn ontvang.

Slawe en die siele van mense was ook handelsware. Die woord vir slaaf is soma en dit beteken liggaam of lyf. Die slawemark is letterlik ‘n lyfmark genoem. ‘n Slaaf was in totaliteit die besitting van ‘n ander mens.

Die Romeinse ryk het ten volle op slawerny gerus. Op sy hoogtepunt was daar meer as 60 000 000 slawe. Dit was nie ongewoon dat een huishouding soveel as 400 slawe bestuur het nie. Hulle het slawe soos die uitbreiding van liggaamsdele gebruik. Die adel het intelligente slawe se talent in debatvoering en vermaak gebruik. ‘n Slaaf het groot gedeeltes poësie of prosa gememoriseer om dan op die mees toepaslike wyse aan sy meester voor te dra, in die mededingende samelewing se uitspattige funksies. Slawe het die meester gehelp om bed toe te gaan, op te staan, te bad, te eet en te kuier. Mooi slawe is as versiering gebruik en ander om pornografiese aksies as vermaak op te dis. Liggaamsgebreke is as komedie voorgehou en uitgelag. Gaste het hulle hande aan die slawe se hare afgevee. Die slaaf self het geen regte, geen privaatheid en geen vrye tyd gehad nie. Dit is ‘n aaklige, weersinswekkende gemeenskap en oor dit treur die handelaars.

‘n Mens kan jou voorstel dat ware vriendskap in so ‘n gemeenskap meer waardevol as goud was.

Tog is daar vreugde in dit alles (18:20). Daar is rus en bevrediging in God se oordeel en heerskappy. (Deuteronomium 32:43 en Jeremia 51:48)

In die slotverse van die hoofstuk (18:21-24) word die vernietiging en einde van die Romeinse Ryk aangekondig. Dit word illustreer deur die simboliese aksie om ‘n meulsteen in die see te werp. Dit is so swaar en ongemaklike om te hanteer dat daar geen moontlikheid is, om dit weer onder die see uit te haal. Die finale oordeel van God is nie omkeerbaar nie.

…en sê: ‘Here, U het van hierdie plek gesê dat U hom so sal verwoes dat geen mens of dier weer in hom sal woon nie en dat hy altyd verlate sal wees.’ “Wanneer jy hierdie boekrol klaar hardop gelees het, moet jy ‘n klip aan hom vasbind en hom in die Eufraat gooi en sê: So sal Babel wegsink en nie opkom nie as gevolg van die onheil wat Ek oor hom bring; sy inwoners het hulle afgesloof vir niks, sê die Here.” Tot sover die woorde van Jeremia. (Jeremia 51:62-64)

Kom ons rus in die oordeel van God. Hy is regverdig en genadig en oordeel met die doel dat almal tot bekering kom. Hy is goed – altyd. Dit is Sy betroubare woord. Hemel en aarde sal vergaan, maar Sy woorde nooit nie.

 

 

110. Die vrou regeer die berge.

Ons hoor hard en duidelik van vroue in ons moderne gemeenskap. Dis ook reg so. As ek terugkyk in die geskiedenis kan ek die obsessie met gelykheid goed verstaan. Oor soveel eeue is vroue as tweederangse wesens behandel, mishandel en misbruik en dit het in die vroegste tye begin.

Hoewel die skeppingsverhaal God se hart in die verband met die mensdom deel, het dinge gou onder die invloed van heiden praktyke skeefgeloop. Eva is gemaak as die ander helfte van die mensdom.

God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. (Genesis 1:27)

Die belofte van baie afstammelinge het na Abraham en sy vrou Sarah gekom. Toe hulle besluit om God se plan “aan te help”, is ‘n slawe vrou, Hagar, ingebring om kinders te baar, wat duidelik nooit deel van God se plan was nie. Hy het Sarah vereer met die kind van die belofte. Sarah was Abraham se vrou. Tog het God Ismael geseën, nadat Sarah sy ma verneder en weggejaag het en hom ‘n groot nasie gemaak, wat in vyandskap met sy broer leef volgens die profesie van Genesis 16:9-12.

