82. Die altaar op sy plek.

Die nuwe jaar stap vinnig aan en die gewone roetine slurp mens op. Die uitdaging was duidelik – doen iets anders in 2016. Dis altyd goed om bietjie te dink hoe mens iets doen. Daarmee bedoel ek nie elke klein aksie van daaglikse lewe nie. Dink oor die fundamentele, die dinge wat jou definieer en jou lewenshouding bepaal. Ek dink dis een van die mees waardevolle oefeninge van die moderne lewe – gimnasium vir die brein – om visie te vorm en perspektief te verander.

Ek glo in my hart dat hierdie oefening nie werklik moontlik is sonder die hulp van die Heilige Gees nie. Ons is slegs wys tot die mate waartoe ons aan God oorgegee is. Hy belowe die insig in die dinge wat ons nie weet nie en openbaar die misterie van die lewe aan die wat vra. Jesus self het dit gesê in Markus 4:11:

Hy het vir hulle gesê: “Aan julle is die insig in die geheim van die koninkryk van God gegee; maar vir dié wat daarbuite is, bly alles net by gelykenisse,

Ek het geen twyfel dat die grootste tragedie van my lewe sal wees om geestelik verblind te lewe. My gunsteling gebed is altyd die uitroep van die blinde man: Here, dat ek kan sien.

God is gereed om geheime te openbaar. Hy sal die diep waarhede van die lewe aan ons openbaar sodat ons ‘n uitnemende lewe kan leef. Dit is die oorvloedige lewe wat Hy in Johannes 10:10 belowe, sodat ek nie dalk gedagtes dink wat tot niks lei nie en my verstand verduister is sodat ek geen deel het aan die lewe wat God skenk nie, omdat ek hardnekkig in my onkunde volhard. [Efesiërs 4:17,18]

Spreuke 7:4:

Sê vir die wysheid: “Jy is my suster,” maak die insig familie van jou.

Die eerste struikelblok om te oorkom, is tevredenheid met jou omstandighede soos dit nou is, positief of negatief. Vra die Here vir ‘n diep honger na meer van Hom. Miskien is jy op ‘n plek waar jy besef daar is dinge wat jou vreugde en vrede steel, maar jy vrees verandering en is paniekbevange oor die alternatiewe.

Dit is tyd om die altaar op sy fondament te plaas.

Esra 3:3:

Ten spyte van hulle vrees vir die ander bevolkingsgroepe in die land het hulle die altaar op sy oorspronklike plek opgerig en daarop brandoffers vir die Here gebring, soggens en saans.

Die reis van daardie eerste terugkerendes na Juda is stof vir ‘n dramatiese vertelling. Die vernietiging, verlatenheid en die omvang van die taak van herstel wat hulle ervaar het, moes oorweldigend gelyk het. Tog sê die Bybel niks daarvan nie. Die mense is belangrik en word in groot besonderhede bespreek. Die priester Jeshua en die prins Serubbabel herinner aan die ander Joshua wat ook sy mense uit die woestyn en slawerny na die beloofde land toe gelei het. Meer belangrik wys dit heen na die groter Joshua, Jesus, wat almal wat ooit in slawerny was, vry maak [Jesaja 61] en lei na die altaar van aanbidding in die Teenwoordigheid van Sy Vader deur die Heilige Gees. [Handelinge 15:16]

Jeshua was die kleinseun van Seraiah, die hoë priester wie se oë deur Nebukadneser uitgesny is met die val van Jerusalem. Sy seun, Jozadak, het hom opgevolg, hoewel daar geen offers in Babilon gebring kon word nie. Jeshua was aan die voorpunt van die terugkerende bannelinge, presies daar waar mens sou kon verwag die hoë priester moet wees. Sy naam beteken: Yahweh red!

Die prins, Serubbabel se naam beteken: gesaai in Babilon. Hy het aan ‘n sylyn van die koningshuis van Dawid behoort. Salomo se nasate het uitgesterf met die dood van die bose Sedekia [2 Konings 24 en 25]. Die nageslag van een van Dawid se ander seuns, Natan, het oorleef in die persoon van Salatiel, wat ook maar ‘n familielid was wat ingestaan het in die koninklike opvolging. [1 Kronieke 3:17] Hy het ook nie ‘n seun gehad nie. Seubbabel was sy broerskind [1 Kronieke 3:19]. Hy het die koningshuis van Dawid verteenwoordig en die regering oor die terugkerende bannelinge behartig. Hy is prominent in die profesië van Haggai en Sagaria wat in hierdie tyd as profete opgetree het.

