90. Alles wat saak maak – ons God is groot!

[Openbaring  – inleiding]

‘n Terugkeer na wat in  2016 reeds geskryf is met ‘n opdatering van herhaalde studie.  Ek nooi julle uit om saam met my deur die apokaliptiese, wonder-wêreld van God se geheimenisse te vaar, soms stadig in verwondering, met trane van aanbidding en helderheid van groeiende begrip van die misterie waarvan die sluier lig.

Welkom op die hemelse tuimeltrein van hierdie wonder-geskrif. 

Selfs wyse mense kan na die spreuke luisteren so tot dieper insig kom.

Wie reeds die nodige kennis het, kan die kuns [insig en verstandigheid] aanleer

om spreuke en sinspelings,

woorde en raaisels van wyse mense te begryp.

Kennis begin met die dien van die Here;

dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag.  (Spreuke 1:5-7)

Die naam van die boek sê alles. Johannes beskryf die onbeskryflike in ‘n poging om vir ons die raaisels van ons wêreld te verduidelik sodat ons nie in duisternis en chaos rondtas vir insig in die deurmekaarspul van wêreldpolitiek, oorlog, terrorisme, natuurrampe, wreedheid en lyding nie. In ons studie sal ons met die hulp van die Heilige Gees die hart van ons Vader sien.

Die goue tema van hierdie boek, waarin soveel van die simboliek van geheel van die Bybel opgeneem is, verkondig God se liefde en soewereiniteit, Jesus se koningskap en die almag van ons God om die gevolge van sonde te beheer en die mens daaruit te verlos.

Openbaring maak bekend en deel kennis, sodat ons nie in onkunde en ellende vergaan nie. Die optekening van Johannes se visioen verklaar en verduidelik sodat ons die wanorde van sonde kan verstaan en die taak of roeping wat vir ons, die kerk van Jesus, opgelê is, kan volvoer. Die kerk, die nuwe Jerusalem, is nie ‘n denominasie nie. Dit is die bloedgewaste kinders van God, met ‘n getuienis op hulle lippe, wat die vyand sal oorwin volgens Openbaring 12:11. Die Bloed van die Lam en die Woord van getuienis is nie georganiseerde godsdiens nie. Dit is die kosbare oorblyfsel wat die vaandel dra en die vervolging verduur.

Bodemklipvriend, moenie dink dat die kerk van Jesus nie meer vervolg en onderdruk word nie. Afgesien van die wrede vervolging in verskeie dele van die wêreld vandag waar Christenskap ‘n doodsvonnis is, is elke aanslag teen die beginsels en waardes van Jesus, vervolging vir ons. Dink maar net hoe ons soms oorweldig voel met die aanslag van boosheid in onderrig, akademie, filosofie, die kunste in alle vorme en die media op alle gebiede, familiewaardes, besigheid en selfs binne die kerk, om nie te praat van die vullis en besoedeling wat ons omgewing bedreig nie. Dit is die totale aanslag van boosheid in die gedaante van vernietiging, moord en roof op elke moontlike vlak van die samelewing.

Openbaring is ons handboek vir die wêreld waarin ons leef. Openbaring voorspel al die boosheid wat ons mee te doen het. Dit sien ons in die sewe seëls, die sewe trompette en die sewe bakke wat die gevolge van sonde uitspel. Alles gebeur onder die almag en volle beheer van die Troon. Die tydperke vir al die gebeure word uitgemeet en beperk. Onder die bedekking van ons Vader, is ons tye in Sy hand en ons reis op die aarde van chaos en verwarring, in die onsigbare Koninkryk van Sy teenwoordigheid. Net soos die ou Jerusalem Hom gekruisig het in ‘n poging om die doelstellinge van God te verongeluk, so is die nuwe Jerusalem, die kerk, die onoorwinbare voertuig van God se redding en verlossing wat boosheid stuit.

Voor ons begin met allerhande beelde, metafore, simbole en katastrofes moet ons gereed wees met die gondbeginsel van ‘n studie van Openbaring. In die woorde van die gebed van Richard van Chichester:

To know Jesus more clearly, to love him more dearly and to follow him more nearly.