God het altyd ‘n huwelik, sy instelling, geëer. Dit is duidelik uit die geslagsregister van Jesus waar Batseba se naam nie genoem word nie. Die geslagsregister noem Salomo, seun van Dawid by die vrou van Urija (Matteus 1:6).

Regdeur die Ou Testament is vroue as minderwaardig teenoor mans behandel, met bykans geen regte nie. Ten spyte daarvan is die Bybelse geskiedenis vol van sterk vroue in politieke sowel as geestelike leierskap. Dink maar aan Debora in die tyd van die Rigters en Hulda, die profetes in die tyd van die jong koning Josia. ‘n Nader kykie in Spreuke 31 skilder ‘n duidelike prent van ‘n aktiewe, loopbaangerigte vrou met ‘n man en kinders wat trots op haar is.

Jesus het die status van vroue verander. Hy het uiters liberaal vir Sy tyd opgetree. Die blote feit dat hy met die vrou by die put van Jakob in Samaria gepraat het, was ongehoord en het sekerlik aanleiding gegee tot ‘n reuse skinderveldtog teen Hom en regstreekse veroordeling van die kerkleierskap. In daardie tyd was daar ‘n groep wat genoem is die bloeiende Fariseërs. Hulle was so ingestel op die wet om nie eers na ‘n vrou in die openbaar te kyk nie, dat hulle in mure en pilare vasgeloop het.

Vroue het ‘n belangrike rol in die lewe van Jesus gespeel en ook in die vroeë kerk. Priscilla was een van die gerespekteerde leiers soos in Handelinge 19 beskryf word. Sommige kommentatore is van mening dat sy die skrywer van Hebreërs kon gewees het, en anoniem gebly het, juis as gevolg van die vooroordeel teen vroue in leierskap.

Vandag is die feministiese beweging in die Westerse wêreld aktief. Die aggressiewe stem van die aktiviste is hard besig om vroue te probeer verhef tot die sterkere van die twee geslagte en die man te reduseer tot ‘n patetiese figuur wat geen besluite kan neem sonder ‘n brullende vrou-baas. Kyk maar ‘n bietjie dieper na nuwe TV reekse en flieks. Gelukkig vir hulle, laat vryheid van spraak as demokratiese norm hulle toe om hulle stem te laat hoor. In die midde-Ooste en Afrika, waar vroue blatant en wreed onderduk word, skreeu die afwesigheid van feministiese aktiwisme ten hemele.

Ek wonder soms waarom die vroue-held uitgebeeld word as die rigiede, skellende, geweldadige man wat niemand van hou nie en nie die ware helde, die sterk, nederige man, waarvan die gemeenskap en geskiedenis vol is.

Hier in Openbaring 17 vind ons die wyfie-duiwel (soos my ouma sou sê) van ons ergste nagmerrie. Sy sit op ‘n helderrooi dier (17:3) wat die kleur van ‘n bordeel is. Dit gee die indruk dat sy self ‘n hoer is, wat met haar vroulike lis verly.

Sy sit op baie waters, wat die chaos en verwarring van die aardse volke aandui. Sy is aangetrek in koninklike kleure, aantreklik en magtig om te regeer. Sy is met juwele bedek, goud en pêrels, wat spreek van luuksheid en rykdom. Sy is so aantreklik dat selfs Johannes in verwondering staar (17:6).

Babilon is gebou op die walle van die Eufraatrivier en is die simbool van boosheid en sonde. Die nasies is dronk van haar beker van onsedelikheid, met die veronderstelling dat hulle in hulle beswyming net meer en meer wil hê. Geld, seks en mag regeer die wêreld in soveel manifestasies op soveel vlakke van die samelewing.

Sy regeer in die woestyn wat die moontlikheid van ‘n oes en voorsiening uitsluit en spreek van honger en dors. Haar naam het ‘n verborge betekenis. Sy word aanbid deur ‘n menigte wat nie eers besef hulle aanbid haar nie, en dit ook nooit sal erken nie. Sonde kom in soveel vorme en is dikwels geheim en uniek aan diegene wat daarin betrokke is.