Serubbabel word beskryf as ‘n sterk leier en saambindende faktor in die groot taak van herstel. Sy teenwoordigheid daar wys daarop dat die Here nie huiwer om ‘n leier op te rig en gereed te maak vir die taak, al is dit net ‘n verlangse verbintenis met die direkte lyn van die koningshuis. Dit is duidelik dat die Here in beheer was van die nageslag van Dawid en niks kon God se plan van spoor af stuur nie – nie die gebrek aan ‘n manlike opvolger nie of die dood van die laaste persoon in die direkte lyn nie. God kies die verlangse nefie wat Hy oprig om ‘n sterk leier te wees om die taak te voltooi.

Sagaria 4:7:

Wie is jy, groot berg? Voor Serubbábel sal jy tot ’n gelykte word! En hy sal die sluitsteen te voorskyn bring onder uitroepe van: Genade, genade oor hom!

 Die rede vir die haastige herstel van die altaar was vrees – ‘n goeie rede om aksie te neem. Hulle vrese was nie ongegrond nie. Samaria en die sentrale distrik was vol bitter vyande, oorkant die Jordaan in die ooste, sowel as suid oor die plein van die Filistyne en Edom in die suide was wrede en gevestigde nasies wat die herstel van die volk van Israel met oorlog in hulle vingers dopgehou het. Hulle sou vinnig mobiliseer om die babatreetjies van nasiebou in die wiele te ry.

Wat was die eerste stap in die plan van aksie om hulle terugkeer te beskerm? Die altaar!

‘n Terugkeer na die fundamentele beginsels van hulle geloof was hulle veilige hawe en sterk toring. Daar is geen twyfel dat hulle geestelik en morele standaard veel te wense oorgelaat het. Haggai spreek dit aan in sy profesie oor hulle. Jare in ballingskap sonder die duidelike leiding van hulle leraars en priesters, het hulle selfvertroue in die aanbidding van God afgekraak, maar…

Hulle het teruggekeer na die waarheid van hulle voorouers. Die aanbidding van Yahweh volgens Sy voorskrifte was die beste skuiling teen hulle vyande.

Jerusalem as ruine met die altaar in plek was heel moontlik beter beskerm as sou al sy mure weer opgebou wees. Dit is die God wat ons dien.

Daar kan nie ‘n tempel sonder ‘n altaar wees nie, maar daar kan ‘n altaar sonder ‘n tempel wees. God ontmoet ons by die plek waar ons ons sonde bely en onsself voor Hom bring om met Sy bloed te was. Dit is die volgorde van aanbidding. Eerste die altaar. Die sondoffer is ons veilige hawe teen die aanvalle van die vyande. As ons ons sonde bely, stel ons die almag van ons Vader vry om in te tree en vir ons op te tree. Ons is veiliger met die altaar in plek as met versterkte mure en ‘n weermag soldate.

Terug na Esra 3:

Hulle het die altaar… op sy oorspronklike plek opgerig en daarop brandoffers vir die Here gebring, soggens en saans.

Ons hoogste outoriteit is die Woord van God. Kom ons bou ons altaar op die oorspronklike plek met die beginsels van Jesus se onsigbare koninkryk as die fondament.

Hy het gesê: Bekeer julle – neem die besluit en aanvaar dat Hy vir jou gesterf het en dat jy ‘n nuwe mens is. Laat jou doop – volgens Jesus se voorbeeld sodat God in Sy volheid aan jou openbaar kan word net soos by die doop van Jesus. Ontvang die belofte van die Heilige Gees, sodat jy die volle maat van Jesus se werk op aarde kragtig in jou lewe ervaar. Moenie teverede wees met min nie, moenie uitmis op die hele pakket van geregtigheid wat Jesus vir ons bedoel het. Lees weer Hebreërs 6 se eerste twee versies en bou die altaar op die eerste beginsels. Bring jou offer gereeld as deel van jou roetine.

Die belofte is gewaarborg: Nader tot God en Hy sal tot jou nader. [Jakobus 4:8]

Die altaar was die sentrale element in die geloofshelde van die Ou Testament se aanbidding van God van die vroegste tye. Die altaar is gebou vir dankbaarheid, wonderwerke en aanbidding.