 Die verheerlikte Jesus in al die glorie van Sy koninskap is die sentrale tema. Hy is in beheer van alles wat op die aarde gebeur en heers oor alles. Die inhoud van die visioen wat al die aakligheid van die gevolge van sonde uitspel, beklemtoon en verkondig die reddende genade van Jesus en die Kruis sodat Sy oordeel die mens kan red deur Sy bloed tot vergifnis en beloning. Sonde word geoordeel met een doel: om die weg te baan vir die verstommende genade en guns van ‘n liefdevolle God wat red en seën.

Niemand kan ooit sê hulle het nie geweet nie. Ons hoef nie in onkunde te vergaan nie. Ons weet wat om ons gebeur. Ons het insig en begrip in die heerskappy van die vals drie-eenheid en die gevolge van die aanbidding van die Draak, Slang, Bees en Valse profeet. Dit verklaar die chaos en leuens van ons wêreld. Ons is die kerk, die nuwe Jerusalem wat die boosheid stuit.

Die deurmekaarspul om ons – politiek, oorloë, terrorisme, natuurrampe, wreedheid en virusse – alles onder beheer.  Openbaring is ‘n kyk in God se hart.  Goue tema – God se liefde, Jesus se volmaakte werk aan die Kruis en God se Almag om ons te red uit wat ookal.  Verklaar die wanorde.

Die Kerk is nie ‘n denominasie nie – hoewel sommige denominasies so wil dink!   Dit is die Nuwe Jerusalem – onsigbare liggaam van Jesus, bloedgewaste kinders van God met ‘n getuienis wat sal oorwin deur die Bloed van Lam en die Woord van hulle getuienis (Openbaring 12:11).

Vervolging reeds nou – aanslag van boosheid in onderrig, akademie, filosofie, die kunste in alle vorme en die media op alle gebiede, familie-waardes, besigheid en selfs binne die kerk, om nie te praat van die vullis en besoedeling wat ons omgewing bedreig nie.   Totale aanslag, maar die kerk stuit die boosheid.

Apokaliptiese literatuur beskryf die geheel vernietiging van die wêreld in grootse, katastrofiese gebeure. Dit is ‘n tyd van krisis en groot gevaar met oorweldigende tragedie. In die boek Openbaring in ons Bybel is dit ‘n uitdrukking van hoop wat ‘n toekoms van volkome verlossing, gewaarborgde oorwinning en ‘n verhewe bestaan voorhou.

Die visioen wat Johannes opskryf is ‘n Heilige Gees-inspireerde poging om die onsienlike en onbeskryflike in menslike terme oor te dra.

Dit het te doen met twee tydperke – die hede en die toekoms. In die hede is ‘n God se genade ‘n keuse wat die mens kan uitoefen. In die toekoms is daar ‘n onvermydelike en onafwendbare ingrype van God.

In terme van die geskiedenis van Israel het dinge van sleg na slegter ontwikkel in die tyd wat die Openbaring opgeskryf is. Na die hoogtepunt van die Tempel van Salomo is dit ‘n tragedie van korrupte en teruggevalle konings, oorlog, ballingskap, stryd en bloedvergieting. Niks is wat dit moet wees nie en die volk leef met ‘n geweldige sin van verlies en ‘n hartseer verlange na verlore glorie wat herstel moet word. Teen die einde van die tweede eeu nC is dit gehate uithoek van die Romeinse Ryk, die ryk wat die voete van yster en klei in die visioen van Daniël is. Jerusalem is ‘n ruïne na ‘n wrede beleg en ‘n skrikwekkende oorlog waarmee die Romeine dekades se frustrasie met Juda wreek. Jode en Christene is of dood of slawe of hulle kruip weg in doodsangs.

 “History for the Jews was a catalogue of disasters from which it became clear that no human deliverer could rescue them”. [William Barclay]

 Apokaliptiese literatuur was gewild as ‘n uitdrukking van wraak en herstel. Dit kon as rebellie interpreteer word en daarom is dit dikwels in kode geskryf. Dit is kode wat bedoel was om ontsyfer te word deur diegene vir wie dit bedoel is.

Die profete het die wêreld se ongeregtigheid aangespreek en die mense opgeroep om God se plan vir saligheid en herstel te aanvaar om sodanig die wêreld te verbeter en die mensdom van sonde te red. Die apokaliptiese skrywers het geen hoop vir die wêreld uitgespreek nie en totale vernietiging en volle vernuwing verkondig. Meeste het onder vals name geskryf.