Die mense is verblind deur boosheid (17:8) Dit is noodsaaklik om boosheid te identifiseer en te verwerp, anders kruip sonde stadig en slinks in ons lewe in. Die dier is nie altyd duidelik nie. Ons het die wysheid van die Heilige Gees nodig om te onderskei en sterk te staan. Die engel moes aan Johannes die geheimenis van die vrou se naam openbaar. Sonde lyk nie soos sonde nie.

Die goue beker word in Jeremia 51:7 genoem as ‘n simbool van mag.

Babel was ‘n goue beker in die hand van die Here, ‘n beker wat die hele wêreld dronk laat word het: die nasies het van sy wyn gedrink en daarvan mal geword.

Die engel openbaar aan Johannes haar naam. (17:5)

Op haar voorkop was haar naam geskrywe en dit het ‘n verborge betekenis. Die naam was: “Groot Babilon, die moeder van die sedeloses en van die losbandigheid op die aarde.”

Rome se prostitute het ‘n versiering op hulle voorkoppe gedra sodat hulle as prostitute herkenbaar sou wees. Vandag word seksslawe dikwels tatoëer met die naam van die slawedrywer. Selfs die vrou van Claudius, een van die keisers, het in die bordele van Rome gewerk. In hierdie aaklige sedelike verval is die Christendom gebore en het die mense bekeer tot sedelike waardes en reinheid in ‘n gemeenskap van konstante beskikbare kitsbevrediging van seksuele drange. Nuwe denke oor reinheid was voorwaar ‘n wonderwerk van die Kruis. Die sekulêre gemeenskap het nog niks verander nie. Vandag se gemeenskap is net so permissief en boos. Die kerk kan net staande bly in die krag van die Kruis.

Die naam van die vrou word as “verborge” beskryf. Die beskrywing is ‘n aanduiding dat haar naam simbolies is.

Die geheime krag van die wetteloosheid is al aan die werk… (2 Tessalonisense 2:7)

Sy is dronk van die bloed van die gelowiges. Die wrede vervolging van die kerk was die kenmerk van Rome en die konstante genadelose vervolging van die ware gelowiges is in die eeue daarna volgehou.

Die vrou sit op die dier met godslasterlike name en afgodery. Dit gebeur wanneer haar mag as saligheid gesien word. Soveel mense soek redding in geld, mag, seks en offer selfs hulle kinders daarvoor op.

Die dier het sewe koppe en tien horings. Dit dui op volkome mag hier op aarde. Die engel beskryf die dier soos volg:

Die dier wat jy gesien het, was eers en is nie nou nie…

want eers was hy en nou is hy nie en tog sal hy wees. (Openbaring 17:8)

 In die oorwinning van Jesus aan die kruis is die dier wat in die eeue voor Christus aktief was, verslaan of soos die engel sê: , was eers en is nie nou nie. Maar hoewel hy nie meer is nie, toon hy tekens van lewe en sal opstaan uit die helse put (onderaardse diepte) om die mense weer te verlei en sy verderf op aarde voort te sit. Sy herstel is egter ‘n mars van die dood. Sy uiteinde is volkome nederlaag sonder enige hoop op herstel. (17:8)

Die sewe berge soos genoem in 17:9 is die “berge” van die gemeenskap wat ons kultuur bepaal en word deur sommige skrywers so benoem: Godsdiens, Familie, die Media, die Kunste, Besigheid, Onderwys en Regering.

Vir ons, Bodemklipvriend, die kerk van die lewende God sal die berg sing en dans. Dis ons verlossing van die vrou.

Julle sal met blydskap uit Babel wegtrek en in vrede gelei word; die berge en die heuwels sal voor julle uit jubel en juig en al die bome in die veld sal hande klap. (Jesaja 55:12)

Die tien konings (17:12) kan Rome en die daaropvolgende magte wees. Sewe is die volkome getal vir die geweldadige vervolging van die kerk. Die een uur wat genoem word, kan dui op die burgeroorlog in Rome van Junie 68nC tot Desember 69nC.