Dit regverdig ‘n hele studie op sy eie.

Noag het die einde van die vloed gevier. [Genesis 8:20]

Abraham het verskeie altaars gebou om die belofte oor ‘n land te vier, sy bonatuurlike ontmoetings met God te herdenk asook die altaar waarop hy bereid was om sy eie seun te offer. [Genesis 22]

Isak het altaars gebou; Jakob het altaars gebou – by Bethel byvoorbeeld waar Hy God in ‘n droom ontmoet het.

Moses het ‘n altaar gebou en dit genoem: “Die Here gee my die oorwinning.” [Exodus 17:15] Hy het nog een aan die voet van die berg gebou waar hy met God “gesels” het. [Exodus 33 en 34]

Hy het die noukeurige voorskrifte ontvang vir die altaar wat in die tenttabernakel gebou is.

Dawid het dikwels oor die altaar gesing.

Psalm 118:27:

Die HERE is God, en Hy het vir ons lig gegee. Bind die feesoffer met toue, tot by die horings van die altaar.

Hier word die horings van die altaar genoem. In Konings lees ons van Adonia en Joab wat in vrees die horings van die altaar vasgehou het om hulle lewe te red. Die altaar was letterlik ‘n lewensredder en vlugplek.

1 Konings 1:50: Maar Adónia was bevrees vir Salomo en het opgestaan en heengegaan en die horings van die altaar vasgehou.

1 Konings 2:28: Toe die gerug by Joab kom — want Joab was aan die kant van Adónia, alhoewel hy nie aan die kant van Absalom was nie — het Joab gevlug na die tent van die HERE en die horings van die altaar vasgehou.

Die altaar is jou plek van aanbidding. Dit is jou lewensredder. Dit is die eerste noodsaaklike van ‘n lewe van oorwinning. Dit is ‘n groter prioriteit as kerkbywoning.

Die Here is gereed om diep geheime aan jou te openbaar – groot en magtige dinge wat jy nie weet nie.

Gaan sit in Sy teenwoordigheid, bely jou sonde in nederige verootmoediging en sien in jou geestesoog die altaar voor die Troon van God. Onthou waar jy sit – Efesiërs 2:6: en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus…

Daarom sal jy die goue altaar kan sien…

Openbaring 9:13:

…en die sesde engel het geblaas, en ek het ’n stem gehoor uit die vier horings van die goue altaar wat voor God is…

 

 

81. Orde of chaos – die regte manier.

Nuusbeelde van ons eie land en ander wêrelddele wys ons so dikwels die chaos van oorlog, natuurrampe en armoede. Daagliks stry ons teen chaos in ons eie lewens. Ons maak aan die kant, maak skoon, orden, kategoriseer en beplan. Chaos is soos ‘n honger monster gereed om oor te neem en verwoesting te saai. Chaos is negatief. Dit veroorsaak emosionele verwarring, depressie en gevoelens van magteloosheid. ‘n Goed-georganiseerde lewe spreek van beheer en goeie beplanning.

Net so het Jerusalem in puin en verlate agtergebly na ‘n verwoestende besetting en die dood van die Judese koning. Die hele volk Juda, behalwe die swakkes, siekes en oues is deur Nebukadnesar in ballingskap weggevoer. Die ballingskap is deur verskeie profete voorspel, met die uitvoerige waarskuwings oor ‘n lang tydperk oor terugkeer na die Here om die ballingskap te vermy. Die volk se voortdurende ongehoorsaamheid het die Babiloniese heerser die oorhand laat kry. Die ballingskap sou 70 jaar duur. Daniël het as ‘n jong seun in die paleis van Nebukadnesar beland en vier heersers, Babilonies sowel as Persies, as ‘n banneling gedien. Hy het die profesie geken en begin bid dat die Here die uitkoms stuur. In genade verkort die Here die tydperk en na 60 jaar ballingskap arriveer die eerste bannelinge terug in Juda.

Onder die goeie gesindheid van Kores, die Persiese heerser, het die eerste vlaag bannelinge teruggegaan Juda toe. ‘n Mens kan jou kwalik voorstel wat hulle indrukke van die verlatenheid en verwoesting was. Die oorweldigende omvang van die heropbou was sekerlik ‘n massiewe uitdaging. Die tempel was ‘n ruine, die muur afgebreek in rommel en stof en die stad ‘n wegkruipplek vir rowers en swerwers. Sterk leierskap het die mense gemotiveer en die werk uitgedeel.