Openbaring is nie kronologies opgeteken nie. Die visioene van Johannes dien as ‘n opsomming van die ganse geskeidenis van die mensdom en kan op veelvuldige vlakke interpreteer word.

Hierdie studie is nie ‘n poging om al die moontlike interpretasies te ondersoek nie. Dit is glad nie ‘n dispensasionele verklaring van die boek nie. Daar is genoeg materiaal beskikbaar om verskillende menings van die moontlike toekomstige scenarios wat aan die tweede koms van Jesus geheg word, self op te lees.

Dit is net ‘n eerste stap om die “kode” te ontsyfer waarin die waarheid oorgedra word. In hierdie studie sal ons ‘n hele aantal simbole van die Ou Testament en die woorde van Jesus nagaan en toelig, aangesien dit die basis vorm van die metafoor, vergelykings en beelde wat die “kode” ontsluit en die boodskap verduidelik.

Onderneem sommer nou om weer en weer Openbaring te lees en te studeer. Dit is so ryk en omvattend dat ‘n mens nie in een studie met ‘n ligtelike regmerkie jou begrip van hierdie gebeure as volkome kan beskou nie.

In alles, met alles en om alles is Jesus – die kern van God se Plan vir die skepping, die Prins van die hemel, die Redder aan die Kruis, Oorwinnaar oor die dood en hel. Ons studie stel die fokus op Hom en Hom alleen.

Because of the sacrifice of the Messiah, his blood poured out on the altar of the Cross, we’re a free people—free of penalties and punishments chalked up by all our misdeeds. And not just barely free, either. Abundantly free! He thought of everything, provided for everything we could possibly need, letting us in on the plans he took such delight in making. He set it all out before us in Christ, a long-range plan in which everything would be brought together and summed up in him, everything in deepest heaven, everything on planet earth. (Efesiërs 1. The Message)

Boosheid en sonde mag oorweldigend voorkom, maar dis beperk en oorwinning is reeds daar vir die wat dit kies.

‘n Studie van Openbaring is die oplossing vir alle onsekerheid en vrees.

Hoe lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor, wat goeie tyding bring, wat verlossing uitroep; wat aan Sion sê: Jou God is Koning! (Jesaja 52:7, OAB)

Ek het toe iets gehoor soos die geluid van ‘n groot menigte, soos die gedruis van ‘n groot watermassa en soos die gedreun van swaar donderweer. Hulle het uitgeroep: “Prys die Here! Die Here ons God, die Almagtige, heers nou as koning.  (Openbaring 19:6, OAB)

Johannes skryf onder sy eie naam as ‘n gesaghebbende boodskapper van Jesus self met die doel om die kerk te bemoedig en te bou. Die sleutel tot die beelde en metafore is welbekende simbole in die Ou Testament en word 245 keer in Openbaring aangehaal. Die detail is verstommend en die goue storielyn word met omsigtigheid bewaar. Hy is apostel, profeet en pastoor, wyd gerespekteer in Efese waar hy saam met Maria, die moeder van Jesus, woon vanaf 70 nC tot sy dood. Efese is ‘n heidenstad met die Tempel van Diana (Artemis) wat ‘n argitektoniese wonder van die antieke wêreld was. Sy is die god van vrugbaarheid en word met seks aanbid, vandaar ‘n magdom tempelprostitute wat “diens” doen in die stad. Dink net hoe moeilik moes Christen moraliteit in die stad verkondig word.

Johannes gebruik beskrywende en dramatiese Grieks, maar die kenners kan agterkom hy dink in Hebreeus. Hy noem homself broer, sonder enige titel. Sy evangelie (wat hy na die Openbaring skryf) word onder die mees-gerespekteerde literatuur in die ganse geskiedenis beskou.