Sonde is dikwels as stede gesimboliseer soos Nineveh in Nahum 3:4, Tirus in Jesaja 23:16-17 en selfs Jerusalem in Jesaja 1:21 en Esegiël 16:15. Hosea se hele lewe was ‘n metafoor van die ontrouheid van ‘n losbandige vrou as simbool van God se volk en Sy troue liefde om haar terug te wen. Hosea moes elke keer sy vrou weer van die straat af gaan haal en het selfs kindes by haar gehad.

Die woestyn is dikwels ‘n plek van profesie en visioen soos vir Moses, Elia, Johannes die Doper en Jesus. Dit veronderstel afstand van die stad en die sonde met stilte vir afsondering om die stem van God te hoor. Wanneer ons onsself in die woestyn bevind onder die heerskappy van die hoer, is dit daar waar God riviere en paaie in die wildernis maak. Ons voorsiening word uitgedek op die tafel in die vallei van doodskaduwee in die aangesig van ons vyande (Psalm 23).

Die dier se uiteinde is finale afrekening (17:11), Hy is aan die verloorkant, al lyk dit nie so nie. Ons hoop is op die Skepper en die verlossing wat Hy bewerkstellig.

Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. (Romeine 8:19)

 Die Lam sal oorwing en die wat aan die Lam behoort saam met Hom. Die kerk sal staan in die oorwinning deur die Kruis en die Kroon van Jesus (17:14)

Die hoer sal deur vuur vergaan. Dit is die straf vir die dogters van priesters wat aan seksuele sonde skuldig was (Levitikus 21:9). Haar eie dienaars sal teen haar draai. Daar is geen lojaliteit in boosheid nie.

Die bepalings en doelstellings van die Here is volkome oorwinning. God werk altyd tot voordeel van die mensdom. (Romeine 8:28 en Nehemia 13:2) Hierdie skrif is pilare van bemoediging om in swaar tye staande te bly.

Die laaste versies van hierdie hoofstuk (7:14-18) is eintlik ‘n opsomming van die boodskap van Openbaring.

God het hulle gedagtes so gerig dat wat hulle doen, volgens sy bedoeling is: hulle het een en dieselfde doel voor oë en hulle stel hulle koningskap tot die dier se beskikking totdat God sy woorde in vervulling laat gaan het. (Openbaring 17:17)

109. Hoe kan dit liefde wees?

Selfvoldaan en aanmatigend probeer die wêreld vandag omskryf wat liefde is. Die sekulêre begrip van liefde bepaal voorwaardes, gevoelens en omstandighede wat as liefde geld. ‘n Oomblik se seksuele genot word beskryf as ‘n liefdesdaad – making love – selfs as daar van verhouding geen sprake is nie. Reusagtige en kleinere liefdadigheid impliseer liefde, veral as menslike pogings die verwoesting van die duiwelse dier van Openbaring en die tragedie wat volg, wil verlig. Wat ookal die wêreld dink of doen, dit kan nooit met die Bron van Liefde vergelyk, God in Jesus se aarde-lyf, wat ons almal in staat stel om lief te hê.

Antieke Grieks het met vier woorde liefde omskryf. Philia – broederlike liefde tussen gelykes soos vriende, eros – romantiese liefde en storgé liefde tussen kinders en ouers en ander verhoudings soos patriotisme en “liefde” vir ‘n sportspan.

Die vierde woord agapé is selde in antieke tekste buite die Nuwe Testament gebruik. Die woord was bekend, maar sonder inhoud, amper asof dit vir ‘n besondere inhoud en definisie gewag het. Jesus het die woord gebruik. Net die blote definisie daarvan is asemrowend wonderbaar en kragtig om God se liefde te beskryf.

Agapé is onvoorwaardelike liefde, liefde uit keuse, vyrwillig en doelbewus. Die woord bepaal ‘n onstuitbare goedgunstigheid en onuitwisbare welwillendheid wat altyd, sonder uitsondering, die heel beste belang van die objek soek en navolg, sonder enige oorweging van die objek se waarde. Dit is nie afhanklik van enige chemiese reaksie van verliefdheid, gevoel of emosie van vriendskaplikheid of aantreklikheid nie. Dit is ‘n liefde uit keuse en nie uit toeval nie. Dit is selfloos en vrygewig sonder om enigiets terug te verwag.