Ek is altyd verstom oor die detail van die verslaggewing in Esra en Nehemia, wat spreek van deeglikheid en orde. Die twee boeke van die Ou Testament was in die Hebreeuse Bybel een boek. Esra se naam beteken: die Here het gehelp. Dit is nie heeltemal duidelik of Esra self die boek onder sy naam geskryf het nie en of iemand anders dalk die skryfwerk gedoen het nie en die naam van die boek aan die hoofkarakter van die gebeure gekoppel het. Meeste kenners is van mening dat Esra self die boek geskryf het, asook Nehemia sowel as 1 en 2 Kronieke.

Esra was ‘n priester en skrifgeleerde en word so beskryf in Esra 7:9-11:

Esra het hom gewy aan die wet van die Here. Hy wou dit in die praktyk toepas en Israel elke voorskrif en bepaling leer. Hier volg ‘n afskrif van die volmag wat koning Artasasta verleen het aan die geleerde priester Esra, wat op hoogte was van alles in verband met die gebod van die Here en met sy voorskrifte aan Israel

Die boek beskryf die eerste groep se terugkeer uit ballingskap in 538 vC oor ‘n tydperk van 23 jaar in hoofstukke 1 – 6. Bouwerk aan die tempelherstel begin in alle ywer, maar vyandskap onder die nie-Joodse inwoners van die gebied, bring die herstelwerk tot ‘n stilstand. Die profetiese bediening van Haggai en Sagaria inspireer die terugkerendes om die bouwerk te hervat en nie moed te verloor omdat die tempel nie so indrukwekkend soos die tempel van Salomo is nie. Uiteindelik is die nuwe Tempel in 515 vC voltooi en toegewy.

Ongeveer 60 jaar later is daar ‘n tweede groep wat terugkeer onder die leierskap van Esra met nog geld en waardevolle items vir die verfraaiing van die Tempel en tot ondersteuning van die aanbidding, ingesluit die kosbare tempelelemente wat deur Nebukadnesar weggeneem is – verstommende antieke administrasie! Esra word geestelike hervormer en invloedryke, toegewyde priester. Hy preek ernstige terugkeer na die oorspronklike gees van die wet van die Here. Hy spreek die afvalligheid aan, selfs tot die mate dat hulle moet skei van heidenvroue met wie hulle getrou het. Die belangrikste tema in die boek is God se getrouheid en die mens se ontrouheid.

God se getrouheid en leiding in tye van politieke verwarring en omwenteling is ‘n ligtoring vir ons lewens vandag. Ons is so blootgestel aan die oproer en onrus wat staatsbesluite veroorsaak op ‘n wêreldwye vlak. Wanneer alles so duister en ontwrig lyk, is dit tyd om weer die gebed van die blinde Bartomeus te bid: Here, laat my sien.

God is getrou om die ballingskap te verkort. Hy versag die wêreldmag van daardie tyd se heerser, Kores, se hart teenoor sy volk sodat die terugkeer van die bannelinge kan begin. Hy wek die leiers op om hulle te begelei en die reëlings te tref – Esra en Serubbabel. Toe hulle moedeloos raak met die bou van die tempel en die vyandskap van die mense hulle lamlê, rig Hy Haggai en Sagaria op om moed en goddellike inspirasie oor hulle te profeteer sodat die werk klaarkom. Hy voorsien lering en duidelike leiding oor Sy Woord in die persoon van Esra, sodat daar geen onduidelikheid oor Sy plan en wil is nie.

Aan die ander kant, laat die mense toe dat vyandskap hulle durf steel totdat hulle totaal opgee met die bouery. Die tempel is uiteindelik klaar en ‘n plek van aanbidding is herstel, maar nog is die volk nie oortuig nie. Lees die pragtige gebed van Esra vir die volk in hoofstuk 9. Hy is so moedeloos oor die sonde en afvalligheid van die volk dat hy sy klere skeur, sy baard en hare uittrek en verslae voor die Here gaan sit. Hy bely hulle sonde en spreek al God se genade en voorsiening uit.

‘n Mens sou nou kon wonder watter effek het dit dat hy die volk se sonde bely, terwyl hyself so noukeurig voor die Here wandel. Die profete en volksleiers van ouds het dikwels namens die hele volk by die Here ingetree. Dit is ‘n wonderbare en wonderwerkende beginsel. Ons kan vir ons gesinne, ons familie en ons volk voor die Here intree en namens hulle, hulle sonde bely en die Here om uitkoms bid.