Paulus bepleit respek vir die owerhede en dikwels het die Romeinse reg en administrasie die vervolging van die Jode teen die jong kerk in toom gehou. In hierdie tyd wat Johannes skryf is daar openlike haat vir die Romeine. Rome word as Babilon gesien – ‘n simbool vir alles wat boos is. Tydens die eerste eeu was aanbidding in Rome redelik vry. Gaius Julius verklaar homself Caesar en opperheerser vir ewig. Sy militêre verowering en die gevolglike verspreiding van die Pax Romana (vrede en regspleging) maak ‘n verskil aan die gewone mens se lewe. Besigheid en boerdery kan in relatiewe vrede en regverdigheid bedryf word, met paaie en plaaslike regering wat die orde handhaaf. Dankbaarheid teenoor die keiser ontwikkel in spontane aanbidding en hy word verhef tot god. Na Julius Caesar is dit ‘n maklike stap vir die keiser om self te dink hy is god en net te veel daarvan te hou. Dit lei tot ‘n stelsel waarvolgens elke nie-Romein een maal per jaar voor die magistraat moet verklaar: Caesar is god. Hy kry ‘n sertifikaat daarvoor en mag vir die res van die jaar aanbid wie hy wil. Dit bring die Christene in groot moeilikheid. Nie al die keisers vereis die aanbidding nie. Tiberius skaf dit af, Caligula is ‘n mal sadis en vereis sy eie beeld in die Allerheiligste van die Joodse tempel. Hy is dood voor hy dit kon uitvoer. Claudius is teen keiser-aanbidding, Nero wil nie aanbid word nie, maar blameer die Christene vir sy eie swakheid, Vespasianus wil nie aanbid word nie, maar hy is die keiser wat Jerusalem vernietig. Titus vereis nie aanbidding nie. Dominitianus is die heel ergste. Hy het werklik gedink hy is god. Hy is die eerste persoon wat nie-aanbidders ateïste noem. Hy verban Johannes na Patmos en sy opvolger, Nerva, skaf al die mal wette af en laat Johannes vry – ‘n wonderwerk. ‘n Romeinse strafkamp was gewoonlik maar ‘n voorspel tot die dood.

Teen hierdie agtergrond kan ons begin lees. Johannes word voorgestel en ‘n seën word uitgespreek oor almal wat die woorde van die profesie HOOR. Let op, nie net lees nie, maar wel hoor.  (Die antieke wêreld se mense was meestal ongeletterd.)  Dit is ‘n openbaring van waarheid. Dit is nie tegniese teologie wat verduister nie. Dit is die waarheid wat uit die Bron van waarheid verkondig word. God sit op die Troon van Genade. God se waarheid is Jesus.

Grieks vir openbaring is apokulupsisapo beteken wegneem en kalupsis beteken sluier. Die sluier word gelig om te openbaar. Dit is altyd ‘n werk van die Heilige Gees. Efesiërs 1:17. Openbaringskennis is ‘n gawe van God vir ontdekking deur die mens.

Die geskiedenis van die wêreld is nie toeval nie – alles is onder beheer en het ‘n doel. Eindtyd is naby (1:3) beteken dat dit nie in die toekoms lê nie, maar onmiddellik aan die gebeur is. Openbaring beskryf geskiedenis in beweging. Dit is wat ons nodig het om die chaos om ons te verstaan. Dit is ons toekomskaart en ons tydmasjien.

Gewone Apokaliptiese literatuur beskryf die geheel vernietiging van die wêreld in grootse, katastrofiese gebeure.  Was algemeen in antieke wêreld.

Openbaring anders – ‘n uitdrukking van hoop wat ‘n toekoms van volkome verlossing, gewaarborgde oorwinning en ‘n verhewe bestaan voorhou.

Grieke – gode te goed vir die aarde – daarom algehele vernietiging.  Ons God – enigste wat alles kan red.  Geen gemors te groot.

Twee tydperke – die hede en die toekoms.

4 Benaderings:

  • Futuristies: Alles na hoofstuk 3 is toekoms. Dispensasioneel.
  • Histories: Geskiedenis van die afgelope 2K jaar.
  • Preteristies: Alles geskryf vir die eerste kerk tot by Vernietiging van Jerusalem 70nC
  • Idealisties: Alles is simbolies van die stryd tussen goed en kwaad vir alle eeue tot by die Tweede Koms.

Ons benadering – my eie kombinasie van Histories en Idealisties wat ek noem Histories-Klassiek.  Klassiek omdat die vroeë kerk (nie die eerste kerk nie) die gebeure van Openbaring om hulle sien uitspeel het en dit ook so verklaar het.  Hierdie benadering word deur die meeste groot kommentatore ondersteun. [Paul Spilsbury: The Throne, the Lamb and the Dragon – A reader’s guide to Revelation]

Volgende keer: Openbaring 1.


Lewer kommentaar