Agapao (werkwoord) en agapé (selfstandige naamwoord) is die woorde van die Nuwe Testament vir God se liefde.

Agapao is ‘n woord wat eintlik eksklusief aan die Christen gemeenskap behoort. Die woord is byna nooit buite die Bybel gebruik nie en kom selde of ooit in die tekste van die Griekse filosowe voor.

Hierdie definisie moet duidelik en onuitwisbaar in aanbidding en meditasie in ons gedagtewêreld gevestig word, voordat ons voortgaan met die studie van hoofstuk 16 in Openbaring. Lees die definisie weer en vra die Heilige Gees om aan jou te openbaar net hoe lief God die wêreld het.

Die sewe engele is gereed om die sewe bakke met God se toorn oor die aarde uit te giet.

Onthou altyd, alle rampe en tragedie is om mense tot bekering te lei. Die Here wag op die desperate roep van die slagoffers van rampspoed en is altyd gereed om kragtig in te tree met wonderwerke van uitkoms.

Die plae wat hier genoem word, herinner aan die tien plae van Egipte, hoewel al die detail nie ooreenstem nie.

Hier volg ‘n opsomming van dit wat ons tot nou toe weet van rampe en teëspoed wat uitspeel oor die eeue.

In die eerste plek – die tien plae oor Egipte in die tyd van Moses en die slawevolk.

(i) Water wat in bloed verander (Exodus 7:20-25).

(ii) Paddas (Exodus 8:5-14).

(iii) Muggies (Exodus 8:16-18).

(iv) Steekvlieë (Exodus 8:20-24).

(v) Pes onder die vee (Exodus 9:3-6).

(vi) Bose swere (Exodus 9:8-11).

(vii) Donderweer en hael (Exodus 9:22-26).

(viii) Sprinkane (Exodus 10:12-19).

(ix) Duisternis (Exodus 10:21-23).

(x) Dood van die eersgeborenes (Exodus 12:29-30).

In die tweede plek volg die rampe van die sewe trompette.

(i) Hael, vuur en bloed wat ‘n derde van die bome en gras laat vergaan (Openbaring 8:7).

(ii) Berg wat brand en in die see gegooi word sodat ‘n derde van die see bloed word (Openbaring 8:8).

(iii) Die ster, Bitterals, wat in die waters val en ‘n derde van die waterbronne en riviere besmet (Openbaring 8:10-11).

(iv) ‘n Derde van die son, maan en sterre wat verduister (Openbaring 8:12).

(v) Die ster wat die helse put ontsluit en die sprinkaan-weermag op die aarde loslaat (Openbaring 9:1-12).

(vi) Die loslating van die vier engele by die Eufraatrivier en die demoniese ruitermag uit die ooste (Openbaring 9:13-21).

(vii) Die aankondiging van God se oorwinning en die rebelse woede van die nasies (Openbaring 11:15).

In die derde plek volg die rampe van hierdie hoofstuk.

(i) Bose sere aan die mense (Openbaring 16:2).

(ii) See wat bloed word (Openbaring 16:3).

(iii) Riviere en fonteine wat bloed word (Openbaring 16:4).

(iv) Son wat brand soos vuur (Openbaring 16:8).

(v) Duisternis oor die koninkryk van die dier (Openbaring 16:10)

(vi) Die Eufraat wat opdroog en die vyand uit die ooste toelaat (Openbaring 16:12)

(vii) Lugbesoedeling en natuurverskynesels soos donderweer, aardbewings, weerlig en hael (Openbaring 16:17-21)

Die trompette se verwoesting is beperk tot een derde van die aarde. Trompette roep die mense tot belydenis en ‘n terugkeer na God toe. Die verwoesting van die bakke is finaal en allesomvattend.

Belangrik: die rampe tref die ongelowige.

In this final series of terrors John seems to have gathered together the horrors from all the stories of the avenging wrath of God and to have hurled them on the unbelieving world in one last terrible deluge of disaster. [William Barclay]

Die eerste vier bakke word op die omgewing uitgegiet. Die laaste drie tref die koninkryk van die dier. Die kort beskrywings dui op gelyktydige gebeure, eerder as opvolgende voorvalle. Dit is nie beperk tot die fisiese realm nie; die stryd is ook geestelik.