Esegiël 22:30:

Ek het iemand tussen hulle gesoek wat ‘n muur sou bou en vir die stad in die bres sou tree dat dit nie vernietig word nie, maar Ek het niemand gekry nie.

And I sought for a man among them, that should build up the wall, and stand in the gap before me for the land, that I should not destroy it; but I found none.

In Esegiël 22 word ‘n donker prentjie van die land geskilder:

“Mens, sê vir die land: Jy is ‘n land wat geen reën sal kry die dag as my toorn losbreek nie.

“Die regeerders in die land sweer saam en is soos brullende leeus op vangste uit. Hulle vreet mense op en vat die rykdom en kosbaarhede vir hulleself, hulle maak baie vrouens in die land weduwees.

Die burgers van die land verdruk en beroof mense. Hulle buit armes en mense in nood uit en hulle verdruk die vreemdeling asof daar geen reg bestaan nie.

Die amptenare in die land is soos verskeurende wolwe. Hulle moor, hulle laat mense doodgaan, hulle maak oneerlike wins.

Is dit ‘n skrikwekkend bekende beskrywing van politieke korrupsie en onsekerheid, verwarring en verkeerde praktyke? Wat is ons rol?

God soek iemand om in die bres te staan. Dit is nie die jammerlike weeklaag van saamkla, saam skinder, saam sleg praat wat so algemeen is nie. Dit is ook hoegenaamd nie ‘n oproep om die feite en werklikhede van so ‘n negatiewe toestand te ignoreer nie. Dit is ‘n oproep tot gebed en positiewe bydra tot die oplossing wat net kan kom deur ‘n ingrype van die Hemel Vader wie ons ken en dien.

Dit is een van die mees onstellende goddellike verwyte in die ganse Bybel.

” Ek het gesoek”, sê God, “Ek het niemand gekry nie!”

My hart skreeu ten hemele: Hier is ek Here. Ek sal bid vir Suid-Afrika. Ek ken U wonderwerke. Ek weet dat U ‘n groot en gedugte Hemelheerser is wat oor die heelal regeer en daar vir U niks onmoontlik is nie. Vergewe my dat ek moedeloos raak en die vyand toelaat om die bou van die Tempel te ontspoor. Ek sal my hande oplig voor U oor my land. Laat U Woord oor my lippe kom. Laat U krag deur my vloei sodat ek effektief teen die boosheid van vernietiging kan weerstand bied. Vul my op met U meegevoel en liefde vir die mense, sodat ek hulle onvoorwaardelik kan liefhê en vergewe soos U my liefhet en vergewe.

Is ons nie God se verbondsvolk nie? Hoe kan ons toelaat dat politiek die magtige terme van God se bloedverbond neutraliseer? Ons gebrek aan insig in die ware voorsiening van God aan ons, binne politieke verwarring en onrus, maak ons moedeloos en ontspoor die bouwerk. Bou ons die Tempel? Herstel ons die plek van aanbidding?

Ek glo ons word almal opgeroep om Esra te wees. Ons kenteken wat duidelik in ons praat en optrede herkenbaar moet wees, moet verklaar: Die Here het gehelp.

Hoor die woorde van aanmoediging van die profeet Sagaria aan die bouers van die Tempel wat moed verloor het: [4:6,7]

Toe antwoord hy en sê vir my: Dit is die woord van die HERE aan Serubbábel, naamlik: Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.

Wie is jy, groot berg? Voor Serubbábel sal jy tot ’n gelykte word! En hy sal die sluitsteen te voorskyn bring onder uitroepe van: Genade, genade oor hom!

Ons is die “geleerde priester” soos Esra deur die Persiese koning beskryf is. Dit word oor ons uitgespreek in 1 Petrus 2:9:

Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.

Ons kenteken is die verlossingswerk van God. Dis ons wat die lig in die duisternis is. Ons is die lamp wat nie onder die emmer ingesteek word nie. Ons sing nie meer:

LAAT ONS SKYN VIR JESUS MET ‘N HELDER GLANS,

   SKITTER SOOS DIE STERRE AAN DIE HEMELTRANS!

   IN DIE DONKER WêRELD, SKYN DAN, SKYN –

   JY IN JOU KLEIN HOEKIE EN EK IN MYN.