God se harde stem ontketen die rampe.

Daar het kwaadaardige en pynlike swere uitgekom aan die mense wat die merk van die dier aan hulle het en wat sy beeld aanbid. (Openbaring 16:2)

Sere is ‘n direkte gevolg van ongehoorsaamheid soos beskryf in Deteronomium 28:35. Sien ook Job 2:7:

En die Satan het weggegaan van die aangesig van die HERE, en hy het Job met bose swere getref, van sy voetsool tot sy skedel

 Water wat in bloed verander, maak ‘n lewegewende bron nutteloos en die dodelik. Die ramp tref elke moontlike waterbron op aarde. Daar is geen ontkoming aan die finale oordeel nie. Die kerk is altyd eerste om vervolging te ervaar. Die bloed van die martelare roep om vergelding. Die seediere wat sterf is ‘n teken van die oordeel.

Die oordeel vergeld die misdaad – dit is nooit te veel of te min nie. Die altaar (16:7) spreek van Jesus se lyding en ook van die martelare van alle tye wat in Sy naam ly.

Die duisternis wat hier beskryf word, is verwarrend en vreesaanjaend. Vir die Christen, is selfs die duisternis nie sleg nie.

Die volk het op ‘n afstand bly staan, maar Moses het nader gegaan na die donker wolk waarin God was. (Exodus 20:21)

Julle het toe nader gekom en aan die voet van die berg gaan staan. Die berg het gebrand, die vuur was tot in die hemel, en daar was ‘n rookwolk wat dit stikdonker gemaak het. (Deuteronomium 4:11 and 5:22)

Dié dag is ‘n dag van toorn, ‘n dag van nood en benoudheid, ‘n dag van storms en verwoesting, ‘n dag van donkerte, van duisternis, ‘n dag van wolke, van swaar onweer, (Sefanje 1:15)

Daar is vir ons geen vrees in die “dag van die Here” nie. Vir ons sal Hy die skatte in die duisternis wys. (Jesaja 45:3)

Ek sal vir jou die skatte gee wat in die donker gebêre word, die rykdomme wat weggesluit is, sodat jy kan weet dat Ek die Here is, dat Ek jou op jou naam geroep het, Ek, die God van Israel.

Wanneer die wêreld om jou donker lyk, sal God uitkoms bewerk in moeilike omstandighede.

Daar is ‘n ontstellende refrein in 16: 9,11 en 21. Die veroordeeldes vloek God. Selfs al kan hulle die almagtige Hand van God in wêreldgebeure bespeur, sal hulle Sy roep tot bekering weerstaan. Hoe dikwels hoor ons die verwyt dat ‘n God van liefde die wêreld so laat ly? Dit is die roep van die verharde verbitterdes. As hulle die vraag hoegenaamd stel, erken hulle Sy vermoë om dinge te verander? Is daardie vermoë nie waardig om aanbid te word nie?

In die uitroep van Darius, die Meed, hoor ons die erkenning van ‘n almagtige Opperwese wat ingegryp en gered het.

“Daniël, dienaar van die lewende God, was jou God wat jy met soveel volharding dien, in staat om jou van die leeus te red?” (Daniël 6:21)

Vir Johannes is die troon van die dier Rome. Rome se wrede en volgehoue vervolging van die kerk is geestelike oorlog.

Water wat opdroog is ‘n teken van God se mag (16:12) Hy het op die manier ingegryp by die Rooi See en die Jordaan. Dit het ook gebeur as vergelding soos beskryf in Jeremia 51:36 and Sagaria 10:11.

Toe Persië Babilonië inval het die vyandige weermag die Eufraatrivier opgedroog en in ‘n meer laat vloei om sodoende met die droeë rivierloop in die stad in te kom. Water wat opdroog maak ‘n pad oop vir die vyand. God maak riviere in die woestyn en gee water as uitkoms in die droogtes van ons lewe. Hiervoor is daar vele voorbeelde.