Ons is gekies om te skyn. Bodemklipvriend, die opdrag is duidelik saam met die belofte van voorsiening, lering, profete en priesters. Waarin is ons toekoms verseker? In die beloftes van God. Laat ons die slap hande en die lam knieë oprig en aan die werk spring. [Hebreërs 12:12]

Mag ons onder die indruk kom van die hoë roeping waarmee ons geroep is. 1 Petrus 2:9 in The Message:

But you are the ones chosen by God, chosen for the high calling of priestly work, chosen to be a holy people, God’s instruments to do his work and speak out for him, to tell others of the night-and-day difference he made for you—from nothing to something, from rejected to accepted.

Volgende keer: Esra 3:3:

Ten spyte van hulle vrees vir die ander bevolkingsgroepe in die land het hulle die altaar op sy oorspronklike plek opgerig en daarop brandoffers vir die Here gebring, soggens en saans.

80. Kry vir jou ‘n grens om oor te steek.

Die eerste gawe van God aan die mens was keuse. Dit is ‘n gegewe. Jy kan dit verander nie. Jy moet kies. Dit is onmoontlik om neutraal te bly. Jy moet aanvaar of verwerp. Dit wat jy as neutraliteit beskou is verwerping.

Besluite is kragtig. Dit het ons al baie gesê. Job 22:

 Besluit jy iets dan kom dit tot stand en oor jou weë skyn ‘n lig.

Hierdie besondere omstandighede word geskep in die mens. Jy is spesiaal as gevolg van die besluite wat jy neem. Elke dag is ‘n reeks besluite. Talente wat ontwikkel word, deure wat oopgemaak word, verhoudings wat gebou word, die keuse om die regte ding te doen, om nie te lieg nie, om kwaad te word en jou voet neer te sit, om genade te betoon, om foute oor te sien, om moed in te praat – ons kan voortgaan, seker tot in ewigheid, om die besluite van net een dag op te noem.

God het ons baie spesiaal gemaak. Ons is ‘n drie-eenheid soos Hy: gees, siel en liggaam. Die ideale gesagsorde vir ons lewe is soos volg:

God se gees

My gees

My siel – wil, verstand en emosies

My liggaam

Die liggaam sal altyd die siel volg. Wat jy besluit sal jou liggaam doen. Jy besluit om iets te eet, konsert toe te gaan, inkopies te doen… Jou besluite behoort die beste gevolge vir jou liggaam te bring. Jy beskerm jouself, kyk na jou dieet, neem medisyne as jy siek is.

Die duiwel sal alles doen om hierdie rangorde omver te werp en onderstebo aan te wend. Die hele wêreld verkondig liggaamsplesier en bevrediging as ‘n eerste stap. Die liggaam dikteer aan die wil om sodanig te besluit dat die liggaam eerste bevredig word. Die wanorde word verkondig deur middel van spesiaal-sindroom. Ek is spesiaal, daarom kry ek voorrang. Waarom is jy meer spesiaal as ek om vir my te sê hoe om te leef? Waarom sou ek my lewe inrig volgens ‘n stokou geskrif wat nooit op ‘n moderne lewe van toepassing sou kon wees nie.

Ek dink so dikwels hieroor. Was die lewe histories so vreeslik dat alles in die moderne tyd daarop gerig is om goedkoop bevrediging te ervaar al is dit so kortstondig? Die ou Romeine het hierdie hedonistiese lewe veral onderstreep en geleef. Dit was die kern van die voorregte van ‘n Romeinse burger. Kitspassie op enige gebied was die leuse van die lewe. Vandag is nog net so. Geweld en hartstog is vermaak. Die Circus Maximus word op die skerm in die sitkamer aangebied.

Die realiteit is dat kortstondige plesier meestal lei tot langtermyn gevolge. Die gevolge van die liggaam wat beveel veroorsaak meeste gebrokenheid en verwonding.

Die Nuwejaar lê voor met sy eie uitdagings wat reekse en reekse besluite van ons vereis. ‘n Besluit kan stadig of vinnig geneem word. Vinnige besluite is meestal reaksies, deurdagte besluite is antwoorde. [Respond vs react] Dit is belangrik om te onderskei en meer te beantwoord as reageer. ‘n Kar wat voor jou stop lok reaksie uit – dis ook reg so. Jy rem vinnig. ‘n Kind wat fouteer verg beantwoording – gaan jy voet neersit of genadig wees. Jy neem die omstandighede in ag, die kind se houding en ander faktore laat jou ‘n berekende beantwoording uitspreek.

Kom ons kyk saam na die besluite van drie karakters in die Woord en teken aan watter faktore hulle ‘n buitengewone besluit laat neem het. Almal van hulle het die reëls oortree. Almal van hulle het ‘n grens oorgesteek en iets anders gedoen sodat hulle baie spesiale resultate kon verwag.

Die woestyntabernakel is volgens streng voorskrifte van God deur Moses opgerig. Dit was ‘n heilige plek – heilig in die sin dat dit ‘n spesiale aanwending net vir die spesiale doel van aanbidding gehad het. Elkeen in die volk van Israel het met betrekking tot tempelprosedures, presies geweet wat hy mag en nie mag doen nie. Slegs die priesters mag in die heilige deel ingegaan het, slegs die hoëpriester kon een maal per jaar in die allerheiligste deel ingaan. Streng gereguleer. As die hoëpriester in die allerheiligste ingegaan het, het hy ‘n kleed met klokkies gedra, sodat, as hy onwaardig ingegaan het en dood neerval, sou die wat buite wag besef dat die klokkies nie meer raas nie en kon hulle sy lyk met ‘n haak daar uit haal. Self mag hulle nie deur die voorhangsel ingegaan het nie, wat ookal die omstandighede – ernstig!

In 2 Kronieke 26 lees ons van koning Ussia. Hy was een van die uitsonderings onder die konings van Juda. Hy het gedoen wat reg was in die oë van die Here. [Daar was 19 konings van Israel – almal sleg, 20 konings van Juda en slegs 8 was goed.]

Na ‘n volledige rekord van al sy goeie dade, is daar hierdie onstellende versie.

2 Kronieke 26:16:

Maar toe hy eenmaal die mag het, het Ussia ingenome geword met homself, en dit was die begin van sy einde. Hy het aanmatigend teenoor die Here sy God opgetree: hy het in die tempel van die Here ingegaan om wierookoffers op die wierookaltaar te bring.

Die priesters het hom probeer keer, maar daar was geen keer aan hom nie. Hy gaan in en kom uit – melaats. Melaats het hy gesterf. Dis hoe ernstig.

Maar nou – Dawid. Dawid het voor Ussia geleef. Die hoëpriester Eli, (van Samuel en Hanna se dae) se twee stout seuns kom haal die Verbondsark (wat in die allerheiligste deel van die tempel gestaan het) uit om te help toe die oorlog teen die Filistyne verkeerd loop. Hulle gebruik die Ark as ‘n gelukbringer – groot fout. Die Filistyne wen en vat die ark. Lees bietjie Bybelkomedie 1 Samuel 5.

Die Ark word gestoor in die huis van ‘n Israeliet, wat spesiaal gesalf en afgesonder word om die Ark te huisves vir twintig jaar, dwarsdeur Saul se regering tot Dawid aan bewind kom. Met ‘n groot proses, waarin mense sterf as gevolg van onwaardigheid (lees gerus 1 Samuel 6 en 1 Kronieke 6), bring Dawid die ark terug na Jerusalem.

Die proses om die Ark terug te bring in Jerusalem word uitvoerig in 1 Kronieke 15, 16 en 17 vertel met die pragtige lofsang van Dawid. Dit lees soos ‘n spanningsverhaal.

Dawid is so oorstelp van vreugde, hy stel die musikante op en dans voor die Ark uit. Onthou hy was self ‘n musikant – ek kan my net voorstel dat hy die beste sou organiseer vir hierdie groot gebeurtenis. Hy trek homself aan in fyn linne en dra die priesterlike linneskouerkleed. Praat van ‘n fees! Sy danklied is poësie en sy gebed in 1 Kronieke 17 is prosa wat jou hart stukkend ruk. Dis ‘n heerlike ete met vleis, brood en rosyntjiekoek vir al die mense.

Dawid maak ‘n tenttabernakel vir die Ark, met deurlopende aanbidding en musiek en skryf in die Psalm 84:11: een dag in U teenwoordigheid is beter as ‘n duisend daarbuite.

Want ’n dag in u voorhowe is beter as duisend; ek wil liewer by die drumpel staan in die huis van my God as om te woon in die tente van goddeloosheid.