Ek sal volop water gee op die dorsland, strome op die droë grond. Ek sal my Gees uitgiet op jou kinders, my seën op jou nakomelinge. (Jesaja 44:3)

In the woorde van Jesus:

Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. ” (Johannes 7:38)

Ons hoef niks te vrees nie want:

Die Here sal jou altyddeur lei; selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien. Hy sal jou sterk maak. Jy sal wees soos ‘n tuin met volop water, soos ‘n fontein waarvan die water nie opdroog nie. (Jesaja 58:11)

Johannes beskryf die grillerige werklikheid van die leuens.

 Toe sien ek uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die vals profeet drie onrein geeste kom wat soos paddas lyk. (16:13)

 Onrein geeste lyk soos paddas. Ons woorde is kragtig. Die woord vir gees in Grieks is pneuma, wat asem beteken. Die vals drie-eenheid asem valsheid en boosheid. Onreinheid bring plae, soos ook in die Persiese mitologie geglo is.

Die kerk word teen die valse profeet gewaarsku in Markus 13:22.

Daar sal vals christusse en vals profete na vore kom, en hulle sal tekens en wonderwerke doen om, as dit moontlik was, die uitverkorenes te mislei.

 Die waarheid se grootste vyand is ‘n halwe waarheid. Dit is misleiding wat soos die waarheid klink wat soveel mense op die verkeerde spoor bring. Die misleiding kan selfs met wonderwerke en tekens voorgehou word. Paul en Johannes in sy sendbrief waarsku skerp teen vals leer. Net die Heilige Gees met die gawe van onderskeiding kan ons help om waarheid te onderskei.

Vergelyk Openbaring 16:15 met 3:18. Ons, die kerk, is gereed vir wat ookal ons kant toe kom. Probleme mag onverwags kom, maar ons het ons wit klere, goud en oogsalf om te onderskei en dieper te kyk. Verlossing van skande is baie belangrik. Ons lyding is waardig en word hoog geag in God se oë. Onmeetbare seën wag vir ons wat oorkom.

‘n Finale veldslag met die naam, Armageddon was ‘n ou idee en word onder andere in Psalm 2 genoem. Magedon (spellings verskil) is die plein tussen Egipte en Damaskus op die hoofweg en was ‘n bekende slagveld in die Hebreeuse geskiedenis. Armageddon is die stad en Harmageddon die berg. Esegiël 38 en 39 voorspel die oorlog tussen Gog en Magog sal in die heuwels van Israel plaasvind.

Ons stryd is nie fisies nie; dit is ‘n geestelike stryd teen die “paddas”, die demoniese magte.

Die sewe bakke tref ook die lug. Skoon lug is ‘n bron van lewe. Die natuur self stry teen sonde. Daar is aardbeweings en Babilon as simbool van sonde en boosheid word geskeur. Sy mag word verbreek.

Eilande en berge verander in die normale verloop van die natuurmagte op aarde. Eilande groei en vergaan met die verloop van tyd. Hael is bekend as ‘n oordeel oor die vyande van God se volk soos opgeteken in Joshua 10:11, Jesaja 28:2 en Esegiël 38:22. Hael, vuur en swael klink soos vulkaniese uitbarstings. Al hierdie natuurverskynsels is daagliks regoor die wêreld aktief en die meteoroloë versamel die data en berig daaroor.

God is aktief oor Sy woord en sal Babilon straf vir sy boosheid (16:19). Die mens kan altyd sy hart verhard teenoor die Here. Keuse is die groot gawe van God, sodat liefde kan bestaan, maar selfs in die hewigste en woedende storms en teëspoed, kan die mens God se liefde weerstaan.

Vir ons is die belofte duidelik:

Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.. (1 Petrus 1:3-7)

Dit is slegs in die kennis van wat ons erfenis is, dat ons die wêreld kan liefhê soos wat Hy die wêreld liefhet. Ons kan nie uit onsself dit regkry nie. Ons liefde kom van die maat van God se liefde wat in ons aktief is. Hy is die enigste Bron van liefde, selfs vir dit wat die ongelowige liefde noem.

Noudat al die oordeel en boosheid duidelik is, herken jy die liefde daarin?