 Psalm 27:4

Een ding het ek van die HERE begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die HERE, om die lieflikheid van die HERE te aanskou en te ondersoek in sy tempel.

Dit is Dawid se hart. Hy sit in die teenwoordigheid van God by die Ark, omdat sy hart reg is. Dis nie uit trots soos Ussia nie. God “kuier” by Dawid en Petrus preek in Handelinge 15:16 dat Jesus die tabernakel van Dawid weer oprig. Dit is die hartsaanbidding in die Teewoordigheid van God met nederigheid, verootmoediging en begeerte. Daarvoor word die godsdienstige reëls gebuig en aangepas.

Kom ons spring na die vrou wat Jesus aanraak in die skare en genesing ontvang.

Sy het aan bloedvloeiing gely en volgens die voorskrifte van haar teologie (Joods) was sy onrein en mag glad nie die huis verlaat het nie en veral nie aan iemand raak nie. Levitikus 15:25:

“As ‘n vrou ‘n bloedvloeiing het buite haar menstruasietyd of as die bloedvloeiing tydens menstruasie abnormaal lank aanhou, is sy onrein solank die bloedvloeiing duur.

Al drie sinoptiese evangelies noem die wonderwerk van Jesus. Lukas, wat self ‘n dokter was, noem hoe sy al haar geld op verskeie dokters spandeer het, wat haar nie kon help nie. Twaalf jaar loop sy met ‘n geweldige vervloeking oor haar. Sy is desperaat en daarom oortree sy al die reëls. Sy gaan uit, sy loop saam met die skare en raak aan Jesus. Ek is seker sy het besluit dat ‘n ontmoeting met Hom buite die kwessie is. Sy sou publiek moes erken wat haar probleem is en dalk was daar mense wat haar kon herken. Sy het seker besluit: “vandag is die dag – as ek nie genesing kry nie, kan hulle my maar stenig”. Sy reik uit met die begeerte en roekelose verwerping van haar godsdiens en teologie en alles wat sy het.

Julle ken die storie – ‘n wonderbare, heerlike genesing, eerbewys aan haar geloof en herstel in die gemeenskap. Almal het geweet sy is gesond. Sy is met die glorie van Jesus self bekroon en kon ‘n lewe ly wat sy nooit voorheen van kon droom nie.

Sy het die reëls oortree. Sy het die kopgrens oorgesteek. Sy het iets anders gedoen as voorheen.

Wat gaan jy doen met 2016? Wat gaan jy anders doen?

Hulle sê as jy altyd alles dieselfde doen en ander resultate verwag is dit ‘n teken van waansin. Is jy bereid om ‘n groot stap vorentoe te neem en die Here te dien soos nog nooit vantevore nie.

Handelinge 17 en 18. Die gemeente van Berea het gaan kyk en seker gemaak wat Paulus preek is die regte ding. Apollos is gelei in ‘n noukeuriger weg. Daar is altyd ‘n noukeuriger weg. Daar is altyd ‘n nuwe openbaring. Roep na die Here – Hy sal jou groot en magtige dinge wys wat jy nie weet nie.

Dit gebeur net as jy roep en wil. Matteus 15:9:

Dit help niks dat hulle My probeer dien deur leerstellings van mense as gebooie van God voor te hou nie. ”

 Lees maar Matteus 23 en erken die Fariseër in jouself. Moenie terugkyk en neerkyk op hulle nie. Hulle het hard probeer om die regte ding te doen, maar het hulle teologie bokant Jesus verhef. Harde woorde van veroordeling kom uit die mond van Jesus self.

Lê jou teologie, jou vooropgestelde idees, jou vooroordeel weer op die altaar voor die Heilige Gees sodat hy die onwaarheid en leuen kan blootlê. Moenie dat Jesus jou verwyt met die woorde aan Jerusalem in Matteus 23:37:

…hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie!

Gryp die WOORD van die Here en verhef dit as jou enigste padwyser. Toets jou gehoorsaamheid voor die Here. Steek die grens oor en smaak die oorwinning en wonderwerke. Word kragtig in die Here.

Mag 2016 vir jou ‘n NUWE jaar wees!

Jesaja 48:6:

Jy het dit gehoor — aanskou dit alles! Sal júlle dit dan nie verkondig nie? Van nou af laat Ek jou nuwe dinge hoor en geheime wat jy nie geweet het nie.